Ons Franse kasteel: Mag ons 2022 met nuwe hoop ingaan

Deur Sunita McDonald

Bonjour vanaf Château de Capelle!

Volgens my negejarige is ʼn SR71 Blackbird die vinnigste vliegtuig ter wêreld en dit blyk vir my asof Vader Tyd op die rug van dié blitsige gevaarte gespring het. Al het hierdie jaar so vinnig verby gevlieg, wens ek dat die laaste paar dae van 2021 kan klaar kom. Hierdie jaar het onder meer uitdagings, teleurstellings en hartseer gehad, maar ons probeer om eerder op die positiewe dinge te fokus.

Die horlosies het reeds teruggeskuif vir “dagligbesparing”, dus benut ons elke uur wat die son skyn om voort te gaan met werk aan die kasteel en ʼn moeilike jaar op ʼn hoë noot af te sluit. Die geknetter van die vuur in die kaggel en die skoonheid van ʼn paar bittereinder blare in roesrooi, oranje en oker bring tog gevoelens van vergenoegdheid. Die meeste bome in ons tuin het reeds ontklee vir winter se slaaptyd en hul kaal arms toring bokant ʼn blarekombers wat slegs hul voete bedek.

Ons voete het uiteindelik vloere onder hulle in elke vertrek van die château. Dit het tien weke geneem vir die tweede bestelling planke om te arriveer. Die dag toe dit uiteindelik aankom was ons so gretig om te begin werk dat ons 90 m² hout by twee stelle trappe opgedra het nog voor ons eerste oggendkoffie. Almal het soos ywerige miere op- en afgedraf om hout buite die vloerlose vertrekke op te stapel. Die stapels het een vir een in die daaropvolgende dae verdwyn soos wat die nuwe vloere tot stand gekom het. Die pragtige eikehout is nou gelê en my eertydse akrobatiese manewales op die balke is vir eers iets van die verlede.

Die nuwe hout is ʼn ligter skakering en ons het gewik en weeg of ons die hout moet beits om by die oorspronklike vloere in te pas. Die ligte hout helder die vertrekke op en ons het daaraan gedink om dit slegs met ʼn deurskynende vernislaag te bedek vir beskerming.

Ná ʼn paar proeflopies op afvalhout met verskillende kleure vernis en olies het ons op hardewaksolie besluit. Dit is ʼn natuurlike produk wat die hout effens kleur en terselfdertyd beskerming sal bied.

Die plafon in die ingangsportaal is saam met die tweede verdieping se vloer verwyder toe ons van die balke moes vervang. Met die nuwe vloere aangebring kon ons ook weer die plafon installeer.  Die volgende taak in die vertrek is om die plafon te verf en dan die swaar kandelaar weer op sy regmatige plek te hang.

Die ingangsportaal sluit by ʼn gang aan wat na die trappe lei. Aan albei kante van hierdie gang is twee stelle dubbeldeure met loodglas. Ek was opgewonde om by nadere inspeksie te ontdek dat die gekleurde glas meestal ongeskonde is en dat slegs die deurskynende glas vervang moes word. Dit was ʼn verligting want ek was nie seker waar ek die oorspronklike rooi en blou glas sou kon bekom in ons area nie.  Met ʼn gemeet en ʼn gepas is die gebreekte glas vervang en die ou deure lyk weer amper nuut!

Ek het op die harde manier geleer om nie met ou deure en hul slotte te karring nie. Ons het ʼn inloopkas op die tweede vloer in ʼn linnekas omskep met rakke wat tot by die plafon strek. Die dag wat ek foto’s binne die kas gaan neem het, trek die ou slot toe my aandag. Soos ʼn nuuskierige agie vroetel ek aan die geroeste slot en ewe tevrede vind ek dat dit steeds werk. Ek besef egter eers watter petalje ek my in bevind toe ek probeer om die deur weer oop te kry en dit sit asof dit aan die kosyn vasgesweis is. Dit was ʼn onbeplande kwarantyntydperk! My man was genadiglik by die huis en het na sy Zoom-vergadering tot my redding gekom. Ek was dankbaar dat die WiFi darem die dik mure kon deurdring, want met geen vensters in hierdie klein vertrek nie, was daar ook geen selfoonopvangs nie!

