Isolasie deur die oë van ʼn gr. 7-leerder

Karla van der Westhuysen is ʼn gr. 7-leerder aan die Bryanston parallelmedium-skool. Sy het hierdie brief tydens die aanvanklike vyf weke van algehele afsondering geskryf. Die brief word met die toestemming van Karla se skool en ouers gepubliseer.

Karla van der Westhuysen.

My vingers gly deur die prikkelende gras van die grasperk. Ek kyk op. Die wind waai fluistersag deur die blare van die groot jakaranda. So rustig. Anders as ek.

Ek sug. Hierdie grendelstaat word nou te lank. Ma sê ons ruk hand uit, maar hierdie tyd sonder ons vriende dryf my en my suster al behoorlik van ons koppe af! Om net in mekaar se geselskap te wees, is iets om naels oor te byt. Ja, daar is seker sosiale netwerke soos Zoom, Skype en WhatsApp, maar… dis net nie dieselfde nie. Ek voel hoe die snikke in my keel opstoot. Ek moet nog boonop sterk bly vir my suster se onthalwe. In graad 3 sal sy net nie al my hartseer verstaan nie. Sy mis klaar haar vriende so verskriklik.

My kop sak. Ek het so vreeslik uitgesien na my laaste jaar op laerskool! Revue, redenaars, koor, sokkies, my rooi baadjie… Dit is veronderstel om die lekkerste jaar van my laerskoollewe te wees, net om uiteindelik die eensaamste te wees. ʼn Traan rol af teen my wang. Volgende jaar spat ek en my vriendinne uit mekaar. Verskillende hoërskole toe. Hierdie is ons laaste jaar saam.

Ek kan eintlik nie kla nie. My skool doen alles om steeds vir ons die beste kans te gee en om voort te gaan met werk en toetse. Ek is verseker in die beste skool. Ja-nee, binne ʼn week van algehele afsondering het ek my eerste aanlyn klas bygewoon en was al ons onnies besig om moeite te doen om ons deur die laerskool te kry.

ʼn Klein glimlaggie trek aan my mondhoeke. Ons aanlyn klasse laat ons die rekenaar soos die palm van ons hand ken. Al is ons nou soos bulle in ʼn glaskas, gaan ons tegno-freaks wees as ons weer terug by die skool is. Geen meer net topnetbal- en redenaarspanne nie. Nee, my skool gaan ʼn toptegnologie-span hê!

Nog ʼn prentjie vorm in my kop. Ek begin saggies giggel. Dink net, as ons weer terug is by die skool, sal almal uitgevat wees in maskers, handskoene, klere wat hopeloos te kort is en seuns wat onder hul kuiwe deur vir die onnies loer.

Ek klik my tong vies. Ek is sommer net laf. Ek kyk op my horlosie. Ek moet seker terugkom in my kamer, my klas gaan begin. “Hoe het dinge nie verander van Desember af nie,” dink ek, terwyl ek opstaan en my pad terugvind kamer toe.

Deur die oë van my graad 3-sussie

Ek volg my ouer sussie met my oë terwyl sy terug loop na haar kamer. Is sy ook soms hartseer? Mis sy ook haar vriende en skool? Ek skud my kop. Dit lyk nie so nie. As ek haar vra of sy skool mis, rol sy net haar oë en sê sy moet gaan leer. Is dit omdat sy in gr. 7 is? Word sy te groot vir haar skoene? Dis nie die sussie wat ek ken nie.

“Verstaan almal?” vra juffrou oor Teams. Ek skud my kop. “Konsentreer!” raas ek met myself. “Ja, juffrou,” antwoord ons. Ek skop my skoene uit en gaan lê op my bed. Ai, ek mis my juffrou en maatjies. Om verkleurmannetjie-verkleurmannetjie pouse te speel en om sommer net bietjie mal te wees.

Ek bring my knieë tot by my ken totdat ek in ʼn bondeltjie opgerol is. As ons teruggaan skool toe, gaan ons nie meer kan drukkies gee om hallo te sê nie. Hoe onregverdig is dit nie? Ek het regtig gedink toe ek die eerste keer in die gr. 3-klas ingestap het, dat ek hierdie jaar my beste juffrou die heeltyd sou sien, uiteindelik in die ouer blok sal wees en lekker met my maatjies speel. Selfs al kan ek my maatjies bel, mis ek hulle nog steeds.

En revue. My eerste revue. Die revue waaraan juffrou Ronel so baie tyd spandeer het. Die een waarin ek op Zorba sou dans. My oë word tranerig. Die mooi rokkies, OPA en die pret saam met my maats soos wat ek in die revuefoto’s van my sussie en haar maats gesien het.

ʼn Vonkie lag skiet in my oë. A-ha, ek het eintlik baie hierdie grendeltyd geleer, noudat ek daaraan dink. In die klas kon ek vir juffrou mooi hoor, want daar was nie maatjies wat gepla het nie. Juffrou het vir ons elke dag huiswerk gegee om ons op datum te hou en die hoof het elke nou-en-dan vir ons ʼn boodskappie gestuur om moed te hou. Ek het so ʼn groot silindervormgeskenk (wat juffrou my geleer het) vir pappa vir sy verjaarsdag heeltemal alleen gemaak. Ek ken ook nou alles oor die vreemdste soogdier, platipus, en van take op PowerPoint doen. Tussendeur het ons Geesweek gehad om iets lekker te doen en dan het juffrou video’s daarvan gemaak.

Ek strek myself uit. Ek ís in ʼn lekker skool. Niks kan ook die lekker prettige tyd van speletjies speel met pappa tussen aanlyn klasse vervang nie.

“En dan is ons klaar vir vandag. Dankie julle, hoop ons kan gou weer teruggaan skool toe sodat ek julle weer kan sien.”

“Ja juffrou, ek ook, ek ook!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Human ·

Wat ‘n uitstekende, positiewe skrywe. Jonge dame jy mag maar. As sommige van die ouergarde so ‘n positiewe uitkyk op die lewe kon gehad het soos jy, maar dit is seker net wensdenkery.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.