Staatsverrotting en verval – die gevolge van transformasie

Jan Bosman van die Afrikanerbond.

In die 25ste jaar van veronderstelde demokrasie in Suid-Afrika en die 23ste jaar van die 1996-Grondwet hoef mens net na die aanhef tot die 1996-Grondwet te kyk om te weet dat die regering in 2019 in ʼn vorm van kontrakbreuk met die mense van Suid-Afrika is. Volgens die aanhef van die Grondwet sê die mense van Suid-Afrika dat ons deur ons vryverkose verteenwoordigers:

  • ‘n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte skep;
  • die grondslag lê vir ‘n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;
  • die lewensgehalte van alle burgers verhoog en die potensiaal van elke mens ontsluit; en
  • ‘n verenigde en demokratiese Suid-Afrika bou wat sy regmatige plek as ‘n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.

Alreeds kan ons punt vir punt in die voorafgaande die ooreenkoms tussen die burgery en die staat, soos wat dit in die Grondwet vervat is, evalueer en uitwys waar dit óf verontagsaam word óf geïgnoreer is, en waar ideologie deur transformasie die interpretasie hiervan bepaal het.

Dan kan die vraag heel tereg gestel word: Maar loop ons die pad van Afrika? In sy werk The Blood of Experience (1995) identifiseer Ali Mazrui, ʼn Afrika- en Islam-kundige ses noodsaaklike funksies wat as barometer vir die “sterkte” van ʼn staat geneem kan word, te wete:

  • Soewereine gebiedsbeheer

Maar dit moet gesien word teen die agtergrond van “oop grense” en die instroming van onwettige immigrante (sommige konserwatiewe ramings beloop reeds meer as drie miljoen onwettige immigrante. (So onlangs as Augustus 2019 is die polisie deur buitelanders uit Johannesburg verjaag).

  • Goeie bestuur van hulpbronne

Lees dit in die lig van die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping en hoe noodsaaklike hulpbronne in die verkeerde hande van korrupte ontvangers beland het. ʼn Kort ruk gelede is die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in sakeredding geplaas ná miljarde se reddingsboeie wat oor jare betaal is. Voeg hierby Denel, die SAUK en vele ander entiteite.

  • Effektiewe belastinginvordering

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is die enigste entiteit wat tot onlangs redelik goed gefunksioneer het, maar dit was ook ʼn slagoffer van staatskaping. Volgens sommige ontleders betaal slegs 13% van die 56 miljoen van die Suid-Afrikaanse bevolking inkomstebelasting – terwyl die ander 87% slegs bydra tot BTW. Aan die uitgawekant gaan die grootste gedeelte van die begroting egter aan die salarisrekening van die staat (36%) en maatskaplike toelaes (17%).

  • Die vestiging en instandhouding van infrastruktuur

Hieronder word verstaan die bou van paaie, kommunikasie-infrastruktuur elektrisiteitsnetwerke, spoorweë, en dies meer. Eskom het die land pas in nóg ʼn energiekrisis gedompel en paniek veroorsaak deur na fase 6 van beurtkrag oor te skakel terwyl die regering koersloos ronddobber. Eskom self is enkele jare gelede aangehaal dat fase 5-8 deel van ʼn rampplan is.

  • Die vermoë om basiese dienste te lewer

Terwyl groter en duurder planne ontwerp word en swak geïmplementeer word, stort munisipale dienste in duie, staatshospitale het ʼn swak reputasie en onderwysstandaarde sak jaarliks met meer mense wat werkloos raak as gevolg van swak onderrig en opleiding.

  • Die handhawing van wet en orde

Die Suid-Afrikaanse polisie se werk ten opsigte van die handhawing van wet en orde word stelselmatig oorgeneem deur private veiligheidsdienste midde-in misdaadstatistieke wat dui op 21 002 mense wat in 2018 vermoor is, plaasaanvalle wat ʼn vorm van terreur raak en ander gewone misdaad wat toeneem. Kosbare munisipale infrastruktuur word daagliks gestroop vir skroot.

