Vryburgers van Afrika

In 2010 het die Libiese leier, Moeammar Ghaddafi, nog ontken dat daar soiets soos Berbers bestaan. Vandeesweek moes hy voor Berber- en Arabiese stamme uit sy hoofkwartier vlug. Vermoedelik met die Orde van Goeie Hoop wat Nelson Mandela aan hom oorhandig het.

Moeammar Ghadaffi, in gelukkiger dae, by 'n 2009 Afrika-unie byeenkoms.

Sedert einde 2010 spoel daar ‘n golf van jeugpolitiek in noord-Afrika. Groot getalle jong Arabiere is deesdae vryburgers wat ’n ander verhouding met die orde in Tunesië en Egipte vestig. Meestal deur vreedsame protes.

Jong Berbers, die Kaukasoïde inheemse inwoners van noordwes-Afrika, het reeds in Marokko hul taal Tamazight as openbare taal erken gekry.

Hierdie jeuggolf gaan nog jare geskiedenis maak in Noord-Afrika. Maar wat sal die impak van miljoene onderbenutte jong Zoeloes, Tswanas, en Sothos op Suid-Afrika se leeforde wees?

Die toonaard van die politiek in Suid-Afrika is immers reeds anders as in 1994. En dit is nie die toonaard van ’n gemiddelde Westerse demokrasie nie.

ANC-faksiestryde oor die beskikbare bronne van mag en geld het gereeld ’n ondertoon van paranoia en geweldsdreigemente. Selfs faksieverwante sluipmoorde kom voor, onder meer in Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Die ANC se bevrydingsprojek beleef ’n historiese krisis soos die eise van sy ondersteuners styg. Politici probeer maar die golf van ontevrede jeugdiges ry deur te fokus op sondebokke. En ’n gratis uitverkoping van andermansbates.

Afgunspolitiek en dreigpolitiek is egter nou in die sentrum van die politieke orde. En dit gaan vir jare daar bly.
Vir sommige mense is hierdie toestande nie ’n probleem nie. Mens moet diesulkes ook maar die kans gee om ‘n opwindende lewensrit mee te maak.

Daar is egter ’n kritieke massa aan die vorm onder vele groepe wat genoeg gehad het van die falende ANC-projek. Hulle is reeds in hulle gemoed vryburgers, of hulle gaan dit vorentoe word.

Hulle aanvaar eintlik nie die Zuma-ANC se morele gesag nie. Die sosiale kontrak is gebreek: ten spyte van hulle belastinggeld word hulle nie behoorlik beskerm, gediens of erken nie.

Hulle soek vreedsaam ’n ander verhouding met die orde in Suid-Afrika. Alberto Melucci meen die moontlikheid om so ’n ander verhouding te vestig met ’n politieke orde is ’n demokrasie se kerneienskap.

In die geval van Afrikaner-vryburgers is daar egter nie juis ’n jeuggolf nie. Die aktiewes onder hulle werk aan alternatiewe instellings om hulle te beveilig en op te voed. Maar meestal werk hulle net om kop bo water te hou.

Hulle glo wel hulle is nou op hulself aangewese. Hierdie houding stem ook ooreen met dié van Afrikane in selfstandige nie-staatsinstellings elders in Afrika, die mense waaroor die politikoloog Ken Menkhaus skryf.

Die Afrikaner- en Afrikaanssprekende vryburgers sal vorentoe te doen kry met die eise van ander groepe se jongmense. Ook met arrogante afdreigpolitiek. Hoe sou hulle koelkop kon bly en eenvoudig voortgaan om hul instellings te bou?

Een manier is om ’n waarheidsmoment van NP van Wyk Louw in Kultuur in Krisis te onthou: in die politieke orde in Suid-Afrika staan die regte van Afrikaners en ander groepe met ewe veel geldigheid teenoor mekaar.

Al skaad die ANC-bevrydingsprojek Afrikaners, mag daar vorentoe ander groepe wees wat wel in die vorm van goeie buurmanskap, alliansies en ontwikkelingshulp wil saamwerk. Daar is meer modelle van postkoloniale bevryding as die gulsige een van Luthuli-Huis.

