VSA: Die verkiesingstryd is ver van verby …

Pres. Donald Trump en Amy Coney Barrett . (AP Photo/Alex Brandon)

Baie het intussen in Amerika gebeur en ek lig enkele gebeure uit:

Op 26 September, tydens ‘n seremonie in die Withuis se roostuin, benoem president Donadl Trump regter Amy Coney Barrett as sy kandidaat vir die hooggeregshof. Op 29 September voer president Trump en sy opposisiekandidaat, Joe Biden, hul eerste presidensiële debat in Cleveland, Ohio. Op Vrydag 2 Oktober toets president Trump positief vir Covid-19 en beland in die Walter Reed-hospitaal. Twee maande tevore dwarsboom Speaker Nancy Pelosi die jongste stimuluswetsontwerp daargestel om diegene te help wat ernstig deur die pandemie geraak is. Op 9 Oktober beroep sy haar ook op die 25ste wysiging van die Grondwet wat ‘n kommissie toelaat om ‘n president medies ongeskik vir sy amp te verklaar. ‘n Paar dae later neem die Republikeinse kongreslid Doug Collins weerwraak en stel ‘n resolusie daar vir die verwydering van Pelosi en verklaar haar geestelik ongeskik om die huis van verteenwoordigers te lei.En laastens, soos in 2016, blyk die getalle by die stembusse vinnig ten gunste van Biden te swaai.

Elk van bogenoemde gebeure regverdig eintlik ’n artikel op sy eie. Ek sal probeer om slegs ‘n kort oorsig hiervan te gee as voorsmakie van die huidige politieke atmosfeer in die VSA.

Amy Coney Barrett. (Foto: Barbara Allison/South Bend Tribune via AP)

Toe Trump regter Amy Coney Barrett – ‘n vrou met onberispelike kwalifikasies as ‘n geleerde, regter en professor – se benoeming vir die hooggeregshof aangekondig het, het die Demokratiese Party vinnig van rat verander om ‘n nuwe aanvalstrategie te beplan, gegewe hul skouspelagtige mislukking om die destydse regter Kavanaugh uit die hooggeregshofwedloop te haal. Bewus van die negatiewe gevolge wat hul aanslag op Kavanaugh op hul verkiesingsveldtog gehad het, het die Demokrate besluit om hul hand nie met regter Barrett te oorspeel nie. Omring deur haar indrukwekkende gesin van sewe, waarvan twee swart aangenome kinders uit Haïti. ‘n kind met Down-sindroom en ‘n bekwame advokaatman in eie reg, het kwaadpraters geweet dat dit moeilik sou wees om iemand so bedrewe soos sy van haar troontjie te skop. Tydens die verhoor van die senaat se regskommissie het die bloedhonde elke truuk in die boek probeer om haar vas te trek oor godsdiens, ras, aborsie en klimaatsverandering. Hierdie verhore is natuurlik ten gunste van Biden se verkiesingsveldtog gebruik met die wete dat die Demokrate nie opgewasse sal wees as dit kom by haar kennis van regswetenskap nie.

Die verhore was, om die minste te sê, ‘n sirkus van stommerike. Steeds gekrenk oor hul openbare “teregstelling” van Kavanaugh wat die Demokrate ’n paar setels in die senaat gekos het, was die nuwe taktiek van die Demokratiese senators nie slegs om Barret te beskuldig van al die stereotipes waaraan konserwatiewe vroue onderwerp is nie, maar om haar te bombardeer met beskuldigings dat haar uitsprake in die toekoms teen die Affordable Care Act, die Roe vs. Wade-uitspraak, swart mense en die voortplantingsregte van vroue sal wees.

Al bogenoemde beskuldigings het gepaard gegaan met plakkate waarmee meestal vroue van kleur en kinders, hul jammerverhale uitgebeeld het – duidelik daarop gemik om die hartsnare van die publiek te raak. Weens ’n gebrek aan selfversekerdheid het baie van die toesprake of vrae (ja, min vrae oor Barrett se regspraak of uitsprake – die meeste daarvan in elk geval verkeerd aangehaal of verkeerd geïnterpreteer) hul eie onbevoegdheid om beleide te formuleer, weerspieël.

