Verkiesings in Peru en Ecuador lewer verrassings op

(Foto: pixabay)

In twee Suid-Amerikaanse lande het daar verlede naweek verkiesings plaasgevind, wat ook in die groter streekkonteks van die ewige stryd tussen links en regs gesien moet word.

In die meeste lande van Suid-Amerika is daar twee verkiesingsrondes: die eerste een waar ’n menigte kandidate staan en dan die tweede ronde, waar die wenner en die naaswenner van die eerste ronde teen mekaar staan. Dis nou, bygesê, as geen kandidaat al in die eerste ronde die volstrekte meerderheid kry nie – iets wat selde gebeur. Terwyl in Peru die eerste ronde en ook die parlementsverkiesings plaasgevind het om die twee kandidate vir die uitklopronde aan te wys, het in Ecuador die tweede ronde plaasgevind en het die land ’n nuwe president gekry.

In Peru was daar ’n wye verskeidenheid kandidate met geen duidelike gunsteling nie. Die land het deur ’n onstuimige oorgangsperiode gegaan nadat die presidente Pedro Kuczynski en Martin Vizcarra in 2018 en 2020 onderskeidelik weens korrupsie uit die amp ontslaan is, en daarna verskeie oorgangspresidente kort op mekaar gevolg het. Die hoop is dat ’n nuwe president ’n nuwe begin beteken, maar ongelukkig gebeur dit te dikwels dat presidente met groot fanfares die verkiesing wen en dan weer almal teleurstel. Terwyl sekere lande in Suid-Amerika langtermynpresidente het – baie keer linkse outokrate wat deur manipulasie en welsynsprogramme aan bewind bly – is Peru ’n land met dikwels wisselende presidente wat óf konserwatief óf linksgesind is.

Die eerste ronde het toe ’n taamlike verrassing opgelewer: die voorloper was toe nie een van die handjievol gunstelinge nie, maar ’n taamlike buiteperd, Pedro Castillo van die sosialistiese party Peru Libre (Vrye Peru) met 18%. Hy het geen politieke ervaring nie en is ’n onderwyser en vakbondleier. Sy ekonomiese beskouings en dié van sy party is ver links, maar wat sosiale waardes betref, is hy eerder tradisioneel, soos sy afkeur vir selfdegeslaghuwelike. Castillo verteenwoordig nie die “woke”-linkses wat gewoonlik in die Westerse stede oorheers nie, maar die arm en inheemse mense van die platteland wat ’n welsynstaat soek en die rykes en maatskappye wil belas en aan bande lê. Sy steun was eerder swak in die hoofstad Lima, maar sterk in die platteland.

Die tweede geplaasde is Keiko Fujimori van die konserwatiewe party Fuerza Popular (Mag van die Volk) met 13%. Sy is die dogter van die voormalige president Alberto Fujimori wat weens diktatoriale optrede tans tronkstraf uitdien. Derde geplaas is die ekonoom Hernando Soto met 12% en kort op sy hakke die uitgesproke regse Rafael López Aliaga met eweneens 12%. Al die ander kandidate het minder as 10%.

Dit kom dus neer op ’n tweestryd tussen Pedro Castillo en Keiko Fujimori. Wat op die oog af na ’n linkse oorwinning lyk, is dit op die keper beskou, nie. Behalwe vir Castillo is die meeste ander kandidate eerder regs of gematigd en behoort in die uitklopronde Fujimori te steun om ’n verlinkse president, wat die boot te veel gaan skud, te verhoed. Verrassings is egter nie uitgesluit nie, soos ’n mens reeds in die eerste ronde gesien het.

In Ecuador was dit ’n tweestryd tussen die kandidaat Andrés Arauz van die reeds lank regerende linkse party Unión por la Esperanza UNES (Unie vir Hoop) en die kandidaat van die sentrum-regse Partido Social Cristiano PSC (Christelik-sosiale party) Guillermo Lasso. Ook hier het dinge onverwags uitgedraai. In die eerste ronde het Arauz gemaklik voorgeloop met 33%, teenoor Lasso met slegs 20% en ’n verteenwoordiger van die Indiaanse bevolking met 19%. Volgens alle verwagtinge sou Arauz wen, maar veral die Indiaanse bevolking het in hul meerderheid eerder Lasso gekies en hom oor die drumpel gehelp, sodat hy met 53 % tenoor Arauz se 47% kon wen. Dit was sy derde poging, dié keer suksesvol.

Sedert 2007 word Ecuador deur linkse presidente regeer, eers die charismatiese outokraat Rafael Correa van 2007 tot 2017, en daarna sy vertroueling en eertydse visepresident, Lenin Moreno. Moreno was egter ’n onbekwame leier deur die koronakrisis met sy ekonomiese nagevolge, en was later so ongewild, dat hy homself nie eens weer verkiesbaar gestel het nie.

Vir Lasso lê daar groot werk voor, veral met die herstel van die ekonomie en die hantering van die koronakrisis. Maar as ’n sakeman en iemand wat in die vrye mark glo, het hy die regte resepte en met ’n duidelike oorwinning ook die momentum om dit te implementeer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.