Tyd vir groot dink en groot doen

Flip Buys, voorsitter van die Solidartiteit Beweging. (Foto: René Roux)

Dinge sal nooit weer dieselfde wees ná die afgelope tyd se onrus en plundering nie. Dis ’n keerpunt in ons geskiedenis. Die spoed en omvang van gebeure het vertroue in die land se toekoms tot in sy fondamente geskud. Baie mense vra met reg of daar nog ’n toekoms in Suid-Afrika is. Vir my is daar drie vertrekpunte om ’n antwoord op hierdie vraag te gee.

Die eerste is dat mense nie regtig sal wíl weggaan as dinge kan regkom nie. Die meeste kán buitendien nie wegtrek oorsee nie. Die vraag is dus nie óf mense moet bly nie, maar hoe en waar.

Die tweede is dat daar altyd ’n risiko is dat die stadige “veldbrand” van verval, wat al jare lank in dié land woed, weer in ’n weghol-vuurstorm kan ontvlam. Verantwoordelike riskobestuur is dus noodsaaklik. Dis beter om self ‘n plan te waag as om langer op die ANC se planne te wag.

Die derde is dat die regering nie die toestand gaan regruk nie. Die ANC se regeringstyl en -vermoë is om eerder saam met krisisse te leef as om dit op te los. Daarom is die enigste oplossing dat ons self die omstandighede moet skep om volhoubaar vry, veilig en voorspoedig hier te kan bly. Dit gaan ’n ontsaglike taak wees. Net een ding sal moeiliker wees – om dit nié te doen nie.

’n Ander Suid-Afrika

Dr. Anton Rupert het jare gelede al gesê dat ’n klein volk groot moet dink en moet doen om te kan oorleef. ’n Heimwee na ’n soort “ou” Suid-Afrika, of terugverlang na ’n werkende “nuwe” Suid-Afrika gaan niks help nie. Ons sal moet bou aan ’n “ander” Suid-Afrika, deur met die werklikhede te werk en nie met ons wense nie. Die hede gaan nie weggaan nie, die verlede gaan nie terugkom nie, en die toekoms gaan nie vanself regkom nie. Daar is ook nie ’n politieke oplossing in sig nie. Sedert 1994 was daar al twaald verkiesings (ses nasionaal, ses plaaslik) waar daar oorweldigend volgens identiteit in plaas van beleid gestem is. As demokrate moet ons aanvaar dat ’n veelparty-demokrasie nie in Suid-Afrika gewerk het nie en hoogs waarskynlik ook nie in die toekoms sal werk nie. Soos in ander heterogene lande, is Suid-Afrika ’n demografiese demokrasie waar die bevolkingsamestelling in verkiesings meer as partye se prestasie tel.

Suid-Afrika se uitdaging is treffend verwoord deur een van die wêreld se voorste liberaal-demokratiese denkers, Prof. Francis Fukuyma van Stanford. Hy het gesê dat die land se grondwetlike demokrasie soos ’n “soort vreemde liggaam is wat bo-op ’n samelewing geplaas is wat nie in ander opsigte gemoderniseerd is nie”. Ons is een land, maar minstens twee wêrelde. Anders as politici se uitsprake, wys die uitkomste op politieke, ekonomiese  en sosiaal-maatskaplike gebied ná 27 jaar dat ’n simplistiese meerderheidsbedeling nie die kompleksiteite van só ’n heterogene land doeltreffend kan bestuur nie. Soos die rugblylegende oom Boy Louw gesê het: “Looks at the scorebord”.

Demokrasie

Suid-Afrika met sy veelheid van rasse, tale en kulture, is eerder ’n oud-koloniale landstreek as ’n natuurlike land. Prof. Samuel Huntington van Harvard, het gewaarsku dat “ideologie ’n swak gom is om mense bymekaar te hou wat andersins nie soortgelyke etniese, rasse- en kulturele gemeenskappe vorm nie”. Vir ’n demokrasie om in sulke lande te werk, is ’n federasie, wat mag meer gelykop tussen gemeenskappe verdeel, ’n voorwaarde. Anders besit die demografiese meerderheid altyd die regeringsmag en beskik hulle oor almal anders. Daarom is ‘n demokrasie sonder kulturele vryheid net demokrasie vir die demografiese meerderheid. ’n Diverse land benodig diverse oplossings.

Suid-Afrika het nie net ’n regeringsprobleem in die ANC wat nie oor die vermoë beskik om te regeer nie. Ons het ook ’n bedelingsprobleem met ’n uiteenlopende landstreek wat nie ’n natuurlik regeerbare eenheid is nie. Daarom het die grootste deel van die staat reeds misluk, hoewel die land gelukkig nog nie ingeplof het nie. Daarvoor moet die sterk privaatsektor en die lewenskragtige gemeenskapsektor bedank word. Die onlangse krisis het dit weereens bewys.

