Redakteursbrief: Wie weet – jou klip word dalk eendag ʼn kasteel

ʼn Uitsig oor die Adige-vallei van die Tiroolse Kasteel af. Foto: Susan Lombaard

As ʼn mens die Middeleeuse Tiroolse Kasteel, of Schloss Tirol, in die Italiaanse provinsie Suid-Tirool wil besoek, stap jy met die Via del Castello langs soontoe. Dis ʼn lang wandelpad, en steil, maar daar is nie haas nie. Jy stop gereeld om foto’s te neem, om te luister na die gebengel van bokklokke teen die berghange, om vreemde kruie wat langs die pad groei tussen jou vingers te kneus en daaraan te ruik, en om te kyk hoe mense wat elke dag aan die voet van die kasteel woon, hul gang gaan. In die diep valleie om jou kan jy jou Middeleeuse veldslae voorstel; jy kan jou goed indink hoekom die Baron van Tirool reeds in 1100 juis dié ligging gekies het om beheer te hou oor die Adige-vallei in die Alpe.

In ʼn begraafplaas langs die Via del Castello buk ʼn ou man om dooie blomme op ʼn geliefde se graf te verwyder. Hy streel liefderik oor die naam op die grafsteen en staan lank daar en kyk voor hy ʼn nuwe bos blomme in ʼn pot op die graf steek. Om ʼn tafeltjie langs die geplaveide wandelpad sit vier bejaarde vriende en kuier. By ʼn bushalte klim ʼn non af, kierie in die hand, en kies teen ʼn flink pas koers in die rigting van ʼn kerk ʼn entjie teen die berghang op.

Bouwerk aan die Tiroolse Kasteel is voortgesit deur elke opeenvolgende Baron van Tirool: ʼn Tweede fase bouwerk is rondom 1139 aangepak op die basiese struktuur wat deur die eerste baron opgerig is, ʼn derde fase in 1347, en ʼn vierde fase in 1420. Ná groot verval weens verskeie redes is die kasteel in die 19de eeu gerestoureer, en deesdae huisves dit die Suid-Tiroolse Geskiedenismuseum. In die kasteel se tempel kan die verskillende fases bouwerk duidelik onderskei word in die tipe, vorm en struktuur van boumateriaal en -tegnieke wat gebruik is.

Uit uitbeeldings van die verskillende boufases van die kasteel lyk dit of die eerste fase in 1100 maar effentjies was. Die arme Baron van Tirool was uitgelewer aan bouwerk op ʼn bykans onbegaanbare terrein (daar was natuurlik nie ʼn lekker geplaveide pad soos nou nie), in soms uitdagende weerstoestande, met “bure” in nabygeleë kastele wat waarskynlik nie te vriendskaplik gevoel het oor dié bouery op hul voorstoepe nie. Die eerste bouwerk was dus nie veel meer as ʼn basiese fondasie en lae mure nie – ʼn “kasteel” wat skaars skuiling sou kon bied tydens ʼn veldslag. Maar die belangrikste van dié eerste fase bouwerk was juis die fondasie wat dit gevestig het vir bouwerk wat later sou volg. Geslag ná geslag het die Baron van Tirool voortgebou op dit wat die baron voor hom vir hom nagelaat het, tot dit uiteindelik ʼn waardige setel was vir die magtige Tiroolse Baronskap, bestaande uit ʼn kapel, ʼn binnehof met stalle, ʼn riddersaal waar feeste en onthale gehou is, kombuise, kelders en talle ander sale en vertrekke.

As ʼn mens in die Tiroolse Kasteel se toring tot bo klim, kyk jy uit oor die vallei met sy skilderagtige dorpies, met wingerde en appelboorde teen die berghange. Dis stil en vredig. Jy weet jy sit hier in die hart van iets groots wat opgebou is. Dit het nie maande of jare geneem nie, maar eeue se harde werk, bloedsweet, uitdagings, oorloë, trane, verval en weer opbou.

ʼn Mens kan jou amper nie indink wat in die gedagtes omgegaan het van die heel eerste baron wat sy bouer ʼn klip laat kap het om die eerste hoeksteen van die kasteel te lê nie. Die visie wat hy moes hê: Dis net ʼn klip, maar dis die begin van iets groots. Ek sit ʼn klip neer, maar ek bou ʼn kasteel. Ek beitel ʼn vesting vir die volgende generasie. Ek gaan nooit die einde van my handewerk sien nie, maar dit keer my nie om die begin daarvan neer te sit nie.

Terug in Suid-Afrika het ek met nuwe passie by Maroela Media se voordeur ingestap. Wie weet – ek, en jy, lê dalk vandag die hoeksteen vir iets wat eendag vir ons kinders se kinders ʼn kasteel op ʼn berg gaan wees.

Groetnis

Susan Lombaard
Uitvoerende hoof: Maroela Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lukie Carelsen ·

Pragtige storie met ‘n mooi boodskap.
Mooi fotos.
Dankie Susan.

Therese van Schalkwyk ·

Stem volkome saam. ‘n Vreugde om te lees!

Willie Maree ·

Hierdie vergestalt die waarde van kultuur en onderhoud deur eeue – ons is soveel armer en die kanse dat kultuurgoedere in Suid Afrika behoue sal bly word by die dag minder!!

Z ·

Ek stem. Kosbare boodskap. Dit laat my dink aan mense wat die regte koers hou en elke dag kies om God se wette na te kom en dit vir hul kinders te leer. God belowe dan, dat hy die seëninge oor hulle sal uitstort tot in die duisendste geslagte. Hy is die hoeksteen. Kom ons volg Hom, terwyl ons elke dag die uitdagings van hierdie wêreld met Sy krag in ons, trotseer.

Lena Jonk ·

Dankie Susan jy het dit so mooi vertel jou belewenis dit was vir my so asof ek saam met jou gestap het. Seen en voorspoed daar, lees nog gereeld Maroela Media.

Jerry ·

Pragtig geskryf Susan. Dit le my na aan die hart dat jou motivering vanuit die buiteland kom, omrede die hoeksteen vir my kinders en hulle kinders ook reeds gele is in die buiteland.

Johan Oosthuizen ·

Susan, welkom terug. My gedagtes word ver teruggevoer, want ek was ook daar. Hoe wonderlik dat sulke kultuurskatte ongeskonde, met enkele uitsonderings, vir die nageslag behoue bly. Onbeskryflik mooi en kosbaar. Jou boodskap sit ‘n mens aan die dink: Waar en vir wie kan ek vandag ‘n klip uitkap en neersit sodat iemand se bouwerk kan begin? Baie dankie vir wat jy met ons gedeel het.

George in Bloem ·

Ek was al in ‘n paar lande in my lewe en was altyd vas oortuig Suid Afrika is die mooiste land ter wereld maar dit was totdat ek en my vrou Italie ervaar het in 2015. Ons asems was behoorlik weggeslaan. Wat ‘n pragtige pragtige land.

Annie Webb ·

En alles deur gewone arbeidershande gemaak, met basiese gereedskap. Kreatiwiteit en harde werk deur beskeie mense wat dinge van blywende waarde geskep het. Wat eeue later steeds staan. Indrukwekkend. En hoe onbelangrik laat dit al ons doenigheid op verligte skerms lyk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.