Waarom die begrip ‘troos’ nie moet verdwyn nie

Prof. Natie van Wyk (Foto: Verskaf)

Die ontwikkelingsideaal waaraan Solidariteit Bewegingsinstellings, waaronder Maroela Media, meewerk konsentreer onder andere op die koestering van die staatkundige, intellektuele en geestelike skatte wat opgesluit lê in die Romeinse reg, die kontinentale filosofie en die Joods-Christelike godsdiens.

Ons wil die denktradisies wat aan ons uit Rome, Athene en Jerusalem oorgelewer is, aktualiseer sodat jonk en oud ons skriftelik-oorgelewerde bronne sal leer waardeer, en daaruit sal put vir ʼn lewe in ʼn uiters komplekse en spanningsvolle land.

Ek gee aandag aan ʼn begrip wat tot enkele dekades gelede onder Afrikaanssprekendes goed bekend was, maar deesdae van die horison verdwyn het, naamlik troos. Iets soos ʼn “troosdiens” raak ʼn rariteit en word vervang met die “viering van iemand se lewe”.

Die rede hiervoor het te make met ʼn sekulêre godsdienstigheid wat nie ruimte bied vir enige eskatologiese verwagting nie. Wanneer niks, ook nie Christus, môre of oormôre meer verwag word nie, is daar geen behoefte aan “troos” nie. ʼn Kortstondige herinnering aan die vriend of naasbestaande blyk dan voldoende te wees. In beide die filosofiese en teologiese tradisies was daar belangrike bydraes oor troos wat vlugtig in herinnering geroep kan word, aangesien ʼn troostelose lewe kenmerkend is van ʼn gebrekkige lewe.

Anicius Manlius Severinus Boethius (Foto: Wikpedia)

Die Grieks-Latynse filosofiese tradisie

Ancius Manlius Severinus Boethius (477 – 524 n.C.) word in navorsing beskryf as die laaste Romeinse filosoof en die eerste skolastikus van die Middeleeue. Boethius het die filosofie van die Grieke in sy persoonlike lewe benut om sy eie lewenstragiek te hanteer; en het dit só suksesvol gedoen dat die teoloë van die vroeë-Middeleeue waardering daarvoor gehad het.

Naas hierdie suksesvolle geskrif, is Boethius se groot en waardevolle bydrae tot die filosofie sy vertalings van die Hellenistiese filosofiese erfenis in Latyn. Sonder hierdie vertalings kon die Griekse erfenis dalk vergete geraak het. Danksy Boethius se vertalings kon Aristoteles se werke die Middeleeuse skolastiese teologie verryk, maar ongelukkig ook belemmer.

Boethius is binne ʼn familieband van senatore gebore in die tyd toe die laaste Romeinse keiser, Romulus Augustulus, van sy amp onthef is en die Ostro-Gote onder leiding van Theoderik beheer oor die Suid-Europese deel van die Romeinse Ryk verkry het. Boethius het in 1510 konsul onder Theoderik geword, maar is vyftien jaar later op grond van beweerde hoogverraad deur Theoderik self tereggestel.

Boethius het bekendheid verwerf deur sy geskrif De consolatione Philosophiae (“Oor die troos van die filosofie”). Hy het hierdie boek aan die einde van sy lewe, kort voor sy teregstelling, in die tronk geskryf. In sy tronksel word hy deur Filosofie, in die visioen van ʼn mooi ouer dame, besoek (dieselfde personifikasie van die wysheid as ʼn vrou wat aan die ander filosofiese martelare, Sokrates, Anaxagoras en Seneca sou verskyn het) en getroos deur haar wysheid.

Boethius bely teenoor Filosofie sy onskuld oor die aanklag van verraad, en bevestig sy angs vir die dood. Filosofie raai hom aan om sy gedagtes eerder te rig op die werklikheid anderkant die sintuiglik-waarneembare werklikheid, aangesien hy daarin troos in ʼn troostelose situasie sal vind. Ons voorhande werklikheid word gekenmerk deur die verwisseling van geluk en voorspoed met hartseer en tragiek, en bied daarom geen basis vir ʼn troosryke lewe nie.

