Ware geluk in uitdagende tye

sonsopkoms_lewe-voluit_stiltetyd_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: pixabay.com)

Jaarliks word ranglyste van die lande en stede met die gelukkigste mense in die wêreld uitgereik. Aangesien persoonlike geluk nie deur vraelyste vasgestel kan word nie, kan dit in hierdie meningsopnames seker net oor mense se tevredenheid met hulle omstandighede handel.

Dat geluk in ʼn sekere mate met goeie omstandighede soos goeie behuising, vervoer, mediese dienste en pensioenfondse (Martha Nussbaum) saamhang, kan nie betwyfel word nie, maar dat mense wat onder goeie omstandighede lewe gelukkig is, is ongelukkig nie in alle gevalle waar nie.

“Westerse welvaart” verseker nie geluk nie, en “Derde Wêreldse ellende” is nie noodwendig ʼn resep vir totale ongelukkigheid nie. Dit bring ons dus by die vraag uit wat geluk is, indien daar só iets is; en wanneer mense gelukkig is?

Marcus Tullius Cicero, Romynse filosoof (Foto: Ann Ronan Picture Library / Photo12 via AFP)

Ons sou die vraag nog skerper kon vra: Is geluk (eudaimonia) ʼn tema wat aandag behoort te geniet? Streef alle mense en gemeenskappe na geluk? Op voetspoor van die Romeinse filosoof, Cicero, se Hortensius (45 v.C.), bestaan die algemene mening dat alle mense wel na geluk streef – ten spyte van die feit dat ʼn klomp mense vreugde aan ongelukkigheid het. Smartvrate en die al-ewige slagoffers van vermeende onreg, kan hulle ongelukkigheid nie prysgee nie, aangesien hulle dán hulle lewenswyse en identiteit moet prysgee. Aan hierdie groep kan daar nie hier verder aandag geskenk word nie, ons dink na oor die duister begrip “geluk”.

Geluk volgens die Westerse denktradisie

Ons het twee denktradisies oor geluk geërf waarby ons aansluiting kan vind.

Die eerste handel oor ʼn subjektiewe vasstelling van geluk. Ek self moet my eie geluk skep, word gesê. Ek self moet uitpluis wat my gelukkig maak en wat my ongelukkig maak. My geluk (“happiness”) hang nie van die gode af nie, aangesien my lewe hulle nie raak nie. Wat gelukkig maak is, volgens die Griekse Sofiste, ook nie strewes en ideale wat ek in die toekoms kan laat realiseer nie, maar die dinge wat ek nou kan geniet.

Borsbeeld van die Griekse filosoof Epikurus (Foto: Luisa Ricciarini/Leemage)

Volgens die filosoof Epikurus (341 – 270 v.C.), lê geluk opgesluit in die genot en plesier van die huidige oomblik. Die mens moet nie gepla word deur die soeke na toekomstige geluk nie. Die verlange na “hemelse geluk” moet vermy word, en só ook die vrees vir toekomstige straf. Die dood, en dít wat na die dood kan gebeur of nie kan gebeur nie, kan nie ons geluk bepaal nie. Ons moet slegs so ver moontlik lyding vermy en matig lewe, aangesien begeertes na rykdom of roem tot ongelukkigheid lei.

ʼn Pligsbesef (Immanuel Kant) is ook nie deel van hierdie denkpatroon nie, aangesien matige genot genoeg is vir ʼn gelukkige lewe. Sekerlik is daar baie mense wat só argumenteer en leef, maar met hierdie opinie kan daar moeilik vanuit ʼn Christelike perspektief saamgestem word, soos wat dit uit die verdere beredenerings sal blyk.

Die tweede denktradisie volg Plato (427 – 347 v.C.) en Aristoteles (384 – 322 v.C.). Volgens hulle is ʼn objektiewe vasstelling van geluk wel ʼn moontlikheid. Volgens hulle kan geluk gevind word in die verwerkliking van aardse doelwitte. Hierdie doelwitte is ingebed binne ʼn redelike lewenswyse. Wat redelik, wat volgens goeie menslike insig nastrewenswaardig is, is die etiese deugde van vriendskap, geregtigheid en matigheid (naas die deugde van kennis en wysheid).

