Verduidelik apartheid aan nuwe geslag

flip-buys-2017-11

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Apartheid moenie verdedig word nie, maar dit moet verduidelik word. Ons skuld ’n perspektief op die verlede aan die nuwe geslag, omdat hulle nog lank aan die ontvangkant van ʼn rasgebaseerde regeringsbeleid gaan wees.

Jongmense word vandag kwalik geneem vir dinge wat gebeur het voor hulle gebore is, terwyl baie politici nie verantwoordelikheid wil neem vir wat hulle vandag doen nie. Ondanks ’n Grondwet gebaseer op gelykheid, het die ANC stelselmatig ’n omvattende netwerk van rasgebaseerde wette en beleidsrigtings ingestel. Dít word geregverdig deur die sentrale uitgangspunt dat apartheid verantwoordelik was vir al die ongelykhede en armoede in die land, en dat omvattende regstellende aksie-maatreëls nodig is om dit om te keer.

Nooit weer nie

Die sentrale vraag in die Suid-Afrikaanse politiek van die vorige eeu was hoe om die swart mense se reg op vryheid te verwesenlik sonder dat die Afrikaner in dié proses sy vryheid verloor. “Aparte vryhede” was die antwoord op hierdie vraag vir die oorspronklike aanhangers van apartheid. Dit is tragies ironies dat ’n beleid wat sogenaamd tot vryheid vir swart mense moes lei, dié simbool van onvryheid geraak het.

Die Unie van Suid-Afrika het in 1910 ontstaan uit die gedwonge samevoeging van Britse kolonies ná die Anglo-Boereoorlog. Suid-Afrika was veel eerder ’n landstreek soos Oos-Afrika met ’n uiteenlopende bevolking, as ’n normale land soos Swaziland of Lesotho met grootliks een volk. Die uitwissing van 15% van die Boerebevolking tydens die oorlog het ’n belangrike rol gespeel in ’n soort “nooit weer nie”-sekuriteitsindroom wat vir dekades lank ’n groot invloed op die Afrikaner se politieke gedrag sou hê.

Die helfte was arm en swak geskoold, en het gesukkel om hulself te vestig op politieke, ekonomiese en kulturele gebied. Die wanhopige oorlewingstryd waarin die Afrikaner vir die eerste dekades ná die oorlog gewikkel was, het min ruimte gelaat vir ander groepe se uitdagings en strewes. Soos elders ter wêreld, is gevoel dat swart mense onderontwikkeld was, en is nog nie “mondig” geag om aan die blanke politieke stelsel deel te neem nie. In hierdie eerste fase van apartheid het regeringsleiers hulself as die “voogde” van “onmondige” swart mense gesien wat gelei en ontwikkel moes word tot “volwassenheid” en uiteindelike onafhanklike vryheid. Hierdie rassistiese sienings het algemeen in die hele Westerse koloniale era voorgekom, en het eers ná die Tweede Wêreldoorlog begin verander.

Vryheidsvegters

Afrikaners het hulself ná die oorlog gesien as die eerste vryheidsvegters van Afrika en die Unie van 1910 as die eerste stap in die voortsetting van ’n nuwe stryd teen Britse oorheersing wat sou duur tot Republiekwording in 1961. Die Rebellie van 1914 was die eerste poging van Afrikanerleiers om weer die landstreek Suid-Afrika te ontbondel en sy vryheid in die eertydse Boererepublieke te herstel. Die stryd tussen Boer en Brit was prioriteit, en swart mense se politieke strewes het tot ná Republiekwording tweede viool gespeel. As ’n klein volkie in ’n groot vasteland moes die Afrikaner veg vir dit wat groot kulture as vanselfsprekend aanvaar, soos die reg om sy taal in die openbaar te gebruik. Die voortdurende vrees vir sy veiligheid en “verswelging” deur groter getalle het ’n belangrike rol gespeel in die instelling van statutêre apartheid.

SA-bevolking

Grafika: Verskaf.