Uit die ses noodsaaklike funksies wat ʼn staat moet verrig, funksioneer slegs een na behore.  Daar is dus aan die einde van 2019 duidelike tekens dat ons ʼn falende of verswakkende staat het. Hieroor skryf prof. André Duvenhage onlangs: “Hoewel Suid-Afrika nie in alle opsigte as ʼn ‘swak staat’ beskryf kan word nie, is daar tog kommerwekkende tendense ten opsigte van staatsverswakking. Hiervan getuig tendense soos eskalerende korrupsie en nepotisme; die gebrekkige instandhouding van infrastruktuur; diensleweringsuitdagings; ontoereikende grensbeheer; en talle ander regeerkundige en politieke bestuurskwessies.”

Met al bogenoemde in ag, moet ons ook in gedagte hou dat die ANC-regering tans twee beleidsraamwerke voorhou, wat verdere katastrofes tot gevolg sal inhou. Die een is die onbekostigbare en ondeurdagte Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die ander die wysiging aan die Grondwet om onteiening sonder vergoeding (OSV) moontlik te maak wat die beginsel van eiendomsreg verskraal.

Waar het alles dan so verskriklik dramaties skeefgeloop? Met die aanvaarding van die tussentydse Grondwet sê Nelson Mandela: “Hiermee sluit ons ʼn plegtige verbond waarin ons ʼn samelewing gaan bou waarin alle Suid-Afrikaners, beide swart en wit, in staat sal wees om hul koppe hoog te hou, sonder enige vrees in hul harte, verseker van hul onvervreembare reg op menswaardigheid – ‘n reënboognasie tevrede met homself en die wêreld.”

Nou, meer as 25 jaar later, moet ons terugkyk en sê dit het nie gebeur nie. Inteendeel. Die ideaal wat hy voorsien het, is deur sy eie party en kaders vernietig.

Vyf jaar gelede toe Helen Zille premier van die Wes-Kaap was, sê sy: “Die hartseer geskiedenis van demokrasieë reg oor die wêreld, is dat die meeste misluk. Hul grondwette word herroep, omver gewerp deur antidemokratiese magte of geleidelik uitgeroei deur die party wat aan bewind is.”

Die ANC-regering in sy alliansie met die SAKP en Cosatu het so verstar en verstrik geraak deur ʼn uitgediende ideologie met transformasie as einddoel. Transformasie wat nie een keer in die Suid-Afrikaanse Grondwet voorkom nie, is nie duidelik gedefinieer nie en was die toepassing daarvan ten alle koste – uiters vernietigend. Soos wat transformasie geïnterpreteer en toegepas is STAK (Swart ten alle koste) deur kaderontplooiing het die staatsverrotting begin. Transformasie het die teelaarde geskep vir staatskaping, massale korrupsie, middelmatigheid en nepotisme en gevolglike verlamming van ʼn eens doeltreffende openbare sektor.

Die gevolg van die ideologiese toepassing van transformasie is dat mense in posisies aangestel was, waartoe hulle nie die bevoegdheid, ervaring of kundigheid het nie. Maar meer nog, die staat het die produksielyn geword van 9 774 senior bestuurders in die nasionale en provinsiale regering wat gemiddeld R1,4 miljoen per jaar verdien. Dit is in skerp teenstelling met die broodnodige dienste wat eerder benodig word met die gemiddelde jaarlikse salaris van R169 466 wat aan ‘n polisiebeampte betaal is, R273 209 aan onderwysers, en R302 000 per jaar wat aan verpleegkundiges betaal word. (Bron: BusinessTech)

Hierdie ideologiese transformasie-aanstellings in die staatsdiens is direk verantwoordelik vir min na geen beplanning of bestuur wat nodig was vir die onderhoud en instandhouding van ʼn besondere uitgebreide en omvangryke infrastruktuur wat die regering ná 1994 oorgeneem het nie. Kundigheid en ervaring is op onbehoorlike wyse vervang deur regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging.

