Wie’s jou pa: Fyntrap, DNS-troefkaart verklap verneukers

genetika-navorsing

Navorsing oor die Afrikaner het getoon dat daar min buite-eglike kinders was. Foto: Healthresearchsolutions.com

Jaco M Greeff

Afrikaners hou daarvan om hul familie uit te lê. Maar hoeveel waarheid steek daarin? Twee broers het presies dieselfde ouers, maar verskil tog wesenlik van mekaar?

Dit is natuurlik omdat die DNS-kombinasies wat jy van jou ma af kry nie noodwendig dieselfde is as dié wat jou broer of suster by jou ma gekry het nie. Byvoorbeeld, jy en jou broer het albei ’n geen vir oogkleur van jou ma gekry, maar jou broer het dalk een vir blou oë gekry terwyl jy een vir bruin oë gekry het. Of anders gesê, jou broer het dalk een van jou ma se ma se geenvariante gekry terwyl jy een van jou ma se pa se geenvariante gekry het.

So is daar letterlik duisende gene wat van ouer na kind oorgedra word. ’n Mens kan dit soos ʼn pak speelkaarte voorstel. Daar is ewe veel swart en rooi kaarte, maar as agt aan jou uitgedeel word, is die kanse goed dat jy nie ewe veel rooi en swart kaarte gaan kry nie. Jy sal ook nie noodwendig twee diamante, twee klawers, twee harte en twee skoppens ontvang nie. As jy dus ’n direkte afstammeling van Piet Retief is, beteken dit dus dat jy nie noodwendig baie van sy gene geërf het nie.

Twee stukkies DNS wat egter nie elke geslag soos ʼn pak kaarte geskommel word nie, is die grootste deel van mans se Y-chromosoom en die DNS in ons mitochondria. Die ongeskommelde deel van die Y-chromosoom word net soos vanne onveranderd van pa na seun oorgedra. As jy dus afstam van Piet Retief in ʼn lyn van mans behoort jou van Retief te wees en sal jy presies dieselfde Y-chromosoom as hy hê. Daar sal wel ʼn paar plekkies wees waar julle Y-chromosome sal verskil as gevolg van mutasies (klein veranderings in die DNS wat opbou met verloop van tyd), amper soos speelkaarte wat mettertyd gebuig of geskeur kan word. Dis hierdie merke of mutasies wat elke pak kaarte uniek maak.

Die DNS in mitochondria is die vroue-eweknie van die Y-chromosoom. Dit word onveranderd langs vrouelyne oorgedra sodat dit vir jou presies kan sê wie jou ma se ma … se ma was. Ek het byvoorbeeld ’n W-tipe wat oorspronklik deur Anne Souchay die land in gebring is. Ander mense wie s’n nou met myne ooreenstem, stam waarskynlik ook van haar af deur ʼn lang lyn vroue.

Ons kan dus hierdie twee stukke DNS gebruik om baie spesifieke vrae oor ons voorouers te beantwoord. Met behulp van ’n span genealoë kon ek en my doktorale student, Christoff Erasmus, 199 mans eien wat van 23 immigrante afgestam het, met suiwer manslyne. Gesamentlik het die pa’s 1 273 seuns oor die afgelope 330 jaar gehad om hierdie 199 mans te verwek het. Ek en Christoff het toe na die Y-chromosoom-DNS-variasie gekyk en in slegs 11 gevalle het mans nie hul van se tipiese Y-chromosoom gehad nie.

Dit beteken dat in 1 262 van die 1 273 geboortes die ma getrou was aan die pa en hom nie met ’n ander man se kind opgesaal het nie. Dit wil sê Afrikaanse mans is in daardie tydperk in minder as 1% van gevalle verneuk. Dit is baie min en beteken dat Afrikaners darem hul genealogiese herkoms kan glo. Dit is natuurlik so dat vroue (en mans), veral in vandag se tyd, meer gereeld kan rondslaap as wat hierdie getal voorstel, maar oor die afgelope 300 jaar het dit selde tot ’n kind gelei.

Dit is interessant om te dink dat die grootste deel van ons studie vaderskappe getoets het van voor die tyd van voorbehoedmiddels en selfs kennis oor die vrouegeslagsiklus. Hoe kan hierdie syfer so laag wees? Een moontlike antwoord is dat mense maar baie onvrugbaar is en ’n paar keer se oor die tou trap baie selde tot ʼn kind sal lei. Hou in gedagte dat ’n gemiddelde vrugbare paartjie wat probeer swanger raak vier menstruele siklusse neem om uiteindelik swanger te raak. Alternatiewelik was ons voorsate net baie kuis gewees, dalk danksy die Bybel se uitdruklike verbod op egbreuk.

Een ding is egter duidelik: Al is mans baie selde verneuk, is dit oor baie generasies heen heel waarskynlik heeltemal genoeg om te verduidelik waarom mans dikwels so agterdogtig is oor vroulief se doen en late.

  • Jaco M Greeff is ‘n professor in die departement van genetika aan die Universiteit van Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Lili Rossouw (Klein) ·

Mooi so, Jaco! :-D Ek is nogal beindruk van SA se dames. Wat wys die ander statistiek – is mans netso getrou?

Jy het ‘n baie oulike skryfstyl, prof! Sal ons meer van jou oor genetika hoor?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.