Dekolonisering

Ná die Tweede Wêreldoorlog het die opkoms van menseregte gelei tot druk vir die dekolonisering van Afrika. Die talle dekolonisasiemislukkings ná onafhanklikheid van Europese moondhede het die rassevooroordele van baie wit mense versterk. Die platval van soveel “nuwe” state het hulle laat glo dat swart mense nie ’n moderne land kan bestuur sonder ’n lang opleidingsproses nie. Dit het gelei tot die tweede fase van apartheid, naamlik afsonderlike ontwikkeling. Afrikaners het Suid-Afrika nie as ’n eenheidstaat gesien waar hulle vir almal verantwoordelik was nie, maar as ’n kunsmatige samevoeging van Britse kolonies wat desnoods weer ontbondel kon word.

Die Britte het onafhanklikheid aan Botswana, Lesotho en Swaziland verleen. Afsonderlike ontwikkeling is as ’n voortsetting van hierdie dekolonisasie gesien, met die plan om tradisionele swart gebiede in Suid-Afrika ook tot onafhanklikheid te ontwikkel.

Afrikaners het hul vryheidstrewe net so toegepas op swart volke, en trots gevoel dat hulle die swartes kon help om hul eie state, skole en universiteite te verkry. Met ander getalleverhoudings as vandag, is stedelike swart mense as “tydelik” gesien, sonder die volle burgerregte wat wit inwoners gehad het. Die ANC se kommunistiese beleid van die sestigerjare het vir Afrikaners na ’n herhaling van die Afrika-mislukkings gelyk, en hulle het geglo dat die ontbondeling van Suid-Afrika op die Wes-Europese model van aparte volkstate die enigste werkbare alternatief was. Die langtermynbevolkingsneigings (sien diagram) en vinnige swart verstedeliking as gevolg van die grootskaalse gebruik van swart arbeid, was die grootste redes hoekom die plan van “onafhanklike lande vir elke volk” nie gewerk het nie.

Koue Oorlog

Afrika het ’n belangrike slagveld in die koue oorlog tussen die Weste en kommunisme geword, wat die polarisasie tussen die Nasionale Party (NP) en die African National Congress (ANC) vererger het. Die konflik het nou ’n nuwe ideologiese en internasionale dimensie bygekry, wat die beweegruimte van die onderskeie kampe aan bande gelê het.

Die geweldige ingewikkeldheid van ’n probleem met rasse-, nasionalistiese-, ideologiese-, etniese-, en kulturele kante het baie internasionale waarnemers laat glo dat die Suid-Afrikaanse kwessie onoplosbaar is. Die ANC se verbintenis met die Sowjetblok het die NP-regering letterlik en figuurlik rooi laat sien, omdat kommunisme destyds ’n wêreldmag was.

Mnr. PW Botha se bewindsaanvaarding in 1981 het die derde fase van afsonderlike ontwikkeling ingelui. ’n Sterk Sowjet-militêre teenwoordigheid in Suider-Afrika het geloofwaardigheid aan die NP se standpunt gegee, en Amerikaanse veiligheidsdienste se sienings het gaandeweg neerslag in Suid-Afrikaanse beleidsbepaling begin vind. Die konflik is al minder vertolk as botsende strewes na selfbeskikking wat deur afsonderlike state opgelos moes word.

Verdrukking

Daar is al meer gepraat van ’n Sowjet-gesteunde kommunistiese aanslag wat deur Amerikaans-ontwikkelde antirewolusionêre strategieë beveg moes word. VSA-doktrines het NP-beleid geword, en geldige swart strewes is as deel van die “aanslag” gesien wat beveg moes word. Terselfdertyd is met ’n hervormingsproses begin om deur die uitfasering van apartheidsmaatreëls die “teelaarde vir rewolusionêre agitators” te verklein. Daar is ook ’n grootskaalse beleid van maatskaplike opheffing van swart mense gevolg, en pogings is aangewend om “gematigde” swart mense in die bedeling te betrek deur ’n proses van onderhandeling.

