Tegniese resessie sal waarskynlik SA se armoede vererger

hamlet-hlomendlini-agrisa

Hamlet Hlomendlini, hoofekonoom by AgriSA. Foto: Verskaf.

Deur Hamlet Hlomendlini, hoofekonoom by AgriSA

Statistiek SA het onlangs die jongste tendense rondom armoede in Suid-Afrika bekend gemaak en daarvolgens leef meer as die helfte van die plaaslike bevolking steeds in erge armoede. Volgens die verslag is die mense wat die kwesbaarste is meestal swart gemeenskappe in landelike gebiede van die Oos-Kaap en Limpopo. Dit is ook dikwels mense met min tot geen onderwys wat makliker in armoede verval, sê die verslag.

Wat die verslag egter nie sê nie is dat daar ʼn intrinsieke verband is tussen die stygende armoede in die land en die toenemende ongelykheid en werkloosheid, veral onder swart Suid-Afrikaners. Dit is ook belangrik om daarop te let dat armoede, ongelykheid en werkloosheid direk verband hou met die plundering en korrupsie wat tans in die land plaasvind.

Miljarde rande, wat vir sinvolle projekte aangewend kon word om werk te skep en só uiteindelik die ekonomie kon laat groei, word tans eerder bestee aan onnodige uitgawes op regeringsvlak, of sommer net vermors op korrupte aktiwiteite by ondermenings in staatsbesit. Hierdie korrupsie ontneem die meerderheid van Suid-Afrikaners van hul toegang tot basiese maatskaplike dienste wat armoede, ongelykheid en werkloosheid moet verlig.

Suid-Afrika moet nou die politieke wil toon om dié dinge aan te spreek wat nodig is om mense uit armoede op te hef. Werkskepping, vaardigheidsontwikkeling en entrepreneurskap het die potensiaal om armoede uit te wis.

Daarvoor is reeds ʼn raamwerk in plek: die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) is ʼn gedetailleerde bloudruk wat beskryf hoe armoede aangespreek kan word om dit teen 2030 uit te skakel. Die NOP stel landbou as ʼn sleutelbedryf voorop in dié verband.

Nieteenstaande die belangrikheid van ander bedrywe in die ekonomie is daar bewyse wat daarop dui dat landbou ander nie-landbou-aktiwiteite oorheers in die potensiaal om armoede te verminder. Die Organisasie vir Samewerking en Ontwikkeling (OECD) het ʼn studie van ʼn paar ontwikkelende lande gedoen om te bepaal hoe die vinnigste vordering gemaak is om armoede te verminder. Lande soos Indonesië en Vietnam is by die studie ingesluit. Die studie het bevind dat ʼn groeiende landbouinkomste in meer as die helfte van die gevalle gehelp het om armoede aan te spreek.

Armoede gaan in alle waarskynlikheid nie uitgeskakel word nie, maar eerder vererger, gegewe die talle uitdagings wat Suid-Afrika tans in die gesig staar, insluitende die stadige ekonomiese groei, wat die ekonomie in ʼn tegniese resessie-trajek geplaas het.

Suid-Afrika kan egter gered word uit ʼn armoedekrisis as die NOP geïmplementeer word saam met goeie politieke en ekonomiese wil en leierskap.

Miskien kan die komende ANC-verkiesingskongres in Desember ʼn soeklig plaas om te bepaal hoe Suid-Afrika se armoede, ongelykheid en werkloosheidskwessies aangespreek kan word, afhangende van die leiers wat daar verkies word om die land se leisels ná die algemene verkiesing in 2019 oor te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

John ·

?.. en geen woord word gerep oor die bevolkingsontploffing in SA nie. Buiten vir die miljoene immigrante bo uit Afrika, hou ons geboortesyfer direk verband met werkloosheid. Arm ouers met baie kinders waarvoor hulle self nie kan sorg nie neem eenvoudig net aan dat iemand anders maar sal sorg en ingryp. En wanneer hierdie kinders groot is neem hulle die ‘ander’ en die staat kwalik vir hul probleme. As ons in Afrika dink dat armoede, korrupsie, ellende, pessiektes, droogtes, oorloe en hongersnood net ver van hier in ander lande of in die verre verlede le, maak ons ‘n ligte foutjie…. Dis ook die’ dat die regering snags droom oor planne op die drukperse van die Reserwebank te loop haal… dat daai note kan inrol. En dan is daar mos ook nog sulke blink stene…

Theresa ·

Die plaas- en kleinhoewe moorde moet ook gestaak word. Ook rassistiese optrede teenoor minderhede. Daar is baie werk wat gedoen moet word om regverdigheid en geregtigheid terug te plaas in die land. Anders sal niks werk nie.

jaco ·

ek kan verstaan dat stygende lewenskoste seker ‘n manier is om ryk wit mense met hulle rassistiese wit monopolie kapitaal terug te kry vir apartheid. hierdie terugkry sal seker ook nog vir dekades aanhou. Wat ek egter nie verstaan nie, is:
1. besef die ANC regering nie dat hierdie stygende lewenskoste hulle arm rasgenote die ergste raak nie?
2. Waarom hou die arm mense wat armer word, nog steeds aan om verkiesing na verkiesing maar steeds vir die ANC te stem?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.