Vier taalbewegings en Afrikaans se toekoms

afrikaanse-taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument

Dit is telkens ’n begeesterde klein minderheid wat rigting in die lewe van ’n volk bepaal. Nooit die massas op die pawiljoene nie.

So was dit ook op 12 Augustus 1875 toe agt manne in die huis van Gideon Malherbe, ’n wynboer van die Paarl, byeengekom het om die Genootskap van Regte Afrikaners (GHA) te stig. Die doel van die Genootskap was, soos hul leuse gelui het: “Om te stry voor ons taal, ons nasie en ons land.”

Ds. S.J. du Toit, inisieerder en eerste voorsitter van die GRA, se oogmerk met die vergadering was om Die Bybel in Afrikaans te vertaal. Gou was daar egter die besef dat taalreëls en spelreëls eerstens opgestel moes word. Op 26 Februarie 1876 publiseer die GRA “Die eerste beginsels van die Afrikaanse taal”.

Ook die mondstuk van die GRA en eerste nuusblad in Afrikaans, Die Afrikaanse Patriot, verskyn op 15 Januarie van dieselfde jaar.

Hierdie Eerste Taalbeweging, soos die stigting van die GRA bekend sou staan, het gelei tot die Tweede, Derde en selfs Vierde Taalbewegings.

Telkens wanneer die Afrikaner en sy taal bedreig word, kom daar mans en vroue na vore wat die stryd wat die GRA begin het, voortsit.

Na afloop van die vernietigende Tweede Engelse Oorlog waar 26 000 Afrikanervroue en -kinders aan die hand van die vyand gesterf het, was die stryd teen die Afrikaner nie verby nie. Die aanslag was nou op ons taal en ons skole gemik en die doelwit, soos Sir Alfred Milner, hoë kommissaris van Suid-Afrika, dit gestel het, was dat die Boerevolk finaal vernietig moes word en “to knock the bottom out of the ‘great Afrikaner nation’ for ever and ever. Amen”.

Prof. Jaap Steyn, bekende taalhistorikus van Bloemfontein skryf in ’n artikel op die internetwebwerf Woes: “Hoewel die Vredestraktaat van Vereeniging (1902) bepaal het ‘the Dutch language will be taught in public schools in the Transvaal and the Orange River Colony where the parents of the children desire so’, was die voertaal in die staatskole Engels.”

Afrikanernasionaliste het hewig hierop gereageer. Dit was Afrikaanse politici, predikante, joernaliste en onderwysers wat, soos P.H. Zietsman dit in sy bekende werk Die taal is gans die volk, stel, die gedagte ingegrif het dat dit die Afrikaner se nasionale, morele en selfs godsdienstige plig is om sy taal te bewaar.

Taalgetrouheid het die primêre toets vir Afrikanerskap geword en Afrikaners wat Engels as hul taal aanvaar het, is as volksverraaiers beskou en verag. Daar was geen stryd teen Engels as sodanig nie, maar wel wedywering om gelyke taalregte vir Engels en Afrikaans, aldus Steyn.

Die Tweede Taalbeweging is ingelui met die stigting van twee organisasies in 1905: Die Afrikaanse Taalvereniging is op 3 November van daardie jaar in Kaapstad gestig. Stigtingsleiers was adv. J.H.H. de Waal, met dr. D.F. Malan, latere premier van Suid-Afrika, as een van die bestuurslede. Die Afrikaanse Taalgenootskap (ATG) is op 13 Desember in Pretoria deur dr. NM Hoogenhout, ’n seun van CP Hoogenhout van die Eerste Taalbeweging, ingelui.

Talle ander organisasies is daarna in die lewe geroep soos die Akademie vir Wetenskap en Kuns en die ATKV. In 1925 word Afrikaans vir die eerste keer as amptelike taal erken langs Engels en in 1933 word die volledige Bybel in Afrikaans uitgegee.

Oor die Derde Taalbeweging moet daar nog heelwat navorsing gedoen word. In die boek, Jare van Storm en Drang, deur dr. Hennie Terblanche, stigter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (die eerste GHA) op 26 November 1965, lees ’n mens van sy stryd vir die behoud van Afrikaans. Denkende Afrikaners het destyds gewys op die gevaar wat massa-immigrante vir Afrikaans en die Afrikaner inhou. Ongelukkig het die GHA ná Terblanche se afsterwe in die vroeë tagtigerjare, ophou bestaan.

Die Vierde Taalbeweging is ingelei met die herlewing van die GHA op 29 Januarie 1994 in die Bereasaal, Pretoria. Die dryfkrag was mnr. Jaap Marais, leier van die Herstigte Nasionale Party (HNP), wat besef het dat die Afrikaanse taal weereens bedreig word, soos die geval was ná 1902, met ’n volksvyandige regering wat sou oorneem. Die stigters van die GHA is korrek bewys in hul oordeel en sedertdien is talle organisasies ter bevordering van die Afrikaanse taal gestig: Die Vriende van Afrikaans (VVA), Afrikaanse Geneeshere Vereniging (AGV), Vereniging van Regslui vir Afrikaans (VRA), Rekenmeesters vir Afrikaans (RVA), die Pro-Afrikaanse Aksie-Groep (Praag) en AfriForum, om enkeles te noem. Daarbenewens het talle bestaande organisasies hulle opnuut toegewy aan Afrikaans en Afrikanerbelange. Hieronder val die Akademie vir Wetenskap en Kuns, Dames Dinamiek en Afrikanerbond.

Deur geloof aan ons reg en geroepenheid as volk en deur die durf en die wil “om te handhaaf en te hou”, sal die toekoms van Afrikaans beslis word. Laat elke regte Afrikaner sê: “Afrikaans is my taal, daarom eer ek dit, praat ek dit, en sal ek dit beskerm teen wie of wat ook al dit wil bedreig of onderdruk.”

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

André Alkema

Meer oor die skrywer: André Alkema

André Alkema is voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae