Verderf onder die Fedora

Deur Ian Cameron

Mediakonferensie van die regering se interdepartementele groep belas met justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid

Bheki Cele, minister van polisie. (Foto: GCIS)

Een woord kom by my op wanneer ek aan die toestand van veiligheid in Suid-Afrika dink: Verrotting. Ons is verby agteruitgang en verby verval. Geregtigheid in Suid-Afrika is aan die verrot.

Die kommerwekkende toename in Suid-Afrika se misdaadsyfers is deel van ʼn donker prentjie waar dit by wet en orde in die land kom. Die wiele van die gereg wat veels te stadig vorentoe rol en die oënskynlike onvermoë of onwilligheid om geregtigheid te laat geskied, laat die publiek se vertroue in ons regstelsel kwyn.

ʼn Regstelsel wat traag is om te vervolg, maak misdadigers oormoedig en motiveer hulle om hul skrikbewind met selfvertroue te volvoer. Sonder ʼn robuuste strafregstelsel sal die kringloop van misdaad en geweld vinnig onstuitbaar word.

Bendeparadys

Met sy kenmerkende Amerikaanse mafiastyl Fedora-hoed het die minister van polisie, Bheki Cele, die simbool geword van wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) onder sy leierskap geword het – ʼn bendeparadys. Hy vul sy dae met ANC-vergaderings en begrafnisse saam met sy “blouligmafia”-gevolg en skreeu op aktiviste. Intussen maak hy onsensitiewe opmerkings oor verkragtings en probeer ons oortuig dat die skokkende misdaadstatistieke ʼn afname toon, terwyl die teenoorgestelde waar is. Nie net misdaad nie, maar ook die minister is buite beheer.

Die SAPD is die primêre polisiëringsinstelling in Suid-Afrika wat wet en orde moet handhaaf sodat inwoners veilig kan leef en werk. ʼn Doeltreffende en geloofwaardige polisiediens is noodsaaklik om die golf van misdaad te stuit en vertroue binne gemeenskappe te herstel. Met die Fedora aan die stuur is ons ongelukkig gevaarlik van koers af.

Daar ʼn merkbare afname in die suksesvolle vervolging van misdadigers, met slegs 14,5% van moordsake en 10,43% van gewapende roof-sake wat opgelos word. Dit verteenwoordig ʼn 30%-afname in die waarskynlikheid om moorde op te los en ʼn 39% afname in die oplossing van gewapende rooftogte.

Korrupsie en wangedrag

Siviele eise teen die polisie het die hoogte ingeskiet, en die aantal polisiebeamptes wat by ernstige misdade soos transitorooftogte, geweldsmisdaad en veediefstal betrek kan word, styg ook. Volgens die 2021/-22-jaarverslag van die polisie is daar in dié periode 13 000 nuwe siviele eise teen die SAPD ingestel. In dieselfde tydperk is meer as R470 miljoen vir 5 000 eise uitbetaal. Tussen 2019 en 2020 is 5 489 SAPD-lede gearresteer waarvan 383 op klagtes van moord, verkragting en veediefstal was.

Meer as 5 000 vuurwapens is die afgelope vyf jaar uit die polisiediens gesteel. ʼn Ondersoek deur die Valke het onthul dat die meeste van hierdie wapens deur lede van die polisie gesteel en versprei is. Later het dit geblyk dat die einste wapens in ʼn aantal moorde, insluitend kindermoorde, gebruik is nadat dit aan bendelede op die Kaapse Vlaktes verkoop is. Die verrotting van die land se polisiediens onder die (wan)bestuur van die Fedora sedert 2018 is afgryslik.

Ons het immuun geraak teen al die berigte van wangedrag en korrupsie. ʼn Mens is amper nie eers meer geskok nie. ʼn Korrupte organisasiekultuur ontstaan nie per ongeluk of oornag nie: Dit groei, soos kanker, as gevolg van onetiese gedrag wat oor ʼn lang tydperk deur die leierskap geduld word en mettertyd net toeneem. Hierdie kultuur kom wyd in die SAPD voor. Benewens die toestand van die SAPD-topbestuur hoef ʼn mens net na Cele se omstrede geskiedenis te kyk om die verrotting te verstaan.

