Verkiesing in Israel: Netanyahu keer terug

Benjamin Netanyahu (Foto: Menahem KAHANA/ AFP)

Een van die mees gesoute en langdurigste leiers in die Midde-Ooste, Benjamin Netanyahu, het sopas met sy regse blok die parlementsverkiesing in Israel gewen.

Die verkiesing was nodig omdat die sentrum-linkse koalisie, bestaande uit tien partye, ʼn ruk gelede uitmekaargebreek het. Dit is nou al die vyfde verkiesing binne drie jaar omdat al die vorige regerings weens interne spanning, en dikwels net ʼn meerderheid van een setel, uitmekaargeval het. Sodoende is ʼn nuwe verkiesing nodig.

Die “reënboogkoalisie” wat met die laaste verkiesing in 2021 vinnig aanmekaargeslaan is as anti-Netanyahu-blok, was eenvoudig té uiteenlopend. Dit het 10 partye ingesluit, van regs tot gematig en links, tot die verteenwoordiger van die Arabiere.

Soos altyd in die Israelse politiek was dit ʼn naby uitslag. Daar was egter dié keer ʼn merkbare skuif na regs. Nie net kon Netanyahu se konserwatiewe Likud-party 32 setels verower in die Knesset (die parlement van Israel) met 120 setels nie.

Die groot verrassing was ook die sukses van die relatief nuwe verregse party “Godsdienstige Sionisme” met sy leier Itamar Ben-Gvir wat sy getal setels kon verdubbel na 14. Dit maak hierdie party Likud se belangrikste vennoot. Twee ander regse en godsdienstige partye, Shas en Verenigde Torah Judaïsme, het ook setels bygekry. Die twee sal saam die res bydra vir die nodige volstrekte meerderheid van 65 setels vir die regse blok. Die deelname aan die verkiesing was met 73% ook hoër as gewoonlik.

Die tot dusver regerende “reënboogkoalisie” se partye het meesal swak gevaar. Die waarnemende eerste minster, Yair Lapid se Yesh Atid-party (Dit is die toekoms) het wel met 24 setels goed gevaar. Sy bondgenote, die Nasionale Eenheidsparty van Benny Gantz, het slegs 12 setels gekry. Die eens magtige Arbeidersparty het verder verloor en teruggesak tot op 4 setels. Twee ander partye, die gematig-linkse Meretz en die Arabiese Balaam het nie die hekkie van 3,25% oorkom nie en uitgeval. Die verenigde Arabiese Lys, wat die koalisieregering laat val het, het 5 setels gekry.

Vir Netanyahu is dit ʼn fenomenale terugkoms nadat hy met die laaste verkiesing afgeskryf is en ook korrupsieklagtes moes trotseer (die saak is nog steeds hangende). Netanyahu word vertrou omdat hy eenvoudig ʼn ervare politikus is en al baie bereik het vir Israel en sy mense.

Die vredesooreenkomste met verskeie Arabiese state, waarby die destydse president Trump ook ʼn wesenlike rol gespeel het, is tydens sy bewind onderhandel. Sy ekonomiese beleid het Israel nog voorspoediger gemaak. Vir talle kiesers verteenwoordig hy veral stabiliteit na vyf jaar van onstabiele regerings met te veel koalisievennote en ʼn te klein meerderheid.

Ook het die geweld deur Palestynse terroriste weer vererger en Netanyahu word as iemand gesien wat die probleem vasvat. In tye waar die wêreld en die streek ʼn nog gevaarliker plek as gewoonlik is, met Iran wat blykbaar al kernwapens kan vervaardig en gereeld dreigemente teen Israel uiter, soek mense ʼn sterk leier. Hulle is opsoek na geen eksperimente en geen verdeelde regering wat almal moet akkommodeer en daarom niks kan doen nie.

Al is Israel ʼn volkstaat vir die Jode (met ʼn Arabiese minderheid van 20%), is die land al lankal sterk verdeel. Soos deesdae orals in die Weste, heers daar ook ʼn soort kulturele burgeroorlog tussen die “woke” en sekulêre deel aan die een kant en die behoudende en godsdienstige deel van die bevolking aan die ander.

Die twee dele is wel onder mekaar ook weer verdeel in verskeie faksies en groeperinge en net die haat vir die anderkant hou hulle bymekaar. Ook gereelde nuwe partystigtings, wat dan met groot fanfare vir een verkiesing na vore kom (om met die volgende een weer in die niet te verdwyn), is kenmerkend vir Israel se politiek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Stephen ·

Maar in SA het die Jode geen tyd vir die wittes nie. Ondanks die ondersteuning aan Israel van die vorige regering in SA. Politieke verkleurmannetjies en klim graag in die bed met die ANC. Kyk maar bv na hoe mildelik die De Beers groep wat beheer word deur die Oppenheimers aan die ANC gegee om hulle eie belange te beskerm.

JD ·

Dankie tog, nou vir Midtermyn in VSA, wat tien teen een weer n groot gekonkel sal wees, soos in 2020 en soos vroeër die week in Brasilië

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.