Woorde wat kwel

Argieffoto

Steve Biko skryf in sy boek, I write what I like, soos volg: “The most potent weapon in the hands of the oppressor is the mind of the oppressed.”

Wat is die rol wat die gebruik van sekere woorde op ander het?

Dié vraag word nou weer indringend gevra nadat dit geblyk het die moordenaars van ’n jong paartjie, wat net ’n selfoon in die proses gesteel het, het die woord mlungu/umlungu (meervoud) uitgeroep het tydens die aanval.

Het hulle die Xhosa-/Zoeloewoord gebruik om bloot na wit mense te verwys, of is hulle as “wit skuim” uitgeskel?

Uit die konteks is dit taamlik duidelik dat iets soos “wit skuim” bedoel is, en dat rassisme in dié geval onderliggend was. Daar is bedoeling in woorde, ongeag of die woorde oorspronklik beledigend bedoel was of nie.

Die k-woord wat soveel ontsteltenis veroorsaak, het oorspronklik nie ’n beledigende betekenis gehad nie, maar dit is algemene kennis dat swart mense wêreldwyd dit so ervaar. Hoekom dit gebeur het – of wit mense dit aanvanklik as skelwoord begin inspan het, of swart mense dit eerste as sodanig begin ervaar het – is moeilik om te bepaal. Een teorie is dat die k-woord baie klink soos nkafine, die Zoeloewoord wat “lafaard” sou beteken. Volgens die Wêreldspektrum se agttalige woordeboek vertaal “lafaard” nie in een van Suid-Afrika se agt belangrikste tale as dié woord, of enige soortgelyke woord nie. Ook die woord “heiden,” waarvan die k-woord glo afgelei is, werp geen lig in die agt tale nie.

Alvorens na die meer waarskynlike verklarings gekyk word oor waarom mlungu/umlungu skelnaam-betekenisse gekry het, word op ’n ooglopende teenstelling gewys. Mlungu/umlungu word in Sesotho en Tswana vertaal met lekgowa of makgowa. Princess Magopane en Lindokuhle Mdabe skryf in die Daily Maverick die volgende: “It has become common for middle-class black people to be addressed or referred to as lekgowa or makgowa (a term used in Setswana and Sesotho to denote a white person/people). This labelling is often done by people who are not middle class, so for example, while at a petrol station, an attendant will address you as lekgowa (white person); at an intersection, someone will come humbly to your window to ask you for some food or a donation – if you give him the time of day, he will thank you as lekgowa laka; your domestic worker, will refer to you as madam or lekgowa laka to those she confides in.”

Volgens hierdie skrywer se vrou, Joan, wat van kindsbeen af vlot in Sesotho is en dit ook tot op vierdejaarsvlak aan die destydse BOK geneem het, is die Sotho-woorde lekgowa ofmakgowa se betekenis dieselfde as mlungu/umlungu, beide in gewone en aangepasde betekenis, dit wil sê as skeldnaam en wat as”wit skuim” vertaal kan word. Sy was onbewus daarvan dat die woorde nou ook as term vir middelklas swart mense bedoel word. Sy was wel bewus daarvan dat swart mense wat “witmense se gewoontes” aangeleer het, so uitgeskel sou word, soos wanneer ’n swart huiseienaar ander swart mense wat op sy sypaadjie rommel strooi, daaroor sou aanspreek, dan terug geantwoord sou word dat hy nie sy “witmensmaniere” op hulle moet kom

uithaal nie. Spesifiek hierdie woorde word dan gebruik.

Die term, wit skuim, het klaarblyklik ook onskuldig ontwikkel. Vroeër jare het heelwat skepe aan die kus van Pondoland (’n Xhosastam) uitgespoel, en die oorlewendes is met die plaaslike bevolking geassimileer. Die wit skuim het bloot na die skuim van die branders verwys.

Met die ontstaan van Fanagalo, hoofsaaklik as myntaal, en die baie Xhosas wat op die myne gaan werk het, is mlungu/umlungu ook in Fanagolo opgeneem. Die betekenis was aanvanklik ook bloot “wit persoon/wit mense”, maar het later ook die woord geword waarmee na “the boss” verwys is. Met bestuurs- en rasseverhoudinge wat nie altyd na wense was nie, het dit gou ook ’n negatiewe betekenis gekry. Via Fanagolo het dit gou na ander tale versprei, ook na tale van buite Suid-Afrika.

Dit is interessant dat die moordenaars van die paartjie hierbo verwys, volgens berigte moontlik Zama-Zamas is. Dit is heel moontlik dat hulle, of van hulle, dus in ’n stadium mynwerkers was, en die woord via Fanagalo opgetel het. Hoewel die myne Fanagalo met Engels vervang het, dui verskeie berigte daarop dat Fanagalo nie as gebruikstaal verdwyn het nie, en danksy die baie buitelanders selfs floreer. Dit het byvoorbeeld ’n handelstaal in die KwaZulu Natal se middellande geword.

