Wat is my rigsnoer vir besluitneming?

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Die korrupsiegogga het omtrent in Suid-Afrika aangeteel. Wanneer iets soos korrupsie die afmetings aanneem soos wat ons in Suid-Afrika sien, is dit nie iets wat bloot net meer bestuur kan word nie. Dit is endemies van die ANC en kaderontplooiing is ’n aspek wat gewis ondersoek sal moet word.

Kaderontplooiing is vir die ANC belangrik omdat dit ’n sekere aantal individue knus en versorg naby die vuur hou. Die res van die land is uitgelewer aan hierdie groep se plundering van hulpbronne. Die stemvee word telkens met leë beloftes oortuig om maar weer vir die ANC te stem, maar ironies genoeg is dit juis hierdie mense wat byna elke dag begin met betogings teen swak dienslewering en stakings om hul ontevredenheid oor ’n verskeidenheid van regeringskwessies weer te gee. Tog gaan hulle voort om vir die party te stem wat die oorsaak daarvan is.

Verbind mense hulle tot ’n struktuur ongeag die struktuur se doen en late, of verbind hulle tot waardes, beginsels en die etos wat die struktuur aanhang? Laasgenoemde is uiteraard wat dit behoort te wees.

Hierdie vraag geld nie net vir die ANC en hul kaders nie. Elkeen van ons behoort die strukture waaraan ons behoort, deurlopend aan die waardes en beginsels wat dit voorhou te toets en seker te maak dat die beginsels steeds toegepas word. In enige organisasie van formaat lê die laaste sê in die hande van die lede. Dit is hulle wat op die kongresse die etos, karakter, waardes en beginsels bepaal. Indien die bestuur wegbeweeg van dit wat die lede van hul leiers verlang, behoort daar meganismes in die Grondwet of program van beginsels ingebou te wees om te verseker dat die belyning op koers bly en daar nie afgewyk word van dit waarvoor die organisasie staan nie.

Hierdie beginsel behoort van toepassing te wees op alle strukture waarby ons betrokke is. Van die skaakklub, die kultuurvereniging, die kerk, landbouorganisasie of belange-organisasie in watter veld daar ook al gewerk word.

Dit is daarom belangrik dat persone wat by strukture betrokke is, hulself volledig moet vergewis van die begrondingsdokumente waarvolgens daar gehandel moet word. Maar dit is selfs meer belangrik om seker te maak dat daar wel in die praktyk daarvolgens gehandel word.

Die Christen se rigsnoer word verkry vanuit die Woord van God – die Bybel. Elke belydende Christen behoort in die strukture waarby hulle betrokke is, te vra of ons wel ons rigsnoer kry daar waar ons weet dit ewigheidswaarde het.

Om prakties te raak, kan ons as TLU SA-lede ook hand in eie boesem steek. Die begrondingsdokumente, naamlik ons Grondwet en die Manifes, verklaar onbeskaamd ons geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy woord, die Bybel. Wanneer dit net by die verklaar daarvan kom en dit word nie in die praktyk toegepas nie, kan daar maklik gesê word dat dit eintlik net hol woorde is, met geen bedoeling nie.

Ons onderlinge verhoudinge is maar een manier hoe ons kan wys dat dit wat ons bely, werklik is hoe ons leef. Gun ons ander rolspelers ook ’n opinie, of is dit makliker om hulle te verguis of agteraf in die rug te steek?

Dit is inderdaad die eerbare weg om jou eie persoonlike beginsels en waardes te toets teen die strukture waarby jy betrokke is. Indien die strukture bots met jou beginsels en waardes moet jy besef dat dit nie jou tuiste is nie en soek na ’n plek waar jy inpas en tuis voel.

Ons sien vandag veral in die landbou-omgewing al hoe meer die noodsaaklikheid om op mekaar aangewese te wees. Hier dink ons veral aan ’n aspek soos veiligheid. Geen plaasaanvaller of terroris kom klop aan die deur en vra eers aan watter organisasie jy behoort nie.  Wanneer dit gaan oor iets soos veiligheid, behoort die rede vir inbinding in ’n gemeenskap primêr die beveiliging en beskerming van menselewens te wees. Dit sluit alle menselewens in. Daarmee saam ook die voorkoming en bekamping van alle ander landelike misdaad.

Daar sal altyd verskillende beskouinge wees wanneer dit gaan oor die verhouding met die regering van die dag, hoe skakeling moet plaasvind, en in hoe ’n mate en met watter benadering regeringsbeleid hanteer moet word – veral as dit ooglopend tot nadeel van landbou strek – en juis daarom sal daar altyd verskillende organisasies met verskillende sienings wees.

Ongelukkig word daar so gereeld vir die pawiljoen gespeel en nie vir ’n beginselgedrewe uitkoms nie. Die dilemma is dat eersgenoemde benadering gebaseer is op emosie, terwyl laasgenoemde gebou word rondom beginsels. Wat werklik saak maak is om te bou volgens beginsels, want sodra daar toegegee word op slegs 1% van ’n beginsel is dit nie meer ’n beginselgesprek nie, maar sal daar in die toekoms net gedebatteer word oor persentasies.

Mag ons in al ons bouwerk (juis in onseker tye) fokus om dit te doen rondom beginsels. Dit bring respek en selftrots en dit word gedoen tot eer van Hom aan wie alle erkenning moet toekom.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae