VSA se politiek van persoonlike verwoesting

Jussie Smollett (Foto: Nuccio DiNuzzo/Getty Images/AFP)

Ek kan nie verstaan hoe ’n vermoënde land soos die Verenigde State soveel ryk mense kan hê wat gedurig kerm en ontevrede is nie. Jussie Smollett, akteur in die TV-program Empire, is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Nadat hy in die kriminele saak teen hom daaraan skuldig bevind is dat hy ʼn kamma-aanval op hom gereël het, is wenkbroue oor die voorkoms van verregaande persoonlike vernietiging onder toonaangewende elite gelig.

Jussie – swart, gay en ’n akteur – het beweer hy is in Januarie 2019 deur twee wit mans aangeval en dat hulle op hom geskree het: “This is MAGA country!” met verwysing na oudpres. Donald Trump se slagspreuk “Make America Great Again”. Volgens Jussie het die aanval in die middel van die nag in Chicago (geensins MAGA-wêreld nie) plaasgevind terwyl hy op pad was huis toe nadat hy ʼn toebroodjie by Subway gekoop het. Hy het verder aangevoer dat hulle rassistiese en homofobiese opmerkings geskree het terwyl hulle hom geslaan het, hom met bleikmiddel natgegooi het en ʼn strop om sy nek gebind het.

Die waarheid is egter dat Jussie twee swart Nigeriese broers, Abel en Ola Osundairo, vir $3 500 gehuur het om hulself wit te verf en voor te gee dat hulle hom aanval. Meer sinies sal jy nie kry nie. Om twee swart mans te oortuig om voor te gee hulle is wit en ʼn aanval uit te voer, is ʼn klugspel op sy beste.

Sy verwronge sienswyse het hom laat dink dat hy, as ʼn slagoffer van so ʼn aanval, na die heilige gange van die politieke orde opgehef sou word en sodoende alle Trump-ondersteuners se naam ʼn knou kon toedien as wit heerssugtiges. Dit het nog verdere verdeeldheid in ʼn land meegebring wat die knie voor elke aantyging van rassisme buig, of dit nou waar is of nie.

Dit is onmoontlik om sulke snert uit te dink, al probeer jy hoe hard.

Die jurie het Jussie op vyf aanklagte van ernstige misdade skuldig bevind, maar toe hulle aanvanklik van sy aantygings te hore gekom het, was die grootkanon Demokrate en Hollywood-beroemdes vinnig om Trump vir die rassisme en homofobie te blameer, nog voor enige ondersoeke begin is.

Hierdie bedrieërs het, met die hoofstroommedia aan hulle kant, geweet om petrol op die vuur te gooi hulle politieke agenda sou bevoordeel, baie bewus daarvan dat hulle selde verantwoordelik gehou word.

Joe Biden en Kamala Harris. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Joe Biden en Kamala Harris (onderskeidelik) het dadelik tot die stryd met hulle selfvoldane twiets toegetree: “Wat vandag met @JussieSmollett gebeur het, moet nooit in hierdie land geduld word nie. Ons moet opstaan en daarop aandring dat ons nie langer ʼn veilige hawe vir hierdie haat sal wees nie; dat homofobie en rassisme geen plek in ons strate of in ons harte het nie. Ons staan agter jou, Jussie.”

“@JussieSmollett is een van die dierbaarste, sagmoedigste mense wat ek ken. Ek bid vir sy vinnige herstel. Hierdie was ʼn poging tot moord. Niemand behoort vir sy lewe te vrees weens sy seksualiteit of velkleur nie.”

Parlementslid Maxine Walters, altyd betrokke by enige storie wat opgedis word, het verklaar: “Jussie is my vriend – ʼn baie talentvolle en pragtige mens. Dit krenk my dat homofobie-haters dit sal waag om iemand so liefdevol en vrygewig seer te maak. Ek verbind my daartoe om die skuldiges vas te trek en geregtigheid te laat geskied. Jussie het nie verdien om deur enigiemand skade aan gedoen te word nie.”

Senator Cory Booker het dit ook ʼn moderne poging tot moord genoem. Tom Perez, vorige voorsitter van die Demokratiese Nasionale Komitee (DNC), het dit ʼn “wrede haatmisdaad” genoem. Soos gewoonlik het Hollywood-bekendes soos Cher, Katy Perry, Rosie O’Donnell, George Takei en baie ander van soortgelyke stand, hulle skynheilige afkeuring uitgespreek. BLM het gesê dat Jussie swart is en dat hy gevolglik onskuldig moet wees.

MSNBC, CNN en ABC het almal die “aanval” met oordrewenheid veroordeel. Maar noudat die waarheid uit is, sal nie een van hierdie prominente Demokrate, beroemdes of media-persoonlikhede vir Trump, sy ondersteuners en die land om verskoning vra vir hulle gedurige vals alarms nie; vals alarms wat ure se ondersoeke en polisie-eenhede se aandag van ʼn stad waar daar weeklikse dodelike skietery en duisende onopgelosde moorde is afgetrek het.