Saamwerk

Suid-Afrika is ’n gemeenskap van gemeenskappe wat saam met mekaar moet werk, eerder as ’n eenvormige nasie wat saam moet smelt. Die projek om ’n nasie vir die staat te bou kon nooit werk nie. Ons moet eerder ’n staat vir die nasie bou. Nasiebou is ’n totalitêre projek wat die gedwonge standaardisering van die bevolking vereis. Eenheid en versoening word só verskraal tot inlywing by die meerderheid. Daarteenoor is staatsbou ’n projek om ruimte vir die verskeidenheid te skep in ’n landstreek wat groter is as Duitsland, Italië, Brittanje, Griekeland, Ierland, Denemarke, Nederland, en België gesamentlik. Ons bevolking is boonop nóg meer uiteenlopend as Europa s’n.

Dit beteken nie dat die land nou in chaos opgebreek moet word nie. Veel eerder moet ’n wanordelike verval verhoed word deur meer magte van bo af, af te wentel na gemeenskappe. Dit kan gebeur óf deur amptelike erkenning deur wetgewing, óf deur nie-amptelike aanvaarding van die werklikhede wat gemeenskappe van onder af opgebou het. Die ideaal is dat hierdie erkenning vervat word in ’n soort Kultuurakkoord met die regering. Provinsies, soos die Wes-Kaap, of kultuurgemeenskappe, soos Afrikaners, het geregverdigde aanspraak op gelyke erkenning van geografiese gebiede soos alle swart bevolkingsgroepe in die land. Die Grondwet bied reeds ruimte hiervoor. Die sentrale staat gaan nie meer lank die vermoë hê om ondemokraties te probeer keer dat gemeenskappe demokraties groter outonomie opneem nie. Dis nie vreemd nie. Mense wat outonomie kan bekostig, wil nie onder die staat leef nie, en het lankal reeds privaat medies en privaat sekuriteit, of woon in privaat dorpe, of wíl bly op plekke waar die ANC nie aan bewind is nie. Dis nie ’n strydroep vir sesessie nie, omdat die praktiese akkommodering van verskeidenheid juis nasionale eenheid sal bevorder. Afrikaners verlang nie terug na die verlede onder die NP nie, maar sien ook nie uit na ‘n ewige toekoms onder die ANC nie. Ons wil nie bo of onder ander gemeenskappe wees nie, ons streef na gelykheid. Ons is niemand se heersers óf onderdane nie. Ons streef net na normaliteit, nie na uitgediende stelsels en vreemde ideologieë nie.  ‘n Normale bestaan is waar ons die vryheid het om self besluite te mag neem en uit te voer, en waar die verlede nie gebruik word as wapen teen jou toekoms nie. Normaal is waar jy veilig met oop vensters kan slaap of waar daar jy saans met jou gesin in die straat kan loop. Dis normaal om waarde vir jou belastinggeld te kry, met werkende dienste, ‘n vrye ekonomie, waar die oppergesag van die reg uitgeleef word, en jou kinders hoop vir die toekoms het.

Onrus se les

Een van die belangrikste lesse wat uit die onrus geleer kan word is dat presterende minderhede se veiligheid, voorspoed en vryheid altyd op risiko sal wees in ’n toestand waar die meerderheid die getalle- of politieke mag het en ’n minderheid die ekonomiese voorspoed. Dit geld veral waar ’n regering nie die armes ryker wil maak deur ekonomiese groei nie, maar die “rykes” armer wil maak met gedwonge herverdeling.

Waagmoed

Minderhede soos Afrikaners moet meer van hulleself dink en meer van hulleself verwag. Dis beslis nie ’n wekroep om meerderwaardigheid nie, maar oor die “kán doen”-waagmoed om self ’n toekoms te skep om volhoubaar in Suidelike Afrika te bly. Dis nie etniese mobilisasie vir ’n opstand nie, maar kulturele selfvertroue vir opbou. Die pad vorentoe is om die kulturele infrastruktuur te skep waarin ons volhoubaar hier kan bly. Dis die voorwaarde vir ons om ’n blywende bydrae tot die welstand van die land en al sy mense te kan maak. Die tyd is immers gelukkig verby waar ons vir die meerderheid kan voorskryf, of die mag het om die lot van die land te bepaal. Afrikaners moet dus eerder probeer herleef as oorheers.

