Thomas Hobbes: “Die mens is ʼn wolf vir sy medemens”

Thomas Hobbes (1588-1679) Engelse politieke filosoof (Foto: Ann Ronan Picture Library / Ann Ronan Picture Library / Photo12 via AFP)

Die begrip sonde word slegs in die kerk en die teologie gebruik. Filosowe en ander geesteswetenskaplikes werk nie met die begrip sonde nie.

Wanneer hierdie begrip wel gebruik word, het dit min met die Protestantse verstaan van sonde te make. Gewoonlik word ʼn moralistiese verenging of wanvoorstelling gebruik, wat baie min tot niks met die Bybelse verstaan van sonde te make het nie. Daar is egter één uitsondering, naamlik die Engelse filosoof Thomas Hobbes.

Hobbes het, sonder om die woord sonde te gebruik, die Protestantse verstaan van sonde polities getransformeer, in ʼn poging om die mense van sy tyd te verstaan, en om ʼn oplossing aan te bied vir ʼn samelewingsorde wat nie net in duie gestort het nie, maar in barbaarsheid verval het.

Hobbes verdien ons aandag, aangesien sy staatsfilosofie vir ons, hier in Suid-Afrika, goeie stof tot nadenke bied. Volledige instemming met Hobbes se antropologiese en sosiologiese analises, en sy voorstel oor die gestalte en funksie van die owerheid, word van niemand verwag nie, maar wel die bereidheid om te wonder of Hobbes nie dalk die uiteindelike oplossing bied vir ons land wat stuk vir stuk deur wolwe verwoes word nie.

“ʼn Wolf vir die medemens”

Thomas Hobbes (1588 – 1679), die seun van ʼn Anglikaanse predikant, word hoofsaaklik onthou vir een van sy werke oor die politieke filosofie met die titel, Leviathan, wat in 1651 gepubliseer is. Ons ken die seemonster, Leviatan, uit Bybelse tekste soos Psalm 74:14; Jesaja 27:1 en indirek Job 41:24. Hierdie drakoniese voorstelling van die bose word ook in die Griekse mitologie aangetref. Leviatan regeer dáár saam met Poseidon oor die onderwater-koninkryk, Atlantis.

“Die vernietiging van Leviatan” deur Gustave Doré, 1865 (Foto: Wikipedia)

Hobbes was oortuig dat ʼn magtige owerheid of regent, wat met mag en brutaliteit regeer, die enigste oplossing is om die aanhoudende burgeroorloë, met die gepaardgaande plundering en verwoesting in Engeland, stop te sit. Ek neem u egter eers terug na sy analise van menswees.

Philipp Melanchthon (1497 – 1560) het die Protestantisme geleer dat sonde ʼn affek, ʼn aangebore drif en neiging is, wat net deur die genade oorwin kan word. Die mens benodig dus die werking van ʼn instansie buite homself, wat kan meehelp om die negatiewe te bemeester. Eie pogings, deur eie krag, is nie in staat om ʼn affek soos sonde aan bande te lê nie.

Hobbes het, as filosoof, getrou gebly aan die Protestantse tradisie sover dit die sonde aangaan, maar het dit in politieke taal ter sprake gebring. Hobbes was oortuig dat die mens radikaal “sondig” is, en dat elkeen dit kan waarneem. “Sondigheid” berus volgens Hobbes nie op ʼn antropologiese teorie nie, aangesien dit ʼn blote feit is. Die mens is altyd selfgesentreerd, en in sy selfgesentreerdheid is hy ʼn bedreiging vir sy medemens.

“Die mens is vir sy medemens ʼn wolf” (“homo homini lupus”) volgens Hobbes, en sonder ʼn magsinstansie wat mense in toom kan hou, moor hulle mekaar uit. Mense leef soos wolwe, aangesien hulle ʼn stryd voer om beperkte lewensmiddels. In die stryd om oorlewing, dink hulle nie in respek aan die medemens nie. Die eie ek, my voordeel, my gewin is al wat tel.

Hobbes se siening van die mens berus nie slegs op sy analise van menswees tydens die Engelse burgeroorlog nie, maar volgens hom tree die mens altyd, onder alle omstandighede, op soos ʼn wolf. Die wyse van oorlogvoering verskil net.