Die ANC het hierdie proses geboikot, en met hul “People’s War” probeer om die bewind met rewolusionêre geweld omver te werp en ’n kommunistiese bestel hier te vestig. Die destydse regering het in 1985 met ’n verdrukkende noodtoestand begin om die atmosfeer in die land te bestendig en vreedsame omstandighede vir ’n onderhandelde skikking te bewerkstellig. Hulle het ook aangebied om mnr. Mandela vry te laat as hy geweld en kommunisme sou afsweer.

Menseregte

Ná die val van kommunisme as ’n wêreldmag het die Suid-Afrikaanse probleem weer vinnig ’n menseregtekwessie geword, en was daar groot druk op die destydse regering om ’n algemene demokrasie in te stel. Dit was net nie volhoubaar vir ’n minderheid om blywend oor ’n meerderheid te regeer nie. Die NP-regering het die ANC ontban, mnr. Mandela vrygelaat, en met die Kodesa-onderhandelingsproses begin wat op die tussentydse Grondwet en demokratiese verkiesing in 1994 uitgeloop het.

Die onderliggende aanname was dat meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming verruil is. Dis egter ’n groot vraag of die Grondwet en die politieke bestel genoegsame beskerming vir minderhede bied. Anders gestel, die ANC gebruik sy meerderheidsmag om die minderheidsbeskerming wat die Grondwet wel bied, te dwarsboom.

Die idealistiese beleid van “vryheid vir almal” het uiteindelik uitgeloop op ’n verdrukkende stelsel wat wêreldwyd veroordeel is.

Vandag word die nuwe geslag konfronteer met die verdelende geskiedenis van die verlede. Die uitdaging is om ons voorouers se beleid in die konteks van hul tyd te beoordeel. Dis egter nie maklik nie, want soos George Orwell gesê het: “Elke geslag dink hy is slimmer as die vorige geslagte, en wyser as die volgende geslag.”

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

23 Kommentare

Jerry ·

Bewerkstellig versoening deur die hand van vriendskap wat CR uitsteek te vat en tree dan ook daarvolgens versoenend op. Die dag wat die huidige Afrikaner organisasies dit doen, sal nie net die Afrikaner jeug nie, maar alle Afrikaners nie verder kwalik geneem word vir apartheid nie. Dan sal transformasie en reverse discrimination uitgedien raak en meeste Suid Afrikaners sal n stukkie grond he met titel aktes en erf met n huisie met eiendomsreg. Die Afrikanerjeug wat dan nie langer verkwalik word vir apartheid nie, kan dan in vrede en harmonie, diep spore trap en werk skep vir die res.

Hendrik ·

Jerry jy verstaan nie mooi nie. Dit is juis die regeringstrukture en beleid wat titelaktes weghou van hulle eie ondersteuners. Dit is regtig niks met Afrikaners te doen nie en ons is regtig nie in beheer sedert ’94 nie. Niks verhoed die huide regering, behalwe onvermoe , om vir die burgery hul regmatige titelaktes te gee nie.