Hoe graag moet ʼn mens erkenning soek om deel van so ʼn enorme bedrogspul te wees? Terwyl hy in sy loopbaan besig was om die leer van sukses te klim, het Jussie ʼn groot berekeningsfout gemaak met die voordele wat hy gedínk het hy uit so ʼn verraderlike daad kon kry.

In ’n land waar dit baie aftrek kry as jy ʼn slagoffer is, het hy nog nie geleer dat rasgeknoeiery ʼn gevaarlike speletjie is om te speel nie. Ten spyte van alle bewyse dat hy skuldig is, dring hy daarop aan dat hy verontreg is en dreig om te appelleer. Die magtige het nie net geval nie, die wat geval het bly magtig!

Hierdie sage herinner my aan my kinderdae toe ek grootgeword het in ʼn huis met ʼn pastoor vir ʼn pa wat ons gedurig daaraan herinner het om “nie God se gesalfdes aan te raak nie” wanneer ons elke Sondag die prediker of die erediens gekritiseer het.

Hiermee sê ek geensins dat oudpresident Donald Trump God se gesalfde was nie; net dat baie (nie naastenby genoeg nie) wat hom valslik van allerhande misdrywe beskuldig het, al tot ʼn val gekom het.

Die akteur Alec Baldwin (Foto: Angela Weiss/AFP)

Kom ons begin by Alec Baldwin. Hy het sy openbare platform oral gebruik om Trump en sy ondersteuners te beswadder. Só het hy sy aansien verhoog deur om ʼn bespotting van Trump in sy Saturday Night Live-spotstukke te maak. “F-Trump” en beledigende skelname het gereelde slagspreuke op sy televisieprogram geword. Elke keer wanneer daar ʼn massaskietery was, het hy nie gehuiwer om Trump se “geweerdraer”-ondersteuners vir die moorde te blameer nie.

En toe vuur Baldwin per ongeluk in Nieu-Meksiko ’n kammawapen op die filmstel, Rust, af wat tot die dood van die kinematograaf Halyna Hutchins gelei het. Die regisseur Joel Souza is beseer. Hy het vinnig geleer dat karma inderdaad ‘n teef is. Twitter en Facebook is behoorlik deur Trump-ondersteuners aan die brand gesteek, nie om Halyna se dood te vier nie, maar om hulle in die onuitstaanbare, selfvoldane Baldwin se val te verlekker.

Dan is daar Andrew Cuomo, vorige New York-goewerneur, verwaand soos min en wat bitter selde geaarsel het om Trump aan te val, terwyl Trump hom net goedgesind was met die uitbreek van die koronaviruspandemie deur vir hom versterkings en die nodige hulpbronne na New York te stuur om die pandemie die hoof te probeer bied.

Met die hulp van sy narsistiese broer en CNN-aanbieder, Chris Cuomo, het hulle dit ʼn voltydse werk gemaak om Trump en sy netwerk te verkleineer.

Albei van hulle sit nou sonder werk. Die oud-goewerneur moes bedank na verskeie aanklagte van seksuele teistering teen hom, die dood van duisende bejaardes weens Covid-19 in ouetehuise, en vir ʼn boek wat hy vir ʼn yslike bedrag van $5 miljoen geskryf het wat oor sy leierskap gedurende die pandemie handel. Chris Cuomo sit sonder werk omdat hy sy broer van regsadvies teen sy aanklaers voorsien het terwyl hy sy program aangebied het en voorgegee het om neutraal te staan.

So gepraat van seksuele teistering. Die berugte Michael Avenatti wat die pornoster Stormy Daniels in regsgeskille teen Trump verteenwoordig het, sit nou in die tronk nadat hy ʼn 30 maande vonnis vir afpersing teen Nike opgelê is, nadat hy op amper alle mediakanale verskyn het waarin hy verklaar het dat hy Trump tot ʼn val gaan bring.

Hy staar ook ʼn hele klomp ander hofsake in die gesig, veral dié afkomstig van Daniels, wat hom daarvan beskuldig dat hy haar met vele betalings bedrieg het. Nadat daar gespekuleer is dat hy die volgende president kan wees, is CNN en ander media-beroemdes skielik sprakeloos nadat hy aan ʼn reeks misdade skuldig bevind is.

Die morsige hofsaak van Jeffrey Toobin, verwaande en middelmatige hoofregsontleder van CNN, span egter die kroon. Om Trump tot ʼn val te bring, was een van sy “grootmoedige” ideale. Hoe meer aanstootlik sy uitlatings, hoe meer het die media hom verheerlik. Wel, hierdie “wyse” word toe tydelik vir agt maande deur CNN geskors nadat hy tydens ʼn Zoom-oproep met kollegas gemasturbeer het, onbewus daarvan dat hy steeds aanlyn was vir almal om hom in volle glorie te aanskou.