Maximilian Pirner het “Homo homini lupus” in 1901 geskilder. Dit is ‘n allegoriese satire wat ‘n gevleuelde figuur toon, wat verbeelding voorstel, wat deur ape voor ‘n skare ander diere gekruisig word. (Foto: Wikipedia)

Kragdadige staat as beskermheer

Hobbes het egter op die voetspoor van die agnosties-deïstiese filosowe, nie die Calvinistiese oortuiging gedeel, dat God in die lewensgang van mense ingryp nie. Die mens is volgens Hobbes oorgelaat aan homself, en hy moet sy eie probleme oplos. Volgens hom is dit net ʼn kragdadige staat, met ʼn groot swaard in die hand, wat die wolwe onder bedwang kan hou.

Die mense van ʼn land moet saam besluit om op grond van ʼn “samelewingsverdrag”, van hulle private vryhede en voorregte afstand te doen en dit aan die “owerheid” oor te dra. In Hobbes se denke is daar nie ruimte vir moralistiese praatjies oor onderlinge vriendelikheid, verdraagsaamheid en geregtigheid nie, aangesien die wolf altyd ʼn wolf bly. Van radikale selfgesentreerdheid raak die mens nie ontslae nie. Hy sal, selfs in sy vroomheid, ander benadeel ten einde homself te bevoordeel.

In hierdie opsig verskil Hobbes van ander Protestantse regsfilosowe soos Hugo Grotius (1583 – 1645) wat oortuig was dat God aan die mens die redelike vermoë geskenk het om die morele wette soos vryheid, gelykheid en die onaantasbaarheid van ander se menswaardigheid, te ken en te institusionaliseer. Jean-Jacques Rousseau (1712 – 1778) het later nog verder gegaan en op sy beurt geargumenteer, dat die mens goed is, dat hy goed met sy medemens kan saamleef, en dat dit juis die staatsbestel is wat die mens perverteer. Nie die mens is boos nie, maar die samelewingstrukture laat die mens in boosheid verval.

Hobbes sou nooit met Grotius en Rousseau kon saamstem nie, aangesien hy van mening was, dat die staat mense moet dwing om skaars middels met ander te deel, en om ander se reg op bestaan, arbeid en inkomste te respekteer. Self sal hulle dit nie doen nie. Van altruïsme is daar onder mense nie sprake nie. Soos wolwe gaan dit net om selfbehoud en selfbeskerming, en so bevind mense hulle in ʼn permanente burgeroorlog.

Menswees word nie gekenmerk deur vertroue, vriendelikheid en wedersydse hulp nie, maar deur wantroue, angs en eie belang. ʼn Sterk regering, staat of koning aan wie die mag van wetgewing en die swaard oorgedra is, is al wat die dierlike gedrag van mense aan bande kan lê. Sonder ʼn goed-funksionerende staat, in die oorlog van almal teen almal, is daar geen geregtigheid nie, en niks is onreg nie.

Botsende drange na selfbehoud

Magsmisbruik en bedrog is volgens Hobbes (in 1651!) die kernwaardes van die “warre”, en daarom is daar nie plek vir florerende industrieë nie, nie ʼn funksionerende vervoerstelsel nie, geen belang in die bevordering van die skryfkuns nie, en daarom geen betroubare posdiens nie. Vir u as leser moet dit alles bekend wees. Daagliks speel hierdie “warre” in ons land, voor ons oë, af. Daar word daagliks verslag gedoen oor hoe hierdie oorlog vorder, totdat alles in duie gaan stort.

‘n Portret van die Duitse denker en staatsman Hugo Grotius (Foto: Wikipedia)

Ten spyte van wat gebeur, word daar aanhoudend deur die politici en hulle meelopers van reg en geregtigheid gepraat: Geregtigheid wat aan boosdoeners voordele verskaf, en reg wat die behoeftes van die kriminele sindikate bevredig. Reg en geregtigheid is daarom, soos ons weet, net ʼn woordspel want dit gaan net om mag; die mag van die sterkere; die mag om toegang te kry tot die skaars fondse van die staat.

So is Hobbes se oplossing vir die konflikterende drifte en drange na selfbehoud, ons groot nagmerrie. Die staat, die regering, die ministers het die draak uit die see geword wat ons bestaan bedreig.

Hobbes se Leviatan was dalk in die sewentiende eeu in Engeland ʼn oplossing vir ʼn voortslepende burgeroorlog, maar vir ons het dit die groot probleem geword. Wat doen ons wanneer die regering en die staatsadministrasie mag misbruik om bedrog te bevorder? Wat doen ons wanneer die magtige politici en staatsamptenare saam met die gepeupel daagliks plunder en steel en geen duit omgee dat die vervoerstelsel tot stilstand gebrand word en die poskantoor se deure gesluit word nie? Die vanselfsprekende antwoord is seker dat hierdie regering met ʼn beter regering vervang moet word, maar wat as dit nie by die stembus kan gebeur nie?

