Waar lê my voorouers se voetspore?

Een van agt grootgrootouers - Koos (Jakobus Francois) Burger - "Klop asseblief aan my deur!"

Ek wens gereeld die familiefoto’s teen my muur word skielik lewendig. Ek wens hulle is 25 jaar oud en klop aan my voordeur. En ek wens ek kan met almal praat. Trouens ek wens ek kan elkeen se lewensloop dophou – van die wieg tot by die graf.

Ek sal wat wil gee om meer te weet van my agt Afrikanervoorouers van drie geslagte gelede met Nederlandse, Franse en Duitse name: vier manne met die vanne Du Plessis, Otto, Steyl en Burger, en vier vroue met die vanne De la Rouviére, Brink, De Bruyn en De Kock.

Omdat ek worstel met hierdie hunkering, wil ek kortliks enkele vrae aan myself beantwoord, wat miskien ook vir iemand anders van nut mag wees: Eerstens, waar begin soek ek na my voorouers? Hoe kon ek iets van my herkoms ontdek? Dan die nog moeiliker kwessies: Kan ek met sekerheid sê, buig of bars, die enkeling wat ék is, sou gebore word? Hoe voorspelbaar was my geboorte?

Hoe soek ek my voorouers?

Uit gesprekke en dokumente van huidige familie en uit info van genealoë – twee onmisbare bronne – kon ek darem iets uitvind tot so ver terug as die wel en weë my agt voorouers van drie geslagte gelede. Soos watter soort ouers hulle was en watter uiteenlopende rolle hulle in die gemeenskap gepeel het – vanaf die wynbedryf tot die bediening, vanaf die joernalistiek tot die politiek. Oor die doen en late van die voorafgaande twéé geslagte het iemand uiteraard ‘n nog vollediger indruk. Meer as honderd jaar gelede was my oupa Louis du Plessis byvoorbeeld ‘n sendeling in Mashonaland, het albei my oumas in die Anglo-Boere-oorlog onder die Britse magte deurgeloop, en is my oupa Hansie Steyl van sy plaas af weggevoer en sy vryheid ontneem in die konsentrasiekamp by Groenpunt.

Maar verder as drie geslagte in die verlede, strand die soektog op brokkies prikkelende info oor ‘n kleurryke figuur hier en daar. Selfs die paaie van my voorouers enkele eeue gelede na Afrika toe – uit Europa uit en dalk van elders af – verdwyn in die mis. Hoe verder agtertoe, deste digter is die mis. En dis verstaanbaar, want net oor veertien geslagte terug stam elkeen van ons af van meer as 16 000 voorouers!

Gelukkig kan die genetika deesdae al hoe meer help. Deels omdat elke indiwidu chromosome van albei ouers ontvang, in totaal 46, kon genetiese navorsers die afgelope dekades die chromosome van talle indiwidue wêreldwyd ondersoek en kaarte teken van hoe die Mens-met-verstand (Homo sapiens) van Afrika af verhuis het.

Volgens die model van vertakkende bome diagrammatiseer hierdie kleurkaarte besonderhede van die proses van etniese verspreiding oor die hele aardbol. Dit beteken die genetici kan chromosome van ‘n indiwidu, soos ek, tans vergelyk met dié van talle ander wêreldwyd.

Wat leer ek uit genetiese toetsing?

Toe ek onlangs myself geneties laat toets by die Universiteit van die Witwatersrand se genetiese voorouertoetsentrum, kon, van al my voorouers, darem my pa se pa se pa tot in die oertyd identifiseer word, asook my ma se ma se ma tot in die oertyd. Vir elke leser van die Groot Debat, wat in sy eie oergeskiedenis belangstel, kan ek hierdie oefening aanbeveel.

Oor myself het ek onder meer ontdek: Nes alle ander mense se eerste menslike oerouma, leef ook myne in Afrika ongeveer 150 000 gelede, en stam ek, net soos al die ander sewe miljard huidige lewende mense op aarde, van haar af. Kom ons noem haar Eva. ‘n Latere ouma, wat soos ek behoort het aan die haplogroep N (N1a1), was ongeveer 64 000 jaar gelede van Afrika af op weg om Europa te koloniseer. In die geval van my lewensmaat Anchen was dit selfs moontlik om ‘n meer resente oerouma te identifiseer, en wel ‘n vrou wat genetici gedoop het as Tara, wat om en by 17 000 jaar gelede geleef het in die heuwels van die huidige Toskane in Noordwes-Italië.

My een oeroupa, wat soos ek behoort het aan die Y-chromosoomgroep R-M343 (R1b), was deel van diegene wat Europa herkoloniseer het na die laaste ystyd tussen 12 en 10 duisend jaar gelede. Interessant, van Duitsers behoort tans 50% aan dié groep, van Franse 52.2% en van Nederlanders 70.4%.

As die biologiese wetenskappe, wat nou maar eers in hulle kinderskoene staan, opgroei, sal ons nog meer verras wees oor wie ons werklik is.

Was my voorouers onafwendbaar?

Die raaisels oor waar my voorouers se voetspore in die ongedokumenteerde oergeskiedenis verdwyn, raak nog meer senutergend as ek ontdek hoe wanordelik, onvoorspelbaar en onwillekeurig elke menslike lewe verloop.

