Skuldobsessie kan Weste kelder

kompas-natuur-rigting

Is die Westerse beskawing rigtingloos? Foto: StockSnap/Pixabay.com

Die Westerse beskawing verkeer in sy grootste bestaanskrisis sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Selfs tydens die donkerste dae van dié oorlog was daar dalk meer rede om steeds in die voortbestaan van die Weste te glo as wat vandag die geval is.

Westerse lande en gevolglik Westerse kulture en tradisies is onder druk weens massa-immigrasie uit Derde Wêreldlande, demografiese verskuiwings soos die lae bevolkingsaanwas onder Westerlinge en die onvermoë van Westerse volkere om motiewe vir voortbestaan nie net uit te leef nie, maar selfs net te identifiseer.

Die kern van die probleem lê egter opgesluit in Westerlinge se behoefte om hulself vir alles wat in die wêreld verkeerd is te blameer. Wanneer ’n seuntjie op die kus van Turkye uitspoel is dit ryk Europeërs se skuld. ’n Natuurlike storm wat tot sterftes in Haïti aanleiding gee is die gevolg van Amerikaners se liefde vir elektrisiteit wat uit steenkool opgewek word.

In die VSA is dit nie net genl. Robert Lee se standbeeld wat verwyder moet word nie, maar word selfs Christopher Columbus se kop nou ook geëis. Die burgemeester van New York, Bill de Blasio, het verlede week ’n hersieningsproses van 90 dae aangekondig waartydens die stad glo oor al sy monumente gaan herbesin. Reg oor die VSA word die verwydering van standbeelde en die naamsverandering van strate, openbare instellings soos universiteite en selfs dorpe geëis.

Terwyl ’n eeu oue tradisie, bekend as Zwarte Piet, die assistent van Sinterklaas, onlangs byna heeltemal in Nederland verbied is, word Britte, Swede en ander Europeërs deur linkse akademici, menseregte-aktiviste en selfs regerings gemaan om met meer sensitiwiteit teenoor vreemdelinge op te tree. Sensitiwiteit is in hierdie geval slegs ’n kodewoord vir die verwerping van die eie en die bring van offers aan die armsalige vreemdelinge wie se hele hartseer lot voor die deur van die Weste gelê kan word.

Westerlinge ervaar ’n diepe skuldgevoel vir alles van kolonialisme en Westerse kapitalisme tot die kruistogte en slawerny, ’n praktyk wat al eeue gelede deur Westerse lande afgeskaf is.

Terwyl die meeste Westerlinge geen benul het van die redes vir die kruistogte en die politiek van daardie tyd nie, dink miljoene van hulle sonder behoorlike beredenering dat die toelaat van groot getalle immigrante uit die Midde-Ooste maar ’n klein vergoeding vir die kamma-bose dade van die Weste tydens die kruistogte is.

Derde Wêreldse volkere het oor die afgelope paar dekades die perfekte mengsel van selfbejammering en ’n slagoffermentaliteit ontwikkel sodat die mengsel hiervan met die na-oorlogse Westerse skuldgevoelens tot ’n perfekte resep vir die vernietiging van Westerse volkere aanleiding gegee het.

Liberale Westerlinge kan soveel monumente laat verwyder, straatname laat verander en die verskonings vir kolonialisme en alles wat boos was, laat inrol – slegs die simptome van ’n veel groter probleem sal getakel word.

’n Nuwe balans in die verhouding tussen die Weste en die Derde Wêreld is nodig. Dit moet begin deur Westerlinge se herontdekking van die waarde van identiteitsbehoud en ’n poging tot demografiese herstel. Derde Wêreldlande sal moet besef dat die koestering van ou wrokke en voortdurende selfbejammering nie die voordele van visie, produktiwiteit, eerlikheid en ’n eie pligsbesef inhou nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Heinrich ·

Dis feite, ‘You can’t judge the son by the sins of the father’, hoe lank nog moet die europeërs pa-staan vir die ander lande/volke se short comings? Toe hulle gekom het was daar niks, toe was almal maar net gewoond aan ‘n primitiewe bestaan, ken nie beter nie so dis maar fine. Nou dat hul gesien het wat hul mis, nou wil hul kom bak hand staan. Dis oordat mense wat nie eers vir hulself kan sorg nie net aanhou kinders maak, wees dit in Afrika of die Midde ooste. Ongelukkig het die hele wereld mal geraak, political correctness troef logika, as jy ‘n argument wen teen iemand met liberale denkwyse word jy weer gebrandmerk as ‘n rasis. Die eind tye begin nou al nader kruip

JC ·

Uitstekend, baier dankie!
Ons Afrikaners in Afrika maak so!(weet nie van die ander nie…lyk maar bra bedremmeld)

Therese van Schalkwyk ·

Lanklaas so ‘n stuk reguit waarheid onder oë gekry. Skitterend, Jaco Kleynhans!