jaco ·

kom ons vra die ANC om SA se grondwet as volg verander:
1. rassisme word omskryf as slegs wit mense wat lelik is met swart mense. Strawwe daarvoor word ook duidelik uiteengesit.
2. wit mense verloor stemreg en stem net vir ‘n Wes-Kaapse tuislandregering
3. alle wit mense word gedwonge wes-kaap toe verskuif.
4. wit mense met dubbele burgerskap moet hulle SA burgerskap afsê en moet dadelik terugkeer na lande waar hulle nog burgerskap het
5. die wes-kaap verander na ‘n tuisland met beperkte selfregering, baie soos Hong Kong en die Palestian Authority
6. Buitelandse beleggings word daar toegelaat, op voorwaarde dat groot persentasies belasting aan die sentrale regering in die nie-wit SA betaal word. dit verryk wel die sentrale regering onregverdig, maar dit skep darem werk vir die wit mense in die tuisland.
Ek stel dus voor die ANC bring apartheid terug en pas dit net op wit mense toe. Met alles duidelik in die grondwet, sal almal dan finaal weet wat kan gedoen word en wat nie.
Lastens, ek glo n wit tuisland waarin wit mense ingedwing word, sal werk. Swart tuislande in die ou SA het misluk omdat n wit minderheid dit op n swart meerderheid afgedwing het en plaaslike en buitelandse beleggings is aanvanklik nie daar toegelaat nie.
Orania werk nie want daar bly 1200 mense na 27 jaar. Daarteenoor sal 4 miljoen mense wat in n tuisland ingedwing word, dit dadelik baie beter laat werk.
Dink “buite die boks”. Hierdie dinge kan werk.

Eish ·

Ons het met ander woorde die hele situasie verkeerd bestuur. ” Voogde, onderontwikkeld, nie mondig geag, hierdie rassistiese siening het algemeen in die Westerse wêreld. ..”
Maw alger spring in die vuur en ons volg…

Diep is die see en diep is die hel, maar trots lê nog dieper as dit.
Dit is soos gif, rondom die fondasie van die siel lê.
As dit in sy motiewe geopenbaar word, en die oorsprong van gedagtes neerplot,
sal dit selfs onskuldig mog voorkom, maar vernietiging verseker.

Alles net omdat ons nie die Woord wat ons verkondig het, kon leef nie.

Peet Roodt ·

Die meeste van die ouer garde wat uit die “apartheidstyd” kom verstaan waarskynlik beter waarna Mnr Buys verwys. Solank Afriforum voorgee dat dit die spreekbuis van blanke Afrikaners is en voortgaan om uitsprake te lewer soos wat Kallie Kriel onlangs gedoen het, gaan die versoening nooit plaasvind nie. Somtyds kry ek die indruk dat sulke uitsprake steeds probeer om slegte dinge uit die verlede te verdedig en ook die persepsie te skep dat daar dalk weer teruggegaan kan word na daardie tyd. Ons weet almal dit is nie moontlik nie.

Oupa Afrikaner Vlakvark van Geregtigheidsfontein ·

Geagte Flip, as ‘n oupa en senior burger kreool Afrikaner in hart, siel, murg en been, gebore 1948, kan ek prontuit instaan vir die korrektheid van hierdie artikel. Dankie vir jou waagmoed en eerlikheid. Apartheid MOES beslis in ons as senior burger Afrikaners se lewensduur vir die nageslagte deur skriftelike dokumentasie en publikasie verduidelik word en nie deur die nageslagte self tweedehands met nabetragting gepen word nie.
Ėén voorstel: Publiseer hierdie artikel IN ENGELS prominent op Solidariteit en AfriForum se webwerwe asook wêreldwyd in die media en rig dit ook aan elke ambassade, belangrike buitelandse besluitnemers en joernaliste.
Sterkte en voorspoed in geregtigheid. Laat ons sout vir die mensdom probeer wees al is ons nie perfek nie. Ook ‘n lig op die pad na groter geregtigheid.

John ·

Hierdie is ‘n druppel-in-die-emmer-verduideliking van ‘n veelkantige saak en bloot deels. Miskien kan mens dit vergelyk soos wanneer ‘n ma of pa geslagsvoorplantingsinligting aan die nuwe jong geslag probeer verduidelik: Daar word al rondom die saak gepraat, sensitiewe kwessies omseil, ge-ooh en ge-aa met die oe na die dak of berge geslaan en verskeie sake liefs vermy en dan word die kind ‘n boek in die hand gestop of verwys na ‘n ander ‘kundige’. Ons almal weet wat waar is en eie evaring bring die res, maar dan is daar die duiwel wat altyd beter verduidelik as ma of pa…

rollie ·

Deur Apartheid op enige manier te probeer verdedig is ‘n verloor-verloor situasie. Hoe gouer organisasies soos Afriforum en Solidariteit dit besef hoe beter.

