Chris Chameleon: Die uitgekontrakteerde liefde

Argieffoto (Foto: Skitterphoto, Pixabay)

Ek sien hom dikwels in die straat. Hy werk vir die vrou daar op die hoek. Hy is een van daardie mense wat, wanneer hy glimlag, ʼn rits krimisliggies in die eter om hom vir ʼn oomblik laat aanflikker. Dis die soort gees wat slegs kan straal uit diegene wat die liefde ken, wat liefde in hulle verhoudings het, maar ook ʼn verhouding het met die liefde self.

Hy doen die soort werk vir die buurvrou wat ek vir myself doen: tuinmaak, huishou, algemene instandhouding.

Verlede week het ek die houtrame van my vensters vernis. Met die son- en reënseisoen op ons, moet ʼn mens maar seker maak die hout word afgeskuur, ʼn eerste laag moet ʼn terpentynverdunde vernis kry en daarna ʼn tweede en selfs derde laag om seker te maak die vensters werk goed en lyk mooi. Die raamwerk van die portaal het my drie ure geneem, ʼn goeie vyfde van die totale werk. Ek hou my goed besig terwyl ek dit doen – sing, dink en baai in die waardering van die goeie lewe wat ek lei.

Maar die wolke pak met elke verbygaande dag sterker saam en ek besef ek het te laat begin, die groot reëns kom.

Ek vra hom toe of hy vir ʼn dag sal inkom en help met die afskuur en die eerste laag. Dit sal ʼn volle dag se werk verg. Ons spreek af en ek kry die tyd vir ʼn ander afspraak.

Ná die afspraak, kom ek terug huis toe. Ek kom die huis binne en hy is al besig met die laaste houtdeure by die kombuisstoep. Die eerste kyk wat hy my gee is nie die krismisliggiekyk nie. Daar is ʼn skaduweetjie. Niks boos nie, maar nie heeltemal lekker nie. Ek gaan uit, kyk na die werk, dit lyk goed. Ek stap om om na waar hy met die laaste deel van die kombuisdeur besig is en daar sien ek die rede vir die ongemak: hy het seker maar meegevoer geraak en vergeet van die ‘skuur altyd saam met die grein’ instruksie. Ai.

Dis nie die einde van die wêreld nie, maar dit gaan my pla. Ek sal dit dalk met die volgende seisoen se afskuur kan regmaak. Nietemin, in die taal van mans is sy berou duidelik en my ontevredenheid ook, ons hoef dit nie hardop te sê nie. Ek betaal hom nietemin die volle fooi en skryf die res af aan skoolgeld.

ʼn Paar dae later sou ek ook sien dat hy my leer effe beskadig het. Ek vermoed dit is eintlik waaroor die kyk was.

Weereens, hy is ʼn goeie man, eerlik, vriendelik en hy ken die liefde, mens kan dit sien.

Maar die liefde wat ek vir my ou huisie het, word net eenvoudig deur niemand geëwenaar nie, nes die liefde wat ek vir my tuin het, deur niemand geëwenaar word nie. Die liefde waarmee ek daardie eerste rame afgeskuur het, my tyd geneem het en elke hoekie en kantjie versorg het, is duidelik sigbaar in die afwerking, ʼn stille houtapplous elke keer wanneer ek daarna kyk. Die liefde waarmee ek afbuk en die dooie takkies een vir een uit my struike pluk, die toewyding waarmee ek soms saans uitgaan en die krismisbesies vang wat my rose en groente vreet, dit alles kan nie deur ʼn ander persoon herhaal word nie, selfs nie deur iemand wat wel die liefde ken nie.

Want dis ʼn persoonlike liefde.

My gedagtes gaan na die uitgekontrakteerde liefde wat al deel van ons lewensstyl geword het. Ons kontrakteer die liefde vir ons tuine uit, die liefde vir ons huise. Ons kontrakteer die liefde vir ons skoon linne uit, die liefde vir ons skoon karre.

En daar en dan beloof ek myself plegtig dat wanneer daardie pap bondeltjie afhanklikheid met die pienk voetjies in my arms lê, ek nooit die liefde en die versorging vir my kind sal uitkontrakteer nie.

 

Lees alle vorige rubrieke deur Chris Chameleon op Maroela Media.

 

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

jan_alleman ·

ja nee , daar stem ek saam , baie mense wardeer nie hulle kinders nie , altyd verskonings oor hoekom hulle nie hulle beste aan hulle kinders kan gee nie , ek haat veral as n briljante kind deur n “tablet” grootgemaak word , of deur n televisie , wat n mors van n wonderlike toekoms

Gerhard ·

Mooi man. Nie baie wat jou sal nadoen nie, maar ten minste het ek een ou vandag iet sien skryf wat my hoop gee.

KH ·

Chris, lees ek reg of lees ek te veel tussen die lyne? Dit sal die beste nuus wees wat ek vandag gelees het!

Gemsbok ·

Baie raak geskryf Chris, baie dankie. Ek is skoon hartseer wanneer ek dink aan hoe ons volk ons toekoms uitgekontrakteer het. Die spyt kom altyd te laat. Gelukkig is dit nooit te laat om ‘n nuwe toekoms te skep deur gewoontes te verander nie.

Tricea ·

Jou geskryfde woorde is so mooi soos jou liedjies s’n. En dis heerlik om nie jou liefde en sorg vir jou kinders uit te kontrakteer nie – al die pap eet is die moeite werd as daardie klein warm lyfies teen jou aanvlei en jou vertel hoe lief hulle vir jou is!

Johann ·

Die beste kennisgewing van n verwagting wat ek nog gelees het. Geluk julle twee!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.