Ek wou graag die oorspronklike vensters van die château behou, maar dit was nie moontlik om dubbelglas in die ou rame te pas nie. Verskeie rame was ook gebreek en dit was met swaar harte dat ons vroeër die jaar besluit het om al die vensters te vervang. Hierdie winter besef ons egter watter ongelooflike verskil die nuwe vensters aan die temperatuur binne die kasteel maak. Al lyk die vensters onvanpas “modern” in vergelyking met die ou vensters, is die dubbelglas baie meer effektief om die koue uit te hou. Ek het begin om die vensterrame te verf in die oorspronklike blougrys kleur. En ek probeer ʼn meer verweerde voorkoms naboots. Ek was nie tevrede met die eerste probeerslag nie en probeer steeds ʼn paar tegnieke om die gewenste effek te verkry.

Die Franse in die omgewing is egter in hul skik met ons werk tot dusver. Ons het ʼn besoek gehad van twee Franse historici. Een is ook die burgemeester van ʼn nabygeleë dorpie en hy het ʼn fantastiese kennis van die area se geskiedenis. Hulle het ʼn toer van die château geneem en agterna ou briewe van die 1700’s bestudeer.

Dit is die briewe wat ons in die château ontdek het kort nadat ons dit aan die einde van 2019 gekoop het. Die burgemeester wil graag die briewe publiseer in ʼn plaaslike tydskrif en hy doen nou verdere navorsing oor die families wat hier gewoon het. Ons is opgewonde oor wat hy tot dusver onthul het en sien uit om meer hieroor te deel volgende jaar.

Die terracotta-vloer in die formele eetkamer is ook uiteindelik klaar! Ons het die afgelope paar weke die teëls met “hardewaksolie” behandel. Die kinders het weer gretig ingespring om te help en daar is oor ʼn naweek tot laat in die aand olie aan die poreuse teëls gesmeer om dit te beskerm. Hierdie vloer was definitief ʼn liefdestaak. Verlede jaar is die teëls eers by vier stelle trappe afgedra en versigtig in ʼn buitekamer opgestapel. In die somer het ons die ou sement weggebeitel, hulle skoon geskrop en weer ingedra. Selfs die voorbereiding van die oppervlakte was ʼn groot taak met tonne klippies, sand en kalkmortel om dit gelyk te maak voor ons die teëls kon lê.

Ons het legkaarte probeer bou met die verskillende groottes teëls, maar was nie tevrede met die patroon nie. Op die ou end het ons die verskillende teëls gegroepeer en ʼn eikehoutraam omgesit om die voortsetting van ʼn patroon makliker te maak. Ons beplan om ons Kersmaaltyd in hierdie vertrek (wat die formele eetkamer is) te nuttig en dus werk ons nog onverpoosd voort om dit so gereed as moontlik te kry met verf, ligte, verwarming ensovoorts. Die kaggel is darem weer in werking – die eerste keer in ʼn lang, lang tyd wat ʼn vuur in Château de Capelle aangesteek is.

Die wêreld het ʼn moeilike paar jaar agter die rug. Dalk het Covid-19 die vloer onder jou voete uitgeruk en probeer jy ʼn nuwe vloer bou om weer standvastigheid te kry. Miskien het 2021 baie van jou drome aan skerwe laat spat en jy sukkel om te sien wat gered kan word om dit weer heel te maak. Dalk pas die stukke van die legkaart van die lewe nie op die oomblik in mekaar nie of jy voel vasgevang en wag vir iemand om jou te red uit die situasie waarin jy jou bevind.

Hierdie maand vier ons die geboorte van ons Redder. Wanneer dinge hopeloos lyk, mag jy altyd onthou dat gebede nie teen ʼn plafon (oud of nuut) hoef vas te slaan nie. Moet nie teen deure wat toegemaak het vaskyk nie, maar sien die nuwe vensters wat God wyd oopgemaak het. Kersfees herinner ons dat daar altyd hoop is omdat God ons sy liefdestaak gemaak het. Mag ʼn vuur ook in jou binneste aangesteek word sodat jy 2022 met nuwe hoop sal ingaan.

Van ons gesin aan elkeen van julle: Geseënde Kersfees en ʼn voorspoedige nuwe jaar! Mag dit vol vrede, vreugde en liefde wees.

Lees alle vorige rubrieke hier. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.