Redakteursbrief: Ouma Tossie neem afskeid

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media (Foto: Maroela Media)

Op die laaste dag van verlede jaar het ek foto’s geneem terwyl ʼn brose ou tannietjie haar vriendinne vir die laaste keer groet.

Ouma Tossie is al 88, en toe haar kleinkinders en agterkleinkinders, met wie sy ʼn baie hegte verhouding het, KwaZulu-Natal toe trek, het sy besluit sy pak haar goedjies op en trek saam. Ons was toevallig vir ʼn paar dae in die Laeveldse dorp waar ouma Tossie in ʼn aftreeoord bly, en het aangebied om haar en haar goedjies ʼn geleentheid te gee tot by ons vriende, voor hulle Natal toe vertrek.

Met die haastigheid van die jeug (dis nou lank al nie meer ek en my man nie, maar eerder die twee kinders wat kriewelend van ongeduld agterin die motor sit en wag om by hul maats aan te kom) zirts ons vroegoggend op Oujaarsdag by die aftreeoord se hekke in, reg om ouma Tossie in te laai en weg te kom voor dit te warm raak.

Maar by ouma Tossie en haar dogter se woonstel in die aftreeoord is ʼn teetafel gedek, en tee word nie aangejaag nie. Al die vriendinne en ʼn paar ooms is daar. Hulle sit op bankies en stoele op die groen grasperkie, in hulle mooiste vere uitgevat vir die foto’s en die groetslag. Hulle gesels vir oulaas oor hul plantjies, oor wie by wie gaan kuier het vir Kersfees, en oor die verpleegstertjie in die versorgingsafdeling wat moet opskud as sy betyds wil wees vir die groepfoto.

Ek skik hulle rondom die bankies in die skaduwee, neem ʼn paar foto’s.

En toe begin die groot afskeid.

“As ons jou nie weer sien nie, sien ons jou Eendag weer,” sê een vriendin vir ouma Tossie. My keel is ʼn groot knop.

Op die ry af soen en druk sy. Dan help ons haar versigtig in die motor. Een vriendin stoot ʼn kussing onder haar voete in en nog een gee vir haar ʼn bottel koue water vir die pad. ʼn Derde een verduidelik vir my hoe die suurstofmasjientjie werk wat sy vir ouma Tossie present gegee het, net ingeval.

Ons ry stadig weg. Hulle staan langs die paadjie en waai en waai in hulle mooi rokkies.

“Ai,” sê ouma Tossie sag agter in die motor en soek ʼn snesie in haar handsak.

Ek moes self Desember twee hartsvriendinne groet – die einste vriendin wat Natal toe is, en wat my geleer het om goeie koffie te waardeer; nog ʼn vriendin wat Malawi toe is, en wat my rolmodel geword het oor hoe mens kinders grootmaak. Twee van die belangrikste vaardighede wat ek die afgelope klompie jaar onder die knie gekry het.

Ek sukkel om woorde te kry wat nie cliché-erig klink as ek praat oor hoe swaar dit vir my was om dié twee te groet nie.

Die houer met vetplante as geskenk

My koffievriendin het as ʼn afskeidsgeskenk vir my ʼn houer vol vetplantjies op my stoep kom neersit, elke plantjie geplant in ʼn koffiebekertjie of -koppie wat vir my en haar spesiale betekenis het. Twee jaar gelede het sy Kilimandjaro oorwin en oorleef, en vir my ʼn lapelspeldjie saamgebring.

My Malawi-vriendin het as afskeidsgeskenk ʼn skulp en ʼn klip wat sy op ʼn ver strand gaan haal het saam met mooi woorde in sagte papier toegedraai en vir my gegee. Twee maande gelede het sy, ná ʼn jaar waarin siekte haar lyf pynlik en stram gelaat het, kilometers ver alleen strandlangs gestap tot by die strand waar sy dié twee geskenkies vir my uitgesoek het.

Net gister het ek eenkant gestaan terwyl ʼn kollega en haar kinders hul pappa groet wat Saterdag oorlede is aan ʼn hartaanval. ʼn Fiks, gesonde man wat die hart van sy huis en vriendekring was. Nooit sou sy vrou kon raai dat sy piksoen voor hy sy fietshelm opgesit het om te gaan fietsry, ʼn afskeid was nie.

Binne ʼn paar weke neem ek en my man afskeid van die huis waarin ons al veertien jaar lank bly; die huis waarin ons albei ons kinders ryker geword het. Die rooi en groen pophuisie onder die boom voor ons kamervenster is afgebreek en weggery, want ons kinders is lank al te groot daarvoor en weer en wind het dit verniel. Die touleer en bokssak op die stoep is losgeknoop en gebêre. Die foto’s is van die mure afgehaal en in borrelplastiek toegedraai. Byna elke dag ween ons oudste ʼn bietjie, want afskeid kom nie vir haar maklik nie.