Kaufman ·

Om minderhede te verdruk is net so erg, dit moet baie beslis ook stop. Minderhede wat nie verswelg wil word deur meerderhede wat hulle diskriminerende wette wil afdwing, en volksmoord aanblaas, moet beskis gestop word.

Ahaaa ·

Rollie, John, Jerry, ekt jul kommentaar gemis by die berig op die weerlose ou tannie wat deur haar tuinwerker vermoor is. Julle is maar lekker een-ogig, nè.

Pietman ·

Apartheid was op aparte ontwikkeling en self regering geskoei. En ja swart mense was as minderwaardig geag. Moes agter die bus sit, ens. Werksreservering was nie nodig nie en het slegs 3% van alle werke vir ‘n kort tydjie geaffekteer. Dis ‘n totale leuen dat apartheid vir die swart mense se ekonomiese agterstand verantwoordelik is. Dit word gebruik om die huidige onregte te regverdig. 1. Op watter ekonomiese en opvoedkundige vlak was die swart mense voor apartheid? Hul ongelykheid is dus voor apartheid reeds aanwesig. 2. Gegewe die huidige agteruitgang van administrasie , misdaad van die land waar sou SA gewees het indien ‘n swart regering al in 1960 oorgeneem het? 3. Indien apartheid vir die sosio-ekonomiese vlak van die swart mense verantwoordelik is dan moet die afskaffing daarvan alleen ‘n wesenlike verbetering in hul lot gebring het. Selfs met omsigtige wette wat swart mense op alle ekonomiese vlakke vir amper 25 jaar bevoordeel het , is die meederheid swart mense nog brand arm. Hoe sou die swart mense sonder die SEB wette maar ook sonder apartheidswette gevaar het? 4. Hoe het ander Afrika lande sonder apartheid gevaar? SA se swart mense het ‘n baie hoër lewenspeil as ander afrika lande gehad. Die 1913 Land Act het die toedeling van eienaarskap persentasie soos dit was op daardie datum gevries . wittes kon ook nie in swart gebiede koop nie, wat eintlik swart mense beskerm het. teen wit eienaarskap oorheersing in Transkei en Zoeloeland.

Oom Kalahari ·

@ Pietman, dankie stem saam en mooi gestel. Dankie ook aan Flip Buys, uitstekende skrywe en verduideliking oor die verlede tot hede. Ek en vroulief is ook maar boorlinge van die 40 en 50 jare. Hoe elkeen die Apartheid as onreg beskou is sy eie persepsie en weg beweeg van verantwoordelikhede en verantwoordings aspekte wat in die verlede gegun was. Dat dit skielik as ‘n misdaad teen mensdom uitmaak, dan vra ek myself af wat is die van die afgelope 24jaar met vergeleke voor 1994. Kulturele verskille en agtergrond is groot gapings en moet die Afrikaner maar altyd knie buig en minderwaardig speel deur voete te was. Vir baie jare vorentoe gaan hierdie norm nog aan gehang word. Ek daag enige politikus uit om saam Mnr Julius Malema om dietafel te gaan sit, onderhandel op sekere aspekte en kompromie te bereik. Dit gaan wees om ‘n lam in ‘n leeu hok te plaas en dink hul gaan mekaar skoon lek van vriendskap.
Aan Afrifirum en Solidariteit, baie dankie en dit is opreg waarderend wat jul vir die Afrikaner doen en asb gaan so voort.