Omdat ek Sondag kan besluit om Maandagoggend sesuur by Planet Fitness te gaan swem en om teen Woensdagaand my voltooide belastingvorm vir die Ontvanger te epos, begin ek later glo ek is in beheer van my eie lewe. Klink dit nie só belangrik nie? En hoe word die sogenaamde bewuste vrye wil van die indiwidu oorskat! Totdat ek skielik onthou hoe toevallig ek my vrou raakgeloop het: in ‘n pos waarin sy beland het omdat haar suster se nuwe buurvrou oor die heining terloops na die vakature verwys het. Ek sien later die ontmoeting van elke egpaar spruit uit ‘n eienaardige sameloop van beuselagtige omstandighede wat moeiteloos anders kon wees.

Op die ou end verstaan ek dat as ons mekaar nie raakgeloop het nie, is ons kinders nie gebore nie. Verder: Hierdie waarheid geld ook elkeen van ons ouers. En dit geld húlle twee ouerpare en al ons duisende der duisende voorouerpare wie se woonplekke en werkplekke en speelplekke, soos skaakblokkies deur die groei en verval, gesondheid en siekte, oorlog en vrede van gemeenskappe, dwarsdeur die onstuimige menslike geskiedenis rondgeskuif is.

Terwyl ek na die muurfoto’s van my familie staar, dring dit tot my deur dat binne die nimmereindigende fluktuasie van historiese gebeure, die geringste verandering in die verlede my bestaan sou ophef. Daar was nie slegs ‘n lae waarskynlikheid dat ek as indiwidu gebore sou word nie, maar meer as dit: in omtrent elke opsig het ek toevallig hier beland.

Insig in die biologiese voortplantingsproses ontbloot die toeval verder. As elke voorouerpaar liefde gemaak het op enige ander oomblik, sou ‘n ander spermsel die eiersel bevrug het en sou daardie kind nooit gevorm het nie. Slegs in daardie milisekonde was elkeen van my voorsate moontlik.

En hierdie voortplantingsproses raak nie net die meer as 16 000 voorouers van die jongste veertien geslagte nie; dit strek terug oor ‘n ewolusie van miljoene jare, verby die vroeë primate, die soogdiere en die primitiewer lewensvorms waaruit ons almal stam. As daardie een voorouer, ‘n spesifieke oereekhoring, meer as dertig miljoen gelede, nie oor die gebreekte grys dennetak gespring het om met daardie besondere grootoogmaat te paar nie, was die geskiedenis ingrypend anders, is ek saam met miljoene ander nageslagte nie gebore nie, en het die heelal dus vir my nie bestaan nie.

Maar dit was nie eers nodig nie; me Rita Jansen wat koshuiskamers aan Stellenbosse eerstejaars toewys, moes destyds na oggendtee net die kaartjie met my ma se naam by ‘n ander koshuis ingedeel het! Dan het ‘n ander ou haar ontmoet, nie my pa nie.

Uiteraard sou mens kan argumenteer dat daar inderdaad bepaalde natuurkundige wetmatighede vir hierdie prosesse geld. Dit maak sin. Maar dit impliseer dan steeds: die bewuste indiwiduele lewe is slegs ‘n werktuig van hierdie prosesse. Voorts is sulke komplekse reëlmatighede ver buite die begrip van my klein indiwiduele menslike brein.

Slotsom

Om jou herkoms vas te stel, is een van die moeilikste speurtogte wat ‘n indiwidu kan aanpak. Die feit is: Al kan ek iets van my onmiddellike voorouers agterkom, verdwyn my herkoms na enkele vorige geslagte in die mis van die geskiedenis, hoe ek ook al dagdroom om meer daarvan te weet. Om tientalle, laat staan duisende, voorouers te identifiseer, is ‘n onbegonne taak.

Die vinnig groeiende wetenskap van genetika kon my gelukkig help, nie net om my herkoms uit ons almal se Afrika-oerouma van 150 000 jaar gelede vas te stel nie, maar selfs om ‘n latere oerma van 64 000 jaar gelede asook ‘n oerpa van 12 000 jaar gelede te ontdek. Albei was van Afrika af op weg om Europa te koloniseer. Die duisende ander voorouers wat my genetiese samestelling in diesélfde mate bepaal, bly egter aan my onbekend.

Die blokkiesraaisel oor my herkoms raak veral angswekkend as ek insien hoe onwillekeurig die menslike geslagte voortplant, dus sonder ‘n oorhoofse plan waarin my klein lewe verantwoord is. Ten spyte van die moontlike voorkoms van hoogs ingewikkelde wetmatighede, was en is die ontstaan van elke indiwidu onvoorspelbaar. Nie slegs ontmoetings tussen egpare nie, maar die wese van die voortplantingsproses self, hink op miljoene veranderlikes wat my bestaan hoogs onwaarskynlik, trouens bykans toevallig, maak.

Uit frustrasie kan ek my natuurlik altyd wend tot een van talle skeppingsmites, soos oor die beer Oengnyeo wat in ‘n grot in Korea in ‘n vrou verander het. Toe die godkoning Hwanoeng haar eensame smeekbede hoor en met haar paar, baar sy Dangoen, uit wie die volk van Korea spruit.

As ek egter in die harde werklikheid met logiese, eerder as met mitologiese, oë soek na waar my voorouers se voetspore lê, staan ek verstom oor die feit dat ek hoegenaamd gebore is.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Louis du Plessis

Meer oor die skrywer: Louis du Plessis

Louis du Plessis is 'n redaksielid van die Nuwerwetse Politieke Woordeboek, mederedakteur van verskeie werke oor konflikbestuur, en voormalige professor in die Fakulteit Krygskunde, Universiteit van Stellenbosch. Sy moedereenheid is 1 Valskermbataljon.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae