Vaders van die Reformasie en hul nalatenskap

Prof. Natie van Wyk (Foto: NHKA-webblad)

Vieringe van die Reformasie

Die Reformasie van die sestiende eeu word sedert 1617 op 31 Oktober gevier. Voordat daar in 1617 besluit is, om jaarliks die bydrae van die Universiteit van Wittenberg tot die hervorming (in die universiteitswese, skoolwese, teologie, kerklike inrigting, asook die funksionering van die samelewing) op 31 Oktober te herdenk, is ander datums gebruik vir ʼn feestelike geleentheid.

Martin Luther se doopdatum, 11 November 1483, en die dag van die oorhandiging van die Augsburgse Geloofsbelydenis deur Philipp Melanchthon aan keiser Karel V, op 25 Junie 1530, is graag gebruik.

In 1561, een jaar ná Melanchthon se dood, besluit die senaat van die universiteit om op sy sterfdag, 19 April, gedenkredes oor Luther en Melanchthon te lewer. Die rede mag vir die meeste lesers onbekend wees: Die verhaal oor Luther, die hamer en die kerkdeur van die kasteelkerk, was vir sy tydgenote onbekend. Dit het eers onder die publiek se aandag gekom danksy Melanchthon se begrafnisrede op 22 Februarie 1546.

Die komitee wat oor die herdenkingsgeleenthede besluit het, was van mening dat die eerste Protestantse nagmaalviering, onder leiding van Melanchthon, op 29 September 1521, die begin van die Reformasie was.

Hoe dit ook al mag wees; die gebeure van 31 Oktober 1517[1], bly egter van historiese en eietydse belang.

Luther as Reformasie-vader

Martin Luther

Martin Luther (1483–1546) se beroemde 95 Stellings teen die aflaat, was oorspronklik ʼn aanhangsel van ʼn brief wat aan die aartsbiskop Albrecht van Mainz gerig was. Luther het Albrecht uitgenooi om met hom, voor die publiek, krities debat te voer oor die aflaatstelsel van die Roomse Kerk.

Die disputasie-praktyke van die Middeleeuse universiteitswese was dus, volgens Luther, sake van openbare belang. Selfs die teologiese begronding van kerklike praktyke, moes volgens Luther, in die openbaar, krities gedebatteer word.

Die bereidwilligheid tot kritiese debat oor teologiese menings en kerklike doenighede wat nie Bybels goed begrond is nie, is een van die winspunte van die Reformasie.

In die Afrikaanssprekende kerke is daar dikwels die neiging om lidmate en gemeentes manipulerend by bedenklike leermenings, projekte, drome, visies en missies te betrek, sonder dat daar ooit geleentheid is vir kritiese debatvoering. Uiteindelik is daar slegs verloorders; en dít kan ons nie bekostig nie.

Melanchthon as Reformasie-vader

Portret van Philipp Melanchthon (Foto: leemage)

Philipp Melanchthon[2]  (1497–1560) het alreeds as 14-jarige beskik oor ʼn BA-graad (Heidelberg), as 17-jarige oor ʼn MA in Grieks (Tübingen), en is op 21-jarige ouderdom as professor in Grieks in Wittenberg aangestel. Hy sou uiteindelik ʼn groter rol as Luther speel in die vestiging en ontwikkeling van die Reformatoriese idees en ideale.

Hy het die eerste volledige Reformatoriese kommentare geskryf; só ook die eerste dogmatiekhandboek en die eerste algemeen-erkende belydenisskrif (die Confessio Augustana). Hy was betrokke by die skryf van die eerste Protestantse kerkordes en was die hoof woordvoerder van die Protestantisme tydens die groot godsdiensgesprekke met die Roomse Kerk.

Hy het die statute vir die Protestantse universiteite opgestel, asook nuwe leerplanne vir teologie, geesteswetenskappe, die mediese- en regsfakulteite. Hy het die Duitse skoolsisteem hervorm en bygedra tot die algemene intellektuele, geestelike en kulturele ontwikkeling (Bildung) van die Duitse volk. Hy het gou bekendheid verwerf as die ‘leermeester van Duitsland en Europa’.

Nalatenskap vir ons vandag

Belangrike onderskeidings

Een sentrale Reformatoriese perspektief van Melanchthon kan uitgelig word. Hy, net soos Luther, het onderskei tussen regverdiging en werke, geloof en dade, geloofsleer en etiese menings. Indien daar nie met hierdie onderskeidings (nie skeidings nie) volhard word nie, word daar aanhoudend kerklike probleme en geloofskrisisse geskep.