Disselboom ·

Ja-nee, Pietman gesels dinge wat mens aan die dink sit. Soos die vraag waar Nelson Mandela dan sy geleerdheid verwerf het, en hoe baie ander soortgelykes dit reggekry om allerlei kwalifikasies te behaal – alles binne wat nou sommer met ‘n alte breë kwas “apartheid” genoem word? En haal mens dit op (dat instellings wat met grootliks blanke belastinggeld vir swartes daargestel is, baie geleenthede vir baie mense daargestel het), dan kap Slimjan terug en sê “ja maar baie van die swartes moes toe oorsee gaan studeer”. Ja Slimjan, omdat hulle blykbaar met hulle skoolopleiding in Suid-Afrika sodanig toegerus was om oorsese grade te gaan behaal…. en dit alles terwyl “apartheid” hulle allerlei dinge ontsê het.

TDW ·

Disselboom dis nes jy sê. Gereeld vra ek mense hoe het Mandela ‘n prokureur geword as apartheid hulle niks gegun het nie? Hoeveel skole is gebou deur die wit regering vir swartmense, hoeveel skole het die swartmense afgebrand? Hoeveel hospitale is gebou en verpleegsters opgelei, waarvan Winnie ook een was, deur die wit regering? Die halwe waarhede gemeng met leuens wat aan ons kinders vertel word moet tot ‘n einde kom. Hoe kan ons tydperk onder die ANC nie gesien word as ‘n misdaad teen mensdom nie, aangesien meer mense vermoor word per dag as in ‘n oorlog geteisterde land? Dis tyd dat dinge op die naam genoem word sonder die vrees vir vervolging.

Dada ·

Flip, het jou al beoordeel oor van jou vorige sienings. Hierdie keer nie. Ons Afrikaner onderdrukkers kan nie werklik skaam wees as ons van 1.3 miljoen na 4 toegeneem het nie terwyl die swart ras van 4 tot 45 miljoen vermeerder het nie.! Die Britte wou ons uitwis maar het hulle laaste oorlog verloor. Meer as Amerika en Engeland soldate gestuur as na Irak om ons Boere uit te wis – en nie om die inboorlinge (uitboorlinge volgens feite) te beskerm nie maar om goud en diamante te vergryp. Jou bevolkingssyfers beteken baie. Probeer die verslag epos na myself sonder sukses. Ons sal MOET die inligting deel aan die jonges. Hulle lewe sonder ervaring. Negatiewe kommentaar sal daar wees. Baie mense se koppe raas!

TDW ·

Kan iemand my inlig oor wie die eerste keer aparte ontwikkeling verkort het na apartheid in ‘n toespraak. Ek onthou dit was verfilm, maar ek kry dit geensins op die internet nie. Dankie MM lesers.

Johan Neuteman ·

Dis Disselboom wat dinge ophaal waaroor ek nou ook al my stilligheid gesit en wonder het, soos dat as die skoolonderwys aan nie-blankes dan so vrot was, hoe tot ‘n klomp doktersgrade oorsee deur swartmense uit daardie tyd behaal is; per slot van sake het Cyril Ramaphosa oor blykbaar in Brittanje gestudeer aan hogere plekke; blykbaar met sy Suid-Afrikaanse “minderwaardige” skoolonderwys as onderbou? Iets klop nie, soos ook die ding dat net alles wat die blanke regering sou verkeerd gedoen het, opgehaal word, maar daar word nie oor barbaarse halssnoermoorde, Kerkstraatbom gepraat nie; en nog minder oor Operation Mayibuye. Ons leer die kinders (almal!) van Suid-Afrika halwe geskiedenis as daar net geleer word dat Mandela in die tronk was, maar nie wat kon gebeur het as hy nie gevang en opgesluit is nie.

Frans C ·

Waarom my kommentaar nie geplaas word nie ,weet nugter alleen.Wil niemand vertel
hoe witboere onteien is om grond vir swart mense beskikbaar te stel.Hoe duisende rande
se landboumasjinerie opgeroes het.
Ook nie hoe die mense pragtige plaashuise aan hulle oorhandig,afgebreek en baie kosbare
houtvloere vir brandhout gebruik het.As jy apartheid wil verduidelik sluit dan ook die positiewe aspekte in.Daar is nie verniet swart mense wat weet dat die onderwysstelsel
beter as die huidige stelsel is .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.