In 2011 is Cele as die nasionale polisiekommissaris afgedank ná ernstige aantygings van korrupsie waarby die boukontrakteurs, Roux Shabungu, betrokke was by ʼn R1,7 miljard-huurskandaal wat huurkontrakte vir die SAPD-hoofkantoor ingesluit het. Ten spyte daarvan is hy in 2018 as minister van polisie aangestel.

By die Zondo-kommissie in 2019 het ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Misdaadintelligensie-eenheid (MI), kolonel Dhanajaya Naidoo, beweer dat Cele een van die politici was wat wetstoepassers gedwing het om hul onwettige aktiwiteite te versteek. Cele was na bewering deel van ʼn korrupte sindikaat wat deur die MI bedryf is. ʼn Ondersoeker by die Valke het die korrupsie by die MI oopgevlek. Cele, die voormalige polisieminister Nathi Mthewthwa, en ʼn bekende joernalis is uitgewys as die rolspelers wat by die korrupte aktiwiteite in die MI gebaat het.

Cele word ook aan Panganathan Marimuthu verbind. Marimuthu is ʼn afgedankte voormalige beampte wat na bewering betrokke was by ʼn dwelmhandeloperasie. Cele het blykbaar nietemin kontrakte aan hom toegeken toe hy LUR vir vervoer in KwaZulu-Natal was.

Uitgelewerde burgers

Hoe Ironies dat China Bheki Cele beloon vir sy “uitstaande bydraes tot die beskerming van Chinese burgers” tydens die vyftiende Brics-saamtrek in Sandton, Johannesburg. Wat die beskerming van Suid-Afrikaners betref, verdien Cele egter geen lof nie. Nie wanneer hy in September misdaadstatistieke bekendmaak en wil “vier” dat daar in die verslagperiode “slegs” 6 228 mense vermoor is nie. Hiervan was 293 kinders en 895 vroue, en “slegs” 9 254 verkragtings is aangemeld.

Cele het jammerlik misluk in sy taak om die publiek te beskerm en het in die proses tientalle goeie polisielede na hul dood gestuur. Polisiemoorde is aan die styg, veral in gebiede waar hulle die meeste benodig word, en dit laat daardie gemeenskappe selfs meer kwesbaar.

In Harare in die Kaapse Vlakte is daar net een polisiebeampte vir elke 879 mense. Volgens die 2021/-22-syfers (verskaf deur die provinsiale kantoor van polisiediens in die Wes-Kaap) is die polisie-tot bevolking-verhoudings in Khayelitsha, Samora Machel, Gugulethu, Kraaifontein en Delft almal byna dubbel die nasionale gemiddeld van een polisiebeampte vir elke 413 mense.

In Khayelitsha is die verhoudings 1:628, in Samora Machel 1:778, Gugulethu 1:773, Kraaifontein 1:721 en in Delft 1:711.

Gebrekkige toerusting

Dit behoort logies te wees dat die polisie-tot-bevolking-verhouding in bendegeteisterde gebiede minstens dubbel die nasionale gemiddelde moet wees. Voorts behoort dit duidelik te wees dat polisiebeamptes wat in hierdie gebiede ontplooi word baie ervare moet wees, met gevorderde opleiding en toegerus met die nodige hulpbronne om orde in hierdie misdaadgeteisterde gebiede terug te wen.

Maar logika is nie die Fedora se sterkpunt nie. MI het bevind dat ʼn hele aantal voertuie (ter waarde van ʼn totaal van R100 miljoen) by sommige polisiestasies in onbruik is. As hierdie voertuie sou kon herontplooi word na gebiede wat dit benodig, sou die polisie baie meer doeltreffend kon wees.

