Vuurwapens, selfverdediging en die Christen

Die veranderde vuurwapenwetgewing wat ʼn paar jaar gelede in werking getree het en waarvolgens wettige vuurwapeneienaars hulle vuurwapens moes herlisensieer het tot oneindige frustrasie gelei. Ek sélf het vier jaar gewag vir myne.

Die basiese logika van wié ookal op hierdie gedagte gekom het om misdaad in SA te verminder of te stuit, mag goed bedoel gewees het, maar gegewe Suid-Afrika se misdaad- en geweldskultuur en die onvermoë van die staat om die reuse taak van herlisensiëring effektief uit te voer, was dit ondeurdag en eintlik absurd.

Ons probleem in Suid-Afrika is nie vuurwapens as sodanig nie. Switserland het, byvoorbeeld, meer vuurwapens per capita as ons, maar het van die laagste misdaadsyfers ter wêreld. Ons probleem is ʼn misdaadkultuur van barbaarse wreedaards, ʼn substansiële element met ʼn misdadige en kriminele mentaliteit, mense met ʼn  totale gebrek aan respek vir ander mense, hulle lewens en besittings. Vir sulke mense maak ʼn vuurwapen net sy bose voornemens makliker. Indien ʼn vuurwapen nie beskikbaar is nie, sal ʼn mes, ʼn panga, ʼn gebreekte bottel of ʼn halwe baksteen ook deug.

Wat vuurwapenlisensiëring betref – dit sou in die eerste plek veel meer sin gemaak het indien die aansoeker vir vuurwapens sélf aan sekere toetse onderwerp word om seker te maak dat die persoon sielkundig-emosioneel bevoeg en verantwoordelik is. Dit sou net veel meer sinvol wees om die persoon te lisensieer en nie elke vuurwapen nie. Jy het immers net een bestuurderslisensie nodig ongeag jou aantal motors.

Die motivering vir hierdie nuwe bedeling klink lofwaardig – ʼn vuurwapenvrye Suid-Afrika! ʼn Menigte onwettige vuurwapens is in omloop in SA. ʼn Eerlike vraag sou wees waar kom dit vandaan? Inderdaad word ʼn deel daarvan gesteel van wettige eienaars wat dit nie na behore bewaar het nie. Ons weet dat vuurwapens gewoonlik bó aan die lys van gesogte items is wanneer misdadigers by ʼn huis inbreek. Eienaars word gereeld gemartel en selfs doodgemaak in misdadigers se naarstiglike soeke na die eienaar se wettige vuurwapens.

Dan is daar natuurlik steeds ʼn oënskynlik onuitputlike en toeganklike mark van oud-terroriste (“vryheidsvegter”-wapens) – veral AK 47 en Kalashnikof-pistole wat in die sluikhandel bekom kan word en waarvan die invloei in SA blykbaar steeds lustig voortgaan.

Miskien is die mees kommerwekkendste die jongste inligting, naamlik dat daar oor die laaste ses jaar nie minder nie as 18 000 polisie vuurwapens in die hande van kriminele beland het! Hoe verklaar mens dit? Is dit blote nalatigheid?

Die gerugte dat gelisensieerde wapens wat tydens vorige vuurwapen-amnesties by polisiekantore ingedien is, sedertdien tydens misdade gebruik is, skep ondubbelsinnig die indruk dat daar  (ten minste in sekere gevalle) van wolf skaapwagter gemaak is. Dit is ʼn bose dag wanneer die polisie indirek die hoofbron van wapens vir misdadigers geword het!

Terwyl ʼn belaglik-klein persentasie van sodanige polisielede skuldig bevind word aan enige nalatigheid of aandadigheid en hierdie tendens met die strengste maatreëls onder beheer gebring moet word, is dit intussen die maklikste om verantwoordelike, privaat vuurwapeneienaars se lewens deur drakoniese vuurwapenwetgewing te vergal.

Wat is my siening as Christen oor hierdie hele aangeleentheid? Natuurlik sal ek ook graag ʼn vuurwapenvrye samelewing wil sien, gegewe dat daar vir jagters en vir vuurwapen-sportsoorte voorsiening gemaak word. Die probleem is net dat sodanige wetgewing weinig verskil aan die onwettige wapens in die besit van misdadigers sal maak. Met elke vuurwapenamnestie in die verlede, het geen misdadiger sy wapens kom inhandig nie.

Die bestaan van ʼn enorme privaat sekuriteitsbedryf vandag in SA, (wat selfs ingespan word om sommige polisiestasies te beveilig) is bewys dat die polisie nie in staat is om die inwoners van die land effektief en na behore teen misdaad te beskerm nie – ʼn vereiste wat een van die mees basiese verantwoordelikhede van ʼn goeie regering is.

Die toenemende gevalle (wat nou byna daagliks gehoor word) van wetstoepassers wat die onskuldige publiek wat hulle veronderstel is om te dien en te beskerm, met brutaliteit en barbaarse optredes te verneder en te intimideer, is vinnig besig om van die begrip geregs-“dienaar” ʼn klug en anomalie te maak. Ek besef dis nie die reël nie, maar die “uitsonderings” word darem nou net te veel.

Hierdie toedrag van sake genoodsaak dat wetsgehoorsame burgers hulle self moet kan beskerm. Die afgelope tyd was daar talle berigte van gewone mense wat lewens gered het, misdadigers in hulle bose handelinge kon stuit en erge misdade voorkom het – juis omdat hulleself ook gewapen was.

Pepersproei nou ook onwettig?

Nou is daar weer sprake dat selfs die mees basiese, nie-dodelike selfverdedingsmiddele soos pepersproei as onwettig verklaar mag word. Watter absurde mentaliteit sit agter sulke wetgewing?

Selfbeskerming is ʼn reg wat elke mens het. Die Bybel is vol voorbeelde daarvan. Terwyl ek aan die beskerming van die Here glo, het ek ook aan die verantwoordelikheid om my en my gesin en ander onskuldiges binne my eie vermoë te beskerm. Gelowiges loop immers ook onder booswigte deur. Selfs Petrus, ʼn prominente dissipel van Jesus, het ʼn swaard saam gedra (Joh. 18:10).

Om te verwag dat landsburgers in ʼn land waar misdaad hande uit geruk het en dit nie effektief deur die staat beheer kan word nie, hulleself sonder vuurwapens teen misdadigers mét vuurwapens te moet verdedig, is om die minste te sê, immoreel.

Die Amerikaanse gesegde, “If guns are outlawed, only outlaws will have guns”, blyk meer waar as ooit te wees.

Sal ons regering nie asseblief leer by wat in Australië gebeur het nie! In die eerste jaar nadat alle vuurwapens in Australië ingehandig moes word en vernietig is, het moorde gestyg met 3.2%; aanrandings met 8.6% en gewapende roof met 44%, terwyl daar die vorige 25 jaar ʼn bestendige daling in hierdie syfers was. In die proses van “successfully ridding Australian society of guns” blyk dit toe dat die kriminele nooit hulle wapens ingehandig het nie!

Christene (en enige ander landsburger) het die reg om hulleself te verdedig. Hulle het die reg om hulleself te verdedig met dieselfde effektiewe wapens en mate van geweld wat teen hulle gebruik word. Om hulle van hierdie reg te ontneem, is boos en immoreel.

Ek sal my wapen vir selfverdediging met ʼn lied in my hart gaan inhandig die dag as kriminele die soort wapens gebruik waarteen ek my met ʼn spuitkannetjie of knuppel kan verdedig! En nou is dít ook in gedrang!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.