’n Helder Somerkersfees in jou tuin

Koop ʼn hele paar Poinsettia-plante en plant hulle saam in ʼn pot om ʼn hoekie in jou huis op te helder. (Foto: Jeffrey Hamilton/Unsplash)

Deur Karen Viljoen

Dit is somer en nou is daar lekker lang ure van sonskyn, donderstorms en ʼn geleentheid om jou tuin te geniet. Kersfees is ʼn tyd om vrede en hoop te ervaar, stil te word en na te dink oor die lewe, die jaar, die toekoms en om alle eer aan God te gee.

Kersfees is natuurlik ook familietyd en ʼn goeie geleentheid om die mense naaste aan jou deel te maak van jou tuin. Só skep jy dalk vir iemand ʼn nuwe passie en waardering vir die natuur en tuinmaak.

ʼn Paar lekker maniere om mense na aan jou te betrek, kan wissel van fisiese tot emosionele deelname.

Besoek ʼn kwekery naby aan jou en kyk watter plante vir jou tuin en huis daardie Kersfeesgevoel kan gee. Plante wat my dadelik aan Kersfees laat dink sluit in Poinsettias, krismisrose, rooi salies en enige groen, helder plante. Dit verteenwoordig vir my die groei, hoop en dankbaarheid wat ons, net soos plante, in die wêreld moet uitleef.

Oorweeg ook plante of tuinmaakprodukte as geskenke vir Kersfees. Vir die kosmaakliefhebber kan ʼn pot vol pragtige kruieplante baie plesier verskaf, en lugplante in ʼn kreatiewe glashouer of op ʼn uitgesoekte stukkie hout sal ʼn plantliefhebber se Kerskous vol maak. ʼn Goeie snoeiskêr en interessante gieter sal beslis ook altyd welkom wees.

Maak jou gesin deel van die besluite oor die tuin. Plant saam ʼn boom wat julle eendag kan versier met liggies en beplan die volgende Kersete in sy koelte.

As jy ʼn Kersboom in jou huis wil sit en versier, oorweeg ʼn paar natuurlike opsies. ʼn Geelhoutboom (Podocarpus-spesies) kan pragtig lyk in ʼn pot met helder liggies en Kersversierings en jy kan dit na Kersfees in jou tuin plant. Dit is ʼn inheemse boom, immergroen en gehard.

Onthou dat die boom stadig groei, koop dus ʼn boom wat reeds ʼn impak gaan maak. Leer so ook geduld aan en raak opgewonde oor elke nuwe stukkie groei wat oor die jare sal te voorskyn kom.

Maak ʼn vierkantige gat, ongeveer twee keer groter as die houer waarin die boom gekoop is, meng die grond wat uit die gat gekom het met ʼn hand vol beenmeel, 2:3:2-kunsmis en lekker baie kompos.

Gooi eers die gat nat voordat jy die boom insit, skep dan die gemengde grond terug, maak ʼn dammetjie met die grond om die boom en gooi weer goed nat. Vir die eerste paar maande na aanplanting moet jy ten minste die boom twee keer per week goed natmaak.

Poinsettia-plante is nou oral beskikbaar, kom in verskillende kleure soos bloedrooi, ligpienk, witgroen en appelkoos en kan gebruik word om jou huis of patio te verfraai. Dié plant hou van lig en klam grond, maar wees versigtig om dit nie te veel water te gee nie. Dit kan ook goed aard in jou tuin mits jy in ʼn tropiese omgewing bly en dit in die skadu plant. Die spesifieke spesie word egter oor die algemeen gekweek om jou huis te versier. Koop ʼn hele paar en plant hulle saam in ʼn pot om ʼn hoekie in jou huis op te helder.

Krismisrose (Hydrangea) kan ook dien as versiering in jou huis wat later in die tuin geplant kan word. Gebruik dit in ʼn mooi keramiekpot as fokuspunt op jou Kerstafel. Jy kan kies tussen wit, blou, rooi en pienk blomme. Krismisrose doen ook baie goed as snyblomme en hou lank in ʼn vaas. Vervang gereeld die water en geniet ʼn bietjie die Kersfeesgevoel in jou huis. Na die feesgety sal ʼn krismisroosplant goed doen in ʼn bedding aan die suidekant van jou huis, hulle verkies halfdag koelte en klam, goedgedreineerde grond met baie kompos. ʼn Gereelde toediening van kunsmis sal help dat die plant gesond bly en pragtige blomme lewer. Begin met ʼn toediening van 5:1:5- of 8:1:5-kunsmis en herhaal dit elke ses weke. Daar is ook wateroplosbare kunsmis beskikbaar wat spesifiek geformuleer is om die kleur van jou Krismisrose se blomme te verseker.

Krismisrose (Foto: Karen Viljoen)

Die rooi eenjarige salie (Salvia-saailinge) sal lekker kleur in enige tuin inbring. Onthou dat massas van dieselfde soort plant of blom altyd ʼn groter impak maak. Kies ʼn vaal kolletjie in jou tuin en plant die salie daar. Dit kan ook pragtig vertoon in ʼn pot. Dit is ʼn geharde plant wat nog vir lank in die nuwe jaar sal blom. Berei die grond voor deur dit lekker los te maak, goeie gehalte kompos en 3:1:5-kunsmis in te werk. Gooi dit goed nat na jy dit geplant het en onthou om dit ten minste elke tweede dag weer lekker nat te maak.

Rooi eenjarige salie (Salvia-saailinge). (Foto: Karen Viljoen)

Nog ʼn manier om jou tuin deel te maak van Kersfees is om vetplante te gebruik om ʼn mooi krans te maak. Jy kan dit dan aan jou voordeur hang of op ʼn tafel gebruik. Koop ʼn sirkelvormige oase (by die meeste bloemiste beskikbaar) en breek steggies van jou vetplante af. Druk dit in die oase wat in water geweek is en rangskik die steggies in ʼn patroon of meng die kleure en teksture. Druk selfs ʼn paar kerse in en helder die feestelikheid op.

Maak ‘n krans met vetplante. (Foto: Articulture Designs)

Alhoewel Kersfees ʼn tyd is van blydskap en ons feesvier om die geboorte van ons Verlosser te herdenk, is dit ook vir baie mense ʼn hartseer tyd van eensaamheid, bekommernis en wroeging. Vat dus jou kans om te gee, al is dit net jou tyd, ʼn blom uit jou tuin of ʼn saadjie van hoop en liefde.

Helder iemand se lewe op en dra só die boodskap van Kersfees oor.

Ons almal verdien ʼn helder Somerkersfees.

  • Karen Viljoen is landskapargitek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.