Steeds min hoop vir ’n Afrika-herlewing

afrika-vasteland-aardbol-kaart-duim-kleur

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Afrika-kontinent en sy 54 lande is nie juis bekend vir demokratiese politieke stelsels nie. ’n Aantal gebeure die afgelope tyd het die politieke persepsie oor Afrika in verskillende rigtings getrek. Is Afrika as kontinent besig om in die regte of verkeerde rigting te beweeg?

Die onlangse verkiesing in Zimbabwe was sekerlik meer vry en regverdig as vorige verkiesings toe Robert Mugabe nog aan die mag probeer klou het. Die gewelddadige wyse waarop opposisiebetogings in Harare egter kort ná die verkiesing onderdruk is, het bevestig dat die huidige regime in Zimbabwe nie sal skroom om met geweld teen opposisiegroepe op te tree nie.

In die Demokratiese Republiek van die Kongo, ’n land waar ’n mens nie deur die woord “demokrasie” in sy naam geflous moet word nie, was daar op 8 Augustus groot vreugde toe president Joseph Kabila aangekondig het dat hy nie gaan probeer om tot ’n onkonstitusionele derde termyn as president verkies te word nie.

Die DRK verkeer reeds sedert 2011 in ’n politieke krisis toe Kabila met die een slim politieke proses ná die ander begin het om sy heerskappy oor die land, verby die grondwetlike bepaling van ’n maksimum van twee termyne as president, te verleng. Gedurende 2015 en 2016 het duisende mense aan vreedsame prodemokrasie-betogings in die hoofstad Kinshasa deelgeneem. Die regering het met geweld geantwoord en tientalle betogers is doodgeskiet.

Sedertdien plaas die internasionale gemeenskap druk op Kabila om uit te tree en om toe te laat dat demokratiese verkiesings kan plaasvind. Die DRK is een van die armste lande in Afrika en groot dele van die land, veral in die ooste, word deur voortdurende geweld geteister. Tydens die regering se aankondiging dat Kabila gaan uittree, is ook aangekondig dat die sekretaris-generaal van sy party as presidentskandidaat in ’n verkiesing, wat hopelik later vanjaar sal plaasvind, sal staan. Die Kabila-kliek wat die DRK oor die afgelope paar jaar gestroop het, is waarskynlik reeds gerat om na Kabila met die strooptog voort te gaan.

Hoewel ’n vredesooreenkoms onlangs in Suid-Soedan onderteken is, verkeer dié land steeds grootliks in chaos. Dieselfde kan van talle ander Afrika-lande insluitende Somalië, Libië en Mali gesê word. Die onlangse verkiesing in Mali is gekenmerk deur geweld en swak deelname en daar is steeds groot kommer oor die kanse vir vrede nadat terreurgroepe groot dele van die land oor die afgelope paar jaar gedestabiliseer het.

Hoewel min lande in Afrika tans in volskaalse oorlog verkeer, soos wat nog twee of drie dekades gelede die geval was, is gewelddadige konflik deel van die lewens van mense in die meeste Afrikalande.

Terwyl sommige Afrikalande soos Tunisië, die Ivoorkus, Malawi en Guinee-Bissau oor die afgelope dekade meer demokraties geraak het, het talle Afrikalande soos die DRK, Egipte en Kameroen weer in die rigting van outokrasie beweeg.

Afrika is steeds ’n kontinent van groot potensiaal. Die huidige uitdagings van interne konflik, swak demokratiese praktyke en instellings en ’n onvermoë om hulpbronne in volhoubare ekonomiese groei te omskep, sal eers oorkom moet word, voordat daar werklik van ’n omvattende Afrika-herlewing gepraat kan word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Rupert Ashford ·

Jaco, ek dink ons het uit die onlangse verlede geleer dat ‘n volwaardige liberale demokrasie in die styl van die Weste nie oral gewens is nie en dat die buiteland dalk nie moet peuter met goed wat op ‘n manier werk nie. Dink maar aan Libie, Irak, Sirie en Egipte waar “bevryding” nie noodwendig ‘n verbetering teweeggebring het nie. Ek se nie daarmee Afrika is OK en ons moet hulle uitlos nie, maar mens moet dalk soms eers die groter prentjie probeer sien voordat mens oordeel.