Volgens hierdie tradisie is geluk geleë in die sukses van die lewe in geheel. Geluk lê dus nie in kortstondige sensasies (epikurus) nie, maar in die ideaal om ʼn deugsame mens te word wat goed met ander kan saamlewe. Volkome geluksaligheid (makarios) word ervaar deur diegene wat volhardend hiermee besig bly. Volgens hierdie tradisie is geluk dus te vinde in doelwitte; die doelwitte van vriendskap en ʼn regverdige samelewing. Hierdie verstaan van geluk is ook nie bevredigend nie. Dit is nie verkeerd nie; dit bied net té min vir ʼn omvattende verstaan van geluk.

Die Middeleeuse teologiese tradisie

Thomas van Aquinas[1] (1225 – 1274 n.C.) sluit in sy saamgestelde geskrif, De beatitudine / Aangaande die geluk (saligheid)[2], by Aristoteles aan, en deel sy mening dat die lewe een groot strewe na geluk is wat een of meer doelwitte of ideale najaag. Thomas bespreek ʼn reeks lewensideale wat deur mense nagejaag word in die soeke na geluk. Tot vandag toe vind ons dieselfde lewensdoelwitte – ook onder ons eie mense.

Thomas van Aquino, vernoem na sy geboorteplek Aquino in Italië, ook bekend onder sy Latynse naam Aquinas, was moontlik die invloedrykste filosoof en denker van die Middeleeue. (Foto: Albert Harlingue / Roger-Viollet via AFP)

Aangesien ʼn “doelgedrewe lewe” deels problematies is, word die onderskeie doelwitte krities daargestel.

  • Jy sal gelukkig wees wanneer jy het wat jy begeer. Wie egter slegte dinge begeer, sal uiteindelik nie gelukkig wees nie. Jy kan ook nie gelukkig wees solank jy nie het wat jy begeer nie, en almal wat het wat hulle begeer, is nie gelukkig nie.
  • Geluk het te make met liggaamlike genot. Die probleem is dat die genot van wellus van korte duur is.
  • Geluk lê in die skep van kuns. Kuns beeld die skepping egter slegs fragmentaries uit en oorstyg ook nie die skepping nie.
  • Rykdom en besittings maak gelukkig. Hierdie dinge word maklik verloor; óf deur verkwisting óf deur swak oordeel óf deur tragiek, daarom is dit nooit ʼn waarborg van langdurige geluk nie.
  • Mag verseker geluk. Die magtige beleef egter ʼn eensame oudag, aangesien mag vyande maak.
  • Eer, roem en aansien bring geluk. Dít is ook van korte duur aangesien die publieke oordeel vinnig verander.
  • Liggaamlike prestasies, soos sportprestasies, skep geluk. Almal weet dat dit ook relatief en van korte duur is.
  • Om goed te doen maak gelukkig. Om ander se ongeluk te gebruik om jou beter oor jouself te laat voel, is nie die fondament vir geluk nie. Liefde wat behep is met selfliefde maak nie gelukkig nie.
  • Kennis maak gelukkig. Ondermaanse kennis bly ten dele en is nie die waarborg van geluk nie. Slegs die kennis en aanskoue van God maak standhoudend gelukkig. Hierdie insig het Thomas van Aquinas by die kerkvader Augustinus oorgeneem en Augustinus se mening oor geluk en toewyding aan God word daarom van nader bekyk.

Die kerkvader Aurelius Augustinus (354 – 430 n.C.)

Augustinus se klein geskriffie De beata vita / Oor die gelukkige lewe (386/87 n.C.), bied insiggewende perspektiewe oor die tema geluk. Augustinus deel in die mening dat alle mense gelukkig wil wees, maar volgens hom kan net wyse mense gelukkig wees. Wyse mense soek nie hulle geluk in verganklike dinge nie, maar in die onverganklike, naamlik God.

Mense wat na geluk strewe, moenie hoop dat hulle sal kry wat hulle begeer nie. Hulle moet ook nie wag op ʼn groot gelukskoot in die lewe nie. Wyse mense weet dat “wie God het, gelukkig is”. Wie God het, se lewens word gekenmerk deur drie ander dinge, naamlik gehoorsaamheid aan God se gebooie, en daarom ʼn goeie lewenswyse. Derdens is hulle vry van booshede en is ook nie die heeltyd begaan oor die bose nie.

