Verdien Rusland sy nuwe populariteit?

Deur prof. Johan Janse van Rensburg

Vlag van Rusland (Foto: Evgeni Tcherkasski/Pixabay)

Een van die akute besprekingstemas van die dag is Suid-Afrika se verhouding met Rusland. Die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, het ter verdediging van die regering se neutrale (nie-veroordelende) posisie teenoor Rusland as motivering aangevoer dat Rusland met die stryd teen apartheid behulpsaam was.

Iemand het in reaksie opgemerk dat dit die voormalige USSR was en dat Rusland vandag ʼn Christelike land is waar sosialisme nie ʼn opsie is nie. Daarbenewens word daar al hoe meer stemme gehoor wat ʼn matige en self positiewe standpunt teenoor Rusland ingeneem het.

Bewus daarvan dat dit ʼn sensitiewe aangeleentheid is en dat die skrywer hiervan ʼn teoloog en nie ʼn politikus is nie, het die diskoers tóg vir die teologie relevant geword toe die Christelike stand van Rusland geopper is. Drie vrae het hieruit ontstaan.

Allereers dwing die vraag onwillekeurig op of Rusland sonder meer en kategories as Christelik gekategoriseer kan word? Dit laat ʼn verdere vraag ontstaan: Kan Suid-Afrika in vergelyking as ʼn Christelike land beskryf word? ʼn Derde vraag ontstaan hieruit: Wanneer is ʼn land Christelik?

Die kategorie van publieke teologie dwing ons om aan die diskoers deel te neem. Wat hier aangebied word, is op geen manier finale antwoorde nie maar ʼn poging om vanuit ʼn teologiese perspektief na die probleemstelling te kyk.

Destydse statistiek in 2013 het aangetoon dat 85.6% van die bevolking in Suid-Afrika Christelik is[i]. Of dit vandag met ʼn inklusiewe en sekularistiese staat steeds gesê kan word, is te betwyfel. Insgelyks is die politiese en sosiaal-maatskaplike omstandighede in Suid-Afrika alles behalwe ondersteunend om die persepsie van ʼn Christelike staat te versterk.

Ons misdaadsyfer het internasionale status bereik en armoede, werkloosheid en hongersnood het ongekende afmetings aangeneem. Op etiese gebied het die bandelose maatstaf van “anything goes” die algemene norm geword. Al hoe minder Christene is aktief by godsdienstige praktyke soos eredienste, gebedsbyeenkomste en barmhartigheid betrokke. Regverdig só ʼn ellendige sosio-maatskaplike en godsdienstige situasie die benaming van Suid-Afrika as ʼn Christelike land?

Is die sosio-maatskaplike omstandighede in Rusland enigsins anders om te regverdig dat dit as ʼn Christelike land geklassifiseer kan word?

Insgelyks kan die vraag gestel word: “Kan Rusland as ʼn Christelike land bestempel word?” Uit rekenaarbronne blyk dit dat die meerderheid van Rusland se bevolking, dit is 76 %[ii], die Christelike geloof aanvaar het. Teologies verteenwoordig die Christelike bevolking hoofsaaklik ʼn bepaalde standpunt. Die Rooms-Katolieke en Reformatoriese geloof word nie algemeen aanvaar nie.

Volgens Christianity Today (8 Julie 2016)[iii] het die president van Rusland, Wladimir Poetin, ʼn wet onderteken wat enige godsdienstige aktiwiteite buite erkende kerkgeboue verbied. Dit sluit huise, skole en internet-kommunikasie in. Kan dit moontlik in Rusland ʼn rol speel in die versuim van Christene om kerklik betrokke te wees? Na wat berig word, is talle kerk en katedrale in Rusland in ʼn proses van verval en op die internet is daar selfs versoeke vir finansiële steun om die kerke in stand te hou.

Dit is niks minder as merkwaardig nie, (of is dit blote toeval?) dat die nuwe haatspraakwetgewing wat pas in Suid-Afrika goedgekeur is, presies met bogenoemde godsdiensverbod in Rusland ooreenstem. Volgens hierdie wetgewing kan Christene in Suid-Afrika met boetes of tronkstraf vir beweerde haatspraak teen ander gelowe gestraf word. Navraag bevestig dat die Christelike boodskap volgens hierdie wetgewing in die kerk verkondig mag word, maar dit mag nie in die openbaar herhaal word nie. Die ooreenkoms met Rusland kan nie misgekyk word nie.

