Soedan se paramilitêre mag ʼn groot bedreiging

Deur prof. Tsega Etefa, Colgate Universiteit

In hierdie foto wat op 23 September 2017 geneem is, waai Mohamed Hamdan Daglo, bevelvoerder van die Rapid Support Forces (RSF), ‘n aflosstokkie tydens ‘n besoek deur die Soedanese president aan hul hoofkwartier in Umm al-Qura in Suid-Darfoer Staat. (Foto: ASHRAF SHAZLY / AFP)

Soedan is in ʼn krisis. Gevegte duur voort tussen Soedan se militêre leier, Abdelfattah Al-Burhan, en sy adjunk op Soedan se regerende raad, generaal Mohamed Hamdan Dagolo, wat die paramilitêre groep die Rapid Support Forces (RSF) beveel.

Soedan-historikus en konflikkenner prof. Tsega Etefa verduidelik wat tot hierdie uitbarsting in geweld gelei het en verduidelik wie die RSF is.

Wat is aan die kern van die konflik?

Die Rapid Support Forces (RSF) en die weermag baklei weens ʼn meningsverskil oor die toekoms van die land ná verwydering van die voormalige president Omar al-Basjir in 2019. Al-Basjir is verdryf ná wydverspreide openbare betogings wat in 2018 begin het oor die koste van brood. Dit het uiteindelik sy hele regime uitgedaag, wat op daardie stadium al meer as 30 jaar in plek was.

Saam met die weermag het die paramilitêre mag ʼn sleutelrol gespeel in die verwydering van al-Basjir. ʼn Soewereine Raad, wat uit burgerlike en militêre faksies bestaan het, is as ʼn tussentydse regering daargestel. En in Augustus 2019 het Abdalla Hamdok premier geword.

In Oktober 2021 is Hamdok egter verwyder in ʼn ander staatsgreep wat gesamentlik deur die weermaghoof luitenantgeneraal Abdelfattah Al-Burhan, bevelvoerder van RSF, generaal Mohamed Hamdan Dagolo, “Hemedti”, en ander veiligheidsbeamptes gedryf is. Dit het gevolg op maande van opbouende spanning tussen die burgerlike en militêre elemente van die raad tesame met strawwe ekonomiese toestand en betogings.

Na maande van wydverspreide betogings om die land terug te bring tot burgerlike bewind, is ʼn finale politieke raamwerkooreenkoms tot oorgang ter tafel gelê. Dit sou op 1 April 2023 onderteken word.

Soedanese soldate, lojaal aan weermaghoof Abdel Fattah al-Burhan, op 20 April 2023 in die Rooisee-stad Port Soedan. Meer as 300 mense is dood sedert die konflik op 15 April uitgebreek het tussen magte wat lojaal is aan al-Burhan en sy adjunk, Mohamed Hamdan Daglo, wat die Rapid Support Forces (RSF) lei. (Foto AFP)

Op die oog af het Soedan gelyk of dit in die regte rigting beweeg, maar verskeie faktore het daarteen gewerk. Die belangrikste daarvan was onenigheid tussen die weermaghoof Al-Burhan en RSF-hoof Hemedti. Die twee kon nie ooreenkom oor die wyse waarop die insluiting van die lede van die paramilitêre groep in die weermag behartig moet word nie. Die weermag bly steeds een van die “bastions” van die al-Basjir-era-regering en besprekings is aan die gang oor hoe om dit te hervorm.

Ten slotte het Hemedti Al-Burhan daarvan beskuldig dat hy sleutelposisies aan die lede van die voormalige regime gegee het en dat Al-Burhan van plan is om hom van die politieke toneel te verwyder. Dit het die finale ondertekening van die raamwerkooreenkoms vertraag en gelei tot die uitbreek van konflik op 15 April 2023. Albei blameer mekaar dat hulle dié botsings begin het.

Wie is die RSF en hoe het hulle so magtig geword?

Die paramilitêre mag in 2013 deur die regering van al-Basjir geskep, en het destyds bekendgestaan as al-Quwat al-Da’m al-Sari’ in Arabies. Die regering se plan was om ʼn goed opgeleide, goed toegeruste en sentraal geïntegreerde veiligheidsmag te vestig wat teen bedreigings vir sy regime ontplooi kan word.

Hemedti, ʼn Abbala-Arabier van die Hemedti-stam, is deur al-Basjir as die leier gekies. Hemedti is ʼn voormalige Janjaweed-bevelvoerder. Die Janjaweed is ʼn gewapende burgermag met Arabiese afkoms van Darfoer en Kordofan in die weste van Soedan. Hulle was berug daarvoor dat hulle gruweldade in Darfoer uitgevoer het onder opdrag van Al-Basjir in die 2000’s.

Teen 2021 was die paramilitêre groep na raming tussen 75 000 en 100 000 mans groot, vergeleke met die Soedanese weermag se tussen 120 000 en 200 000 troepe. Die groot meerderheid van die RSF-personeel is Darfoeriane met baie wat deur Hemedti gekies is.

