Die wil om te help

Hierdie artikel is geskryf ter viering van Maatskaplikewerkersmaand wat jaarliks in Maart gevier word.

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Hier staan ons weer aan die begin van Maart. Elke jaar in hierdie maand vier ons die wil om te help, ons vier die maatskaplike werker. Ons dink aan die opofferings en werk wat hierdie mense doen wat geroep is om ander te help.

Die Wil om te Help-veldtog het al in die verlede ʼn reuse-impak gehad om nie net maatskaplike dienste nie, maar ook die maatskaplike werker op die voorgrond te plaas. Om te kyk na die roeping wat sag rus binne hierdie beroep. Tydens die veldtog voer ons oop gesprekke oor wat die maatskaplike kwessies van ons land is en skyn ons die lig op stigmas rondom die beroep en die mens daaragter.

Geroep om te help

Ek glo vas dat die mense wat hierdie beroep beoefen gestuur is van die Here – om te beweeg in en werk tussen die ruimtes van ʼn samelewing waar dit die nodigste is. Hierdie mense is in my opinie werklik die gom van ons gemeenskappe en bevorder gemeenskapsontwikkeling op ʼn holistiese vlak.

Soos ons weet, volg daar op elke ekonomiese krisis ʼn maatskaplike krisis. Binne ons land soos ons hom vandag ken, is daar aanhoudend ʼn krisis wat aangespreek moet word. Tydens hierdie uitdagende tye vind ʼn mens hoop binne die maatskaplike werkers van ons land. Hulle deel ook die hoop wat hulle koester met ons mees kwesbare groepe. Hulle weet waarmee hulle besig moet wees en hoe om dit te doen. Hulle verstaan hulle roeping ten volle.

Wie bedien jou gemeenskap?

Wanneer laas het jy gaan kyk wie die maatskaplike werkers in jou dorp is? Wanneer laas het jy na die verskillende tipes maatskaplike werkers gaan kyk wat jou gemeenskap gesond hou?

Dalk is jou indruk van wat ʼn maatskaplike werker doen heeltemal verwronge, of dalk weet jy presies wat hulle doen, maar weet nie hoe om hul te ondersteun nie.

Marthie Maritz, een van ons maatskaplike werkers hier by Helpende Hand, skyf die volgende:

Maatskaplike werkers kan ʼn boek skryf oor alles wat hulle al beleef het. Soms is dit hartseer verhale vol teleurstelling en ander kere is dit vreugdevolle suksesverhale.

Soms ontmoet hulle rowwe diamante vir wie die lewe net ʼn skuins klap gegee het. Ek ontmoet vir Stienie (skuilnaam) en haar kinders so nege jaar gelede. Sy het baie kinders gehad. Ek sê “gehad”, want sy is nie meer met ons nie. Daar was agt van die sieletjies, elkeen met ʼn ander pappa. So ʼn tipiese voorbeeld van ʼn vrou wat ʼn man nodig het om te oorleef. En sy moet altyd swanger wees.

Stienie was een van daardie rowwe diamante. Wild. Sou jou sommer met iets bykom, veral as jy “welsyn” sê. Sy het jou gou reggehelp: “Nee, dis welfare”. Dan was dit oorlog! Maatskaplik het ook nie gepas nie. Dit is bose mense en hulle kom om te vernietig. Die taalgebruik het my soms laat glimlag, al moes ʼn mens dan nou ernstig wees. Sy het almal “antie” of “tannie” genoem, al was sy ouer as hulle. Dis maar haar manier om respek te betoon. Haar kinders was in die kinderhuis – die hele streep van hulle. As hulpmaatskaplike werker was my rol om die maatskaplike werker te ondersteun; ek was nie betrokke by die hofproses en die plasing van kinders in die kinderhuis nie.

Eendag was dit weer ʼn wilde dag: oproep na oproep na die kantoor met skeltaal uit ʼn ander woordeboek.

Ek en een van die maatskaplike werkers het haar later gaan besoek. Ek het ʼn Bybel saamgevat en vir haar gevra of sy ʼn Bybel het. Die antwoord was ja, daar êrens onder in die kas. “Gaan haal daardie Bybel,” sê ek vir haar. Na al die intervensies en gesprekke was dit al raad wat ek oorgehad het. Die Here is jou herder. Sy was eers dikmond oor die Bybel-versoek. Terwyl ek na die maatskaplike werker wys, sê ek vir haar: “Maatskaplike werkers is ook mense. Hulle het ook harte en daar vloei bloed deur hulle are. Hulle voel ook soms hartseer wanneer slegte goed gebeur en hulle is bly as goeie goed gebeur.”