Van Wyk Louw skryf: “Daarby glo ek dat alle vrye volke deur oorleg of organisasie gedurig moet saamwerk, nie alleen omdat dit prakties nuttig is vir almal nie, maar ook omdat die gees van die mens vir ons ’n deelname aan die geestelike lewe van die volste rykdom en die vreemdste verskeidenheid voorskryf.”

Die Malema-monoloog oordonder deesdae so ’n dialoog tussen beskawings. Maar SA Reconciliation Barometer in 2010 noem dat 73% Suid-Afrikaners van alle groepe meld dat hulle taal- of etniese identiteit hulle veilig laat voel. 83% meld weer dat hulle groepsidentiteit hulle goed oor hulself laat voel.

Veral in onstuimige tye moet die vryburgers openlik balans probeer behou: Tussen die energieke opbou van eie instellings én die erkenning van andere. Tussen vreedsame selfbetuiging én die dialoog tussen beskawings.

Soms sal die gesig van ‘n dreigende ANC-leier wel mense bewus maak van ’n spektrum emosies wat hulle nie gedink het hulle kan ervaar nie. Maar reeds lank gelede, in ’n Geloftedag- toespraak in 1910, sê pres. Marthinus Theunis Steyn dat Afrikaners nie hul verguisers moet verguis nie. Hulle moet hul verguisers aanhoor met ’n glimlag van medelye en dan met veragting verbygaan:

“Wees kalm, wees bedaard, wees vasberade. Vloek nie die wat u vervloek nie; hul verguising maak u nie hul mindere nie. Antwoord die dwaas nie na sy dwaasheid nie. Eis u regmatige regte met selfbeheersing, maar terselfdertyd met vasberadenheid.”

So ‘n benadering gee mense sielkundig die opperhand. Langenhoven beskryf die benadering van sommige Amerikaanse Indiane, wat deur ander stamme as krygsgevangenes gemartel is: As jy magteloos is teenoor jou pynigers, spot hom dan oor sy onbedrewenheid in die kuns van pyniging.

Dit gebeur reeds in die politiek: vir mense wat na jare terugkeer uit die buiteland is die oplewing van Afrikaanse humor opvallend.

Ook hierdie benadering, soos al die idees in hierdie oop debat, gaan vir die meeste mense egter uiteindelik staan of val by een toetssteen: verskaf dit die groter fisiese en emosionele veiligheid wat die ANC nie meer kan bied aan hulle ouers en eggenotes en kinders nie?

Vryburgers van alle groepe gaan die verskrikkinge ervaar van ’n staat wat nie al sy burgers wil of kan beskerm nie. Die volgende dekade gaan hoë eise stel aan die geesteskrag van mense.

Verskillende mense drink vir sulke geesteskrag uit verskillende waterstrome, gewoonlik ver weg van die politiek. Hulle skakel die TV-nuus af en rig ’n eie bedryf op, skryf ’n brief aan ‘n geliefde, plant ’n boom.

Vir sommige is dit veral die ervaring van die aardse in Afrika, die landskappe, die reuke en klanke as die rooidag breek. Daar is ’n gesonde vorm van “bossies” raak.

Vir andere is dit weer soos Meister Eckhart genoem het in die Middeleeue met sy pestilensies: om die krag wat God in mens se siel geplaas het, die beste deel van wie jy is, die goddelike vonk, te laat opvlam.

Dalk was dit die kern van die eenvoudige Afrikaanse kinderliedjie: laat jou liggie skyn. Dit help ander as jy hulle in swaar tye help, en dit rig en vorm ook mens self. Ons kragbron is gelukkig nie van Eskom afhanklik nie.

In die geskiedenis wek hartstog dikwels die energie op vir ’n volgende rondte: liefde vir die “mooi dinge” waaroor N.P. van Wyk Louw skryf, trots op ’n pioniersgeskiedenis, koue woede oor die vernietiging van dit wat met moeite opgebou is.

Augustinus by die Skool van Tagaste (Benozzo Gozzoli, 1420-1497). Tagaste is in die hedendaagse Algerië, in noord-Afrika.

