Wie gaan Angela Merkel opvolg?

Angela Merkel. (AP Photo/Czarek Sokolowski)

Die bewind van Angela Merkel (sy regeer sedert 2005 met wisselende koalisievennote) is nou in sy laaste fase. Sy het tans nog minder as twee jaar tot die einde van haar termyn en die volgende verkiesing in 2021, maar die kanse het verhoog dat die koalisie van haar Christen-Demokrate (CDU) met die Sosiaal-Demokrate (SPD) voortydig beëindig word.

Die verhouding tussen die twee partye was nooit baie hartlik nie, maar sedert die SPD aanhou val in die meningspeilings, glo talle van hul lede dat die heil en hernuwing van die party in ’n verdere swaai na links en in ’n opposisierol lê. Die probleem daarby is dat daar reeds twee uitgesproke linkse partye, die Groenes en die Linkses, in die parlement sit. Onlangs het die SPD na ’n uitgerekte proses ’n nuwe leierskap-duo gekies wat tot die linkervleuel behoort en krities oor die voortsetting van die koalisie is. Hulle het wel volgehou dat hulle vir nou sal voortgaan, maar dat die eise sal toeneem.

Al sou die koalisie beëindig word, beteken dit egter nog nie dadelik herverkiesings nie. Merkel kan ’n nuwe koalisie saamstel, byvoorbeeld met die Groenes en die liberale Vrye Demokratiese Party (FDP), of – dalk meer waarskynlik – as minderheidsregering aanhou regeer. Die begroting is reeds goedgekeur, dus is die belangrikste regeringsbesluit geneem. Alhoewel omtrent almal, binne en buite die CDU, nou al moeg is vir Merkel en haar onopwindende, en selfs skadelike regeringstyl, moet Duitsland nog ’n ruk met haar opgeskeep sit, want sy het laat blyk dat sy haar termyn gaan voltooi.

Angela Merkel. Foto: (Daniel Leal-Olivas/Pool Photo via AP)

Merkel gaan definitief nie meer staan as kandidaat vir die kanselierspos nie. Die vraag oor haar opvolger, is egter by die onlangse partykongres van die CDU eers op die lange baan geskuif om nie weer binnegevegte aan te moedig nie. Die tradisie is eintlik dat die leier van die party ook die kandidaat vir die kanselierspos is. Die leier van die CDU is Annegret Kramp-Karrenbauer (weens haar omslagtige naam dikwels afgekort as AKK), maar Kramp-Karrenbauer het sedert haar verkiesing as leier (sy was Merkel se keuse) maar min mense begeester, het geen goeie mediaprofiel of charisma nie (en is ook nie juis fotogenies nie, nes Merkel), en staan ook nie werklik vir ’n ander beleid nie. Ook sy word tot die linkervleuel binne die CDU gereken.

Die man wat veral die konserwatiewe en ekonomiese vleuel van die CDU opgewonde maak, is Friedrich Merz, wat ook ’n gereelde kritikus van Merkel is en vir ’n ander rigting staan en meer welsprekend en dinamies as Kramp-Karrenbauer of Merkel is. Hy het as buiteperd die wedstryd vir die party leierskap naelskraap teen Kramp-Karrenbauer in Desember 2018 verloor, maar hy bly op grondvlak gewild. Maar hy het ’n moontlike kans deur sy vingers laat glip toe hy by die onlangse partykongres nie die vraag oor die kanselierskandidaat op die spits gedryf het nie en pleks daarvan sy lojaliteit aan die leier toegesê het en suinig met sy kritiek was.

Annegret Kramp-Karrenbauer. Foto: (AP Photo/Rahmat Gul)

Ook die jeugvleuel se voorstel om die kanselierskandidaat deur die lede te laat kies (waar Merz ’n beter kans staan as Kramp-Karrenbauer) is afgestem. Dit lyk asof Merz sy momentum verloor het nadat hy sowat ’n jaar gelede amper as CDU-leier verkies is. Hy moet egter nie onderskat word nie en kan die gefrustreerde regtervleuel weer mobiliseer, iets wat Kramp-Karrenbauer nie kan doen nie.

Ursula von der Leyen, eertydse minister van verdediging, ’n posisie wat Kramp-Karrenbauer nou beklee, is vir ’n ruk beskou as Merkel se mees waarskynlike opvolger, maar sy is nou president van die Europese Kommissie.

Dan is daar nog Armin Laschet, premier van die belangrikste en mees bevolkte Bundesland Nordrhein-Westfalen, ook ’n Merkel-lojalis en behorend tot die linkervleuel van die CDU.

Hy het heelwat bekendheid verwerf omdat hy ná baie jare van Sosiaal-demokratiese wanbestuur sy provinsie nou weer in rustiger vaarwaters stuur en pragmaties regeer. In ’n onlangse peiling was hy selfs nog meer gewild by die kiesers as Merz as moontlike kanselier en hy is, anders as Merz, deel van die binnekring. Hy staan egter net so min soos Kramp-Karrenbauer vir ’n nuwe begin.

Markus Söder. Foto: (AP Photo/Jens Meyer)

’n Buiteperd wat egter glad nie onderskat moet word nie, is Markus Söder. Hy is tans premier van die belangrike Bundesland Baier, is welsprekend en dinamies en ook nog betreklik jonk en relatief onverbruik. Hy het ook genoeg afstand teenoor Merkel gehou, sonder om dislojaal te wees. Hy behoort wel nie tot die CDU nie, maar tot die Baierse sustersparty CSU, maar daar was al kanselierskandidate van die CSU in die verlede. Hy was tradisioneel uitgesproke en aan die regterkant van die party en by tye ’n sterk kritikus van die immigrasiebeleid, maar het ook geleer dat opportunisme in die politiek nodig is om te oorleef. Hy probeer deesdae die Groenparty verbysteek as dit kom by klimaatbeskerming en waarskuwings teen ’n regse gevaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Die hele spul is ‘n klomp linksgesinde liberaliste wie die NWO propageer, met Merkel aan die voortou.

George in Bloem. ·

Merkel…….die grootste ramp en/of skande,naas Hitler,om Duitsland ooit te tref.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.