(Foto: AP Photo/Mark Humphrey)

Die verhore het aan die lig gebring dat hulle nie in staat was om te kan onderskei tussen Barrett se plig as regter om die wet teenoor die Grondwet te interpreteer nie en die daarstelling van wetgewing – die rol van alle politici. Trump was duidelik oor sy keuse van Barret: “Uitsprake wat die federale hooggeregshof in die komende jare sal uitreik, sal die voortbestaan ​​van ons tweede wysiging, ons godsdiensvryheid, ons openbare veiligheid en soveel meer beslis. Om veiligheid, vryheid en welvaart te handhaaf, moet ons ons kosbare erfenis van ‘n nasie van wette handhaaf en daar is niemand beter om dit te doen as Amy Coney Barrett nie.”

Die stemmery het op Maandag 26 Oktober plaasgevind en Barrett is deur die senaat tot die federale hooggeregshof verkies met 52 stemme teenoor 48. Al die Demokrate in die senaat het teen haar gestem. Die land keur in elk geval haar aanstelling op die regbank met ’n oorweldigende meerderheid goed.

Volgens alles wat mens gehoor het, was die lang verwagte eerste presidensiële debat op 29 September in Cleveland, Ohio ’n groot fiasko. President Trump het knorrig en stuurs voorgekom en het Joe Biden, wat geweier het om vrae te beantwoord, voortdurend onderbreek. Met Chris Wallace, ‘n ewe ontwrigtende en partydige moderator, het Trump beter gevaar met “harde” vrae, terwyl Biden met ’n paar donshoue op “sagte” vrae teruggekap het en geweier het om Trump se vrae te beantwoord.

Trump kom by die hospitaal aan vir behandeling nadat hy Covid-19 opgedoen het. (Foto: Jacquelyn Martin/AP)

Kort ná die debat het president Trump positief vir Covid-19 getoets. Kenmerkend van die hoofstroommedia en die Demokrate het hulle hul daarin verlekker om die blaam te plaas op Trump se onverskillige houding ten opsigte van die dra van maskers en die ernstigheid van die virus. Baie beskuldig Trump van agterlosigheid omdat hy die roostuin-geleentheid aangebied het met minimale Covid-19-veiligheidsmaatreëls, en hiermee het hy homself eintlik in die voet geskiet.

Vreemd genoeg het baie personeellede van die Withuis ook positief getoets, waaronder die voormalige goewerneur van New Jersey, Chris Christie, wat vier dae in die ICU moes deurbring. Presidentsvrou Melania Trump en hul seun Barron het ook positief getoets en het vir ‘n rukkie in kwarantyn gebly. Trump is onmiddellik na die Walter Reed National Military Medical Center geneem, waar hy verskillende toetse ondergaan het en ‘n streng behandeling van terapeutiese middels ontvang het, onder meer die antivirale middel Remdesivir, Regeneron en aanvullende suurstof. Ná drie en ‘n half dae is hy uit die hospitaal ontslaan. Oor die hele land is gebedsbyeenkomste vir Trump deur sy ondersteuners gehou. Dit teenoor baie in Hollywood, die Demokratiese Party, die hoofstroommedia en ander wat hom eintlik wou doodhê.

’n Mens kan nie anders nie as dink aan “The Good, the Bad and the Ugly” wat Amerika hier aan die uitstal was.