Oudpres. Donald Trump. (Foto: Alex Brandon/AP)

In dieselfde trant het oorloper Republikeine, ook bekend as “Never Trumpers” wat hulself die Lincoln Projek genoem het, miljoene dollar van anti-Trump donateurs ingehark om die president uit die saal te help lig en sy behoud van presidentskap in 2020 te ontwrig.

Verskeie aantygings van pedofilie het kort daarna teen John Weaver, medestigter en een van hulle senior lede, opgeduik, wat deur bykomende beskuldigings van finansiële korrupsie en nepotisme binne die organisasie vererger is.

Die Lincoln Projek het eers die aantygings ontken, maar soos wat die beskuldigings toegeneem het, het hulle Weaver as “roofdier, leuenaar en molesteerder” veroordeel en hulle so vinnig van hom gedistansieer as wat hulle hom aanvanklik verdedig het. Nodeloos om te sê, nadat hulle baie skade aan die presidentskap gedoen het, het die Lincoln Projek sy politieke invloed en kredietwaardigheid verloor.

Die politiek van persoonlike verwoesting het duidelik ʼn kunsvorm geword onder die regerende elite van die VSA. Veelvoudige skelmstreke is bewimpel om Trump en toonaangewende konserwatiewes tot ʼn val te bring. Ten spyte van die openbaarmaking daarvan word diegene wat skuldig bevind is aan meineed, naamskending en om onder eed te lieg, selde tot verantwoording geroep.

En die vraag bly staan: Vir hoe lank gaan dit nog aanhou? Kan daar ʼn onuitgesproke waarskuwing wees oor die noodlot van leuenaars en versinners in die Psalmskrywer se raad om “nie God se gesalfdes aan te raak nie”? Of moet die lewering van valse getuienis teenoor jou naaste feller nagevolge hê, siende dat dit per slot van rekening die negende gebod is?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

piet ·

Dis ‘n verfoeilike ding wat hierdie akteur gedoen het en dis reg dat hy swaar gestraf word. Dit kan nie toegelaat word dat mense valse rasse beskuldigings rondgooi nie, dis gevaarlik en swaar strawwe is nodig. Wat Trump aanbetref, sal ek sal nie so vinnig vir Trump verontskuldig nie. Daar is heelwat kriminele en siviele klagte tans nog hangend teen hom wat nog in die Hof beslis moet word. Kom ons wag maar eers om te kyk wat daar gebeur.

annie ·

…dit sou die klassieke opmerking gewees het van ‘n skatryk ou demokraat wat op die draad wieg tussen kwaad en minder kwaad, terwyl hy na CNN se jongste openbaring oor Trump kyk.

Treurwilger ·

Donald J. Trump is ‘n unieke karakter met persoonlike tekortkomings, maar ook grootse prestasies.
Die ontbloting van die valsheid en onewewigtige indoktrinering van hoofstroommedia is vir altyd te danke aan hom.
Die betrokke “akteur” het ‘n kans gevat wat juis deur die eenogige media gebied is.

david ·

My geskiedenis onnie in matriek het hierdie aanmerking gebruik–
“Die pen is wel magtiger as die swaard,…maar hy wat die mag van die pen misbruik
sal uiteindelik in die mag van die swaard vaskyk ..”

Dis lankal duidelik dat die media, oral ter wereld, die mag van die pen misbruik
Dit begin lyk of die swaard uit sy skede getrek word……

Nici ·

Interessant geskryf Rhoda. Ek glo net nie Stormy is ‘n ster nie. ‘n Prostituut bly ‘n prostituut en ‘n kamera kan dit nie verander nie.

Hendrik ·

Kan jy iets anders van hierdie vuil karakters verwag as die smerige politiek wat bedryf is en steeds bedryf word. Die genoemde swaard is reeds getrek en ons sal hul verdere val beleef.

Alfred E Neuman ·

Die demokratiese party in die VSA is die siekste, veradelikste, onderduimse wokeness wat op hierdie planeet bestaan. Trump en die Republikeine moet die linkse media tot n val bring en die mag terugneem, selfs met geweld, anders wag daar groot probleme vir die res van die wêreld.

Bushy ·

Ek voorspel dat wat kom die Franse Revolusie na kinderspeletjies gaan laat lyk. Veral die media gaan die prys betaal. Geskiedenis is geneig om dit self te herhaal, tog slaan die mensdom nie ag daarop nie en sal nooit daaruit leer nie. Live by the sword die by the sword. N pen kan soms skerper as n swaard wees en dieper wonde kloof veral op hoof media platforms. Karma is n blik#$&.

Dries ·

Baie dankie Rhoda vir die feitelike artikel. Wil jy nie ook vir ons iets skryf oor die verfoeilike ANC en sy korrupte kaders nie asb

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.