‘n Bladsy uit Boethius se “Oor die troos van die filosofie” (Foto: Wikipedia)

Met die hulp van Filosofie, ondersoek hy dan verder die verhouding tussen Lot en Voorsienigheid. Sy probeer hom oorreed om Lot nie te blameer vir sy verlies aan eer, mag en plesier wat hy as konsul geniet het nie, aangesien ʼn wyse mens hierdie onvolmaakte en tydelike sake nie hoog moet ag nie.

Boethius vind troos in die oortuiging dat die tragiek en die noodlot (fatum) wat mense tref nie ʼn aanduiding is van die triomf van die bose nie. Persoonlike tragiek bly altyd ingebed binne God se wil en voorsienigheid, en ontaard nie in blinde toeval nie. Wanneer mense boosheid ervaar, moet dít hulle nie weerhou van geloof in God nie. God kan die boosheid van mense tot goedheid en guns benut.

Boethius was dus oortuig dat God menslike boosheid ten goede kan laat meewerk (iewers vir iemand), en dat nie alleenlik die goeie nie, maar ook die bose die vraag en soeke na God lewendig hou. Waaraan Boethius troosryk vasgehou het, is Voorsienigheid (of dan God), aangesien Hy oor alles beskik, en Lot só ondergeskik aan Hom hou. Selfs sy onregverdige doodstraf (sy lot), kon sy verbondenheid aan die goeie God nie ongedaan maak nie.

Boethius se afskeid van sy familie deur Jean-Victor Schnetz (Foto: Wikipedia)

Boethius (alhoewel ʼn Christen) het egter die “goeie God” nie Christologies nie maar Platonies verstaan, en daarom het sy troosboek wel filosofiese waarde, maar min teologiese betekenis. Sy filosofiese insig oor troos is waardevol en nuttig, maar bied té min om bevredigend te wees. Teologiese insigte oor hierdie begrip is meer omvangryk en verbreed die denke en verbly die mens in sy negatiewe lewenservarings.

Die Reformatoriese tradisie

Die begrip troos, wat ʼn paar keer in die Bybel gebruik word (onder andere in Job 6:10; Johannes 11:19; Filippense 2:1 en 1 Tessalonisense 4:18), het ʼn paar kerkhervormers aangespoor om ook omvattend en sistematies oor hierdie begrip na te dink. Een van hulle was Zacharias Ursinus (18 Julie 1534 – 1583), die hoofouteur van die Heidelbergse Kategismus (1563). Die bekende woorde van vraag en antwoord, is uit die pen van Ursinus. Die insig om die Kategismus met die vraag na troos te begin, het ʼn lang aanloop gehad.

Die volgende brokkies historiese inligting kan help om te verduidelik. Ursinus is in Breslau, ʼn stad in die hedendaagse Pole, gebore en het dáár sy skool- en kategetiese onderrig ontvang by ʼn leerling van Philipp Melanchthon, Ambrosius Moibanus. Moibanus het in 1533 sy eie kategismus opgestel waarmee hy die katkisante bekend gemaak het met die motief van troos. Ursinus het as 15-jarige kind in Wittenberg onder Melanchthon gaan studeer. By hom het Ursinus geleer dat “ware teologie ʼn teologie van troos is”.

In September 1558 begin hy op 24-jarige ouderdom as professor diens lewer aan die Gimnasium van Breslau. Tydens sy intreerede gee hy te kenne dat hy sy aandag op kategetiese onderrig gaan toespits. Hy gebruik vir sy lesings Melanchthon se Examen Ordinandorum (1552), ʼn kategismus waaroor die teologiestudente eksamens moes doen, ten einde tot die amp van predikant toegelaat te word. In 1560 vlug hy na Zürich, en begin met doktorale studies onder ʼn Italiaanse Calvinis, Peter Martyr Vermigli. In Julie 1561 word hy as dosent in Heidelberg aangestel. Nadat hy in Heidelberg gepromoveer het, word hy in Augustus 1562 tot professor in Dogmatiek bevorder.

