Suid-Afrika se muise in konteks

Julius Malema tydens die EFF se nasionale stilstand. (Foto: EMMANUEL CROSET / AFP)

Na aanleiding van die dreigemente, viktimisering en vreesskepping deur Julius Malema dat Suid-Afrika op 20 Maart tot stilstand gedwing sou word, kan ons vra: “Het die berg ʼn muis gebaar?”

Uiteraard was daar groot onsekerheid en ook afwagting vir wat alles kon ontsluit om ʼn gedestabiliseerde omgewing op groot skaal te kon ervaar. Dit was inderdaad Malema se dreigemente teenoor elkeen wat in die EFF se spervuur gekom het.

In georganiseerde gemeenskappe in Suid-Afrika is gebeurlikheidsplanne afgestof, veiligheidsstelsels getoets en beplanningsvergaderings gehou om gereed te wees vir die ergste. Van sy eise, wat geen onduidelikheid bevat het nie, naamlik dat beurtkrag gestaak moet word en die president van die land moet bedank, het weinig gekom.

Die EFF se motivering oor hoekom hierdie dag gehou moes word om verandering teweeg te bring, is iets waarmee min inwoners van die land nie mee sal saamstem nie. Die vernietigende resultate van die beleidsomgewing van die ANC, geskoei op ʼn uitgediende ideologie wat wêreldwyd nog net armoede en baie hartseer veroorsaak het, word deur elkeen in die land ervaar.

Die bul in die porseleinkas is inderdaad reeds vir bykans 30 jaar besig om sy vernietigingswerk te doen. Die ANC-regering gee dus voldoende rede vir mense om hulle ontevredenheid te demonstreer. Die hoeveelheid onluste wat daagliks ervaar word, is ʼn bewys daarvan.

Die probleem met die EFF en Julius Malema is dat die beleidsrigting wat hulle predik en nastreef geen oplossing kan bied vir al die dinge wat hulle noem wat aangespreek moet word nie. Dit gaan net verdere moeilikheidmakers in die kas genereer en die probleme sal net eskaleer.

Een groot probleem is dat dit blyk of die navolgers van die bepaalde beleid, wat beide die ANC en EFF nastreef met net ʼn bietjie meer radikale aanslag deur die EFF, reken dat welvaart iets is wat bestaan en dat dit net benut kan word. As voorbeeld is grond as een van die produksiefaktore in ʼn boerdery gewis nie rykdom nie, maar moet dit ʼn bepaalde rol speel in die produksieproses om saam met die ander faktore, naamlik die ondernemer, kapitaal en arbeid, indien reg bestuur, wel winsgewendheid te bereik. Welvaart moet deur verantwoordelike ondernemers, wat winsgewend is en wat juis ook die staat befonds deur belasting, geskep word.

Die onsekerheid wat al hoe meer vergroot, veroorsaak dat hierdie ondernemers wat die fiskus moet voed in groter getalle die land verlaat. Ons land se belastingbetalers is besig om op te raak. Selfs kapitaal as produksiefaktor raak skraps. Sedert Januarie 2023 het meer as R100 miljard buitelandse kapitaal die land verlaat as gevolg van die onsekerheid. Die ANC se beleid van kaderontplooiing en gepaardgaande korrupsie en selfverryking is besig om elke inwoner van die land, en veral ons jongmense, se toekoms te steel. Daarmee saam styg werkloosheid en armoede jaarliks en bring dit ook groter misdaad.

Die EFF se aanslag kan amper vergelyk word met ʼn persoon wat in die veld, met sy rug teen ʼn boom, vasgekeer is deur ʼn trop wildehonde wat hom wil verskeur. Daar seil toe ʼn swartmamba uit ʼn gat en pik een van die wildehonde dood. Hierdie handeling van die mamba maak hom nie dan skielik die persoon se vriend nie, want indien die mamba die kans kry, sal hy die persoon ook pik. Dit is belangrik dat ons konteks behou. Wanneer die EFF bepaalde sake sou uitwys, wat gewis ook vir ons onaanvaarbaar is, maar dit eintlik vir hulle persoonlike gewin doen, sou hulle benadering dalk ʼn meer dodelike pik vir die land se toekoms inhou.

Die EFF se uitgesproke dreigemente en viktimisering wat 20 Maart voorafgegaan het, kan nie anders as ekonomiese sabotasie teen die land gesien word nie. Die gevolge van hierdie vrees wat geskep is, was dat baie instansies soos winkels en fabrieke wel gekies het om vir die dag te sluit.

Ekonomies is ons land wel skade berokken waarvan die omvang byna onmoontlik is om te bepaal. Die ekonomiese ratte funksioneer soos wat die markkragte oor tyd heen besighede geëvalueer het en indien winsgewend sal besighede steeds in bedryf wees. Om egter enige besigheidsgeleenthede te verloor plaas groter druk op winsgewendheid, wat ʼn sneeubal-effek teweegbring.

Net deur hulle dreigemente te uiter het die EFF en Julius Malema ʼn negatiewe effek op die ekonomie gehad en kan dit gesien word as ekonomiese sabotasie wat uiteindelik as hoogverraad gedefinieer kan word. Dit is onaanvaarbaar dat enige persoon so ʼn aanslag teen die land loods en dit is soveel te meer onaanvaarbaar dat dit ʼn politieke party is wat in die parlement sitting het en alle kanale tot hulle beskikking het om die diskoers van die land aan te spreek. Malema is veronderstel om in die parlement wetgewing te help skep wat tot voordeel van die land se inwoners sal strek.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

In die lig daarvan het TLU SA reeds op 10 Maart strafregtelike klagtes teen Julius Malema en die EFF vir ekonomiese sabotasie gelê. Die saak is nou in die staat se hande om te hanteer. Daar sal diegene wees wat sê dit gaan nie help nie, want die ANC en EFF is kop in een mus, maar elke handeling waar die regering nie sy grondwetlike verantwoordelikheid nakom nie en dit aangespreek word, diskrediteer die ANC-regering net nog meer vir die skade wat hulle beleid aan hierdie land doen.

Die internasionale gemeenskap neem ook hiervan kennis. Daarom mag ons nie gaan lê nie en moet elke moontlike meganisme gebruik word om ʼn beter bedeling te kry. Die huidige gesentraliseerde bestel het inderdaad reeds grootliks misluk.

ʼn Skrywe is ook op 10 Maart aan die president, minister en kommissaris van die SAPD gerig waarin hulle tot verantwoording geroep is vir enige skade wat sou voortspruit uit die EFF se dreigemente en aksies, aangesien die beveiliging van die land se soewereiniteit, sy instellings, die ekonomie en ook die inwoners hierdie entiteite se grondwetlike plig is.

Die SAPD het inderdaad potensiële misdadigheid op 20 Maart in die kiem gesmoor en daarvoor moet erkenning gegee word. Die vervolging van Julius Malema en die EFF is dus nou die saak wat dopgehou kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.