Só raak die internasionale bankkrisis Suid-Afrika

Deur dr. Sandra Adendorff

Die onlangse ineenstorting van Silicon Valley Bank het opnuut vrese oor die stabiliteit van die banksektor geopper. (Foto: Riccardo Milani / Hans Lucas / Hans Lucas via AFP)

Die ineenstorting van ʼn aantal banke in Amerika en Europa vroeër vanjaar het méér tot gevolg gehad as bloot die grootste bankkrisis sedert 2008. Hierdie ineenstorting, wat grotendeels geïnisieer is deur die mislukking van die Silicon Valley Bank (SVB), het voorts die kwesbaarheid van finansiële instellings, veral binne ʼn omgewing van stygende rentekoerse, aan die lig gebring.

Dit laat die egter vraag ontstaan: Hoe veilig is Suid-Afrikaanse burgers se geld in die bank? Waarom vind sulke krisisse plaas en wat kan gedoen word om dit te keer?

Suid-Afrika het ʼn gesofistikeerde finansiële stelsel – om die waarheid te sê, een van die bestes ter wêreld. Die Reserwebank plaas finansiële instellings onder streng toesighouding, en daar bestaan ʼn menigte regulasies waaraan banke moet voldoen. Die Wet op die Regulering van die Finansiële Sektor (FSR) is op 21 Augustus 2017 onderteken, en word as ʼn belangrike mylpaal op die reis na ʼn veiliger en regverdiger finansiële stelsel tot die diens van alle landsburgers beskou.

Wat veroorsaak ʼn bankkrisis?

Bankmislukkings kan aan verskeie oorsake toegeskryf word. Kortliks kom dit daarop neer dat die risiko nie korrek voorsien is nie, en die bank nie voldoende kapitaal het om die uitvloei van deposito’s en beleggings te kan verskans nie. Ondoeltreffende bestuur speel soms ook ʼn rol, asook ʼn aantal eksterne faktore.

Suid-Afrikaanse banke het die vorige bankkrisis van 2007 baie goed weerstaan weens die feit dat ons banke beter gereguleer was as hul Amerikaanse eweknieë, wat nie al die internasionale regulering (soos voorgeskryf deur die Bank for International Settlements (BIS) Basel III) toegepas het nie.

Plaaslik sluit toepaslike regulering die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse depositoversekeringskema (Korporasie vir Depositoversekering (CoDI)) op 28 Januarie 2022 in. Die rol van die depositoversekeringskema (DIS) is om te verseker dat ʼn bankmislukking nie die kwesbaarste kliënte beïnvloed nie. Persoonlike deposito’s van tot R100 000 word dus deur dié entiteit beskerm. Dit is egter belangrik om die goue reël te onthou om nie al jou eiers in een mandjie te plaas nie.

Plaaslike banke verkeer onder druk

Indien ons die finansiële media volg, raak ons egter bekommerd. Omstandighede is baie stram, wat beteken dat banke onder geweldige druk verkeer. Probleme wat tot hierdie druk aanleiding gee, sluit in:

  • Wisselvallige kragvoorsiening wat ekonomiese groei tot twee persentasiepunte verlaag.
  • Verswakte logistiek in die pad- en spoorvervoernetwerke wat nie doeltreffend aangespreek word nie.
  • Lae ekonomiese groei en hoë vlakke van werkloosheid wat die moontlikheid van sosiale onrus vergroot.
  • Internasionale diplomatieke spanning.
  • Verswakte diplomatieke betrekkinge, insluitend die moontlikheid van sekondêre sanksies wat Suid-Afrika duur te staan sal kom, veral as ons van die internasionale betaalstelsel SWIFT afgesny word. Die grootste multilaterale handelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en die VSA, naamlik AGOA, word ook bedreig, wat die land ekonomies kan knak.
  • Suid-Afrika se betrokkenheid by geldwassery, wat tot gevolg gehad het dat het die Internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF), wat oor geldwassery en finansiering van terrorisme toesig hou, Suid-Afrika in Februarie 2023 op die internasionale Gryslys geplaas het.
  • Die toenemende staatskuld wat ʼn bron van bekommernis bly en die finansiering daarvan wat baie problematies is, aangesien buitelanders nie meer belangstel om ons staatseffekte te koop nie. Plaaslike beleggers is ook nie baie gretig na die duurder staatseffekte nie. Die Reserwebank en ander finansiële instellings word deur wetgewing beperk om nie te veel staatskuld op te neem nie, wat ʼn aansienlike probleem kan word. Die kapitaaluitvloei en verminderde diepte in finansiële markte en likwiditeit is kommerwekkend.
  • Hoë vlakke van rentekoerse wat weens verhoogde inflasiedruk genoodsaak word en die skuldbetalings van huishoudings problematies maak. Wanbetalings van lenings in die banksektor verteenwoordig voorts ʼn daadwerklike risiko.

Die probleem met Suid-Afrikaanse banke is dus oorwegend plaaslik, met omstandighede wat toenemend druk op die ekonomie en dus ook op ons bankinstellings plaas. Banke se kliënte sukkel om kop bo water te hou en skuldvlakke het astronomies toegeneem. Kliënte wend hul gevolglik toenemend tot krediet ten einde in die omgewing van hoër lewenskoste te oorleef.

Suid-Afrikaanse burgers se totale leningsaldo’s beloop ʼn verbysterende R2,3 triljoen volgens die navorsingsresultate van Debt Rescue. Daar is ook groterwordende druk op die bankstelsel vanweë kliënte wat sukkel om lenings met toenemende rentekoste terug te betaal. Banke maak voorsiening vir slegte skuld, maar hierdie omgewing word nou deur voortslepende uitdagings gekenmerk wat dit problematies maak veral vir banke wat grotendeels verbruikerskrediet toestaan sonder enige sekuriteit.

Wat kan ons doen?

Dit bly elkeen se eie verantwoordelikheid om sy/ haar finansies effektief en verantwoordelik te bestuur. Monitor jou beleggings self en moenie te veel op ander vertrou nie. Wees ook bedag op skemas wat wonderlike opbrengste belowe, want ongelukkig is piramideskemas en bedrog aan die orde van die dag. Die Reserwebank monitor die finansiële stabiliteit van finansiële instellings en doen gereeld strestoetsing wat hul help om probleme proaktief aan te spreek.

Laastens hoop en bid ons dat die negatiewe geopolitieke probleme spoedig tot ʼn einde sal kom en dat die toetrede van die privaatsektor ons in staat sal stel om die Suid-Afrikaanse ekonomie vir die toekomstige geslag te bou. Terwyl ons treur oor die toestande wat versleg, moet ons steeds positief probeer bly oor die toekoms.

  • Sandra Adendorff is ʼn dosent in ekonomie aan Akademia.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Die private sektor moet die hele tyd die staat bystaan maar daar is geen respek vir die wit mense wat dit grootliks dra nie. Sodra die staat vasval is Ramaphosa se eerste hulpkreet na die private sektor. Die Reserwe Bank ken weer net een medikasie, kasterolie, hetsy verhoog die rentekoers vir die armes.

Johan Tredoux ·

Onthou. Elke krisis is n voordeel vir n sekere groep onbekendes. Daarom so baie krisisse.

Amelia ·

Glo nie ons banke is van die bestes ter wereld nie wat van vbs wat als net “verdanp” het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.