Verkiesing in Bolivië bring terugkeer na sosialisme

Foto: Pixabay

Ná ’n oorgangstyd van sowat ’n jaar, het ’n presidents- en parlementsverkiesing in Bolivië plaasgevind.

Die omstrede eertydse president Evo Morales, wat van 2005 tot 2019 geregeer het en verlede jaar weens verkiesingsbedrog deur die hoogste hof en die weermag uit sy pos gedwing is, is tans in ballingskap in Argentinië en kon nie as kandidaat staan nie. Sy party Movimiento al Socialismo (Beweging na Sosialisme [MAS]) en dié se kandidaat Luis Arce, minister van ekonomiese sake onder Morales, het egter onverwags reeds in die eerste ronde die volstrekte meerderheid gewen. Die verkiesing is verskeie kere weens die koronapandemie uitgestel.

Die president van die oorgangskabinet is Jeanine Áñez, ’n konserwatiewe voormalige senator, wat Morales ná die omstrede en gekanselleerde verkiesing vervang het. Sy was aanvanklik ook ’n presidentskandidaat in die verkiesing, maar het ’n maand voor die verkiesing besluit om terug te staan om die anti-MAS stem nie te verdeel nie. Die hoop van die anti-Morales-kamp was dat MAS en Arce nie genoeg stemme vir ’n volstrekte meerderheid kry nie en dan in die tweede en uitklopronde die gematigde kandidaat Carlos Mesa, ook ’n voormalige president, almal van regs tot gematigd sal kan verenig.

Dié hoop het egter beskaam. Arce en MAS het reeds in die eerste ronde sowat 55% op hulle verenig, terwyl Mesa en sy sentristiese party Comunidad Ciudadana (Burgerlike Gemeenskap) slegs sowat 29% kon behaal. Luis Camacho van die konserwatiewe alliansie Creemos (Ons glo) het sowat 13% van die stemme gewen. Ook die verkiesing tot die parlement het soortgelyke uitslae opgelewer en ook hier het MAS die volstrekte meerderheid gekry.

Alhoewel MAS ná skaars ’n jaar weer aan die bewind is, tot skok van veral die middelklas, Arce na verwagting ’n meer gematigde president wees as die vurige populis Morales. Arce, voormalige minister van finansies en ekonoom se styl is meer versoenend. Hy is eerder ’n tegnokraat wat take afhandel en nie ’n charismatiese populis wat mense verdeel, soos Morales, nie.

Die lang bewind van Morales met sy ontplooiing van sosialisme was net moontlik omdat die destydse oplewing in kommoditeitspryse (Bolivië is ryk aan gas en minerale) aan hom die nodige geld vir sy welsynsprogramme vir die armes (wat sy getroue ondersteuners was) besorg het. Intussen het die omstandighede verander en Bolivië, reeds die armste land van Suid-Amerika, se ekonomie is in ’n ernstige depressie wat verder vererger word deur die koronapandemie.

In Bolivië is verkiesings al lankal soortgelyk aan ’n demografiese sensus: die meerderheid van die bevolking, sowat 60%, is van Indiaanse afkoms (nakomelinge van die Inka) en woon in die bergagtige westelike helfte van die land, waar die hoofstad La Paz gesetel is. Hulle is nogal arm en was in die verlede die onderdrukte deel van die bevolking. Hulle voel aangetrokke tot sosialisme en beskou Morales, die eerste volbloed-Indiaan wat president geword het, as die verteenwoordiger van hul behoeftes. Die res van die bevolking is mense van Spaanse asook van gemengde afkoms en woon in die laagliggende oostelike dele, met die stad Santa Cruz as sentrum. Die huidige president, Áñez, behoort tot dié groep.

Weens die etniese en geografiese verdeling van die land is daar ’n sterk outonomiebeweging in Santa Cruz en omgewing. Die verkiesingsuitslag het ook weer die Wes-Oos-verdeling weerspieël. In Bolivië se meer onlangse geskiedenis het militêre diktators en linksgesinde populistiese leiers afwisselend die toneel oorheers. Nes in Suid-Afrika, is die land se minerale rykdom tegelykertyd seën en vloek en bepaal die politiek en ekonomie. Die kwessie van die eienaarskap van grond en hulpbronne en die ou konflik tussen privaat eienaarskap en buitelandse beleggings aan die een kant, en nasionalisering en herverdeling aan die ander kant, oorheers die openbare debat. Afgesien van die kort tussenspel van die Áñez-bewind het sosialisme al vir meer as ’n dekade die oorhand en dit lyk asof dit sal voortduur.

Die toekoms van Morals is nog onseker. Hy is een van die linkse ikone van Suid-Amerika en wil graag na sy land terugkeer, maar Arce sou dit waarskynlik verkies as hy kan regeer sonder die inmenging van sy omstrede voorganger.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.