Dit plaas die verband tussen die regering van Rusland en die Christelike geloof in die kollig. Berigte in die media wys daarop dat Poetin, wat na bewering ʼn kruis om sy nek dra, geweier het om op ʼn onderhoudvoerder se vraag te antwoord of hy ʼn Christen is. Dit laat ʼn mens onwillekeurig oor Mattheus 10:32 (“As julle My Naam voor die mense bely…”) wonder. Voeg daarby Poetin se onwrikbare houding oor die jaarlange oorlog teen die Oekraïne. Hoeveel lewensverlies, ellende en skade word nie daardeur veroorsaak nie.

Teologies beoordeel staan hierdie oorlog skuldig teenoor elke wet van die Dekaloog. Tóg weier die regering van ʼn Christelike (?) Suid-Afrika om die oorlog te veroordeel. Weer wil dit voorkom of die woorde van Jesus Christus in Mattheus 5:9 (“Salig is die vredemakers”) deur Poetin en ondersteuners van die oorlog waardeloos gemaak word. Hoe Christelik is dit wanneer die Christus van die Christelike geloof nie meer saak maak nie? Natuurlik is die houding van ʼn regering nie ʼn aanduiding van die Christelike aard van ʼn land nie, maar wanneer die regering dit al hoe moeiliker vir Christene in die land maak om hulle Christenskap uit te leef, moet dit noodwendig ʼn demper op die Christelike boodskap en invloed plaas.

Dit is waar dat Rusland nie ʼn sosialistiese dispensasie het nie. Wat egter nie algemeen bekend is nie, is dat die Russiese Sosialistiese Beweging (wat in 2011 gestig is) ʼn verlinkse beweging is wat verskeie sosialistiese groepering in ʼn verset teen Poetin se regering opbou. Dit is weliswaar nie ʼn algemene beleidsrigting nie, maar toon steeds die hardnekkige weiering van ʼn neomarxistiese ideologie om te verdwyn. Die Marxistiese klem op die sentralisering van mag word juis duidelik geïllustreer deur die outoritêre administrasie van Rusland wat sedert 1993 al hoe sterker geword het en Poetin se obsessie om deur oorlog en magsmisbruik die Oekraïne ʼn deel van Rusland te maak.

In ʼn informatiewe artikel[iv] gee Paul Dibb vier redes vir Poetin se besluit om oorlog te maak. Allereers meen hy dat die val van die USSR ʼn verleentheid vir die land was en daardeur aansien verloor het. Tweedens noem Dibb die weersin wat Poetin in die uitbreiding van NATO het. Derdens speel Poetin se oortuiging ʼn rol dat Rusland en die Oekraïne een land behoort te wees. Vierdens is dit volgens Dibb duidelik dat Poetin ʼn obsessie het om Rusland die grootste wêreldmoondheid te maak. Poetin se politieke motiewe mag dalk in politieke leierskap sin maak, maar dit sou nie as Christelike regverdiging vir die verwoesting van ʼn oorlog kan dien nie.

Poetin se outoritêre regeringsbeleid het sedert sy tweede termyn as president net sterker geword. Van buite beskou wil dit voorkom of hy nie veel teenstand van sy regering kry om met die oorlog teen die Oekraïne voort te gaan nie, terwyl die meerderheid Christene in Rusland nie veel mag of inspraak het om die oorlog te beëindig nie. Treffend stel die skrywer van ʼn berig (“Hitler never again”, 17 April 2023) dit soos volg op[v]:

History will judge us for foolishly waiting; for allowing the needless suffering and genocide to go on in Ukraine. This applies to the Politicians around the world who did nothing or too little. It also applies to ordinary people who just kept going about their normal life and pretended it was not their concern. But we will pay a heavy price”.

Poetin se politieke motiewe mag in politieke leierskap sin maak, maar dit sou kwalik as Christelike motivering vir die verwoesting van ʼn oorlog kan wees.

