Volg Suid-Afrika in Zimbabwe se ekonomiese voetspore?

1

Verskaf aan Maroela Media

Deur Hannes du Preez (Prima Batebestuur)

Vlakke van pessimisme oor Suid-Afrika se ekonomiese en politieke toekoms het die hoogte ingeskiet sedert die Nene-debakel, Nkandla en “Zuptagate”. Vergelykings en ooreenkomste van Suid-Afrika met betrekking tot ekonomiese en finansiële verskynsels in  Afrikalande wat ekonomies misluk het, geniet daagliks aandag in die media.

Zimbabwe word voorgehou as die beste voorbeeld van so ’n mislukte staat wat ons moontlik kan volg. Die resultaat van hierdie vergelykings is ’n sombere en uitsiglose toekomsverwagting wat immigrasie laat versnel, veral van opgeleide en goed geskoolde jong mense, iets wat ons nie kan bekostig nie.

Dat daar onheilspellende vroeë waarskuwingseine is wat ons nie moet ignoreer nie is ’n feit. Hoe vergelykbaar is Suid-Afrika se ekonomiese situasie tans met dié van Zimbabwe wat in die tydperk 2000-2009 geheers het?

Hiperinflasie

Wat die Zimbabwe-ekonomie in duie laat stort het, was hiperinflasie. Hiperinflasie is wanneer prysstyging groot, vinnig en heeltemal buite beheer raak en die koopkrag van jou geldeenheid vernietig. Die bordjies wat  Zimbabwiese burgers in Harare opgehou het ten tyde van hiperinflasie verduidelik die verlies aan koopkrag ondubbelsinnig.

Grafiek ter voorstelling. Foto: Verskaf

Grafiek 1 ter voorstelling. Foto: Verskaf

Dit word beraam dat Zimbabwe se inflasie in middel November 2009 sy hoogtepunt van 79,6 miljoen persent bereik het. Dit ten spyte daarvan dat die owerheid inflasie onwettig verklaar het in 2007. Ondernemings en mense wat pryse verhoog het, is vervolg toe die inflasiekoers 50% was. Dit komend van die owerheid wat deur vrot beleidsbestuur die inflasie geskep het!

Die hiperinflasie het 53 jaar lange inkomstegroei in Zimbabwe binne agt jaar vernietig, soos getoon deur die per capita-VSA-dollar-inkomste (inkomste per kop van die bevolking) in die onderstaande grafiek (Grafiek 1).

Vir ’n land om hiperinflasie ’n werklikheid te maak moet die fiskale beleid (owerheidsfinansies) én die monetêre beleid (sentrale bank se bestuur van die geldvoorraad) die pad byster raak. Zimbabwe was genoodsaak om oor te skuif na die VSA-dollar as betaalmiddel vanaf 2009 wat inflasie gestabiliseer het (Grafiek 2).

Grafiek ter voorstelling. Foto: Verskaf

Grafiek 2 ter voorstelling. Foto: Verskaf

Fiskale beleid en bestuur

Aan die fiskale kant was die volgende sake verteenwoordigend van Zimbabwe se mislukte owerheidsfinansies:

  • Geen beheer en kontrole oor staatsbesteding op alle vlakke
  • Skerp stygings in vergoedingspakkette van staatsamptenare
  • Grootskaalse finansiering van lopende uitgawes met lenings
  • Min of geen staatsbesteding aan infrastruktuur
  • Die aggressiewe opbou van staatskuldvlakke
  • Direkte staatsinmenging in die ekonomie
  • Oneerlikheid oor amptelike statistieke
  • Korrupsie, nepotisme en selfverryking van politici
  • Groot stygings in verdedigingsbesteding weens uitbreiding van weermagpersoneel en betrokkenheid by streekskonflik van ander lande

Dit is waar dat van hierdie fiskale vergrype tans in Suid-Afrika aanwesig is, veral korrupsie, nepotisme en selfverryking wat veroorsaak dat broodnodige dienste nie op plaaslike vlak gelewer word nie. In mindere mate is die volgende ook teenwoordig in Suid-Afrika: ’n styging in die vlakke van staatskuld, skerp stygings in lone en salarisse van staatsamptenare, swak beheer en kontrole oor uitgawes op provinsiale en plaaslike vlak en te min besteding op fisieke infrastruktuur.