Konsentreer

Ons bestaansuitdaging is nie ons klein getalle nie, maar ons yl verspreiding as die minderheid landswyd. Daarom is die oplossing om te konsentreer: in gemeenskapsinstellings, op plekke waar ons ’n meerderheid is, en daar waar ons ’n volhoubare meerderheid kan word. Ons moet diegene wat na groter outonomie in die Wes-Kaap streef ondersteun, en met ander gemeenskappe in ’n gees van wedersydse erkenning en respek saamwerk tot almal se voordeel. Ons kan nie keer dat staatsbestuur misluk nie, maar ons kan bou aan suksesvolle selfbestuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Skuilnaam ·

“…Ons kan nie keer dat staatsbestuur misluk nie, maar ons kan bou aan suksesvolle selfbestuur….”

‘n Hele handvol snert! Watter sin maak dit?

Kokerboom ·

Dankie Flip vir ‘n baie sinvolle artikel. Die uitdaging behalwe polities bly dat Afrikaner moet leer om saam te werk en saam te te staan!

Groen Ghoen ·

Die Afrikaner se geskiedenis is soos ‘n nimmereindigende tragedie wat uit drie bedrywe bestaan: Begin van onder – vorder – platgeslaan …. Begin van onder …. Elke keer baklei die Afrikaner maar voort want die alternatief, om moed op te gee, se gevolge is veel erger. Sterkte aan almal wat soos Flip Buys en Afriforum bly baklei!

Heinrich ·

Dankie Flip vir julle harde werk en leiding hier. Die groot uitdaging gaan kom vir die ANC om mag te laat gaan sodat ons onsself kan regeer; daarmee sal hulle inherent moet erken dat hulle gevaal het en dit sit mos nie in hulle broeke nie. Kan nie wag vir die dag wat ons weer oor onsself kan regeer nie, die massa-oorgawe eksperiment aan die kommuniste het duidelik gevou.

Johann ·

Dit klink darem nou vir die eerste keer dat daar weg beweeg word van die afhanklikheid van ‘n staat wat nog in sy kinderskoene staan, en nog net alles wil bekom eerder as om te maak.

Matt ·

Dankie Mnr Buys vir die nugter en sinvolle ontleding. Die enigste oplossings is om soos jy hier uiteen gesit het, die huidige werklikhede, en die beperkings wat daarmee saamgaan te aanvaar. Dit gaan nie verander nie ! Ons gaan doodeenvoudig net ons eie oplossings moet vind. Ons kan, want ons het die vermoë om dit te doen. Ons het net die wil nodig om dit te doen.

OW ·

Interessante skrywe.My vraag bly staan.As dit nie ‘n wekroep vir sesessie is nie, en veronderstel ons kan dit bekostig vir selfbestuur.Hoe gaan daar van die Staat se belastingstel afgeklim word?Mense gaan nie val vir die feit dat jy privaat dit kan bekostig, en nog steeds belasting aan die regering moet betsal nie.

piet ·

Kaapstad self het net 15% blankes waarvan seker ongeveer die helfte Afrikaanssprekend is. Weet nie juis of die Wes-Kaap ‘n goeie opsie gaan wees nie. Dalk ‘n plekkie kry vir Afrikaanssprekendes maar gaan nie op rasgrondslag werk nie, te min siele.

piet ·

Vergeet van selfbestuur, ons is te min en te verspreid. Afrikaners moet net leer om saam te staan en mekaar te ondersteun. Dis hoe minderheidsgroepe al vir jare in SA oorleef. Afrikaners moet Afrikaanse besighede ondersteun, Afrikaners aanstel, ens. Indiers doen al jare so. Selfs as jy kyk na geloof, Maleiers en Jode ondersteun hul eie gemeenskappe al vir jare. Na my mening is dit die enigste manier hoe ons gaan oorleef en ons identiteit gaan behou.

Kanjynoumeer ·

It’s no longer our job to wake up the sheep.
It’s time to wake up the other lion’s.

Selfbestuur, maar nie langer ons belasting geld gee vir n mislukte staat soos tans nie.

Gato ·

Dankie vir n inspirerende artikel Flip.
Dit is die tipe denk en redenasie vermoë wat ontbreek by die ANC se leierskap wat maak dat SA op die rand van die afgrond staan.
Ek stem met meeste van die standpunte genoem saam maar die praktiese uitvoerbaarheid is egter nie so maklik nie. Hoe gaan die Afrikaners kan konsentreer in plekke om n meerderheid te vorm. Mense moet werk hê en daar moet genoeg behuising en ander infrastruktuur wees. Mosselbaai en George beleef tans n invloei van mense van ander provinsies. Maar dit is nie prakties of volhoubaar dat Afrikaanssprekendes van oral in die land almal na n paar dorpe en stede in die Weskaap kan trek nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.