Uitgebreide Brics kan wêreldpolitiek herstel

Deur prof. Bhaso Ndzendze en Siphamandla Zondi, UJ

Brics-leiers by die Sandton-konvensiesentrum in Johannesburg (26 Julie 2018) Foto: Siyabulela Duda, GCIS

Gretig om waargenome Westerse oorheersing op die internasionale verhoog te ontsnap, soek verskeie lande – meestal in die globale suide – om by die Brics-blok aan te sluit. Die vyflandeblok (Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika) wil ook sy wêreldwye vennootskappe uitbrei.

Wat in 2001 begin het as ʼn akroniem vir vier van die vinnigste groeiende state, Bric (Brasilië, Rusland, Indië en China), sal na verwagting teen 2030 45% van wêreldwye BBP in koopkragpariteitsterme uitmaak. Dit het óók, wat politieke vorm betref, ontwikkel.

Van deurslaggewende belang was hierdie lande se besluit om hul eie “klub” in 2009 te stig, eerder as om by die uitgebreide G7 aan te sluit soos beoog deur Jim O’Neill, voormalige uitvoerende hoof van Goldman Sachs, wat die term “Bric” geskep het. Interne samehorigheid oor sleutelkwessies het na vore gekom en word sedertdien verfyn, ondanks uitdagings.

Suid-Afrika het by die groep aangesluit ná ʼn Chinees-geïnisieerde uitnodiging in 2010 – ʼn hupstoot vir destydse president Jacob Zuma se administrasie, wat gretig was om verder na die ooste te draai. Die blok het hierdeur ook gewen deur ʼn sleutelspeler in Afrika en streeksleier as vennoot te hê.

Sedertdien het die groepering benewens sy oorspronklike ekonomiese bestaansrede ʼn skerper politieke toon aangeneem, veral oor die behoefte om globale instellings te hervorm.

Die moontlikheid van sy uitbreiding oorheers die nuus in die aanloop tot sy 15de beraad in Johannesburg op 22-24 Augustus vanjaar.

Ons is politieke wetenskaplikes wie se navorsingsbelangstellings veranderinge aan die wêreldorde en opkomende alternatiewe magsentrums insluit. Na ons mening sal dit nie maklik wees om die blok uit te brei nie. Dit is omdat die groep steeds daarop gefokus is om sy visie te harmoniseer, en potensiële nuwe lede word nie maklik goedgekeur nie.

Sommige nuwe lede kan selfs ʼn destabiliserende dinamika na die huidige samestelling van die groepering bring. Dit maak saak omdat dit vir ons sê dat die beoogde verandering in die wêreldorde waarskynlik baie stadiger sal wees. Eenvoudig gestel, terwyl sommige state gekant is teen Westerse hegemonie, stem hulle nog nie onder mekaar saam oor wat die nuwe alternatief daarvoor moet wees nie.

Evolusie van Brics

Brics se openlik politieke karakter is gedeeltelik gebaseer op ʼn lang geskiedenis, wat so ver terug strek as die Bandoeng-konferensie van 1955, van nie-belyning. Dié konferensie is meestal bygewoon deur onlangs gedekoloniseerde state en onafhanklikheidsbewegings wat daarop gemik was om hulself teen Koue Oorlog-supermoondhede – die Sowjetunie en die Verenigde State – te vestig.

Brics word beskou as ʼn uitdaging teen die hegemonie van die VSA en sy bondgenote, wat gesien word as rolspelers wat inmeng by die binnelandse sake van ander state.

Reuters skat dat meer as 40 state daarna streef om by Brics aan te sluit. Volgens die Suid-Afrikaanse diplomaat Anil Sooklal het 13 teen Mei 2023 formeel aansoek gedoen.

Baie, hoewel nie almal nie, van die aspirant-aansluiters het hierdie openlike politieke motivering om Amerikaanse hegemonie teë te werk. Die ander belangrike aansporing is toegang tot fondse van die Brics se Nuwe Ontwikkelingsbank. Dit is veral as motivering uitgespreek in die post-Covid-19-klimaat waarin baie ekonomieë nog nie ten volle herstel het nie. Natuurlik kan die twee oorvleuel, soos in die geval van Iran.

Die noemenswaardige aansoekers het Saoedi-Arabië, Wit-Rusland, Ethiopië, Argentinië, Algerië, Iran, Mexiko en Turkye ingesluit.

Uitgebreide BRICS

ʼn Strategies uitgebreide Brics sal seismies wees vir die wêreldorde, hoofsaaklik in ekonomiese terme.

ʼn Sleutelprioriteit van die klub is die vermindering van afhanklikheid van die Amerikaanse dollar (die sogenaamde de-dollarisering van die wêreldekonomie). Een van die struikelblokke hiervoor is die gebrek aan inkoop deur ʼn groot deel van die wêreld. Alhoewel sommige state dalk nie saamstem met die dollar se oorheersing nie, beskou hulle dit steeds as die mees betroubare geldeenheid.

Gegewe die omvang van globalisering, is dit onwaarskynlik dat daar pogings sal wees om die Weste se toegang tot strategiese minerale en handelsroetes weg te kalwe, soos wat tydens die Suez-krisis van 1956, op die hoogtepunt van die Koue Oorlog, gebeur het.