Jaco ·

Afrika sal NOOIT ontwikkel nie, Suid Afrika was die laaste hoop, een van die rykste lande ter wereld met infrastruktuur soos min ander lande met n geldeenheid wat op n tyd tot die VSA dollar verbygesteek het, dis afgebreek tot n derdewereldse nes met n rand wat staan by R15 teenoor n dollar, en alle staatsinstellings wat feitlik bankrot is! Maar ons almal weet dit tog…

Jerry ·

Die wortel van die kwaad is diep gesetel in te veel faksies binne een groot kommunistiese, sosialistiese en Marxistiese Pan Afrikanistiese ideologie. Die enigste beginsel van demokrasie wat geld is een man, een stem waar die meerderheid mag bekom en met getalle mag behou. Alle ander beginsels van demokrasie druis in teen die Afrika ideologiee. Die enigste beinvloeding wat werk in Afrika is geldelike hulp en ook net tot dit klaar is. Dit is hoe dit was, is en sal wees tot aan die einde van die tyd. SA is beslis nie n uitsondering nie, maar inteendeel n goeie voorbeeld van n faksie wat alles plunder sodat die volgende faksie eers weer alles moet regmaak met buitelandse geldelike hulp waarna die volgende faksie weer kan plunder! Soos ons telkemale tereg se, Afrika is nie vir sissies nie! Niks in Afrika raak dus ooit regtig beter nie, dit is net die doelpale wat n bietjie rondgeskuif word deur lee beloftes en misleiding van die massas vir getalle by die stembus.

Disselboom ·

Iets wat “herleef” moes eers ge-“leef” het. Afrika was nou nog nooit juis besonder blink of doeltreffend nie, dus is die term “herlewing” nie so lekker van pas nie. Miskien eerder “bykom” of so iets? Of in geleerde geskiedenistaal dalk ‘n “ontwaking”?

SAnik(s) ·

In Afrika word demokrasie verwar met meerderheidsoorheersing. n Ware demokrasie sal n grondwet hê wat alle groepe en individue se regte sal beskerm, n ten volle onafhanklike regstelsel met tande om selfs die staat tot verantwoording te roep, en n wetstoepasser (polisie en vervolgingsgesag) wat die grondwet en alle wette wat daarmee saamhang konsekwent kan toepas. Maar die mees belangrikste van alles: Die bevolking en die regerende party moet die wil en neiging hê om ALLE bepalings van die grondwet te respekteer en toe te pas.

IK ·

Herinner ek my reg dat daar in die onlangse (verre?) verlede wel orde was in Afrika toe kolonialisering wet en orde gehandhaaf het. Selfs riool, skoon dorpe/stede en gesondheidsbeleid het voorkeur geniet. Selfs die Evangelie is tot die uithoeke van Afrika verkondig!!!

humor ·

Ja IK jou geheu laat jou nie in die steek nie. Was self in sekere Afrikalande. Orals tekens van n ontwikkelde beskawing wat eens was. Sekere dorpe waar koper nog ontgin word, neem mens nog hierdie beskaafdheid waar. Self klein kerkies waar die WOORD verkondig was, is nog te vinde, maar vuil en verwaarloos.

John ·

Hmmm! Dis dalk juis Afrika se probleem. Die waarheid. Om dankie te se is ‘n ander een, Wat in Afrika opgebou is, is deur wie gedoen? Niks word steeds nog anders gedoen as deur al die eeue nie. Westerse bydraes word in die argitektuur (CR se geliefde woord) van Afrika bloot verwerk tot nut van die eie begeertes. Waarheid en leuen vervloei en gister word herskryf tot eie waarheid. Karl Jung het na sy besoek aan Afrika gese, niemand gaan Afrika verander nie, Afrika gaan eerder mense wysig tot sy aard. Afrika het die Weste gebruik en nou gebruik hulle die Ooste.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.