Daar was iets in haar oë toe ons daar wegry. Ek twyfel of sy alles verstaan het. Maar daarna, tot die dag van haar dood, het sy die maatskaplike werkers wat aan haar diens gelewer het soos mense behandel. As een mens dit begryp en saamwerk, is dit al ʼn begin.

Blou, groen en pers

Een van die belangrikste aspekte van maatskaplike werk is die gebruik van kleur om die professie te verteenwoordig. Kleur word gebruik om die waardes, doelwitte, en doelstellings van maatskaplike werk voor te stel, sowel as om ʼn sin van eenheid onder maatskaplike werkers te skep. Die kleure wat gebruik word om maatskaplike werk te verteenwoordig, is blou, groen, en pers.

Blou simboliseer vertroue, groen simboliseer groei, en pers simboliseer waardigheid. Saam verteenwoordig hierdie kleure die kernwaardes van maatskaplike werk en die toewyding van maatskaplike werkers om diegene wat hulp nodig het, te help.

Daarom sal die gemeenskap in Maartmaand sien dat Helpende Hand ons handelsmerk aanpas na hierdie kleure om die maatskaplike werkers te vereer en om die roeping wat hulle daagliks uitleef ten volle weer opreg te waardeer.

Verskeie kerndienste

Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werk-diensteafdeling bestaan uit ʼn span maatskaplike werkers en hulp-maatskaplike werkers wat in die onderskeie streke gestasioneer is.

Hierdie span word as agente van verandering beskou deurdat hulle die Godgegewe talente en gawes van gemeenskappe deur doelgerigte maatskaplikgebaseerde gemeenskapsontwikkeling ontgin. In samewerking met die streeksorganiseerders en vrywillige takke van Helpende Hand mobiliseer die maatskaplike werk-diensteafdeling hulpbronne binne gemeenskappe en dienslewering se fokus is ingestel op verskeie kwesbare groepe.

As deel hiervan lewer die maatskaplike werk-diensteafdeling die volgende kerndienste binne die raamwerk van Helpende Hand:

  1. Doelgerigte maatskaplike oriëntering, -opleiding en ondersteuning aan Helpende Hand se vrywilligertakke.
  2. Professionele hantering van maatskaplike aangeleenthede in samewerking met geregistreerde Kinderbeskermingsorganisasies.
  3. Evaluering van hulpversoeke deur middel van ʼn omvattende assesseringsproses en aanbevelings wat volhoubare oplossings bied.
  4. Uitbou en versterking van netwerkverhoudings binne die onderskeie gemeenskappe deur gemeenskapsforums met die volgende rolspelers te stig: skole, kerke, kinderbeskermingsorganisasie, organisasies sonder winsbejag wat dienste binne ʼn bepaalde gemeenskap lewer.
  5. Die opstel en uitrol van gemeenskapsgebaseerde ontwikkelingsprogramme en -projekte.
  6. Die opstel van ʼn verskeidenheid hulpgidse ten einde gemeenskappe op hoogte te bring van maatskaplike aangeleenthede.
  7. Publikasies van verrykende en opbouende leesstof op sosiale en ander mediaplatforms.
  8. Navorsing ten einde die ware behoeftes van gesinne, gemeenskappe, residensiële instansies vir seniors, persone met gestremdhede en kinders te bepaal deur middel van gemeenskapontleding-vraelyste. Die navorsingsresultate verseker dat alle projekte en programme wat deur Solidariteit Helpende Hand uitgerol word, volhoubaar is en nie afhanklikheid skep nie.
  9. Verwysing van terapeutiese dienste wat deur Ons Sentrum gelewer word.
  10. Koördinering en implementering van die Bemagtig-ʼn-kind-projek.

Laat ons dus verenig en die bereidwilligheid om te help omhels. Deur saam te staan, om te gee vir mekaar en vir die mense wat elke dag ons kwesbare groepe moet ondersteun, kan ons ware en volhoubare voorspoed verseker.

Meer oor die skrywer: René Roux

René Roux is adjunk-uitvoerende hoof en woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.