Hoe dit ook al sy, die kanse bly goed dat die moordenaars bedoel het om die woorde as haatspraak te gebruik.

Uit heelwat inskrywings op die internet blyk dit dat baie witmense wat die woorde ken, dit outomaties as haatspraak teen hulle ervaar, ook in gevalle waar dit klaarblyklik onskuldig bedoel is. ’n Vrou, wat gehoor het hoe die personeel van ’n restaurant voor die voet so na wit kliënte verwys het, wou byvoorbaat verontwaardig weet hoe dié personeel nog die vermetelheid kan hê om fooitjies te verwag.

As in gedagte gehou word dat mlungu/umlungu en lekgowa/makgowa wél dikwels as beledigend gebruik word, en sommige wit mense dit nét as beledigend ken, beteken dit om die gebruik as bydraer tot rassespanning uit te skakel, daar heelwat voorligting gedoen moet word. Dit is ’n tweesnydende swaard. Die woorde, Kill the Boer, kill the farmer, is vanuit die staanspoor deur wit mense as rassistiese haatspraak beskou. Eers op appèl het die Menseregtekommissie toegegee dat dit inderdaad haatspraak is. Van die ANC se kant is die wêreldbeker-sokkerstadion in Polokwane na die hoofdrywer, Peter Mokaba, vernoem. Heelwat meer wedersydse sensitiwiteitsopvoeding is nodig.

  • Hierdie meningstuk het in die jongste uitgawe van die Afrikanerbond se nuusbrief verskyn.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gert ·

Mense is deesdae te liggeraak. Dis logies dat “Kill the Boer” haatspraak is, en onaanvaarbaar, maar ‘n naam vir ‘n groep is net dit. Daar was al baie pogings om die woord Boer te verander in ‘n skeldnaam, maar dit werk nie omdat die Boere nie skaam is vir hulle eie groep nie. Aan die ander kant is sekere groepe se benamings oor die jare al baie kere verander, elke keer word die nuwe naam weer ervaar as ‘n skeldnaam.

Hans Richardt ·

Die spesifieke probleem met kwetsende woorde, is dit oorgaan in aksie. Voor 1994 het SA lae intensiteit burgeroorlog gehad, wat na 1994 mooi term van geweldsmisdaad gekry het.
Ons almal onthou Peter Mokhaba wat “kill the boer, kill the farmer” in haatspraak verander het, want haatspraak het haatmisdaad geword.
Ek wonder net hoekom die “k” in die Koran nie haatspraak is nie?

John ·

… verwys ‘te liggeraak’ na ‘n ligte steekwondjie op die voorvinger of na wanneer iemand darem die dood vrygespring het na ‘n wond naby aan die hart? Niks ontpring sommer net gister nie. Dit het meestal ‘n lang aanloop. Gister het ek verwys na die woord ‘albino’ en die ou gebruik van die woord, maar Maroela skrik hulle toe dood. Lees gerus meer daaroor tov van Afrika se siening dat wit mense meestal eintlik swartes is wat op slinkse wyse hulle met pomades en truuks ligter maak en dan meerwaardig domineer. Rassisme hou daarmee verband. Kyk na foto’s van diesulkes en lees oor die geloof dat albino’s/wittes altyd hul swart naaste probeer indoen… vandaar ook die uitmoor van sulke genetiese afwykings.

Jerry ·

Mlungu en soortgelyke haatspraak woorde is maar net die oortjie van die seekoei in die haatspraak arsenaal van die haatdraendes. Wat dit beduidend relevant maak as haatspraak is die feit dat die woord en ander soortgelyke woorde gebruik word wanneer mense vermoor word. Die oorsprong vir haat wat aan die woorde gekoppel word kom van beleid wat die ANC in 1960 reeds aanvaar het synde,”in order to break the spirit of the oppressor” en natuurlik die hele seekoei van dirty tricks, idees en woorde wat daarmee gepaard gaan. Sosiale media platforms is ongelukkig nie in n posisie om die seekoei te plaas nie, want dit kan ek julle verseker, is geensins goeie nuus vir gewone mense nie! Daarom is dit n kwessie van “you dont know, what you dont know” omrede die mees ontstellende redes en oorsprong vir die moorde word doelbewus van gewone mense weerhou. Tot tyd en wyl daar nie bereidwilligheid bestaan om kennis aangaande die idees en psige van die haatdraendes wie “i write what i want” te ontleed en met gewone mense te deel, vir solank sal moorde voortduur wat nie sin maak vir gewone mense nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.