Intussen ondervind verskeie eenhede in die SAPD groot uitdagings met hul radiokommunikasiestelsels. Dit is al algemene praktyk dat polisielede hul persoonlike selfone op hulle eie koste gebruik om met mekaar te kommunikeer. Een van die eenhede wat erg geraak word, is die Wes-Kaapse Blitspatrollie-eenheid. In gebiede soos Delft, Gugulethu en Khayelitsha word hierdie eenheid eerste na aktiewe tonele ontplooi. Betroubare kommunikasie vir ʼn eenheid soos hierdie kan regtig die verskil tussen lewe en dood wees.

Baie belangrike persone

Dit is duidelik dat polisielede aan hulleself oorgelaat word in hul pogings om hulle gemeenskappe te dien, maar wanneer dit by die beskerming van politici kom word geen kostes ontsien nie. Vir elke politikus is daar 81 polisiebeamptes wat hom of haar beskerm – op die rekening van belastingbetalers. Cele het in Oktober by ʼn ANC-vergadering in Philippi aangekom met ʼn beskermingstoet wat uit ses blitspatrollievoertuie, drie openbare-orde-voertuie en drie TRT-minibusse bestaan het – elke voertuig met sy eie bemanning.

Onder die Fedora het die SAPD, veral lede van die “BBP-beskermingseenheid”, of soos ek hulle graag noem, die “Bloulig-mafia”, toenemend arrogant en gewelddadig geraak. Ons het hierdie blatante magsmisbruik in Julie gesien toe agt Bloulig-boewe die bestuurder en twee passasiers van ʼn voertuig op die N1 naby Johannesburg gewelddadig uit hul voertuig geruk en aangerand het. Die voorval is deur ʼn verbygaande motoris afgeneem en die video het soos ʼn veldbrand versprei. Die bestuurder van die motor is met die kolf van ʼn R-5-aanvalsgeweer teen die kop geslaan en bewusteloos uit die voertuig gesleep waar hy verder in die pad geskop en vir die dood agtergelaat is. Die agt is tans uit op borg en steeds in diens van die SAPD.

Waghonde slaap salig

Die vraag is: Is dit moontlik om die Fedora en sy mafia aanspreeklik te hou as elke skakel in die wet-en-orde-ketting blykbaar onherstelbaar gebreek is? 10111-lyne, stasiekapasiteit, ondersoek- en forensiese dienste en die samestelling en bestuur van dossiers – alles oneffektief.

President Cyril Ramaphosa se versuim om kritiese maatreëls te implementeer om ministers se prestasie te evalueer, soos hy in 2019 belowe het, beteken dat daar tans geen raamwerk is om die polisie te polisieer nie.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) is veronderstel om Suid-Afrika se polisiewaghond te wees. Opod se mandaat is om alle wangedrag of kriminele aktiwiteite wat deur lede van SAPD en Munisipale Polisiedienste (MPD) gepleeg word, onafhanklik te ondersoek.

Opod se huidige prestasie is ongelukkig nie iets om oor huis toe te skryf nie. Van die meer as 42 000 sake wat tussen 2012 en 2019 teen SAPD-lede by Opod  geopen is, het slegs 1% tot ʼn vervolging en net 4% tot dissiplinêre optrede gelei. In 95% van gevalle van onbehoorlike of kriminele optrede deur polisielede is daar dus geen sanksie vir die wangedrag nie. Olie op die vuur van ʼn kriminele organisasiekultuur.

Toe word die nuwe Opod-wysigingswetsontwerp gepubliseer. In plaas daarvan dat die waghond se tande skerpgemaak word, word dit tot ʼn skoothondjie vir die Fedora polisie-mafia gereduseer. Die wetsontwerp, indien dit goedgekeur word, sal Bheki Cele die mag gee om die uitvoerende direkteur van Opod eensydig te benoem en ook eensydig uit sy amp te verwyder.

Vasgevang in ʼn vertrouensvakuum

So, hier is dan hoe dit tans in Suid-Afrika daar uitsien: Elke uur, dag en nag word drie mense vermoor. Nog drie ontsnap ter nouernood aan die dood as slagoffers van poging tot moord en vyf word verkrag. Gespesialiseerde eenhede en vaardige ondersoekvermoë het ineengestort, met ʼn rimpel-effek in die regstelsel. Sonder voldoende bewyse word misdadigers op borgtog vrygelaat om hul bloedige skrikbewind voort te sit.