Hartseer oor familielede en vriende wat vermoor of wreed tenagekom is. Of dankbaarheid oor dít wat die oorvloedige lewe elke dag bied.

Hoe het die Berber-kerkvader Augustinus nou weer geskryf terwyl die Wes-Romeinse Ryk om hom inplof? Die mense kla oor slegte tye, maar hulle is die tyd. Leef beter, en die tyd sal verbeter.

Net soos in Zimbabwe of in Egipte, sal die vryburgers dikwels nie kan kies watter balle die lewe in Afrika na hulle boul nie. Hulle sal wel kan kies hoe hulle op daardie balle reageer. Jou gees is jou eie, en bevryding begin in die gees.

Dit is onduidelik hoe en waar die vryburgers vorentoe hul vredeskamp sal opslaan in die velde van Afrika. Maar iewers in die bosse sal hulle dalk die woorde van ’n ou Spesmagman hoor:

“Die wil om te lewe beteken om nooit in te gee nie, ongeag die situasie. Dít is die gerusstelling; om te weet dat daar niks op aarde is wat mens nie kan hanteer nie, en dat daar geen plek op aarde is waar ons nie kan oorleef nie.”

En skielik is jy vry.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Heinrich Matthee

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee is ʼn politieke en veiligheidsontleder wat spesialiseer in Midde-Oosterse en Moslem-politiek wêreldwyd. Dr. Matthee het meer as 14 jaar se ervaring in adviesdienste aan regerings, multinasionale maatskappye en nie-regeringsorganisasies. Hy skryf uit Nederland.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Louis du Plessis ·

Heinrich ~

1  Jy openbaar ‘n geheim wat ander weldra sal ontdek:  “Die volgende dekade gaan hoë eise stel aan die geesteskrag van mense.” 

2  En in aansluiting by Augustinus, en as vryburger, pleit jy vir vertroue in die toekoms en deursettingsvermoë en selfdissipline.  Dankie dat jy ons gedagtes weer terugbring na blywende waardes toe! 

Jorik van Suid-Afrika ·

Na my mening loop die pad van Langenhoven en sy geslag Afrikaners eerstens langs ‘n hernude volksbesef – waarin die vrees vir verdrukking, verstrooiing en verval afgeskud word; eers daarna langs die soeke van ruimtes (in die meervoud bedoel) waarin die Afrikaners weer hul eie insiatiewe kan neem en eie prestasies kan najaag; om laastens weer by ruimtelike ordening uit te kom. Oranië begin by laagenoemde en poog om terug te werk langs weë van politieke akkommodasie met die huidige bestel; andere streef na politieke korrektheid in die hoop dat dit tot ‘n opvolgskikking kan lei; en nog andere meen opstand sonder samehorigheid en eenheid sal jou op ‘n wonderbaarlike wyse by volksvryheid uitbring.
     Die patroon van verwarring onder Afrikaners val die objektiewe waarnemer telkens op – my oortuiging is dat sonder daadkragtige volksbou, sonder kollektiewe wilskrag, sonder gemeenskaplike ideale rondom Afrikanerskap en sonder ‘n betekenisvolle kwota van samehorigheid en eensgesindheid sal die pad na vryheid vir ons besaai wees met dubbeltjies. Baie teleurstellings wag dan op ons. Daar is nie internasionale magte wat inkoop in ons opstandigheid en ons vryheidstrewe nie, soos dit nou gebeur in die Arabiese Lente. Ons sal ons eie pad moet vind, met strategiese insig en met wysheid. Maar, om te herhaal, sonder ‘n sterk binding as volk is die uiteinde voorspelbaar.

Heinrich Matthee ·

Beste Jorik,

Iewers in jou kern moet mens so vroeg as moontlik dit vind wat Bart Nel noem:

“Hulle het nou alles, hulle het my grond, my vrou, my kinders. Maar hulle het my nie…My kry hulle nooit. Ek is Bart Nel/Jorik van toe af, en ek is nog hy.”

Die kern van my stuk is dat mens eers in jou eie gees vry moet wees of vry wil wees. Dan kan mense met die meeste krag die opsies najaag of uitleef wat jy noem: gemeenskap, volk, vrye demokraat wees, wat dan ook.