Die oorlog teen die Oekraïne het wêreldmoondhede gespanne gemaak. Poetin se melding van Kernwapens en China se toetrede tot die spanning het die bipolêre dreiging in ʼn tripolêre nagmerrie verander. Die president van China, (Xi Jinping) gee voor om ʼn vredesrol te speel, maar sommige meen dat hy klandestiene motiewe het om nie in te meng nie. Een artikel bestempel hom as “Die vredemaker wat vrede verhoed”.

Ander moondhede in die wêreld wat oor kernwapens beskik, word al hoe meer onrustig. Een of ander wêreldleier het nog onlangs opgemerk dat die wêreld nog nooit so naby aan ʼn derde Wêreldoorlog gekom het nie. Teologies doem die vraag na vore of dit die voorspel tot die Bybel se beskrywing van die einde van die eindtye sal wees (2 Petrus 3:10-12).

Gevolgtrekking

Vanuit ʼn publieke gereformeerde teologie word die volgende gevolgtrekkings gemaak, sonder om voor te gee dat dit in ʼn politieke arena enigsins gewig sal dra.

Die meerderheid van ʼn Christelike bevolking maak nie ʼn land Christelik nie. Dit geld ongelukkig van Suid-Afrika waar die haglike morele toestand in die land elke aanspraak op Suid-Afrika as ʼn Christelike land neutraliseer. Inderwaarheid regverdig dié stelling ʼn volledige beredenering.

Daar is geen manier waarop die oorlog in die Oekraïne teologies geregverdig kan word nie. Weliswaar geld die beginsel in die Christelike etiek: “Si Vis Pacem, Para Bellum” (Berei jou vir ʼn oorlog voor ten einde die vrede beter te kan bewaar). Wanneer ʼn land egter sonder provokasie of dreiging oorlog maak, roep die Skrif daarteen en behoort die kerke en elke gelowige wat die Skrif eerbiedig, hard en duidelik te protesteer.

Persoonlik wonder ek onwillekeurig wat die nuwe positiewe oordeel oor Rusland gestimuleer het?

Bronne:

[i]General Household Survey, soos weergegee in Elektroniese Christelike Kernensiklopedie (e-CKE): http://ecke.co.za.

[ii]Opname deur die Levada Center, November 2012. Geloof in Rusland/Staatsgodsdiens; af.birmiss.com.

[iii]Kate Shellnutt, Russia’s Newest Law: No Evangelization Outside of Church. Christianity Today, 8 July 2016.

[iv] Paul Dibb, Why Did Putin Decide to Attack Ukraine? The Geopolitical Implications of Russia’s Invasion of Ukraine. Australian Strategic Policy Institute, September 2022.

[v]Never Again. The New Hitler must be stopped. Open Letters International, 17 April 2023.

  • Johan Janse van Rensburg is reeds meer as 40 jaar ’n NG Kerk-predikant. In 1994 het hy ook ’n pos aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat aanvaar waar hy 16 jaar praktiese teologie doseer het. Hy het drie doktorsgrade verwerf by Stellenbosch, Unisa en die UV.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Joe ·

Uitstekend geskryf en beredeneer, prof! Ons “regering” se liefde vir hierdie misdadiger is, soos alles wat hulle doen, onnosel verby. So onnosel dat ‘n mens soms wonder of hulle dalk juis nie onnosel is nie maar eintlik besig is met ‘n opsetlike plan om die land te vernietig ten einde hulle verklaarde NDR oogmerk te bereik?

Groen Ghoen ·

Ek was in Owamboland tydens die Bosoorlogjare en het geen voorliefde vir die USSR en sy destydse bondgenote nie. Met die val van die Berlynse muur is daar aan Gorbatsjof die onderneming gegee dat NAVO geensins verder Ooswaarts sou uitbrei nie. Sedertdien het NAVO tot op Rusland se grense gevorder. Jammer prof., maar nou ondersteun ek vir Rusland. Putin se eerste plig is die veiligheid van sy land. Dit doen hy. Angela Merkel het erken dat dit NAVO se strategie was om nie die Minsk akkoorde (en dus vrede met Rusland) te implementeer nie, maar vir tyd te speel om die Ukraine te bewapen. Iewers maak al hierdie gewaande “Christene” se mooi argumente net nie sin nie.