In plaas daarvan sal die nuwelinge waarskynlik hul nuutverkrygde Brics-lidmaatskap gebruik om beter met hul Westerse vennote te beding, met meer opsies byderhand.

Hierin lê die uitdaging (en die paradoks) met Brics-uitbreiding. Aan die een kant bied die groepering nog niks konkreet om sulke drastiese maatreëls soos de-dollarisering te regverdig nie. Aan die ander kant moet die huidige vyf lede ook selektief wees oor wie hulle toelaat.

Onder die oorwegings moet sekerlik die rekord van die aansoekers wees asook hul nabyheid aan die Weste. Die ervaring om ʼn regser leier soos die voormalige Brasiliaanse president Jair Bolsonaro in sy midde te hê, moes ʼn les wees oor die noodsaaklikheid om versigtig te wees wanneer nuwe lede toegelaat word.

Waarskynlike aanspraakmakers

In hierdie verband lyk dit of aspirante soos Saoedi-Arabië en Mexiko die minste geneig is om op die korttermyn toegelaat te word. Dit is ten spyte van Saoedi-Arabië se olierykdom en Mexiko se linkse-progressiewe leier Andres Manuel Lopez Obrador. Alhoewel hulle dalk tans wankelrige verhoudings met Washington ervaar, het hulle bewys hulle is ontvanklik vir toenadering na aanleiding van vorige meningsverskille met die VSA, waarmee hulle onlosmaaklik verweef lyk.

Saoedi-Arabië het ʼn langtermyn militêre verhouding met die VSA, terwyl Mexiko die VSA se nommer een handelsvennoot is.

Van gelykstaande belang in die evaluering van potensiële nuwe lede is die verhouding wat die aspirante met die bestaande Brics-lede het. Dit is omdat nog ʼn belangrike les die konflik tussen twee van sy grootste lede, China en Indië, oor hul betwiste grens is. As gevolg van die ongemaklike verhouding tussen twee van sy lede, het die blok waaksaam geword vir die belangrikheid van direkte bilaterale betrekkinge en geskilbeslegting tussen sy samestellende leiers.

Onder die aansoekers lyk dit of Saoedi-Arabië, wat in die verlede ʼn wankelrige verhouding met Moskou gehad het, ʼn opdraande stryd in die gesig staar. Die land het ook moeilike betrekkinge met Iran, nog ʼn aansoeker, ondanks hul onlangse toenadering.

Die land wat om ideologiese redes die geskikste lyk om by Brics aan te sluit, en die blok se voet in die Karibiese Eilande sal uitbrei, is Kuba. Kuba geniet sterk bande met die bestaande lede en ook ʼn soliede “teen-hegemoniese” getuigskrif, wat al meer as 60 jaar die bête noire van die VSA is.

Kuba is ook ʼn leier in die Latyns-Amerikaanse linkerkant en geniet sterk bande met baie state in Sentraal- en Suid-Amerika (veral met Guatemala, Honduras, Nicaragua en Venezuela). Lidmaatskap sou sy invloed versterk.

Karakter maak saak

As ʼn uitgebreide Brics ʼn agent vir verandering op die wêreldtoneel wil wees, sal dit in staat moet wees om tot aksie oor te gaan. Om mededingers te hê, of state wat ten minste ambivalent teenoor mekaar is, is ʼn vervloeking vir hiérdie doelwit.

Gretig om versigtig voort te gaan en strategies uit te brei, lyk dit of die huidige Brics-state waarskynlik, ten minste op kort termyn, ʼn sogenaamde Brics-plus-strategie sal volg. Met ander woorde, daar kan verskillende lae van lidmaatskap na vore kom, met volle lidmaatskap wat oor tyd aan state toegeken word wat aan die groep se kriteria voldoen.

Dit gaan dus nie oor blote uitbreiding nie, maar ook oor die karakter van die uitbreiding wat die vyf hooflede sal lei in die moontlike groei in ledetal. The Conversation

  • Bhaso Ndzendze is ‘n medeprofessor in internasionale betrekking by die Universiteit van Johannesburg en Siphamandla Zondi  uitvoerende direkteur van die Instituut vir Pan-Afrika Denke en Gesprek by dieselfde universiteit. 

Oorspronklik gepubliseer deur The Conversation.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Groen Ghoen ·

Die VSA se bloed in die are is die Dollar. Sal dit maklik afgestaan word? NEE, want dan tuimel die kaartehuis van $32 triljoen skuld inmekaar. China en die res word saam die afgrond ingetrek. Dus… so sal ons maar aanploeter en in duur Dollar betaal, en wurg aan rentekoerse, So het S.A. nog altyd aangesukkel en so sal dit bly.

annie ·

Die gouste manier wat die Weste BRICS tot ‘n val sal bring is deur vriende te gebruik om aan te sluit en die bank bankrot te leen. Dit voorkom of die bank een van die sleutelredes is vir lidmaatskap, SA ingesluit.

Hans ·

Brics sal hulself in die voet skiet met Saudi Arabia, Mexico en selfs Wes-Afrika en Oos-Afrika lande met Vsa basisse in hul lande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.