Menige semistaatsinstellings soos Eskom, die SAL, Denel, die SAUK en vele ander was eens trotse instellings wat baie vermag het. Hierdie instellings word egter voortdurend gery deur kontroversie en magsbeheer en in baie gevalle bestuur (soos persoonlike koninkryke met geen aanspreeklikheid ten opsigte van bestuur nie). Elke keer is die oplossing net ʼn nuwe bestuur met ʼn nuwe “strategiese omkeerplan” wat maar net beteken dat nóg miljoene rande ingepomp word om die instellings van algehele ondergang te red.

Die staatsverval en -verrotting moet direk voor die kop van die regerende party gegooi word en hul kaderontplooiings in senior bestuursposisies gelê word. Noodsaaklike staatsbestuur het tot dusver skouspelagtig misluk. Dit het tyd geword om die regerende party en sy leiers aanspreeklik en verantwoordelik te hou en daarvolgens op te tree.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johanna Botha ·

Verroting …SA is n ashoop van anc se dooie karkaste met n stank wat beleggers verjaag !

Attie ·

Nie net die ANC is skuldig nie, te meer die amptelike opposisie en hul ondersteuners wat ook transformasie onderskryf.

Tresia ·

Jan ek kan ongelukkig nie anders as om vir jou te se, JAN JY WEET MOS DIE NUWE SUID AFRIKA is n breinkind van die broederbond .Dis julle baba Jan, ek is bly om te sien julle probeer die gebroedsel grootmaak ,maar hef-aan le voor.

Eddie ·

Johanna ,mag ek van jou verskil , die “Nuwe SA ” breinkind is die broeisel van die verkeerde onchristelike toegepaste Afsonderlike ontwikkelings idee , wat as dit reg geadministreer en toegepas was , ons baie naby aan die Switserse stelsel sou gebring het , naamlik ‘n Federale Demokratiese stelsel , wat deur die toets van die tyd suksesvol bewys is !

Frik ·

En die Broederbond het nog nooit onverskoning gevra nie. Ook nog nooit verantwoordelikheid aanvaar nie. Dis nou te laat om te kla.

Kallie ·

Ons weet die ANC sal en kan niks aan die barometer doen nie. Wat nou vorentoe? Jong wittes met kundigheid emigreer en die res word ouer. Tik…tak…

Nico ·

Ja Jan Bosman, die AB moet pa-staan vir julle brousel van 1992. Of het jy vergeet??

Blikke ·

@Nico…..Ditto!!
Nou wil hy huil….bietjie laat sou ek se!

André André ·

Ek dink darem nie die Broederbond van vandag kan vergelyk word met daardie van der jare gelede nie. Om Jan Bosman te verguis bring niks na die tafel toe nie, hy is deel van die geveg vir ‘n oplossing van ons haglike regering.

Kerneels ·

Een maal ‘n broeder, altyd ‘n broeder. Die denke sal nooit verander nie. So ‘n jaar of wat gelede het hulle Ramaphosa staande toegejuig in die Paarl.

Andre ·

Uiteindelik begin daar geluide van die AB se kant kom. Jan Bosman gee ‘n uiteensetting van ‘n groot deel van die fiasko, maar verwys na aspekte wat almal van ons reeds ken. Wat hy nie aanspreek nie, is HOE die regerende party en sy leiers aanspreeklik en verantwoordelik gehou moet word en hoe dit prakties uitgevoer sal kan word met ‘n getransformeerde regbank. As opvolger van die Broederbond wie se makkers die situasie veroorsaak het, behoort die AM mos daardie antwoorde te verskaf?

Andre ·

Kan Jan Bosman ons asseblief laat weet wat die driehoek kenteken in die AB se logo beteken en wat die oorsprong daarvan is. Baie van ons sal graag wil weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.