Sedert hul ontstaan het die paramilitêre groep verwoesting gesaai deur burgerlike dorpe te teiken en gruweldade te pleeg, insluitend verkragtings in Darfoer, Suid-Kordofan en Blou Nyl-state. Byvoorbeeld, in 2014 en 2015 is die RSF, onder Hemedti se bevel, deur die regering na Darfoer ontplooi. Hulle het burgerlike eiendomme geplunder en vroue, insluitend jong meisies, verkrag. Die teiken van burgerlikes om die steunbasis vir die rebelle uit te skakel, het kenmerkend van hul aktiwiteite geword.

‘n “Tegniese” voertuig (bakkie gemonteer met rewolwer) van die Rapid Support Forces (RSF) op 17 April 2023 buite die kantore van Dar al-Mushaf (African Holy Koran Publishing House), in die suide van Soedan se hoofstad Khartoem. (Foto: AFP)

Ironies genoeg het Hemedti ʼn sleutelrol gespeel in die verwydering van Al-Bashir in April 2019, ten spyte van die feit dat die paramilitêre groep geskep is om Al-Bashir se regering teen dreigemente te beskerm.

Is die mag van die RSF ʼn rede tot kommer?

Ja, en dit is grootliks as gevolg van hul wortels: die Janjaweed.

Die Janjaweed-burgermagte (militia) het in die middel-1980’s ontstaan tydens ʼn ineenstorting van wet en orde in die Darfoer-streek. Dit was te wyte aan ʼn kombinasie van faktore, insluitend hongersnood, marginalisering deur Khartoem, die uitbreek van burgeroorlog tussen die noorde en suide van Soedan en Tsjadiese rebelle en Libiese militêre aktiwiteite.

Darfoeriane het hulself begin bewapen en burgermagte gevorm vir beskerming, alhoewel hulle grootliks bedryf is om grond te gryp en verlore diere te vervang. Die term “Janjaweed” is van toepassing op alle Arabiese gewapende groepe, ongeag hul oorsprong. Hulle kan byvoorbeeld Tsjadies, Libies of van ander nie-Soedanese agtergronde wees. Maar die meeste van hulle was Arabiere van Darfoer.

Soedannese burgers gebruik donkiekarre om watertenks op te vul te midde van voortslepende geweld in dié Afrika-land. (Foto: AFP)

Ek glo dat hul wortels – as ʼn burgermag met eiebelang wat buite die wet handel – steeds hulle optrede bepaal vandag.

Alhoewel die paramilitêre groep deel is van die Soedanese veiligheidsektor, streef hulle na ʼn ander patroon van geweld as die Soedanese polisie en weermag. Hulle teiken burgerlikes en pleeg gruweldade. Hulle het byvoorbeeld die verplasing van hele gemeenskappe gedwing en kos as ʼn oorlogswapen gebruik. Hulle is bekend daarvoor dat hulle martel en buitegeregtelike moorde en massaverkragtings pleeg. Hulle is ook beskuldig van moord en verkragting tydens die burgerlike betogings in 2019 in Khartoem.

Omdat dit steeds ietwat onafhanklik onder Hemedti se bevel funksioneer, skep dit ʼn groot probleem vir die nasie. Die RSF moet ontbind word en sy lede moet die opsie kry om by die weermag of polisie aan te sluit – of terug te keer na die burgerlike lewe. ʼn Land kan nie soveel uiteenlopende veiligheidsmagte hê nie. Hulle moet geïntegreer, heropgelei en onder verenigde bevel geplaas word.

Die paramilitêre groep se geskiedenis van brutaliteit en straffeloosheid dui daarop dat die toename in sy aktiwiteite onstabiliteit in Soedan sal dryf. Sy sterk teenwoordigheid in die politiek sal nie help met die skep van vertroue wat nodig is om onderhandelinge vorentoe te beweeg nie.

ʼn Nuwe politieke raamwerkooreenkoms is nodig wat inklusief is en wat die vertroue en ondersteuning van Soedanese burgers het. Die weermag is daar om die nasie te beskerm en behoort nie die oorheersende mag in die politieke proses te wees nie.

Die voortdurende gevegte moet stop en opregte onderhandelinge moet ʼn kans gegun word. Die Interregeringsowerheid vir Ontwikkeling moet voortgaan om ʼn onderhandelingsrol te speel en by te staan in die demokratiseringspogings.

Alhoewel Soedan ʼn geskiedenis van staatsgrepe en burgeroorloë het, het hulle ook ʼn geskiedenis van vreedsame oplossing vir hul probleme. Die eerste Suid-teen-Noord-Soedan-burgeroorlog het vreedsaam in 1972 geëindig en die tweede burgeroorlog ook in 2005.

Oorspronklik gepubliseer op The Conversation 
The Conversation

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.