Suid-Afrika het op fiskale kant nog nie die vlakke van wanbestuur gesien wat in Zimbabwe gegeld het nie. Mislukte owerheidsfinansies kan stagflasie veroorsaak, oftewel hoë inflasie met lae ekonomiese groei. Dit gebeur gewoonlik as geadministreerde pryse (petrolheffing, elektrisiteit, water, minimum loon, en so meer) deur die staat verhoog word, terwyl die belastinglas verhoog word wat ekonomiese groei aan bande lê.

Die aanstelling van Pravin Gordhan as minister van finansies gaan heel moontlik sorg vir beter dissipline en beheer in owerheidsfinansies wat positief is, iets wat nie in Zimbabwe gebeur het nie. Vir hiperinflasie om te ontstaan is dit nodig dat monetêre bestuur ook klaaglik moet misluk.

Monetêre beleid en bestuur

Die algehele mislukking van monetêre bestuur in Zimbabwe is veroorsaak deur onbeheerste geldskepping deur hul sentrale bank wat sy onafhanklikheid verloor het en ’n politieke lakei geword het. Die Zimbabwiese Sentrale Bank se beleidsoptrede is bepaal deur politici wat geen benul van ’n losse monetêre beleid se ekonomiese implikasies gehad het nie.

Grafiek ter voorstelling. Foto: Verskaf

Grafiek 3 ter voorstelling. Foto: Verskaf

Groot hoeveelhede geld is gedruk/gemaak en krediet geskep wat veroorsaak het dat ’n vloedgolf van geld beperkte goedere en dienste gejaag het. Die netto resultaat was hiperinflasie wat die Zimbabwe-dollar vernietig het. Sien onderstaande grafiek vir die verband tussen groei in geldvoorraad en inflasie in Zimbabwe in die gegewe tydperk.

Wat betref die toepassing van monetêre beleid is daar inderdaad groot verskille tussen Zimbabwe en Suid-Afrika. Die positiewe verskille is:

  1. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se onafhanklikheid van die staat word gehandhaaf. Rentekoersveranderinge word deur die Monetêre Beleidskomitee van die SARB bepaal en nie die staat nie.
  2. Die feit is dat die Reserwebank die onlangse skerp stygings in die inflasiekoers, wat veroorsaak is deur die droogte (voedselpryse) en verswakking van die rand (ingevoerde goedere), ongehinderd kan teenwerk deur die repokoers te verhoog wat die groei in die geldvoorraad gaan beperk met gevolglike beheer oor die toekomstige inflasiekoers. Dit blyk ook dat ons nie die laaste rentekoersverhoging gesien het nie.
  3. Tans word groei in geldvoorraad so bestuur deur die SARB dat dit in balans gebring is met die vraag na geld in die Suid-Afrikaanse ekonomie. Geen oormaat geld en/of krediet word geskep nie.
  4. Die goewerneur van SARB, Lesetja Kganyago, is meer konserwatief as sy voorganger, Gill Marcus, wat betref monetêre bestuur. Tot dusver in sy termyn het hy deurentyd positiewe reële rentekoerse gehandhaaf; geldmarkkoerse was dus hoër as die inflasiekoers. Dit was nie altyd die geval met sy voorganger nie.
  5. Die politieke druk om nie rentekoerse te verhoog nie is by implikasie baie hoër in sy ampstermyn, omdat ekonomiese groei tans beduidend laer is as in Gill Marcus se termyn wat politieke druk vanaf burgers verhoog.
  6. Die skepping van prysstabiliteit binne ’n inflasieband van 3-6% is die hoofdoelwit van die SARB wat hulle kan najaag sonder politieke inmenging. Dit beteken nie dat die eerste ronde skokke (droogte en swak rand) dit nie buite die band (reikwydte) gaan neem nie, maar wel dat hulle kan toesien dat die inflasiekoers binne ’n twee-jaar-tydperk na die band terugkeer.

