Grendelpret en lekker lag

Argieffoto (Foto: Edu Carvalho/Pexels)

‘n Verskriklike ding het gebeur, is steeds besig om te gebeur, en dit het die wêreld in sy spore laat steier en die groot vraag is: Wat nou!? Die antwoord is eenvoudig: Kalmeer, word rustig en gaan aan om voluit te leef! Gehoorsaam voorsorgmaatreëls en vertrou en gebruik jou gesonde verstand.

Die vernietigende pandemie met sy onbeskryflik verwoestende spoor sê vir die mensdom iets waaraan dringend aandag gegee moet word en ‘n mens bid dat die mensdom sal luister. Dis vir my of daar vir die mensdom gesê word dat as hy nie wil luister nie, hy sal moet vóél.

In my bruis daar egter ‘n opgewondenheid oor dit wat nou aan die gebeur is en ‘n mens hoop en bid dat dit oor ons land, soos genadereën, permanent ons sieledroogte sal verlig en uitwis. Ons het nou tyd om te dink, te besin en om te wéét hoe ons van vooraf moet begin.

‘n Mens ervaar die opgewondenheid oor ‘n ongehoorde, ongekende eenheid tussen alle redelike, regdenkende en verantwoordelike landsburgers oor alle grense heen. Nie gewaande en kortstondige Wêreldbeker- of enige ander glorie-eenheid waaroor duisende saam rinkink nie. Nee, miljoene staan in mekaar se skoene en klim in mekaar se velle in. Dis nie meer julle en hulle nie, maar ONS.

Dis so lekker hier in onse Tehuis waar woonstel- en kamerbewoners ongehinderd oor en weer mag kuier. Ons sit nie op mekaar se skote nie en kom die reëls na. Dis daar waar die grappe uitgeryg word en toeka se dae se stories vertel en óórvertel word. En as onder in die gang gelag word, wil dié wat bo in die gang is weet waarvoor daar so lekker gelag word.

Ek bruis van opgewondenheid omdat die mooi in mense nou blom soos in Namakwaland as hy op sy mooiste is. Mense het nou weer tyd om saam te woeker, met mekaar te deel en na mekaar te luister. Al die GEEmense maak my opgewonde! Dis nie meer ek vir my nie, maar ek vir jou en ons vir mekaar.

Soos ek gesê het, maak dit my opgewonde as ek weer hoor hoe mense skaterlag as humor begin inskop. Mense lag vir hulleself of vir ander en op die ou end vir mekaar, of soos iemand nou die dag sê, mét mekaar. Ai en is dit nou nie lekker om te sien hoe knorrige suurknolle eers versigtig en dan eindelik uit hulle mae uit begin lag nie!

‘n Mens is geneig om te dink humor ‘n ding is wat met gevorderdheid in jare vervaag, maar dis allermins die geval. Onverwagse ondeundheid en soms ‘n stoutigheidjie bly ook nie uit nie. Dit wil vir my lyk of ‘n sin vir humor ‘n aangebore eienskap is. Vir my is ‘n oumens se skaterlag net so mooi soos my kleinkind se borrellag.

Waaroor wou ek skryf? O ja, grendelpret en lekker lag, terwyl ons gehok is. Nou die dag loop ek tante Naomi, al amper 100 jaar oud en amper blind, by ontvangs raak en maak toe ‘n ophef van haar mooi veelkleurige bloes. “Ja”, seg sy, “ek wonder wat sou jy gemaak het as ek hom nié aangehad het nie!” “Haai!” antwoord ek toe half uit die veld geslaan, “oi joi joi, wat praat jy dan nou!? “Ja jong, ek is miskien oud, maar nog nie koud nie”, het sy my ingelig.

Toe ons klaar gelag het, sê ek verder: “As ek met my swak oë mooi gekyk het, sou ek dalk vir jou gesê het jy kon ten minste jou rok gestryk het! Kyk al die kreukels en die plooie!” Toe die lekker lag verby was, het sy nog iets te sê gehad: “Wee’ jy Johan, wat is vir my lekker? As ek hier onder hoor hoe lag die ander doer bo in die gang! Ek hoop hulle hoor ons ook lag!”

Juis verder op in die gang, gaan wys ek oë, so deur die toe venster, by twee vrinne wat onder kwarantyn is en sien toe hoe hulle vlytig aan’t skoonmaak is. Ná die groetslag, seg ek toe vir hom dat ek begin wonder of sy vrou, met die vreeslike gewerskaf, nie dalk swanger is nie. Daar van die trapleertjie af gee hy toe net so ‘n soort van ‘n snork en ‘n beslisde antwoord: “Laat ek nou maar vir jou reguit sê: Dit sal meer as ‘n virus kos om dit te laat gebeur!”

Ek kry vir Lourens, ook al oor die 80 en hy loop swaar, in een van die gange. Ek vra toe vir hom waarheen hy op pad is en hy sê toe dat hy oefen en ek vra of hy die binnenshuise marathon gaan loop. “Ja”, seg hy, “maar dis my laaste rondte vir vandag. Die gees is gewillig, maar die ou bene kan nie meer nie en die asem is kort.

“Het jy al die storie van die worshond en oom Boel gehoor?” wou ek weet en hy sê toe nee, ek moet vertel. Ek vertel toe van oom Boel en nog ander brakke wat daagliks by die Worshond, agter ‘n gegrendelde hek, verbygedraf het. Eendag het hy vir oom Boel gevra waarom hulle elke dag daar verbydraf. Oom Boel vertel toe vir hom hulle gaan vry en Worshond wou toe weet of hy ook maar kon saamgaan, waarop oom Boel bevestigend geantwoord het.