Linda ·

Word ons Godsdiens nie alreeds aangeval nie? Geen oorlog, fisies of emosioneel is geregverdig nie.

Treurwilger ·

Dit is uiters laakbaar van wêreldmoondhede om kort-kort China se Xi Jinping by die NAVO-Oekraïne-Rusland Oorlog te probeer betrek met vae beskuldigings van “die vredemaker wat vrede verhoed”.
Hoe ironies, komende van lande wie se wapenvervaardigers skaars kan byhou om die verwoestende oorlog aan die gang te hou.
Wat ‘n tragiese gekkespul.

Marthinus W ·

Die Russe het in 988 n.C. Christendom aanvaar, en in 1988 het n ateis, Michail Gorbatsjof, seker gemaak die Christene herdenk daardie dag. Toe Poetin van sy vrou skei, is hy deur die kerk ingeroep, en moes hy mooi verduidelik hoekom. n Dag nadat Russiese troepe in Oekraine in is, het die joernalis Oksana Boiko die vraag gevra oor hoeveel taboes Poetin moes breek om dit te doen [hulle is nie oorlogsugtig nie, hul weermag was geskoei op verdediging, en Oekraine is hul familie, vriende]. Toe Richard Stengel, redakteur van Time magazine aan Poetin vra of hy n Christen is, het hy genoem dat hy n Bybel saam met hom neem waar hy okal heen gaan. In sy toesprake kom sy Christenskap duidelik voor. Ongelukkig word die internet en media beheer deur antirussiese en antiPoetin mense, en maak seker dat net slegte dinge gehoor word.

Jacques ·

Nee Prof. Mens kan ook nie net selektief teks uit die Bybel haal soos dit mens pas nie. Rusland het die oorlog veroorsaak nie. Met die val van Kommunisme was die ooreenkoms dat NAVO nie verder oos sou uitbrei nie. Na die 2de Wêreld Oorlog het die VSA militêre basisse oor die hele wêreld opgerig, ook deur die hele Europa, meer as 800 militêre basisse buite die VSA. Wie gee hulle die reg om so militant te wees? Die media sê niks? Of van al die oorloë waar die VSA ander lande ingeval het?
Jesus sê in Lukas 22:36 ” Toe sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie ‘n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook ‘n reissak. En wie nie ‘n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf.” Daardie swaard is beslis nie bedoel om jou tee te roer nie.
In Efesiërs 6:12 staan (Ou Vertaling) “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Dit is Putin se stryd.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Russiese beskawing is meer as 1000 oud. Hul geskiedenis is een van verdriet, onderdrukking, oorloë, siektes en natuurrampe, met spatsels vreugde te midde van Wes Europese meerwaardigheid. Dis iets wat geen buitestander ooit sal begryp nie. Skrywers soos Tolstoi, Pushkin en Tjekof het dit uitstekend verwoord. Die Ortodokse Kerk het deurgaans ‘n sentrale rol gespeel, selfs tydens die Sowjet era toe hoogwaardige kerklui weer bewus geraak het van hul roeping op aarde. Om beter te verstaan, gaan lees Poetin se SONA toespraak op 21 Feb 2022, ‘n paar dae voor die inval. Dis ‘n samevatting van geskiedenis in daardie deel van die wêreld. Sonder fitterjasies en Yankie twak soos “Make Russia Great Again.”

http://en.kremlin.ru/events/president/news/67828

In sy “Munich” toespraak in Februarie 2007 het Poetin ook gevra vir internasionale samewerking. Sy woorde het egter op dooie ore geval. Die res is geskiedenis.

Marthinus W ·

Poetin se toespraak gedurende September 2022 is vir my een van sy bestes. Een aanhaling: “… the overthrow of faith and traditional values, the suppression of freedom acquires the features of a “reverse religion” – outright Satanism. In the Sermon on the Mount, Jesus Christ, denouncing the false prophets, says: By their fruits you will know them. And these poisonous fruits are already obvious to people – not only in our country, in all countries, including …the West itself”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.