Maak onderwysers se geestesgesondheid ʼn gemeenskapsdoel

Deur Monique Alberts, Daleen Botha en Nadia Herbst

skool 2 klas onderwyser

(Argieffoto)

Onderwys is ʼn emosioneel uitputtende beroep wat teen ʼn vinnige pas gebeur en al hoe meer onderwysers erken dat hul oorweldig voel. Met hierdie realiteit in gedagte, is uitbranding en verswakte geestesgesondheid méér as net gonswoorde, dit is tekenend van die hoë eise en dikwels onmoontlike verwagtinge wat deur gemeenskappe aan onderwysers gestel word.

Geestesgesondheid is, danksy grootskaalse bewusmaking in alle sektore, ʼn aspek wat deesdae baie en welverdiende aandag geniet. ʼn Moontlike rede hiervoor is die langdurige impak wat die Covid-19-pandemie op die wêreld gehad het en steeds het.

Alhoewel geestesgesondheid ʼn dinamiese konsep is, verwys dit bondig na die emosionele, sielkundige en sosiale welstand van ʼn persoon. Geestesgesondheid hou dus nou verband met streshantering, sosialisering en besluitneming.

Daar word dikwels gefokus op die geestesgesondheid van skoolleerders, en slegs ʼn basiese soektog op die internet lewer ʼn oorvloed van artikels op wat raad gee oor hoe leerders skooldruk meer effektief kan hanteer en hoe veerkragtigheid ontwikkel kan word. Daar kan egter beslis meer aandag gegee word aan die geestesgesondheid van onderwysers wat uitbranding en verskeie ander kwessies insluit.

Daar is verskeie snellers wat onderwysers se angsvlakke verhoog, hul geestesgesondheid verswak, hul depressief maak en ʼn verlies aan selfvertroue veroorsaak. Hierdie snellers sluit in faktore soos werklading, kurrikulumlewering, veeleisende ouers, tegnologie, gebrek aan hulpbronne, oorvol klaskamers, buitemuurse verpligtinge, opleiding en baie meer.

Die welstand en geestesgesondheid van onderwysers is egter nie net nóg ʼn taak wat voor ʼn skoolbestuur of beheerliggaam gelê kan word nie, maar moet as ʼn holistiese gemeenskapsdoelwit gesien word.

Die volgende ingrypingsaktiwiteite kan vir onderwysers, en veral jong onderwysers, van waarde wees as dit kom by welstandsbestuur.

Bewustheid

Bewustheid word beskryf as eenvoudige tegnieke om die huidige oomblik met deernis en nuuskierigheid te benader. Volgens Refiloe Nyoni, die hoof-uitvoerende beampte van die organisasie Mindful Revolution in Suid-Afrika, kan bewustheid op verskillende maniere bevorder word.

Voorbeelde van sulke tegnieke sluit in strekbeweging (joga of pilates), goeie asemhalingsoefeninge en om jou gedagtes en emosies in ʼn joernaal neer te pen.

Dit kan ook help om jouself te beloon vir klein oorwinnings. Tegnologie en veral slimfoontoepassings kan ook ingespan word om bewustheid te beoefen. Sommige van hierdie bewustheidsoefeninge kan enige tyd van die dag gedoen word en vereis nie ekstra tyd in ʼn onderwyser se reeds volgepakte dag nie.

Tydsbestuur

Opleiding in tydsbestuur kan by ʼn skool aangebied word as deel van die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) se professionele ontwikkelingsprogram. Tydsbestuur is baie belangrik vir onderwysers om hul dag te beplan en so angs te vermy. ʼn Mens moet egter steeds buigsaam wees aangesien ʼn vaste skedule enige tyd kan verander.

Induksieprogramme en mentorskap

Induksieprogramme kan ʼn positiewe impak op veral beginneronderwysers hê, aangesien dit in baie gevalle aspekte soos mentorskap insluit. Die doel van so ʼn mentorskapprogram is om die beginneronderwyser touwys te maak in vaardighede soos effektiewe tydsbestuur, konflikhantering en die handhawing van dissipline.

Sulke programme bied ook aan jong onderwysers die geleentheid om doelgerig aan ʼn ondersteuningsraamwerk te bou. Daar is ook baie waarde daarin vir ervare onderwysers om hul kennis en insig met jonger onderwysers te deel.

Sir Richard Brandson, die bekende entrepreneur, het per geleentheid gesê: “Sorg vir jou werknemers en hulle sal vir jou besigheid sorg.” Hierdie wyse woorde kan maklik aangepas word om onderwys in te sluit. Gelukkige onderwysers is gelyk aan gelukkige kinders in die klas. Ondersteun dus die onderwysers in jou lewe in hul reis na goeie geestesgesondheid.

  • Daleen Botha, Monique Alberts en Nadia Herbst is almal verbonde aan Akademia se Fakulteit Opvoedkunde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan Tredoux ·

Wanneer iemand sê dat skool nie meer dieselfde is as in die ou dae nie, dink ek aan die onderwysers deesdae wat nie n kwart van die voorbereidings werk doen van “yesteryear” nie. Kinders kry komp take deur die jaar wat eintlik deur die ouers gedoen word. Informasie word deur die studente en ouers op die internet verkry en die onderwysers sit lekker agteroor en doen niks, behalwe merk en gee opdragte. Baie spanningsvol.

Gerhardus Dirk ·

Staan net ‘ n maand in die skoene van n onderwyser, dan praat ons weer. Dit is jammer dat ware onderwysers moet deurloop onder die tonge van oningeligtes. Skoenmaker hou jou by jou lees. Ou spreekwoord wat nog altyd geldend is.

Fluisterwind ·

Vandag se skole word dikwels as anders as die verlede beskou, maar dit is noodsaaklik om die uiteenlopende take wat onderwysers hanteer, te verstaan. Terwyl sommige glo dat onderwysers deesdae minder doen, het hul rol ontwikkel. Hulle beplan en lewer daaglikse lesse, pas materiaal aan, assesseer studente en spreek hul sosiale en emosionele behoeftes aan. Hulle is weekliks betrokke by professionele ontwikkeling, werk saam met kollegas en kommunikeer met ouers. Maandeliks hersien hulle lesplanne en pas hulle onderrig by opvoedkundige standaarde aan. Jaarliks ​​stel hulle leerdoelwitte, hou konferensies en dra by tot skoolwye inisiatiewe. Ten spyte van die persepsie dat onderwysers minder doen as gevolg van aanlyn hulpbronne, lei hulle studente in kritiese denke. Onderrig is ‘n veeleisende beroep wat verder strek as die nasien van werkopdragte, aangesien onderwysers innemende omgewings skep en studente holisties ondersteun, om hulle vir die toekoms voor te berei.

JvR ·

Ek het die take en vakke gesien van vandag se skole. Ek weet van onderwysers wat take gee vir leerlnge oor werk wat glad nie behandel is, en pertinent se die ouers moet help want die kinders sal nie kan nie. En hierdie is gegoede en privaat skole. Onderwysers wat dit doen uit passie is baie min en aant uitsterf

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.