Ons word al armer

Blaauwklippen se herehuis is in puin gelê deur die brand. (Foto: X)

Die tragiese vernietiging van die historiese herehuis by Blaauwklippen in ʼn brand die afgelope Sondag, kan ʼn mens nie onaangeraak laat nie.

Wanneer ek deur sulke historiese plekke stap bly die gedagte my altyd by: “Ek wens hierdie mure kon vertel van die gesprekke wat hier plaasgevind het, ek wens daardie venster kon praat oor die gesigte wat daar deur gekyk het of die vloere getuig van die voete wat hier geloop het.”

By Blaauwklippen is daardie stemme nou onherroeplik stil. En dit laat ʼn mens met ʼn ontsettende gevoel van verlies.

Lichtenburg se museum ná die brand. (Foto: Verskaf)

Soveel te meer nog omdat dit iets is wat meer en meer gebeur. Sewe jaar gelede het die historiese herehuis by Augusta ook afgebrand. In 2019 was dit die herehuis by Roggeland, in 2021 was dit Mostert se Meul in Kaapstad, toe die historiese gedeelte van die Parlementsgebou. En tussendeur in hoevele dorpe dwarsdeur ons land het historiese stadsgeboue en erfenisgebiede in vlamme opgegaan. Komani (Queenstown), Kuruman, Wepener, Lichtenburg (saam met die museum), Bloemfontein, Christiana, Heilbron, die historiese klipskool op Sutherland…

Ons moet eerlik wees en erken dat dit nie uniek aan Suid-Afrika is nie. Historiese geboue brand elders in die wêreld ook af. In 1992 was dit Windsor-kasteel, in 2019 die Notre Dame in Parys. Dit gebeur. Ou geboue is nie so brandbestand soos moderne geboue nie. Ou geboue se bedrading is broos en verslete. Ou geboue se houtwerk, balke en vloere is droog en vlambaar. Dit gebeur. Maar daar is twee belangrike verskille tussen wat hier gebeur en wat elders in die wêreld gebeur.

Windsor-kasteel (Foto: Twitter via Kensington-paleis)

Ander lande pas voorkomende bewaring toe. Hulle beskerm erfenisgeboue deur gedurige restourasie en onderhoud. Daar word onderhoudswerk gedoen. By ons het ʼn mens gewoond begin raak daaraan dat niks onderhou word nie. As kragstasies, spoorstelsels en openbare vervoer nie eens in stand gehou word nie, watter kans is daar tog vir historiese geboue?

Nou moet ʼn mens ook byvoeg dat die onverantwoordelike en sinlose manipulasie van die geskiedenis om ʼn populêre narratief te dien, self ook ʼn rol speel. So 10 jaar of wat gelede is ek gewikkel in ʼn witwarm bekgeveg met die Erfenisbewaringsowerhede in die Noord-Kaap oor broodnodige herstelwerk aan ʼn absolute unieke struktuur in ʼn Karoodorp – die enigste gebou van sy soort in die Suidelike Halfrond en besig om in duie te stort.

Dit kan nog gered word, maar die tyd is min. Toe ek uiteindelik by ʼn senior persoon uitkom en die noodsaak van bewaring verduidelik, is haar eerste vraag aan my: “Does it have struggle significance?”.

Die Notre Dame word gerestoureer. (Foto: Julien De Rosa/AFP)

Ek dog ek skop ʼn gat in die plafon bokant my! Die geskiedenis van die land begin en eindig nie met die “struggle” nie. Die “struggle” is déél daarvan, dis nie alfa en die omega van die geskiedenis nie!

Historiese geboue in private besit word nog tot ʼn mate beskerm, maar dit waarvoor die staat verantwoordelik is, moet maar staatmaak op die liewe Here se genade.

ʼn Ander aspek waar daar ʼn groot verskil is tussen hier by ons en oorkant die water, is die feit dat wanneer ernstige skade daar plaasvind aan ʼn historiese gebou, herstelwerk dadelik gedoen word. Windsor-kasteel is binne ʼn paar jaar tot sy volle glorie herstel. Die Notre Dame is byna klaar. Dis bloot historiese geboue met ʼn beperkte funksionaliteit van bewoning, toerisme en aanbidding, maar dit word herstel omdat dit ʼn sigbare simbool van die verlede en die storie van die land en sy mense is.

Die Suid-Afrikaanse Parlement in vlamme gedompel. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

By ons brand die Parlement af en letterlik járe later is die herstelwerk nog nie klaar nie. Die wetgewende gesag van die land vergader nog steeds in ʼn stadsaal! Buiten dus dat 1) feitlik geen onderhoud gedoen word nie, en 2) voorkomende bewaring gewoon nie plaasvind nie, word daar 3) ook nie juis moeite gedoen met herstelwerk en herbouing nie.

Ek het vanoggend hier opgery na Blaauwklippen en van ʼn afstand af gekyk na die swartgebrande murasie. En met ʼn diep seer in my hart nie alleen besef hoe arm ons reeds is nie, maar ook dat ons eersdaags totaal bankrot gaan wees. Tensy ons nou self hande uit die moue steek en ophou wag vir die owerhede om iets te doen.

Dit is nie alleen die FAK, ATKV, AfriForum of wie ook al se werk om iets van waar ons vandaan kom vir ons nageslag te bewaar as rigtingwyser van waarheen om te gaan nie. Elke ou bossie op ʼn ou graf wat ons uittrek, elke ou donasietjie vir ʼn museum help alreeds. Elke stukkie betrokkenheid van watter aard ook, help.

Want wat baat dit ons om sosiale en politieke drome na te jaag en ideale in die wind te probeer vang, terwyl dit wat ons reeds hét voor ons oë in vlamme staan?

Meer oor die skrywer: Daniël Lötter

Daniël Lötter is ‘n boorling van die Bo-Karoo, navorser, opvoedkundige en skrywer van historiese nie-fiksie. Hy is betrokke in die Hoër Onderwys, in besonder in die veld van vaardigheidontwikkeling en het ‘n passie vir die bewaring van kulturele erfenis en die optekening van die geskiedenis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elmarie ·

Ek stem 100% saam. As mens enogsins trots op jou omgewing en geskiedenis het moet jy IETS doen. Mensevkla,so gou hulle sal nie sypaadjies verdorg hulle betaal die stadsraad of wie ookal – om ‘n simoel voorbeeld te noem. Maar van kleins af onthou ek hoe alnal om ons vanself sypaadjies mooi genask het met dalk bietjie tuintjie maak of so. Toe was dit nie ‘n probleem. As ons tog trots wil wees op ons ongwwing en geskiedenis doen iets. Elke bietjie help. Dis si mooi om gereeld revlees van mense war spontaan bymekaarkom im bv by monumente of konsentrasiekamp kerkhowe, bruê ens te gaan skoonmaak en herstel. Mens moenie deel word van die verval. Laat ons elkeen wys ons laat ons nie onderkry deur ‘n hooplose en hopelose regering nie, laat ons self uitspring en help onderhou.

Republikein in die Wes Kaap ·

Afrikaner geskiedenis het voetspore oor ‘n area van meer as 1.2 miljoen vierkante km. Dit is bitter moeilik om alles te bewaar. Kleiner dorpe ontvolk en dus verval die erfenis daar. Roerende versamelings kan wel hervestig word in Orania en die Voortrekkermonument.

Michael ·

As ons net n onafhanklike landjie kan he waar on regeer word deur ons leiers kan ons daardie stukkie land opbou tot n eerste wêreld land.Die Europese land werk so ,die grieve het griekeland,die duitsers het Duitsland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.