Sol-Tech se dieper betekenis

Deur Paul Maritz

Die nuwe Sol-Tech-kampus.

Lanklaas is soveel kulturele kapitaal in die Afrikaanse taalgemeenskap en Afrikaner kultuurgemeenskap vrygestel soos met die onlangse bekendstelling van Sol-Tech, die Afrikaanse beroepsopleidingskollege wat deel is van die Solidariteit Beweging.

Uit verskillende oorde is die inisiatief geprys, asook die manier waarop ’n klomp bietjies een groot baie gemaak het. Daar is wel ’n dieper perspektief wat nie met die eerste oogopslag na vore kom nie, ’n dieper waarde wat Sol-Tech as beginsel in die Suid-Afrikaanse taaldebat dra.

Baie ouers wat kinders in die 1990’s en 2000’s verwelkom het, was verward oor die taal waarin hulle hul kinders moet grootmaak. Daar was heelparty wat tot die gevolgtrekking gekom het dat die skrif aan die muur is vir Afrikaans as tersiêre onderrigmedium, en die snelle verengelsing van eers RAU, toe Tukkies, toe Kovsies, en toenemend selfs Maties en die ou Puk, het hul hipotese keer op keer korrek bewys. So het dit gebeur dat Afrikaanse ouers uit verskeie kultuurgemeenskappe die besluit gemaak het om eerder met hul kinders Engels te begin praat, of om ’n mengelmoes van tale in die huis aan te wend. Dat hul kinders makliker sou inpas en aanpas was hul grootste rede hiervoor, en in plaas van veroordeel, kan hul optrede miskien in ’n mate verstaan word, daar was immers baie rede om te dink dat die skrif aan die muur was vir die taal van Totius, Langenhoven, en Van Wyk Louw.

Die rede waarom ouers wat in die afgelope drie dekades besluit het om hul kinders nie meer ten volle in Afrikaans groot te maak nie, al is dit beide ouers se moedertaal, net ten dele verstaan kan word, is gewoon omdat dit naïef was om te dink dat die Afrikaanse taalgemeenskap al die bloed en sweet wat hy in sy taal gewerp het net met die gety sou laat wegspoel. Enigiemand wat ons taal se geskiedenis geken het, sou weet dat baie groepe al baie harder probeer het om met Afrikaans en sy voorgangers weg te doen hier aan die Suidpunt van Afrika. Hulle het nie geslaag nie, en sekerlik moes die skrif selfs groter aan die muur wees dat die ANC post 1994 nie sou slaag nie.

Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling. (Argieffoto)

Vir diegene wat die geskiedenis van Afrikaans nie ken nie, en vir diegene wat huiwerig was, is Sol-Tech die helder oranje kennisgewingbord langs die snelweg van die lewe wat uitroep: My doodkry is min! Skielik sal ouers wat besluit het om hul kinders Afrikaans groot te maak soos wat hulle Afrikaans is, nie meer hoef te hoor dat minder deure oopstaan vir Afrikaanse kinders nie. Soos wat die ouers wat Afrikaans verlaat het, keer op keer langs die braaivleisvuur kon vra: “Het julle gehoor van RAU?” of “Het julle gehoor van Tukkies?” kan daar nou van die ander kant van die vuur af gevra word: “Het julle gehoor van Sol-Tech?”.

Die punt is dat Sol-Tech maar ’n beperkte hoeveelheid studente inneem, maar dit gaan veel eerder oor die simboliek en die beginsel. As simbool bevestig Sol-Tech dit wat baie mense reeds geweet het: Die Afrikaanse taalgemeenskap sou nooit net stilgemaak word nie. Ons het ‘n té groot waardering vir ons taal en die taal se geskiedenis. As beginsel bied Sol-Tech ’n teenvoeter vir hulle wat glo dat die toekoms van onderrig in Suid-Afrika slegs in Engels kan plaasvind, en dat alle ander tale moet terugtrek na die kombuis, die plaas, of die voormalige tuisland toe.

Ten slotte sou dit maklik wees om die tong nou uit te steek na diegene wat in vorige dekades oorkom was met onsekerheid, en werklik ten diepste daarvan oortuig was dat Engels of Mengels die beste moedertaal vir hul kinders sou wees, maar wat sou dit tog bereik? Geen redelike ouer sou so ’n besluit ligtelik opneem nie, en al stem mens dalk nie saam nie, behoort daar nou eerder oop arms te wees vir hulle wat besef dat hulle ’n wanopvatting oor Afrikaans, en oor die droom van ’n Afrikaanslose Reënboognasie gehad het.

Vrae wat in die eerste tien jaar ná 1994 gevra is, word nou stelselmatig beantwoord, en alhoewel die onsekerheid in daardie jare verstaan behoort te word, is daar vandag geen meer rede vir onsekerheid nie: Afrikaans is lewendig, en aan die groei. Afrikaans roep steeds uit: “My doodkry is min!”

  •  Paul Maritz is die bestuurder van Solidariteit Jeug en loopbaanontwikkeling.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rudolf

Hoor, hoor !

RS

Ek wens my finansies sal reg wees om eendag my seun daar te laat leer.

Jaco

Hoe kom soltech by regstellende aksie en BEE verby? Dit lyk na ‘n reusagtige gebou daardie foto, so die aantal personeel moet meer as 50 wees. Regstellende aksie wette sê as die personeel 50 oorskry en/of as die finansiële omset ‘n sekere bedrag oorskry, MOET regstellende aksie toegepas word. Wats die kans dat soltech môre oormôre deur die anti-wit anti-Afrikaanse ANC-regering gedwing gaan word om te “transformeer”?

netek

@RS ek het presies daardie probleem. Finansies. Jul doen dit vir Afrikaanse kinders wat nie n toekoms het nie. Maar julle het nie gedink aan die ouers wat nie die finansies het nie. Ek verstaan hoekom julle fooie hoog is, Jul geen hoë standaard opleiding. Maar om te verwag dai fooie moet binne n sekere tyd tenvolle betaal wees, en regtig buit die kwessie. My seun was aanvaar maar ek kan dit glad nie bekostig nie. Dan is jul geleë inn hoë koste buurt, waar verblyf alleen nie onder die R4000 is nie. Ek weet want ek het n dogter… Lees meer »