Augustinus van Hippo, belangrike filosoof en kerkvader van die vroeë Middeleeue (Foto: Godong/Leemage)

Aangesien God begeer dat mense gelukkig sal wees, wil Hy hê dat mense na Hom soek. Die soekende mense is egter nog nie gelukkig nie, aangesien hulle nog nie volgens die drie genoemde lewenswyses leef nie. Hulle lewe nog nie volgens die ideaal nie, aangesien hulle nog nie die genadige God leer ken het nie. En nou die problematiese: Wie die genadige God het, is gelukkig omdat hulle volgens die drie lewensideale leef.

Dit is op hierdie punt dat Martin Luther (1483 – 1546) by Augustinus aansluiting sou vind, maar ook van hom sou verskil. Augustinus sê korrek dat wie God het, geniet God. Dit beteken dat mense wat God ter wille van God wil ken en vereer, gelukkig kan wees. Ongelukkig argumenteer hy dat slegs mense wat goed leef, God ter wille van God sal wil leer ken. Martin Luther was ook oortuig dat ʼn verhouding met die genadige God gelukkig maak.

Jou vermeende goeie lewenswyse is egter nie die voorwaarde dat die genadige en barmhartige God Hom sal laat vind nie. Die God van die Bybel wend Hom tot ons terwyl ons nog sondaars is – en hierdie wete maak gelukkig.

Wat van die Bybel self?

In die Bergrede (Matteus 5:1–12) sê Jesus onder andere “gelukkig is die armes van gees want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele”. Algehele geluk (makarios) of saligheid of welgeluksaligheid word aan mense toegesê wat nie oor die intellektuele, geestelike of morele vereistes van engele beskik nie.

Die Bergrede, deur Carl Bloch, 1890 (Foto: Wikipedia)

Volgens Meester Eckhart (1260 – 1328 n.C.), die leermeester van die Duitse mistiek, is die “armes van gees” diegene wat “niks wil nie”, ook nie God se liefdeswil wil aanvaar nie; “niks weet nie”, ook nie dat God hom in sy liefde wil aanneem nie; “niks het nie”, ook geen ruimte in sy hart vir God het nie. So is die “armes van gees” ongelukkige mense, totdat hulle hul oopstel vir God se liefde en genade. In Psalm 1:1–2 lees ons dat dié mens wat sy vreugde in die wet van God vind ʼn gelukkige mens is. Só word bevestig wat beide Luther en Augustinus oor geluk te sê het. Genade sonder voorwaardes, maar sonder wetsgehoorsaamheid kan die begenadigde ook nie gelukkig lewe nie.

Prof. Natie van Wyk (Foto: Verskaf)

Slotgedagtes

Ons gaan nie binne die volgende paar dekades hoog op die lys kom van mense wat gelukkig in hulle eie land leef nie. Die huidige regering sal daarvoor sorg. Ons is ook mense wat gelukkig wil wees en daarom sal daar na ander gestaltes van geluk gekyk moet word.

Wat ek hier aan die hand van die teologiegeskiedenis en die Bybelse boodskap aangebied het, mag almal dalk nie aanstaan nie. Die vraag is dan, wat anders kan van ons gelukkige mense maak? Omdat ons nie durf toelaat dat ʼn inkompetente en korrupte regering ons geluk bepaal nie, hoor ons graag van ander moontlikhede.

[1] Soms word daar na hom verwys as Thomas Aquinas en ander kere weer as Aquinas of net as Thomas.

[2] Hierdie geskrif is saamgestel uit verskillende paragrawe uit sy hoofwerk, Summa Theologiae, ook bekend as Summa Theologica  / Die samevattende leerboek van die teologie. Die werk beslaan 61 volumes, wat tussen 1259 en 1268 geskryf is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Natie van Wyk

Prof. Natie van Wyk is navorsingsgenoot van die Departement Historiese en Sistematiese Teologie, Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van Pretoria.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fluisterwind ·

Eersten wil ek net noem dat om arm van gees te wees beteken; om nie vol van jouself te wees of anders gestel ‘n meerderwaardigheid sin te hê nie. Dan wil ek ook net noem dat Prediker 7: 10 sê God: “Moenie sê nie: Hoekom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie.” Ware geluk is om deur God uitverkore/begenadig en wedergebore te wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.