Worshond het ‘n plan gemaak om uit te glip en toe die vryers weer verby draf, het hy by hulle aangesluit. Al snuiwend en kykend, ál om en om die blok. Toe oom Boel-hulle hom ‘n slag van agter af inhaal, het hy hygend vir oom Boel gesê: “Oom Boel, ek vry nou nog net één rondte en dan gaan ek huis toe!” Ná die lekkerlag, was Lourens se probleem: “Ja en as ek nou een ingehaal kry, sal ek tien teen een nie onthou waarom ek haar gejaag het nie!”

Gister, in een van die gange in die siekeboeg sien ek twee tantes, met Alzheimer in gevorderde stadium, waar hulle rustig in die sonnetjie sit. Ek dag toe ek sal vriendelik groet en vra hoe dit gaan. Die een het net so in die niks ingetuur en toe praat die ander een heftig: “Man ek is die d(swaarweer) in!” Ek verstik toe amper van verbasing! Dit van ‘n ou, gryse tante! Ewe kalm sê ek toe vir haar sy moes net rustig word en ek groet. Ja en ek sê toe vir haar ek hoop daar sal sagte reën uit donderwolke val om haar weer af te koel.

‘n Rukkie later loop ek weer verby en vra toe ewe vriendelik wat haar dan so kwaad gemaak het. Sy’t my skuins aangekyk en toe kom die antwoord: “Jy vra vir my! Hoe de d(swaarweer) dink jy moet ek weet?” Ag en toe praat die ander tante uit die bloute uit met haar wysvinger reguit en sy seg haar sê: “Ja, jy! Ek het lankal vir jou gesê jy moet ouetehuis toe! Dis al plek waar hulle jou nie sal wegjaag nie!” Ek wonder nou nog wie die eerste tante so kwaad gemaak het. Dalk was dit haar medesonsitter. Sy kon dit net nie onthou nie.

Die dag voordat die grendeltydperk aangebreek het, het die bestuur ‘n inligtingsvergadering belê. Ek daag toe daar op met ‘n masker wat ek van ‘n onderbroek gemaak het. Een met ‘n groen strikkie aan die smal deeltjie, net so mooi tussen die oë en die res oor die kop getrek en die beengate om die ore gehaak. “Ja” sê die een, “die strikkie is seker daar sodat jy nie die ding agterkant voor opsit nie!”

Ek kondig toe aan dat my vennoot, Soet Willie, aan die dames se behoeftes sal voorsien. “Ja,” voeg hy toe by, “bring maar, maar dit moet piénk panties wees en geen bloomers nie!” En toe staan hy daar met nie eens ‘n sweempie van ‘n glimlag nie terwyl die ander almal skaterlag. Nou moet ek sê, daar was ‘n paar wat dit nie snaaks gevind het nie en ander het nie verstaan waaroor gelag word nie. Oor sulke goed word daar mos nie in die openbaar gepraat nie! Dis mos priváát!

Ons kombuisbestuurder is so gaaf om op ‘n daaglikse basis die nodigste goedjies, op die boekstelsel, te verskaf. Daar is ‘n bestellys waarop ons kan aandui wat ons benodig, onder andere appels en piesangs. My buurvrou, wat Engelssprekend (van Franse afkoms) is, wou toe weet of sy nie dalk bananas kan bestel al is dit nie op die lys nie. Toe ek vir haar sê dat dit wel op die lys is, gaan haal sy die lys om my te oortuig. Ek wys toe vir haar na piesangs op die lys en toe kom die vraag: “Yes’ I can see the apples, but what does he mean by paaizêêngs? Tong in die kies gee ek haar toe die raad en versekering: “No, try them! Paaizêêngs are very much the same as bananas!” En sy was bereid. “Okay, I’ll try them.” Sy’t nog nie vir my gesê of sy die verskil kon agterkom nie.

Op dieselfde trant praat ons toe hier onder in die gang en een wou weet of die grendeltydperk nie dalk, soos destyds vóór televisie daar was, tot skielike bevolkingsaanwas kan lei nie. Verder verswyg ek name. “Ja, dit kan nogal help! Ons raak ál minder want almal vlug landuit.” “Ja, jy kan lekker praat, jy’t nog ‘n vrou! Wat van ons arme loslopers?” “Man, weet jy dan nie? Die tye het verander! Hulle vat mekaar sommer net!” “Nee, magtie, nou moet julle stop! Kan jy jou indink? In die koerant! Getal ongehude oumas in Ou Meule bereik dubbelsyfers!”

Die gesprek wat hierop gevolg het was iets wat net ‘n klompie oumanne met mekaar kon deel en baie lesers is nie oumanne nie. So pittig soos ‘n pôpo, so skerp soos ‘n Minorablade en so skreeusnaaks soos aapstreke. En ‘n laggery wat jou ‘duwweld’ laat vou en lag is mirresyne in tye van ingrendeling.

So gaan dit dag vir dag! Lank lewe die grapmakers en die storievertellers wat kan bylas, net om die storie waarder te maak. Dis hulle wat die onheilspoke van swaarmoedigheid verjaag. Almal wat dit doen is goeie dokters, want lekker lag maak gesond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.