Thailand: bring ’n verkiesing ’n nuwe bedeling?

Ondersteuners van die Demokratiese Party wag by die Thailand-Japan jeugsentrum in Bangkok, Thailand, vir die party se leier, Abhisit Vejjajiva, om aan te kom vir die registrasie van die kandidate wat in die algemene verkiesing sou meeding. (Foto: Wason Wanichakorn, AP)

Thailand het onlangs, op 24 Maart, ’n algemene verkiesing gehou. Dit volg ná ’n lang oorgangstydperk sedert die staatsgreep van 2014 en die uitvaardiging van ’n nuwe grondwet wat in 2016 goedgekeur is.

Thailand is ’n grondwetlike monargie. Die koning is die staatshoof, maar hy is ’n seremoniële hoof en is nie verondersteld om in die politiek van die dag in te meng nie. Die koningshuis geniet tradisioneel hoë aansien, alhoewel die nuwe koning (sedert einde 2016), Maha Vajiralongkorn, geensins vergelyk met die vorige koning Bhumibol Adulyadej nie (oorlede in 2016), en wat wyd vereer is en ’n waardige terughouding beoefen het. Die koningshuis is wel deel van die gevestigde orde en koning Bhumibol het ook die staatsgreep goedgekeur, maar neem nie aan partypolitiek deel nie. Dit het ’n skandaal veroorsaak toe ’n prinses as kandidaat vir een van die kleiner opposisiepartye gestaan het, maar sy is deur die koning tot orde geroep en het haar onttrek.

Die huidige leier van die land is Prayuth Chan-ocha, voormalige hoof van die weermag en kwasidiktator. Prayuth het aan bewind gekom deur middel van die staatsgreep in 2014, maar het ná ’n ruk sy rang as generaal opgegee vir die amp van ’n burgerlike eerste minister. Die staatsgreep het gevolg op maandelange chaotiese toestande en ’n magstryd met gewelddadige botsings tussen twee massabewegings, die Geles (breedweg middelklas, stedelik, vir die gevestigde orde) en die Rooies (die armes, veral uit die landelike dele, teen die gevestigde orde). Daarna het ’n lang fase van orde en herstel gevolg en Prayuth het hom as bekwame leier bewys. Hy moes egter iets doen om sy bewind demokraties te legitimeer.

Daar is aan ’n nuwe grondwet gewerk wat ’n balans tussen orde en demokratiese deelname moes skep. Daarvolgens word die laerhuis deur die burgery verkies, maar die hoërhuis word deur die regering aangewys en verteenwoordig lede van die weermag, as teenwig teen die demokraties verkose laerhuis.

Vir die verkiesing van eerste minister moet beide huise gesamentlik stem. Op dié manier word verseker dat geen populistiese party meer die bestaande orde ontwrig nie. Die kanse vir Prayuth om herkies te word, lyk dus goed. Die nuwe stelsel is wel nie volledig demokraties nie, maar in Suidoos-Asië is meeste lande “geleide demokrasieë. Indien die opposisie egter die meerderheid in die laerhuis kry, kan hulle wetgewing beheer en uitvoering vir die regering moeilik maak.

Daar is twee groot partye en hulle verteenwoordig die ou geel/rooi-verdeling, oftewel die kragte vir Prayuth en die gevestigde orde (Palang Pracharath Party), en diegene daarteen (Pheu Thai Party), wie se de facto-leier in ballingskap, die multimiljoenêr Thaksin Shinawatra is. Die stemtellery neem dié keer besonder lank en die amptelike uitslag word eers in die begin van Meimaand aangekondig, nadat alle besware ondersoek is.

Die eerste aanduidings is dat Palang Pracharath met ’n kortkop voorloop wat die aantal stemme betref. Deur ’n ingewikkelde kiesstelsel beteken die meeste stemme egter nie noodwendig die meeste setels nie en Peu Thai loop tans voor wat setels betref. Daar sal in elk geval ’n koalisieregering gevorm moet word en die kleiner partye speel ’n belangrike rol vir die magsbalans. Daar is wel beskuldigings van manipulasie deur die opposisie gemaak, maar sonder klinkklare bewyse. Dit sou nie verbaas as die meerderheid kiesers – ná die onstuimige jare van die magstryd tussen die twee groepe en van ’n onbevoegde regering deur Peu Thai (2011-2014) – ’n ordelike en streng bewind soos tans onder Prayuth verkies nie.

In watter mate die verkiesing werklik ’n nuwe bedeling bring wat die behoefte aan orde, groei en stabiliteit, saam met demokratiese legitimiteit kan versoen, is ’n oop vraag.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jerry ·

N nuwe bedeling sal nuwe hoop bring vir die mense van Thailand en hopelik ten goede vir hulle uitwerk. Dit behoort darem nie gepaard te gaan met die hoop wat vergaan het, soos in SA waar die nuwe bedeling in sy totaliteit geskoei is op die een se dood is die ander een se brood. Alles in SA, van werkskepping tot verskaffing is ten koste van die minderheidsgroepe. Niks, maar absoluut niks innoverend en nuut word geskep nie. Dit is bloot n geval van vat by een en gee vir n ander een!

Dries du Toit ·

So opvallend. Die woord korrup kom nerens in die artikel voor nie. Sou die artikel nou oor enige Afrika land was. Raai raai ?

Sebastiaan ·

Thailand is nie vry van korrupsie nie, maar dit is nie so oorheersend en ooglopend soos in talle Afrikastate nie. Volgens Transparency International se korrupsieindeks is Thailand taamlik gemiddeld. Daar was wel korrupsie by die voormalige eerste minister Thaksin Shinawatra en sy suster, later ook eerste minister, Yinluck Shinawatra. Al twee is om die rede uit hulle poste verwyder (alhoewel daar beweer word dat die korrupsieklagtes net ‘n rookskerm was om hulle te ontsetel omdat hulle te veel die boot geskud het, aldus Pheu Thai) .

Dries du Toit ·

Sabastiaan so wat jy eintlik sê is dat korrupsie in Tailand erg gestraf word en dit die oorsaak is van verandering in regering. In die Afrika state is dit die norm. Een korrupte regering word net vervang met ‘n ander korrupte regering

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.