Dis dalk somber en vreemd om hier in Februarie, wanneer mens nog kans sien vir nuwe dinge en die jaar nog loomwarm en groen is, te skryf oor afskeid. Maar dis asof dit ʼn tema is wat my vanjaar agtervolg. Dalk skryf ek daaroor omdat ʼn mens nie anders kan om, saam met elke afskeid, uit te sien na ʼn nuwe begin nie. Ingebou in elke afskeid is immers iets nuuts: soms is dit ʼn lekker iets nuuts, soms minder lekker. Maar dis altyd daar, of jy wil of nie.

Ek lees vanoggend in Jesaja 43: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen; dit staan op die punt om te gebeur; julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ʼn pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

As my keel toetrek van verlange na my twee vriendinne wat nou ver is, weet ek Hy gaan ʼn rivier van nuwe vriendskappe laat ontspring. As my hart pyn oor my huis wat ek moet groet, weet ek Hy gaan in my nuwe huis vir ons gesin nuwe goed doen. As ek toekyk hoe ʼn vrou en kinders hulle pa moet groet, weet ek Hy gaan in hulle woestyn ʼn pad maak.

“As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie,” staan daar. “As jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie.”

As jy dalk onlangs moes afskeid neem, of dit hier vroeg in 2018 dalk teen jou sin moet doen, vertrou ek dat jy ook die nuwe dinge sal sien wat Hy vir jou wil laat gebeur.

Groetnis
Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

Tannie Tossie (middel voor met die groen bloes) en haar vriende Foto: Susan Lombaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Chantel Nel ·

Sjoe Susan, dit is baie mooi en baie waar. Ek het skoon trane in my oë gekry want volgende week groet ons ‘n neef en broer..Sterkte en baie seën vir julle nuwe huis, ek weet sommer Hy julle sal beskerm.

Wens Coetzer ·

Beste Susan, weereens baie geluk met ‘n puik Redakteursbrief! Ek lees nog ewe lekker toe is ek by die einde van die artikel. Jou derde laaste paragraaf het my met ‘n tikkie droefheid in my hart gelaat maar dan eindig jy op ‘n hoë noot met daardie bemoedigende woorde uit die eerste paar versies van Jesaja 43. Ek bid die Here se seën toe oor jou en jou familie in julle nuwe huis! Groete, Wens.

CG ·

En dit nou op ‘n Vrydagmiddag! Sal maar maak of ek gou ‘n draai moet loop, sodat ek darem net oor my oë kan vryf en my neus skoonkry. Ek is baie, baie vasberade om vandag se spitsverkeer te oorleef -daar is mense by die huis wat wag. Wens dit vir almal toe. Susan, as jy nie omgee nie skryf asseblief volgende keer so- iets wanneer mens by die huis is. Jy skryf heeltemal te goed…

Eish ·

Wat staan soos n paal bo water is die voordurende groeinde geloofwaardigheid in n mens se woorde met die toenemende ouderdom. Die finaliteit van ouderdom plaas n uitroepteken langs elke sin en woord.
Altyd die belangrikste, die laaste keer, die laaste toespraak, die laaste groet, die laaste vermaning.
” In U hand gee ek my gees oor.”

Jerry ·

Op 02 April 2016 en vroegoggend hang die dagster oor AD Care sentrum in Lyttleton, dit het die vorm van die kruis. My ma Rina het in n koma ingegaan. Op sondag, twee weke voor die koma besoek ek en my broer vir ma Rina. Sy is verskriklik opgewonde en vertel ons dat haar ouma Sannie vir haar kom kuier het en dat ouma Sannie gese het dat sy vir Ma Rina gaan kom haal en haar saam vat na ouma Sannie se nuwe huis wanneer Ma Rina weer gesond is. Op die sondag, n week voor die koma besoek ek en my broer weer vir Ma Rina en weer is sy verskriklik opgewonde en sy se dat ouma Sannie het weer kom kuier en ouma Sannie bly nou saam met Ma Rina om haar saam te vat, want Ma Rina is amper gesond. Op 02 April 2016 om 20h00, net na die dagster heeltemal verdwyn, toe vat ouma Sannie vir Ma Rina saam met haar na die koningkryk van die hemele. Haar kleinseun het op 01 April 2016 vanaf Kanada gevlieg nadat hy gehoor het dat sy geliefde Ouma Rina in n koma gegaan het. Op 01 April 2016 land hy in Engeland en spandeer tyd saam met sy geliefde vroutjie. Op 03 April vlieg hy Suid-Afrika toe, n dag te laat, maar betyds om by die kerkdiens afskeid te neem. Op 30 Desember 2016 word sy eersteling gebore, n pragtige baba dogtertjie.

Leonie Muller ·

Susan ek lees met hartseer jou brief. Dink terug aan geliefdes wat ons moes groet of dalk nie regtig tyd gehad het nie omdat ons nie geweet het dit was die laaste keer wat ons hulle sou sien nie. Moeilike jaar wat ons agter die rug het. Ons plaas verlaat n nuwe begin op ‘n ander een waar daar eintlik niks was nie , terugtree en dink wow ons het dit als in ‘n jaar vermag met God se genade. Teespoed en hartseer maar dan kan ons op ons kniee val en dankie sê vir soveel gebede wat beantwoord is.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.