Die bykans waansinnige wyse waarop gepoog word om die uitwissing van historiese gebeure met die afbreek van standbeelde en verwydering van simbole te bereik, is eenvoudig verstommend.

As liberale Westerlinge dink enige opoffering gaan óóit voldoende boetedoening wees vir die verontregtes is hulle in vir ‘n reuseontnugtering. Sulke patetiese ruggraatloosheid verdien egter alles wat dit kry in die toekoms. Vaal, oninteressante, eenvormige stede sonder enige geskiedkundige besienswaardighede sal die minste van die ellende wees.

Richard ·

Die heldeverering van Colombus kan gerus maar in beter oënskou geneem word.
Alle navigators en akademici het , minstens sedert Erasthotenes in 300 VC, geweet die wêreld is rond en dat die omtrek van die aardbol sowat 40000km is. Colombus het ‘n fout gemaak en gedink die omtrek is slegs sowat 30000km. Hy het ook gedink Japan is baie verder van China af as wat mense geweet het dit is, so hy het gedink die afstand van die Kanariese Eilande tot Japan is slegs 3700 km, en nie die werklike 20000km nie. Dis hoekom mense nie vir hom wou luister nie – hy was verkeerd. Dit was bloot geluk dat hy wel land getref het.
In die eilande is die eerste ding wat hy gedoen het, om mense gevange te neem en hulle te forseer om vir hom te wys waar hulle goud myn. Hy het die mense daar verskriklik sleg en wreed behandel, selfs vir daardie tyd se standaarde. Selfs die vorste van Spanje het hom daaroor van sy pligte onthef – die volledige verslag uit 1500 oor sy wreedheid is in 2006 in Valladolid ontdek.

Ook, hoekom het hy op sy derde vaart die kontinent gaan soek? Want Koning Johannes II van Portugal het hom versoek om dit te doen, omdat hy gereken het daar moet ‘n kontinent wees, omdat die mense van Wes-Afrika gedurig na die weste gevaar het van Afrika met groot kano’s vol handelsgoedere. Wie het dan nou juis Amerika “ontdek”?

John ·

?.. dalk so maar hoeveel ouens is dapper genoeg om die groot see aan te durf op soek na ‘n onbekende kontinent met skeepslui wat kort-kort dreig om te muit. Daar is min wereldmagte wat nie ook op wrede wyse te werk gegaan het om die oorsprong van die pot goud vas te stel en hul eie te maak nie… Kyk maar hier by ons. En wie moet ons bedank vir die vreeslike skuldopsessies: Die Roomse Katolieke Kerk met sy sosialistiese boetedoeningprogramme en vergifnisprojekte wat goud en geld laat inrol glo in ruil vir… die vergewing van sondes… Christus se sterwe word so as nutteloos verklaar. Sjoe!

Richard ·

Ek neem aan jy reageer op my skrywe oor Colombus. Jy het dit steeds verkeerd. Hy het NIE gaan soek na ‘n “onbekende kontinent” nie. Hy het gedink Japan is slegs ‘n hanetreetjie van Europa af, en hy was totaal en al verkeerd. As dit nie was vir die onbekende kontinent in sy pad na Japan toe nie, sou hy en al sy mense omgekom het van die honger en dors.

Let ook op – ek het spesifiek genoem dat Colombus selfs gemeet teen daardie tyd se wrede standaarde, besonders wreed was. Hy en sy broers was so wreed dat die koning en koningin van Spanje hom van sy goewerneurskap ontneem het en selfs ‘n tyd lank in die tronk gegooi het. Dis nadat ‘n verslag oor sy wrede heerskappy, waarin selfs sy vriende getuig het oor hoe uitermatig wreed hy was met beide die inheemse mense en die koloniste, opgestel is. Hulle het byvoorbeeld ‘n vrou wat (korrek) gesê het dat Colombus nie van die adelstand was nie, se tong uitgesny en haar kaal deur die strate paradeer…

Ja, hy was dapper om die oseaan in te vaar, daardie deel is korrek, maar sy dapperheid verskoon nie sy (groot) foute nie. Talle ander mense was ook dapper, maar het, ook in daardie jare, nie so wreed opgetree nie.

Eish ·

Dit is nou wragtig n puik artikel wat mens stimuleer. Kommentaar gaan net afbreek doen. Baie dankie Jaco!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.