Die SAPD is ʼn broeiplek vir ondoeltreffendheid, korrupsie en misdadigheid. Dié wat opkyk na die Fedora, dans na Cele se pype sonder vrees vir vervolging vir hul aandeel in die groeiende mafiabende. Dié wat geroepe voel om hulle gemeenskappe te dien en te beskerm is op hul eie –uitgelewer om hulle pligte sonder die nodige hulpbronne en hulp uit te voer.

Waar laat dit gewone wetsgehoorsame Suid-Afrikaners? In ʼn kritieke vertrouensvakuum. Hierdie erosie van vertroue is nie net ʼn konseptuele risiko nie, maar hou tasbare gevolge in. Dit bevorder ʼn omgewing van skeptisisme en vrees, wat moontlik spanning tussen die publiek en wetstoepassers kan eskaleer.

Die herstel en handhawing van openbare vertroue is noodsaaklik vir die doeltreffendheid van enige instelling wat die taak het om geregtigheid te handhaaf en burgerlike vryhede te beskerm. Ons kan nie langer doekies omdraai oor die Fedora nie. Dit is tyd om SAPD te suiwer en ons moet bo begin. Cele moet gaan.

Dit is duidelik dat Cele en sy mafia nie net ʼn polisiestaat in Suid-Afrika skep nie, maar aktief probeer om die demokrasie, soos ons dit ken, te ontwortel. Die verrotting van die gereg sal voortgaan onder die Fedora en ons sal ons uiteindelik in ʼn polisiestaat bevind waar dit normaal is om oortreders aan bewind te hê. Om Suid-Afrika van die Fedora te bevry, kan die eerste stap wees om wet en orde in Suid-Afrika te herstel.

Ons het ʼn holistiese benadering nodig, wat fokus op die verbetering van wetstoepassing onder die wakende oog van ʼn robuuste, onafhanklike Opod en flink regsprosesse. Só kan die openbare vertroue in die regstelsel uiteindelik begin herstel.

  • Ian Cameron is direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Di ·

Die MAFIA BENDE moet GAAN! So ook al die korrupte ANC KADERS in die Parlement. SA is tans die grootste HOOL in die wereld, wonder hoe slaap HULLE wat die land in die grond in gedryf het.

Anel ·

Eerstens moet die kommissaris ‘n polisiebeampte wees wat deur die range gegaan het, op straat gewerk het en homself bekwaam het deur kyrsusse en bevorderingseksamens. Die minister met ten minste ‘ n graad in polisiekunde werwerf het of dan ‘n LLB. Geen mense van die straat af nie. Ook niemand ouer as 60 nie of dan 65 nie. Stel mense in posiese aan wat BEKWAAM is. Gaan leer by ander lande. Minister van onderwys, oud onderwyser, min van verdedging, ‘n soldaat ens. Dis wat ek sou doen. Soos wat dit vroeer was.b

Sokrates ·

Dankie, Ian Cameron en Action Society. Jy staan op teen onreg en leuens, geroepe om juis vir die mees weerlose in die samelewing, sonder aansiens des persoon, in te tree. Jou wapens is feite en statistieke waarmee leuens en korrupsie ontbloot word. Jy het visie en daadkrag. Salute!

OW ·

Baie goeie en insiggewende skrywe.Die probleme met die SAPD kom al ‘n lang tyd en baie van die probleme kom van Jackie Selebe se tyd as kommisaris.Hy het teen die spoed van lig,strukture in die SAPD afgeskaf en afgewater.Hoe hy op ‘n stadium hoof van Interpol geword het,sal seker niemand weet nie.SA is misdaad vodde en dit kan omgekeer word,maar die huidige regering het geen planne, wat dit betref nie,en sluit alle fronte van die politiek in.

Andre ·

…die A en C moet Cele aanhou ten einde KZN te wen in 2024 en ook omdat hulle almal eet by dieselfde trog

Peter ·

Saluut Ian!! Ons sal NIE gaan le nie. Thanks for all your efforts brother.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.