Skaars herstel, was Trump weer opgesaal vir sy verkiesingsveldtog – veggereed en op pad na die gevegstate (battlegrounds) waarheen hy gevlieg het om sy saak te stel. Hy het ook van die geleentheid gebruik gemaak om aan die kiesers te bewys dat Covid-19 wél hokgeslaan kan word, dat hy daarteen geveg het, dit verstaan ​​en dat die terapeutiese middels wat hy aanbeveel het, werk. In ‘n gesprek met die publiek oor hierdie dodelike siekte het die president aan die land gewys dat die virus nie as ‘n doodsvonnis beskou moet word nie. Aangevuur deur sy herstel, beweeg hy nou kruis en dwars deur swaaistate om sy stemme ’n hupstoot te gee.

Nancy Pelosi. Foto: (AP Photo/J. Scott Applewhite)

Intussen het Trump se minister van finansies, Steve Mnuchin, ‘n stimuluspakket van $1,8 biljoen (Engelse trillion) voorgestel teenoor die Demokrate se $2,2 biljoen waarteen beide die Demokrate en Republikeine kapsie gemaak het. Die pakket het ingesluit: ’n $400-verhoging in weeklikse werkloosheidsversekeringsvoordele; $1 200 direkte betalings aan Amerikaanse volwassenes; $1 000 onderhoudstoelae vir elke kind; die heraanwending van oorblywende fondse ($135 miljard) uit die Paycheck Protection Programme. Wat die Demokrate wou hê: ’n $600-verhoging in die weeklikse werkloosheidsvoordele; $1 200 vir elke afhanklike kind; en ’n finansiële inspuiting vir state en stede. Speaker Pelosi het die aanbod van die hand gewys. Die dooiepunt wat bereik is asook die weiering van Pelosi om saam te werk, het tot ’n woordestryd met die president gelei – selfs lede van haar eie party en hul CNN-skoothondjie het haar gekritiseer omdat sy nie haar samewerking aan die Withuis wou gee nie.

Om dinge te vererger, het die wrokkige speaker haar op die 25ste wysiging van die Grondwet beroep en Trump daarvan beskuldig dat hy weens Covid-19 “geestelik verander het”. Haar doel hiermee was om ’n tweepartykommissie aan te stel om te sien of die president nie van sy magte ontneem kan word indien sy kabinet en die visepresident hom as medies ongeskik vind om langer as president te dien nie. Pelosi het egter volgehou dat dit niks met die president self te make het nie, waarop Trump onmiddellik gereageer het: “Crazy Nancy Pelosi wil die 25ste wysiging gebruik om Joe Biden met Kamala Harris te vervang. Die Demokrate wil natuurlik hê dat dit vinnig moet gebeur, want Sleepy Joe gaan dit nie maak nie!” En verder: “Crazy Nancy is die een wat onder waarneming moet wees. Hulle noem haar nie verniet ‘crazy’ nie!”

Die pruttelrige Pelosi se versuim om haar posisie as speaker in die huis van verteenwoordigers ernstig op te neem, het selfs vir haar eie party ‘n probleem geword. Nadat sy kosbare tyd met die aanklagte teen Trump verspil het en Covid-verligting aan die armes en dié wat swaarkry, belemmer het, skyn haar ster beslis nie meer so helder nie. In weerwraak het Republikein Doug Collins ‘n resolusie ingedien waarin hy sê dat Pelosi nie meer geskik is om as speaker haar rol in die huis van verteenwoordigers te vervul nie: “Die onwilligheid van speaker Nancy Pelosi om die Grondwet na te kom, tesame met haar onlangse optrede, bevraagteken haar eie geestelike welstand, daarom is dit van kritieke belang dat die huis van verteenwoordigers haar naam van die lys van moontlike presidentskandidate moet skrap.”

