Watter Afrikaans?

hans-du-plessis-02

Hans du Plessis in sy studeerkamer. (Foto: Nardus Nel)

As daar nou een vraag is wat die hele debat oor Afrikaans vervlak, is dit die sinlose vraag oor watter Afrikaans nou eintlik Afrikaans is? Afrikaans is Afrikaans, en Afrikaans is die somtotaal van die taal se dialektiese moontlikhede. Nie een van die variëteite is belangriker as enige van die ander nie – ook nie die sogenaamde standaardvorm van Afrikaans nie. Dit is slegs die doel waarvoor ʼn bepaalde dialek of variëteit gebruik word of die plek waar dit gebruik word wat die waarde daarvan op ʼn gegewe tyd of plek bepaal.

Histories gesien ontwikkel moderne Afrikaans en al haar gebruiksmoontlikhede uit drie vroeë variëteite of dialekte wat al sedert die sewentiende eeu gebruik word. Hierdie drie vroeë vorme van Afrikaans word vroeg in die 1980’s taalkundig onderskei en akademies deeglik gemotiveer. Vandag kan ons na hierdie drie variëteite verwys as Afrikhoi (Gariep- of Oranjerivierafrikaans), Afrikaaps (Kaapse of Slaweafrikaans) en Afrivaal (Transvaalse of Oosgrensafrikaans). Soos in enige lewende taal is dit nie net die historiese dialekte wat in die hedendaagse taal voortleef nie, want elke historiese variëteit is voortdurend aan die ontwikkel en ʼn verskeidenheid subvariëteite ontstaan.

Sodanige subvariëteite is nie almal noodwendig streeksdialekte nie, maar kan ook die gevolg wees van faktore, soos sosiale klas, werksomgewing, ouderdomsgroep, voorstad, en baie meer. Op grond hiervan is dit ʼn sinlose vraag om, byvoorbeeld te vra watter Afrikaans is die beste, oudste, geskikste of wat ook al.

Daarom is Standaardafrikaans nie ʼn aanduiding van die beste of geskikste Afrikaans nie, want as jy en jou vriende Vrydagaand ʼn worsie in die diep Bosveld braai, is Standaardafrikaans ongeskik vir ʼn gewaagde grappie, net soos wat Braaivleisafrikaans ongeskik is vir ʼn akademiese lesing oor die kernfisika.

Nie een van die drie historiese dialekte is vandag Standaardafrikaans nie en daarom is die beweging om hedendaagse Standaardafrikaans te “vervang” met ʼn “ander” variëteit, ʼn onnatuurlike oproep omdat die ontwikkeling of dan transformasie van ʼn standaardtaal ʼn spontane ontwikkeling behoort te wees.

Bestudeer ʼn mens die verskillende uitgawes van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) sedert die eerste AWS van 1917, is dit duidelik dat een van die redes vir die teenstand teen moderne Standaardafrikaans juis gesoek kan word in die aanvanklike nie-spontane vernederlandsing van die Afrikaanse spelling en die opdring van veral die noordelike variëteit van Afrikaans as standaard en as sogenaamde beskaafde Afrikaans. Die gevaar is nou dat ʼn bepaalde variëteit weer as standaard op die gebruikers van Afrikaans afgedwing word.

Natuurlik sal ʼn mens wat voorgaande argument voer, maklik daarvan verdink kan word dat hy of sy teen die transformasie van Afrikaans gekant is. Transformasie is egter onontbeerlik vir die ontwikkeling van enige taal. Meer nog, transformasie is wat my betref ʼn voorvereiste vir die voortbestaan daarvan; ʼn bewys daarvan dat die betrokke taal lewe. Dat Standaardafrikaans daarom getransformeer moet word, is dus vir my ʼn gegewe. Die geldige vraag is daarom hoe moet Afrikaans, spesifiek die formele en geskrewe variëteit daarvan, aanpas by ander veranderinge, onder andere sosio-politieke verandering?

Myns insiens lê die antwoord eerstens in die aard van die transformasie: ʼn taal transformeer, dit moenie getransformeer wórd nie! ʼn Lewende taal transformeer spontaan van binne. Een van die probleme met die nie-spontane transformasie van Afrikaans in die verlede was juis die politieke ideologie wat spontane ontwikkeling van formele, veral die geskrewe vorm daarvan, gekniehalter het en die opname van dialektiese variante beperk het. Dit hou direk verband met die samestelling van die liggaam wat oor die opname van, byvoorbeeld woorde as standaard moet besluit. Dit moet so ver moontlik kundiges uit so veel moontlik variëteite insluit. Kyk ʼn mens na die aanvanklike samestelling van die Taalkommissie wat die Afrikaanse woordelys en spelreëls saamstel, is dit duidelik dat dit nie so was nie.

Een van die gevolge hiervan is dat daar tans betoog kan word ten gunste van ʼn transformasie van Standaardafrikaans. ʼn Aandrang wat ʼn mens in die lig van die politieke verlede kan verstaan, maar die gevaar van nie-spontane verandering inhou. Sodanige gedwonge transformasie van Standaardafrikaans is daarin geleë dat die stille transformasie sedert die laaste twee dekades van die vorige eeu nie ten volle in berekening gebring word nie. Sedert die beginjare tagtig van die vorige eeu het taalkundiges al hoe meer begin wys op die onhoudbaarheid van die polities gedrewe skeiding van die natuurlike Afrikaanse moedertaalgemeenskap en die invloed daarvan op ons siening van die verlede en die toekoms van Afrikaans.

ʼn Vroeëre herbesinning oor wat Afrikaans nou eintlik is, word byvoorbeeld duideliker in die demografiese samestelling van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie ná 1990 en dit kan ook afgelei word uit die toenemende opname van variëteitsvorme in die AWS.

Die argument is nie dat Standaardafrikaans naastenby voldoende getransformeer het nie, maar dat onsinnige vrae soos watter Afrikaans of wie se Afrikaans die taaldebat nêrens bring nie. Die ondeurdagte verplasing van Standaardafrikaans deur  ʼn spesifieke variëteit om redes wat met die taal self niks te make het nie, is bloot om die sondes van die vadere te herhaal. Standaardafrikaans moet die emosie van die hele spraakmakende Afrikaanse taalgemeenskap weerspieël en die gebruik daarvan in die praktyk aanmoedig, want Afrikaans behoort aan almal wat dit praat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ou Baardbek ·

Goeiedag geagte mnr. Hans du Plessis, en ander lesers.
Die debat oor Afrikaans is inderdaad kompleks, en sal nie en kan nie hier finaliseer word nie. Die bedoeling van hierdie kommentaar is dan ook nie so bedoel nie.
Nogtans is daar ‘n aantal aspekte wat krap! In die “ou skool” het ons geleer dat daar sekere sogenaamde “leenwoorde” bestaan, en dit is breedweg so aanvaar, omdat geglo is dat Afrikaans nog relatief nuut is, en nog besig is om uit te brei, en by wyse van spreke te “suiwer”.
Deesdae is daar egter allerlei woorde wat eenvoudig vanuit “ander” tale, let wel, nie ander dialekte nie, in Afrikaans opgeneem word, skynbaar sonder slag of stoot?? Dink byvoorbeeld aan woorde soos “sibbe” (??!!), “koel”, “wow”, en ‘n verdere ellelange lys. Is daar sowaar geen ander en beter beskrywende woord vir “sibbe”, in egte eie en oorspronklike Afrikaans nie??
Moet ons sowaar eenvoudig die “Ingilse” uitdrukking “cool” verafrikaans en gebruik om uitdrukking te gee aan ‘n gevoel of emosie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.