‘n 1563-uitgawe van die Heidelbergse Kategismus (Foto: Wikipedia)

Naas sy lesings, begin hy ook dadelik in 1562 met die skryf van twee kategismusse, (a) die Klein kategismus (Catechesis minor) vir kinders en lidmate en (b) die Groot kategismus (Catechesis maior) vir studente en geleerdes. Hierdie kategismusse sou grootliks die basis vorm vir die Heidelbergse Kategismus. Ursinus het sy beroemde vraag “wat is my enigste troos in lewe en in sterwe?”, voorlopig en ietwat anders in sy twee kategismusse beantwoord. Aangesien hierdie formulerings nie aan baie mense bekend is nie, gebruik ek hierdie geleentheid vir bekendstelling.

  • Die Klein Kategismus lui: Vraag: Wat is die troos waardeur jou hart bonsend gehou word by jou dood en tydens jou lewe? Antwoord: Dat God waarlik al my sondes, danksy Christus vergewe het, en dat Hy my die ewige lewe skenk waar ek Hom vir ewig mag loof.
  • Die Groot Kategismus lui: Vraag: Watse standhoudende troos het jy in lewe en in sterwe? Antwoord: Dat ek deur God as sy beelddraer geskape is vir die ewige lewe; en nadat ek dit vrywillig in Adam prysgegee het, het God my in oneindige en genadige barmhartigheid, in sy verbond van genade ontvang, sodat ek deur die gehoorsaamheid en dood van sy Seun in die vlees, as gelowige, nuwe geregtigheid en die ewige lewe kan ontvang. Verder het Hy sy verbond in my hart deur sy Gees verseël, met die gevolg dat ek tot die beeld van God vernuwe word, sodat ek op grond van sy Woord en die sakramente kan uitroep: “my Vader!”

Die vraag is nou, wat is so betekenisvol aan hierdie moeilik verstaanbare vrae en antwoorde van 460 jaar gelede? Volgens Ursinus moet troos inhoud hê; die inhoud van die evangelie. Die inhoud van die evangelie van Jesus Christus maak die lewe opwindend en die dood die gebeure wanneer die geskenk van ewige lofprysing ontvang word. Troos, volgens Ursinus, is ook standhoudend van aard. Die gelowige word lewenslank vernuwe tot beelddraer van God – dít wat ons veronderstel is om te wees, maar weens die sonde nie ten volle kan wees nie. Danksy die Heilige Gees en die sakramente van die doop en die nagmaal, word daar met die sekerheid geleef, dat geen stuk negatiewe lewenservaring of die dood, die liefdesband met die Drie-enige God kan beëindig nie.

Zacharias Ursinus (Foto: Wikipedia)

Naas ons persoonlike teleurstellings en hartseer, ervaar ons angs en onsekerheid in hierdie gebroke land. Die groot Duitse filosoof Martin Heidegger (1889 – 1976) het gepraat van ons “geworpenheid in die wêreld”. Daarmee het hy bedoel dat ons iewers in die wêreld, wat ons nie gekies het nie, ingegooi is. Vir ons gesitueerdheid is daar nie verklarings en verduidelikings nie, en ons moet byvoorbeeld maar net aanvaar dat ons nou, hier, in hierdie land is of daarvan afkomstig is.

Dalk kan ons iets aan ons lot doen, soos om te emigreer, maar aan die feit dat ons van hier is en van ʼn sekere kultuurgroep en familie deel is, kan niks verander nie. Wanneer hierdie besef ʼn mens tref, is troos ʼn welkome bykomstigheid wat die lewe draaglik maak. Dit is dwaas om hierdie tradisieryke begrip in onbruik te laat verval.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

De Bok ·

“Die Klein Kategismus lui: Vraag: Wat is die troos waardeur jou hart bonsend gehou word”
Ek dink hierdie tipe taal moet teruggebring word in Gereformeerde kerke. Ek mis dit soms

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.