Hobbes se oplossing vir die oorlog van almal teen almal, wat ons bedreiging geword het, is tekenend van ʼn filosofie wat eensydig op die negatiewe konsentreer. Hobbes was oortuig dat die wilde aardse magte net deur ʼn sterker aardse mag bedwing kan word. Die wilde bevolking het en respekteer geen moraliteit nie, en daarom moet die staatsgeweld, met die wapen in die hand, die oplossing bied. Mag moet deur mag beveg word. Punt! Hobbes verwag ten diepste dat sonde deur sonde beveg en oorwin moet word.

Portret van Martin Luther deur Lucas Cranach der Jüngere (Foto: Wikimedia Commons)

Tegelyk geregverdigde en sondaar

Die probleem is egter dat die mens nie net sondaar is nie. Minstens vir die gelowige geld Luther se slagspreuk “tegelyk geregverdigde en sondaar” (“simul iustus et peccator”). Met ander woorde, ten spyte van die feit, dat die Christenmens sondaar bly, is hy ʼn begenadigde, wat deur die werking van die Heilige Gees, goeie dinge kan doen. Die gedagte dat die mens ná die sondeval geen blyke toon, dat hy God se beelddraer is nie, word nie deur die hoofstroom in die Reformatoriese teologie gedeel nie. Die mens kan nog sy rede gebruik om denkend tot oplossings vir lewensprobleme te kom, soos Grotius geleer het.

Sou volgende jaar se verkiesing niks positiefs oplewer nie, moet daar aan ander oplossings gedink word. Verdoem tot ʼn troostelose bestaan binne ʼn Mafia-staat, is ons beslis nie. Ons kan en sal aan ander uitweë dink en implementeer. Ons sal verder nie uitgelewer wees aan die magte van die duisternis nie, aangesien Maria ons herinner dat God, die Vader van haar seun Jesus Christus, die Goddelose magtiges van hulle trone ruk (Lukas 1:52). Die dreigwoorde van Jeremia 7:1–15 teenoor die diegene wat ongeregtigheid bevorder en onreg pleeg, geld seker ook vir hierdie land, sy mense en sy owerheid.

Sou mense, soos Hobbes, nie glo dat God Hom met aardse probleme bemoei nie, en daarom nie ingryp in ons wêreld nie, bly daar nog die filosofiese insig dat die bose sigself vernietig. Ons is nie, tot met die wederkoms, uitgelewer aan die huidige bewind nie! Maar, die nuwe bewind sal beter moet wees, sodat daar nie net weer na die eie belang omgesien sal word nie, maar ook na dié van ander (Filippense 2:4).

Die nuwe owerheid wat kom, in 2024 of 2029, mag nie weer algeheel wolf wees nie. Terselfdertyd moet alle burgers geleer word dat wolwe-gedrag nie geskik is vir ʼn vreedsame en rustige bestaan nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heinrich ·

Die laaste sin va die artikel “Terselfdertyd moet alle burgers geleer word dat wolwe-gedrag nie geskik is vir ʼn vreedsame en rustige bestaan nie.” laat my wonder of die mens in staat is om weg te draai van wolf wees. As mense eers oorgestap het na die “dark side” en die mag en oorwinnings daarvan gesmaak het, is dit moeilik om dit te los en ‘n “good guy” te word. En dan het jy jou owerhede wat lekker verder diskrimineer enh ook so die haat aanblaas. Daarom is ‘n goeie uitkoms met die 2024 stem broodnodig maar nie realisties nie.

annie ·

Gaan ons filosowe nou ons land se probleme oplos? Totaal verskillende rasse, gelowe en volke is saamgekoek in SA. Verskillende tale word gebesig. Die Groot gebod omvat alles wat nodig is om ‘n staat te maak werk. Om net te hoop dinge gaan verbeter sonder om die gebod te implimenteer is niks werd nie. Verwag eerder weer ‘n nuwe variasie van dieselfde resep met ‘n vars kersie op die room. Iemand sal die kersie vaslê en daar trek ons alweer op dieselfde paadjie vol gate, slote en strome riool…

Marthinus W ·

Michail Gorbatsjof se vrou, Raisa, het baie van Hobbes gepraat, soveel so dat sy Margaret Thatcher tydens hul besoek aan Londen geimponeer het. Gorbatsjof is egter vervang met die wolf Boris Jeltsin en sy Amerikaners raadgewers, wat gelei het tot die ineenstorting van die land, en Amerika se absurde aanname dat hulle met Rusland kan maak en doen soos hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.