Kommunikeer so met ’n persoon met gehoorverlies

Deur Lynette Snyman

(Foto: Mark Paton/Unsplash)

Jou bestuurslisensie het sopas verval en die hele hernuwingsproses lê soos ʼn berg voor jou. Wat ʼn frustrasie!

Voeg ʼn gehoorverlies by die uitdaging en ons sien ʼn hele ander prentjie.

Jy voltooi al die nodige vorms en begin tou te staan om die vorms deur te gee. Jou hart klop vinniger in afwagting. Voor gekom, moet ʼn mens deur die glasvenster praat – én hoor.

Jy probeer jou bes met liplees; die vrou praat harder, maar jy kan steeds nie verstaan wat sy probeer sê nie. Sweet pêrel op jou voorkop. Jy voel verleë terwyl mense in die ry alles fyn dophou. ʼn Ongeduldige sug glip uit, sommige probeer selfs hand bysit, maar jou privaatheid is daarmee heen.

Hierna is die oogtoets aan die beurt. Instruksies rakende die proses word weereens verbaal oorgedra. Jy hoor weer die vrou praat, maar kan nie presies uitwerk wat sy probeer sê nie. Soos te wagte, praat sy harder. Jy hoor haar stem hard, maar nie duidelik nie. Sy stap nader, geïrriteerd. Jy raak al meer senuweeagtig en begin bedreig voel. Hartklop nou onbeheersd. Die trane is naby. Jy stem in om die oogtoets af te lê, al het jy nie die instruksies duidelik verstaan nie. Die oogtoets word gedruip, nie as gevolg van ʼn sigprobleem nie, maar as gevolg van ʼn gehoorverlies.

Hoeveel van ons het nie al in die bogenoemde situasie beland nie? Kommunikasie deur glasvensters of plastiekskerms bly ʼn reuse-uitdaging, veral vir die persoon met ʼn gehoorverlies.

Hier volg ʼn paar riglyne oor hoe om te kommunikeer met ʼn persoon wat ʼn gehoorverlies het:

  • Behou oogkontak: moenie jou kop wegdraai terwyl jy praat nie en vermy dit om af te kyk na die rekenaarskerm of sleutelbord.
  • Maak seker jou mond is duidelik sigbaar sodat die persoon van liplees gebruik kan maak en gebruik normale – nie oordrewe – lipbewegings.
  • Praat duidelik, vermy binnemonds praat of mompel.
  • Praat teen ʼn normale volume. Moenie skree nie. Dit maak klank harder, nie duideliker nie.
  • Praat teen ʼn rustige spraakspoed. Moenie te vinnig praat en oor woorde val nie.
  • Goeie beligting is noodsaaklik sodat die persoon jou gesig duidelik kan sien.
  • Gebruik diagramme of notas. Geskrewe of gedrukte inligting, sigbaar in ʼn gemaklike grootte, skakel kommunikasieprobleme grootliks uit.
  • Gebruik gebare en gesigsuitdrukkings om die spraakboodskap beter oor te dra.

 

  • Lynette is ʼn oudioloog en spraakterapeut. Besoek Lynette se webwerf by Snymanaudio.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Dankie, mense besef nie die styd wat beleef word met n gehoorprobleem nie. n Dood normale rustige gesprek is die aangewese. By n geleentheid na n paar maal se probeer het n vrou n sug gegee wat haar byna in mekaar laat sak het. My reaksie was: Moenie, as jy hd ore gehad het, sou jy nie eens kon vry. Sy het hoorbaar en sigbaar gelag.
.

Ester ·

Dit voel of ek punt vir punt raak beskryf word. Sal mense ooit kan verstaan hoe frustreerend dit is om nie te kan hoor nie, en om te sien wat jy se…
Dis in elke faset van jou lewe ‘n uitdaging, werk, kerk en huis, publike pleke is ‘n geweldige uitdaging, werks funksies put jou uit, praat nie eers van ‘n vergadering nie.
Dankie tog iemand gee dit deur op ‘n media platform, iemand verstaan…

Nettie ·

Dankie. Ek wens hulle wil staatsamptenare beter opleiding gee. Maar deels is ook ‘n interne te kort aan simpatie. Amptenare tree op asof burgers HULLE ‘n guns skuld, in plaas van andersom.

Nerens neem hulle mense in ag wat in pyn is of ander probleme het nie. Jy’s net ‘n las. Dit is baie frustrerend. Die hele stelsel moet oorgedoen word, sodat als wat kan, aanlyn vanuit die huis gedoen kan word, of by instansies waar die mense opgelei is en die vertrekke ingerig is vir mense met fisiese probleme.

Ons leef in ‘n onsimpatieke wereld en dis hartseer.

Chris ·

Ek het so tien jaar gelede dieselfde ondervinding met oorlé skoonpa en sy vriendin deur gegaan. Op pad toetsentrum toe is vriendin onsteld oorlat skoonpa haar nie hoor nie. By die toetsentrum dop skoonpa sy oogtoets oorlat hy nie die dame kan hoor nie. Ons is toe oogkundige toe en is terug met sertifikaat dat sy oë nog piekfyn is. Hy was selektief doof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.