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Intussen, sedert 19 Oktober, wys die FiveThirtyEight Politics-podsending dat Joe Biden Donald Trump in die nasionale peilings met 52,5% teenoor 41,7% voorloop. Die marge van byna 11% is vreemd gegewe Biden se lustelose veldtog wat skaars ondersteuners lok in vergelyking met Trump se energieke en entoesiastiese propvol saamtrekke. Niemand sal weet of dit wat ons nou aanskou, ‘n herhaling is van die Hillary Clinton-veldtog wat in 2016 ver voorgeloop het in die presidentsverkiesingsveldtog, met Trump wat op die ou end en inderdaad met ‘n oorweldigende meerderheid gewen het. Biden kan wen, gegewe die miljoene wat Big Tech, groot korporasies, Wall Street, Hollywood, Academia, die Obama/Bush-koalisie en die hoofstroommedia op hom spandeer het. Om sake vir Trump te vererger, is die Demokrate reeds ywerig besig met Mail-in-Voter-veldtogte wat Covid-19 as ‘n verskoning gebruik om kiesers tuis te hou. Sprake van kiesersbedrog is volop en Trump se geregverdigde skeptisisme oor die proses is reeds wyd bekend.

In hierdie vinnig veranderende stemmery weet mens nooit wat om te verwag nie. Maar toe word die aap uit die mou gelaat, oftewel die rekenaar van Hunter Biden, met duisende e-posse waarmee hy destyds, toe sy pa, Joe Biden, visepresident was, toegang tot sy pa verkoop het en só miljoene dollars uit die Oekraïne, Rusland, China en Kazakstan ingebring het met aansienlike voordele vir beide pa en seun.

A luta continua!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Human ·

Praat van skoothondjies! Trump het Rhoda en Fox en moet nie die juigkommando weggooi.

Dewald ·

Dit val my al sedert 2016 af op hoe linkse liberale mense beledigings slinger na enigiemand wat van hulle verskil. Wanneer November se uitslae uitkom en President Trump baie verder as vorige keer wen, doen jouself ‘n guns en kyk in watter demografieë hy die meeste steun bygekry het. Dan sal julle linkse liberale weet wie die mense is vir wie julle die meeste beledig het – soos ‘n spieël waarin julle sal kyk. Ek weet vir ‘n linkse liberaal moet ‘n spieël so vreesaanjaend wees as die son vir ‘n vampier, maar in daai spieël sal julle moet kyk. Daarna sal julle dalk na ander mense se opinies luister.

Die Wolf ·

Ek dink nie dit is regse eie nie maar n persoon wat gesonde verstand gebruik.

Die Wolf ·

Stem vir Biden en gee die VSA weg vir China ens, met miljoene werkloses. Ek dink nie jy weet veel van die VSA se manier van politiek nie. Die demokrate is geldgierig en sorg net vir hulle eie gewin, en gee nie n flenter om vir die bree populasie nie. Minder luister wat CNN verkwansel.

Therese ·

Hoewel die Demokrate se ondemokratiese doen en late lánkal nie meer verbaas nie, was die onwaardige wyse waarop Nancy Pelosi die ‘State of the Union”-toespraak agter die rug van die president opgeskeur het ‘n skokkende laagtepunt.
Die feit dat hierdie laakbare gedrag van die Speaker van die VSA nie luidkeels verdoem is deur die voorste mediahuise nie, spreek boekdele oor die bestaande orde.
‘n November-tranedal word die sg. demokrate toegewens!

Rose ·

Ek vertrou liewer vir Donald Trump, die ander span is agterbaks, en gebruik die media en Hollywood om n voorsprong te kry. Die Amerikaners moet oppas waarvoor hulle wens.

Human ·

As iemand jou uitgestrekte hand om mee te groet, ignoreer, as gevolg van domastrantheid, sal jy hom dan prys vir sy dikvelige arrogantsie.

Ian ·

Dankie Rhoda vir ‘n puik, eerlike opsomming van gebeure. Die Trump administrasie se puik buitelandse beleid en suksesse spreek natuurlik boekdele. Selfs die negatiewe media is lugtig om daaroor te praat.

andre ·

Jy kan nie die verkiesingstatistiek van korrupte organisasies glo nie !Ten spyte van al die media leuens,knoeiery met mail -voting is dit die oorgrote meerderheid gedissiplineerde werkersklas wat se stem die wenner gaan bepaal ,en dis is Trump se kiesersbasis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.