Binne Afrikaner-geledere is daar een probleem wat as maklike voorbeeld uitgelig kan word, naamlik die apartheidskwessie. In die verlede is hierdie politieke ideaal as ʼn leeraangeleentheid aangebied. ʼn Moontlike maatskaplike reëling is as ʼn godsdienstige oortuiging verkondig. Mense het dit geglo, en glo dit nog steeds vandag. Beide die verdedigers van apartheid, sowel as die kritici van hierdie stelsel, glo dat ʼn sosiaal-etiese mening ʼn teologiese leerstelling kan wees.

Mense wat glo dat hierdie stelsel nie moreel-verdedigbaar was en is nie, verwerp nie net die kerk nie, maar ook die Christelike geloof. Die verdedigers van die stelsel is ewe woedend vir die kerk. Sou beide kante van die skeidslyn tog net kon insien dat die politieke gestaltes van morele ideale en geloof, etiek en kerklike leer nie dieselfde dinge is nie!

Binne die Afrikanerkultuurgemeenskap het die gebrek aan onderskeidings tot die ontstellende taalgebruik aanleiding gegee, dat daar maklik na morele gedragspatrone en etiese oordele as ‘kerklike dogmas’ verwys word. Binne die Protestantisme is daar slegs twee dogmas, naamlik die twee-nature leer en die triniteitsleer. Verder word daar na die regverdigingsleer as regulatiewe beginsel verwys, maar moreel-etiese menings het geen dogmatiese status nie. Om hierdie rede is daar ruimte vir die aanpassing van etiese oordele.

Die samelewing en die kerk

Ons kry by Melanchthon ʼn verdere waardevolle insig oor die gestaltegewing van die samelewing. Die Afrikaanse teoloë is oortuig dat die kerke ʼn bydrae kan lewer om die samelewing beter gestalte te gee, of te transformeer – of so iets. Om dít te kan doen, moet daar op die moraal in die samelewing gekonsentreer word. Deur beter moraliteit, kan die samelewing verbeter word!

Vanselfsprekend sal die samelewing beter funksioneer wanneer almal volgens die dubbele liefdesgebod en die Tien Gebooie leef, maar nou gebeur dit nie so maklik nie. Melanchthon het daarom aanbeveel dat die teologie en die kerk ook die reg as bondgenoot moet beskou. Billike wetgewing help ekonomiese ontwikkeling en bevorder vrede.

Die kerke moet daarom pogings om billike wetgewing te verseker en regspraak, op grond van hierdie wetgewing, aanmoedig en steun. Ons almal behoort te weet dat nuwe drakoniese wetgewing en transformerende regspraak wat op die subjektiewe oordeel van ʼn regter berus, hierdie land nog in chaos kan dompel. Daarom het dit tyd geword om die fokus te verskuif.

Elegante taalvaardigheid 

Die laaste saak wat op hierdie belangrike dag genoem kan word, is dat Melanchthon dit by die Duitsers tuisgebring het, dat ‘elegante taalvaardigheid’ die begin en einde van die kerklike en maatskaplike ontwikkeling is.

Sonder noukeurige formulerings en helder begrippe, word daar nuwe gestaltes van onderontwikkeling geskep. Daar word gespot met die taalpuriste, maar wie en wat wil ons wees? Watter vlak van kultuurontwikkeling is ons strewe?

Die Reformasie was ʼn beweging van taalontwikkeling. Melanchthon se studente het meegehelp aan die vertaling van Bybels, gesangeboeke en allerlei klassieke tekste in Duits, Fins, Hongaars, Deens, Nederlands en Engels. Erns met die Reformasie beteken erns met taal!

Voorstelle vir besluitneming by sinodes en aanbevelings vir nuwe wetgewing deur parlementêre komitees, jaag die emosies op en verdeel mense, bloot omdat die voorstelle swak, ondeurdag en ongenoegsaam geformuleer is.

Ons kan baie gemakliker vorder met ʼn klomp dinge in hierdie land, wanneer almal van ons probeer om helder, duidelik en presies te sê wat ons voorstelle is.

[1] Al die historiese inligting is beskikbaar in my boek: IWC van Wyk, 2019, Martin Luther: ʼn Inleiding tot sy lewe, denke en geskrifte, AOSIS, Kaapstad.

[2] IWC van Wyk, 2022, Philipp Melanchthon: Die denker, leermeester en opvoeder van die Reformasie, AOSIS, Kaapstad.

Beide boeke kan gratis as pdf afgelaai word by: AOSIS Scholarly Books. Drukweergawes is teen afslag by die outeur beskikbaar. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Baie interessant!
“Elegante taalvaardigheid” is ongelukkig aan die uitsterf, of so wil dit voorkom in die alledaagse lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.