Dalk is sukses net beskore vir latere geslagte. Maar jy moet ook dan geestelik kan vasbyt en voluit leef tot waar jy die fakkel kan oorgee.

Hoef mens alle Afrikaners en Afrikaanssprekendes saam met jou te kry? Verkieslik ja.
Kan Afrikaners oorleef as ‘n groep wat teruggedwing word tot net enkeles: 300 000, 200 00, 100 000? Ja, mits ‘n kritiese massa mense in hul gees vry en vasbeslote is.

Die kleinste Griekse stadstate was tien vierkante kilometer met bevolkings van minder dan ‘n 1000 mense. Daar is vandag erkende volke van enkele tienduisende.

‘n Spesmagman behoort aan ‘n groep, maar sy gees is gerig voldoende om te kan oorleef en leef. Selfs al sou ‘n deel of selfs sy hele groep vergaan. En hy skerp die vaardighede op wat hy benodig. Dit is ewe geldig vir vreedsame vryburgers.

Vryheid begin nie daarbuite in al die halwe en gefaalde politieke pogings nie. In Afrika begin en eindig ‘n vryburger se vryheid in jou eie gees.

   

Jorik van Suid-Afrika ·

Heinrich – jy het ‘n interessante perspektief ge-open op die jeugpolitiek en die neigings tot verset onder die nuwe generasies – ook in Suid-Afrika. Hierdie herlewing(s) hou natuurlik groot moontlikhede in, maar daar is ook slaggate. Die grootste slaggat is die idee van verset en opstand ter wille van verset en opstand (overgesetsynde: uit frustrasie en uit passie vir vryheid), maar sonder egte saambinding onder ‘n vaandel van meer betekenis as die oombliklike emosies. Dit is waar ek ons sien tekort skiet – die gebrek aan volksbinding, en die gebrek aan duidelike ideale as ‘n volk is opvallend. Dit sluit nie uit dat verskillende strome van verset in die toekoms weer by duidelike ideale en samehorigheid sal kan uitkom nie. Maar waar is die politieke arbeid en leiding in daardie rigting? Om in verskillende rigtings te storm en vanuit verskillende rigtings aan te val, kan taktiese voordele hê, maar die gebrek aan strategiese doelwitte is ‘n erge swakheid wat ‘n volk kan inhaal. Ek reken die ANC het na sy oorwinning in 1994 ook juis hierdie gebrek openbaar; die veelheid van strominge en aksente haal die Alliansie vandag vinnig in. Die gebrek aan strategiese leierskap is in hulle geledere opsigtelik; en gevaarlik genoeg in die sin dat populistiese krete die oorhand kan kry soos in Zimbabwe. Jou ontleding van die nuwe giere en die emosies tov bevryding is nuut en vars; ek hou baie daarvan. Ek mis nog die wyse leiding van ‘n Steyn en ‘n Kruger, ‘n Hertzog, Malan en Verwoerd.
   Vryheid begin inderdaad in die gees van die enkelinge soos met Bart Nel. En dit is ‘n eksistensiële besluit; maar die Bart Nel aanhaling kom nadat die Rebellie misluk het, en hy rekenskap van homself moes gee; dit nadat dit geblyk het dat die volksideaal en die volksbinding nie sterk genoeg was om die Rebellie deur te voer nie; destyds was dit maar 12 jaar na die Vryheidsoorlog!! Toe was Boeregeneraals soos Botha en Smuts klaar aan die kant van die Empire – soos ons ook rondom 1994 ervaar het tov sommige militêre leiers in ons geledere. Daarenteen het genls Hertzog, Beyers, De la Rey en De Wet saam die Nasionale Party gestig in 1914, en het uit daardie geledere ‘n egte oproep tot volkstrou en vryheid vir die volk opgeklink. Pres Steyn het hom by hierdie beweging geskaar. Dit is in daardie sin wat ek praat van die noodsaaklikheid om weer terug te keer na volkswaardes en volksbou.  Vanaf 1914 tot die oorwinning van 1924 was maar ‘n skrale 10 jaar – wat toon hoe reg die Afrikanerleiers was om hulle op die nasionalisme te beroep.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.