Vakbondleiers se hunkering na die politiek

Tot onlangs toe was Cosatu die “arbeidersparty” binne die drieparty-alliansie.

Cosatu het veral tot die ANC en SAKP se irritasie sedert die ANC se 2007-konferensie in Polokwane meer politieke inspraak begin eis en regeringsbesluite teengestaan. Dit kom dus as geen verassing nie dat die moontlike skeuring in Cosatu in senior ANC-kringe verwelkom word, soos wat ʼn bron na aan hooggeplaaste regeringsleiers onlangs aan my laat blyk het.

Zwelinzima Vavi

Zwelinzima Vavi

Anders as Willie Madisha, voormalige president van Cosatu, wat na woelinge in die vakverbond die politiek in 2008 onder ʼn Cope-vaandel betree het, beywer twee prominente Cosatu-leiers, Zwelinzima Vavi, geskorste Cosatu-hoofsekretaris en Irvin Jim, Numsa se hoofsekretaris, al twee wie se Cosatu- politieke draadjies moontlik geknip gaan word, hulle vir die stigting van ’n werkersparty. Selfs Joseph Matunjwa, president van die Association of Mining and Construction Union (Amcu), het ook onlangs gedreig om ’n politieke party te stig indien sy vakbond gederegistreer word in reaksie op ʼn voldoeningsondersoek wat die departement van arbeid by die vakbond geloods het.

Hierdie hunkering na die politiek is ʼn normale verskynsel vir veral Cosatu-vakbondleiers wat na ʼn vakbondloopbaan senior politieke poste beklee. Die rede vir hierdie verskynsel kan terugherlei word na die verbanning van die ANC, PAC, SAKP en swart vakbonde gedurende die apartheidsjare. As ʼn uitvloeisel van die Wiehahn-kommissie van ondersoek is swart vakbonde se regte weer in 1979 herstel, lank voordat ander politieke bewegings ontban was. Die gevolg was dat die meeste swart vakbonde sedert die 1980’s die enigste wettige politieke spreekbuis vir swart mense geword het waardeur hul politieke regte bevorder kon word.

Om swart vakbonde ʼn sterker kollektiewe stem te gee is die polities neutrale Federation of South African Trade Unions (Fosatu) onder leiding van Alec Erwin, wat later die minister van handel en nywerheid in die Mandela-administrasie geword het, in 1979 gestig. Fosatu het in 1985 plek gemaak vir die ANC-ondersteunde Cosatu en dié se eerste hoofsekretaris, die vurige Jay Naidoo, is in 1994 deur die ANC geneutraliseer toe hy die pos as minister sonder portefeulje aanvaar het. Ná die ontbanning in 1990 van die politieke bewegings van die vryheidstryd, het die meeste Cosatu-geaffilieerde vakbonde hul politieke en Swartbewussyn-karakter behou en slegs ekonomiese bevryding as die tweede fase van die vryheidstryd tot hul idee raamwerk bygevoeg.

Aangesien die vakbondwêreld geken was aan hoëvlak-, maar robuuste onderhandelinge was hierdie lede-organisasie, die ideale ontwikkelingsarea vir toekomstige ANC-politici. Ervare vakbondonderhandelaars soos die NUM se eerste hoofsekretaris, Cyril Ramaphosa, het sedert 1990 op die voorgrond getree as leidende politieke onderhandelaars tydens Kodesa en die grondwetskrywende onderhandelinge.

Die ervaring van die voormalige vakbondonderhandelaars het aan die ANC die oorhand in die kritieke politieke onderhandelinge gegee. Van 1994 tot op hede was die ANC-regering se geledere juis versterk deur voormalige vakbondleiers soos Kgalema Motlanthe, Gwede Mantashe, Sam Shilowa, Connie September, Sydney Mufamadi, Membathisi Mdladlana, Bheki Cele, Dina Pule, Ismail Vadi, Manne Dipico, Enoch Godongwana, Nathi Mthethwa, Edna Molewa, Sicelo Shiceka, Amos Masondo, Mildred Oliphant, Marius Fransman, Fred Gona, Ebrahim Patel en vele andere.

Die infiltrering van die ANC deur vakbondleiers, wat eens ʼn Cosatu-resolusie was, duur egter voort en die NUM se huidige president, Senzeni Zokwana, en Nehawu se hoofsekretaris, Fikile Majola, gaan ook parlement toe na afloop van die nasionale verkiesing op 7 Mei. Zokwana gaan heel moontlik om die NUM se voedingsaar van politieke leiers na die aftrede van Motlanthe aan te vul, terwyl Sizwe Pamla, Nehawu se woordvoerder, aangedui het “dat dit ideologies gesproke in Nehawu se belang is om iemand van die vakbond in die parlement te hê omdat bevrydingsprosesse deur burokrate, wat nie links georiënteerd is nie, gefrustreer word”.

Nou waar kom die begeerte van huidige vakbondleiers vandaan om steeds tot die politiek toe te tree? In antwoord hierop kan die volgende lokfaktore gelys word: die vakbondwese en die politiek is sedert 1979 onlosmaaklik verbind; magsbehepte vakbondleiers besef dat werklike mag in politieke mag gesetel is en ekonomiese mag moeilik bekombaar is; ’n senior politieke aanstelling is die ideale beloning vir die opofferings wat tydens die vryheidstryd gemaak is; deurslaggewende debatte rakende wysigings aan arbeidswetgewing vind hoofsaaklik in die parlementêre portefeuljekomitees en in die parlement self plaas en nie meer by Nedlac nie; en laastens is dit soveel makliker om as politikus beloftes te maak wat jy nie kan nakom nie as wat dit is om as vakbondleier beloftes maak wat jou wel vinnig inhaal, soos wat mnr. Matunjwa van Amcu agtergekom het.

Sogenaamde stootfaktore ten gunste van ʼn politieke loopbaan kan die gewaarwording wees dat vakbonde se gloriedae ná 1994 getel is en die ANC-regering en werkgewers, veral mynbouwerkgewers, nou minder tegemoetkomend is oor vakbonde se inspraak oor nie-arbeidsverhouding aangeleenthede; tweedens is vakbondlede stadig maar seker besig om weerstand te bied as hulle “misbruik” word vir iemand anders se agenda; en laastens bestaan die gevoel by die ekstreme sosialistiese vakbonde dat die ANC en die SAKP werkers in die steek laat en nie die verwagte radikale beleidsrigtings deurvoer waaroor daar in 2007 by Polokwane ooreengekom is nie – ter verdediging van die politici kan aangevoer word dat hulle dalk begin besef hoe ’n moderne ekonomie werk.

Met die talle voorbeelde van vakbondleiers wat die vakbondwese bloot as ’n afspringplek vir ʼn politieke loopbaan gebruik het en hul vakbondwortels agterweë laat, sal die toetrede tot die partypolitiek van ʼn Vavi en ’n Irvin Jim as geharde sosialiste, heel waarskynlik hierdie stereotipes afbreek en sal hulle inderdaad die werkersklas se belange aan die parlement en presidensie se groot klok gaan hang. Dit sal ʼn nuwe era inlui waar georganiseerde arbeid se steun aan die regerende party, na opposisie teen die regerende party gaan verander.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae