Remigrasie in die kollig

(Foto: Nils Nedel/Unsplash)

Op 6 Maart 2003, dus twintig jaar gelede, het Solidariteit en die destydse Maatskappy vir Immigrasie die Kom Huistoe-Veldtog bekendgestel. Die doel was om Suid-Afrikaners wat geëmigreer het, maar wou terugkeer, met betroubare advies by te staan. (Terloops, hierdie samewerkingspoging het aanleiding gegee tot die totstandkoming van AfriForum twee jaar later).

Die veldtog is met oorweldigende reaksie begroet. In die eerste vier maande is die webwerf met inligting meer as 50 000 keer besoek. Daaruit het honderde individuele navrae gespruit wat gehandel het oor burgerskap, werkverskaffing, evaluering van buitelandse kwalifikasies, terugbring van huisraad of troeteldiere, finansiële sake, studiegeleenthede, mediesefondse, skoolplasing van kinders en vele meer. Positiewe en negatiewe kommentaar is ook op die projek ontvang en hulp is deur ʼn netwerk kundiges aangebied.

Die aantal lande waaruit die navrae afkomstig was, het weer bevestig hoe wyd ons mense oor die aardbol versprei is. Daar was onder meer e-posse uit Engeland, Skotland, die VSA, Nederland, Australië, Kanada, Nieu-Seeland, Ierland, Italië, Zimbabwe, Saoedi-Arabië, Zambië, Swede, België, Bulgarye, Abu-Dhabi, Oman, Malawi, Frankryk, Hongkong, Korea, Thailand, Denemarke, Nigerië, Duitsland, Taiwan en Dubai.

Sedertdien het emigrasie toenames en afnames getoon, maar so ook die aantal mense wat terugkeer, of te wel remigreer. Hulle redes is uiteenlopend – van verlange na geliefdes, hulle eie kultuur en die bekende landskap, tot die vermoë om uit die buiteland unieke besigheidsmoontlikhede in die land raak te sien en daarop voort te bou.

Frustrasies soos die burokratiese rompslomp waarmee die terugkeer gepaard gaan, het nie minder geword nie, maar deesdae is daar al meer diensverskaffers wat hierdie irritasies help oorbrug.

Remigrante kyk soms die realiteit mis dat die land wat jy verlaat het, nie die een is waarheen jy terugkeer nie – mense en stelsels het aanbeweeg tydens jou afwesigheid en lewenskoste het gestyg. Tog getuig remigrante van toegevoegde lewensgehalte waarop hulle nie noodwendig in die buiteland kon reken nie, insluitend om persoonlike kontak met geliefdes te hê. Die reisinperkings tydens die Covid-19-tyd het weer geleer dat afstand en grense letterlik onoorbrugbaar kan raak en dat kontak deur sosiale media net nie dieselfde is as om fisies bymekaar te wees nie.

Suksesvolle internasionale lande behandel hulle emigrante en remigrante met respek en waardeer hulle kundigheid en ervaring. Nederland en Vlaandere het byvoorbeeld op Moedertaaldag 2023 inligtingsblaaie vir remigrante op die Nederlandse Taalunie se webtuiste bekendgestel. In Dublin bring die indrukwekkende “EPIC Ierse Emigrasiemuseum” weer hulde aan alle Ierse emigrante en hulle bydraes in die res van die wêreld.

Plaaslik hou AfriForum se Wêreldwyd-inisiatief en die Solidariteit Beweging se Kuberkanton kontak met ons mense in die buiteland. Remigrante word steeds sover as moontlik deur AfriForum met advies bygestaan. Van owerheidsweë is daar geen pogings van die aard nie, en beperk wetgewing met betrekking tot die verlies van burgerskap, belasting op inkomste uit die buiteland en valutabeheer mense se mobiliteit. Nogtans skrik dit nie remigrante af nie, maar sien vele steeds ʼn meer sinvolle toekoms vir hulleself aan die suidpunt van Afrika as in die res van die wêreld.

Toenemende beweeglikheid van mense het tot gevolg dat migrasie ook wêreldwyd toeneem. Die uitdaging is om geen persoon wat kies om te bly, te gaan, of te remigreer te vervreem nie, maar almal steeds kultureel betrokke te hou sodat elkeen met hulle unieke insig en kennis saam aan ons toekoms kan bou.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Bitter moelik om na sewe jaar terug te kom. Kinders word daar gebore en groot gemaak. Hulle gaan daar skool en het nou maats. Mense is gevestig in beroepe en bedryf eie besighede. Hulle het pensioen planne en huisverbande moet afbetaal word. Bykans ontmoontlik om weer hier van voor te begin.

Koeksuster ·

Jou redes is presies dieselfde redenasie vir mense wat nie wil/kan immigreer na buite SA nie. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Duisende mense het al suksesvol teruggekeer. Nie noodwendig met ‘n silver lepel in die mond nie, maar suksesvol.

Republikein in die Wes Kaap ·

Koeksuster, hoe lank was die “duisende” in die buiteland? Was hulle tydelik daar vir werk, of permanent met volle burgerskap? Hoe oud was hulle toe hulle oorsee is? Jonges gaan werk daar as deel van ‘n gap jaar, maar kom terug. Dit tel nie. Gaan oorsee, bring daar kinders in die wêreld. Dan verander die prentjie vinnig.

Hennie Biebouw ·

Waarom sou enige regdenkende mens wil terugkom na ‘n land waaar die ant-wit sentiment daagliks deur politici aangeblaas word, ‘n land waar mens mense jaarliks vermoor, verkrag en vermink word as oorlog geteisterde dele? En dit alles in die donker?

Blomkind ·

As ek op daai Vliegtuig klim, sien die Hool my nie weer nie…

Koeksuster ·

Vir diegene wat so negatief is oor ‘n remigrasie na SA –
Daar is groot groepe op sosiale media waar daar daaglikse besprekings plaasvind oor hoekom en waarom mense wil terugkeer na SA toe. Dit het my ‘n totaal nuwe blik en perspektief op lewe in SA gegee.
Maar ja, as jy wil negatief wees gaan jy negatief wees. Dat die van ons wat hier wíl wees, julle dan seker ook moet dra, is die eintlike tragedie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.