Goeie regering in Suid-Afrika?

Deur DC Coetsee

(Foto: Filiz Elaerts/ Unsplash)

Alle landsburgers, buiten verblinde en verbete ANC-lojaliste, stem saam dat Suid-Afrika ʼn mislukkende staat en die ANC ʼn mislukte regering is.

Die meeste waarnemers meen ook dat geen politieke party in die 2024-verkiesing ʼn volstrekte meerderheid stemme sal behaal nie. Daarom is koalisiepolitiek tans ʼn realistiese en dringende besprekingspunt.

Dit op sigself is ʼn nuwe ervaring vir Suid-Afrika, maar is baie algemeen in ander “demokratiese” lande. Suid-Afrika se ervaring van die afgelope driekwarteeu was dat ʼn oorweldigende parlementêre meerderheid ongesond is vir ʼn gesonde regering – al is die regering deur ʼn oorweldigende meerderheid kiesers op “demokratiese wyse” daargestel.

Die werklikheid is dat “waarheid” en “werklikheid” (ook op politieke gebied) nie op demokratiese wyse onomstootlik vasgestel kan word nie.

Veelpartyhandves die antwoord?

ʼn Groot aantal politieke partye het die afgelope maande saamgepraat en -geworstel om ʼn handves daar te stel wat gedeelde waardes en doelwitte vasstel op grond waarvan hulle die ANC in die komende verkiesing sal beveg en ʼn suksesvolle regering sal daarstel.

ʼn Kernwaarde was dat elke party verbind moet wees tot “demokrasie”. ʼn Opvallende “afwesige” party was die ACDP (tot baie onlangs), omdat die party konsekwent die opperheerskappy van die Bybelse God op alle terreine bely en ook in die konstitusie ingeskryf wou hê – dus verbind was tot “teokrasie” (die erkenning van die opperheerskappy van die Bybelse God). Daarom was die ACDP die enigste party wat teen die aanvaarding van die sekulêre Grondwet van 1996 gestem het.

Die belangrikste vraag vir die bybelgetroue kieser is: “Kan ek my stem en steun gee aan enige politieke struktuur wat nie openlik die opperheerskappy van die Bybelse God bely nie?” Daar staan immers in Romeine 13: 4 geskryf: “… want die owerheid is ʼn dienaar van God, tot jou beswil” en Jesus het duidelik gesê: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word” in Matteus 6:33.

Die ACDP was die enigste politieke party wat dit onomwonde bely het – en tog het dit minder as 5% van die stemme van die “Christelike” Suid-Afrika getrek! Die embleem van die Amerikaanse grondwet het as onderskrif “In God we trust”. Tog is dit tans die bakermat en die toenemende anti-Christelike “woke”-aanslag op die Christelike Westerse beskawing.

Die Britse koning se titel is “fidei defensor” (verdediger van geloof), maar koning Charles verkies om homself te noem “verdediger van gelowe”.

Vir Bybelgelowige Christene skiet die “veelpartyhandves” dus tekort, want dit verskil in beginsel nie van die ANC en ander sekulêre partye se “handveste” nie.

ʼn Nuwe party?

Is die tyd nie ryp dat daar ʼn nuwe Bybelgetroue party tot stand kom nie? Die bestaande uitgesproke bybelgetroue party (ACDP) en ander wat by implikasie en hul geskiedenis Christelike beginsels nastreef (soos die VF+) dra swaar aan die bagasie van hulle geskiedenis. Ds. Cassie Aucamp se Afrikanereenheidsbeweging (AEB) en Nasionale Aksie (NA) het ook nie van die grond af gekom nie, omdat dit vereenselwig was met ʼn spesifieke kulturele en geloofsgroep.

Enige objektiewe kenner van die geskiedenis weet dat die Christelik Westerse kultuur die grootste bydrae van alle kulture tot die welsyn en vooruitgang van die mensheid gemaak het – en tans die skyf is van die “woke”-teenkultuur. Sekerlik is die waardes, beginsels, doelwitte en praktyke van die Christelik Westerse kultuur besmet en afgewater tot ʼn tans byna koerslose chaos (soos weerspieël word in die Republikeinse Party in die VSA) – wat uitgebuit word deur die teenkultuur. Maar, Christene moet uit die geskiedenis leer.

In Deuteronomium 17:14-20 het die Here voorsiening gemaak en voorskrifte gegee vir ʼn God-erende koningskap, ʼn “teokrasie” (inherent anders as wêreldse koningskappe) waardeur sy eie andersheid erken word. ʼn Regering wat “dienaar van God (is) jou ten goede” is dus die Bybelse God se wil. Elke deelnemer aan die regering moet weet: “Ek is uiteindelik aan die lewende God verantwoordelik oor of en hoe ek sy regeeropdrag uitvoer – nie bloot aan kiesers nie”.

Is dit nie tyd dat so ʼn party tot stand kom nie?

Die geskiedenis van Suid-Afrika oor veral die afgelope 25 jaar bied aan oortuigde Christene ʼn geleentheid soos nooit tevore nie om ʼn diens aan ons land te lewer: die uiteindelike daarstelling van ʼn goeie regering.

  • DC Coetsee is ʼn boorling van die Kalahari. Hy het vir 40 jaar lank as sendeling gewerk en is deesdae besig met Bybelse berading en opleiding. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Daar’s miljoene Christene in die ANC byvoorbeeld. 84% van die Suid-Afrikaanse bevolking beskou hulself as Christene. Dis ‘n fout om partye te oordeel op grond van Christenskap siende dat sekere sienings oop is vir verskillende interpretasie soos byvoorbeeld aborsie. So jy sal byvoorbeeld Christene kry wat teen dit is en ander wat dit kondoneer.

De Bok ·

OK, maar Christensakp is bietjie meer as net jouself as ‘n Christen beskou. Die sensus vra net hoe jy jouself beskou, nie of jy werklik glo dat Jesus God is en uit die dood uit opgestaan het nie.

Ek sal aanvoer dat mense wat glo dat Jesus werklik God is, oor die algemeen ook teen aborsie is. Oor die algemeen sal hulle ook dus ‘n sekere beskouing he oor die staat se amp, en of die staat nou gehoorsaam moet wees aan koning Jesus of nie.

johann ·

‘n Ware Christen se lewe is onderworpe aan God se Woord en Wil. Enige iets anders is nie ware Christenskap nie. God se Woord is ‘n Christen se maatstaf. Nie menslike idiologie, filosofie en redenasies nie. Mense kan hulleself as Christen identifiseer, maar as die lewe nie geskoei is op Bybelse leringe en verordeninge nie, is dit net bloot ‘n nagemaakte “Christen” in naam.

johann ·

Dit sou wonderlik wees om so ‘n politieke party te kon hé, maar ek is bevrees dit sal maar min aftrek kry. Die oorgrote meerderheid mense in Suid Afrika verkies om sonder God te leef en beslis nie onder Sy heerskappy nie soos bewys deur die morele verval van alle rasse groepe in Suid Afrika, selfs in die kerke.

Republikein in die Wes Kaap ·

So ‘n paar weke gelede was daar ‘n peiling op MM. Net ‘n derde het aangedui hulle is aktiewe Christene en gaan elke week kerk toe. ‘n Derde gaan nooit kerk toe nie, en ‘n derde af-en-toe. Dis te betwyfel of ‘n Christen party enige noemenswaardige ondersteuning sal kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.