Samevatting

Vir Suid-Afrika se ekonomiese toestand om dié van Zimbabwe te volg moet monetêre beleidsbestuur populisties raak vir sowel die publiek as politici deur goedkoop geld in oormaat beskikbaar te stel. Soos hierbo bespreek, doen die SARB tans die teenoorgestelde. Gevolglik volg ons nie in Zimbabwe se ekonomiese voetspore nie, ten spyte daarvan dat daar op die fiskale kant elemente van wanbestuur bestaan wat ooreenstem. Die gesonde monetêre beleid wat tans gevolg word, is die beste finansiële versekering teen ’n soort “Zimbabwiese” ekonomiese verkrummeling.

Daar is vier sake waarvoor ons verantwoordelikheid kan aanvaar sodat ons lewens, geliefdes en bates beskerm is:

  1. Veiligheid – raak betrokke by privaat veiligheidstrukture in jou woonbuurt of gebied vir beskerming. Jy kan ook verhuis na gebiede in Suid-Afrika wat veiliger is.
  2. Beskerm die koopkrag van jou bates – gebruik die jaarlikse bedrag van R10 miljoen wat Suid-Afrikaanse burgers in die buiteland kan belê sover moontlik om jou bates te beskerm.
  3. Gehalte-opleiding – sorg dat jy en jou kinders ’n gehalte-opvoeding en -opleiding kry. Dit beteken dat jy heel moontlik in die toekoms meer na privaat opleidingsinstellings sal moet kyk vir opsies.
  4. Entrepreneurskap – bevorder entrepreneurskap by jou kinders deur hulle daaraan bloot te stel sodat hulle eendag vir hulself kan werk. Selfs in Zimbabwe was daar tydens hiperinflasie sakegeleenthede.
  • Hannes du Preez is ʼn geregistreerde finansiële beplanner en die stigter van Prima Batebestuur (Edms) Bpk, wat tans R420 miljoen se bates bestuur. Hy het sy M.Com-graad met lof aan die voormalige PU vir CHO verwerf, en het ʼn nagraadse diploma in Finansiële Beplanning.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Adriaan ·

Dis tog seker emigrasie wat versnel, want dis negatief vir die land as dit dreinerend op die land inwerk. Dan weer, onbeteueld immigrasie is seker net so negatief!

Oupa ·

‘n Baie netjiese en insiggewende artikel. Die eenvoudige vraag in die opskrif verdien ‘n eenvoudige antwoord: loop ons die pad van Zimbabwe? JA! In ‘n ander voertuig miskien, teen ‘n ander spoed wel, maar die pad en die eindbestemming is dieselfde. Daar is myns insiens geen aanduiding dat ons iewers vorentoe ‘n ander koers gaan inslaan nie.

John ·

Ons is miskien nog nie naby daar waar Zimbabwe se treurmare begin het nie, maar rooiligte flits. Wat wel duidelik is, is dat ons regering maar te goed weet dat as president Mogabe so kon voortploeter, en dalk nog 20 jaar as hy gespaar sou bly, kan hulle dit ook doen. Die buiteland het so ‘n bietjie gemor en baie gelag oor Zimbabwe, maar dit was al. Niemand het ingegryp nie en die res van Afrika vereer hom steeds as patriarg en teenstaander van die sg westerse imperialisme. As die inwoners in bote by die VSA en Brittanje opgedaag het, soos wat Europa nou vanuit ander oorde en ook uit Afrika ervaar, was dit dalk ‘n ander storie. Mugabe het die plakkerkampe rondom Harare omgestoot en die mense het na SA gestroom. Uiteindelik kan ons ook daardie pad loop, deels agv die massas mense van elders wat hul hoop nou op ons goeie ANC vestig. Hulle soek hier ook huise en infrastruktuur, gratis onderwys en mediese sorg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.