Oupa, ouma en die pous in Lesotho

Deur Mieke Meintjies

Pous Johannes Paulus II in 1993 (Foto: MICHEL GANGNE / AFP)

As buitelanders is die hoogtepunt van ons jaar wanneer ons vir familie kan gaan kuier in Suid-Afrika, of, wanneer familie vir ons kom kuier. September in Nederland bring wind en reën, maar hierdie September het my oupa en ouma gebring. Saam met hulle tasse, volgestop van Fizzers en wit Lunch Bars, het hulle ook aangekom met al hulle stories.

Soos wat ʼn mens ouer raak, verander oupa en ouma se stories. Op vierjarige ouderdom het my oupa vertel van kabouters en feetjies, en sy gunsteling: Asterix en Obelix. Op 21-jarige ouderdom dra hulle stories rebelse humor en ironie. Ouma meng elke nou en dan in om stukkies van die stories wat oupa vergeet by te las.

Elke storie begin ewe ongeloofwaardig, en soos wat oupa verder vertel, en soos wat ek meer navors, kom te voorskyn die feit dat my Vrystaatse oupa en ouma waarlik die pous gesien het. Die Rooms-Katolieke pous. In Lesotho.

Die 1988-nuus het aangekondig dat pous Jean Paul II ʼn draai sou maak in Suider-Afrika vir apostoliese werk. Sy reis sou hom vat van Zimbabwe na Botswana, Lesotho, eSwatini en Mosambiek.

Soos duisende ander Suid-Afrikaners het my oupa en ouma ʼn geleentheid uitgesnuffel. Terwyl die skare lisensies gekoop het by die katolieke kerk om borde, bekers, waterbottels, T-hemde, poskaarte, plakkate en hoede te mag verkoop met die pous se gesig daarop, het my oupa en ouma lisensies gaan uitneem om kos te mag verkoop in die buiteland. Daar is voorspel dat miljoene Suid-Afrikaners en Lesotho-bewoners bymekaar sou kom om die pous te gaan sien… en miljoene mense raak vinnig honger.

Oupa en ouma het gaan papmeel koop, en braaivleis daarby, en met hulle stalletjie en lisensies en al ingeval by – wat klink soos – die tweede Groot Trek. Van Bloemfontein na Maseru.

Lesotho wou blykbaar laat sien dat hulle nie van Suid-Afrika afhanklik was nie, maar baie dinge van die reis het nie gegaan volgens beplan nie, en die pous se vlug kon nie land in Lesotho nie. Hy moes van Johannesburg af ry na Lesotho, en by die grens het die Suid-Afrikaanse polisie aangedring daarop dat hulle nie sy veiligheid sou oorlaat aan die Lesotho-polisie nie. SAP het hom dus land-in gevolg, en Lesotho se sogenaamde onafhanklikheid het slag gevat.

Pous Johannes Paulus II, soos ʼn Afrikaner sal sê, se warm welkom het ʼn bloedige skietery tussen die polisie en ʼn groep gewapende mans ingehou. Hulle het ʼn bus vol nonne en kinders gekaap en aangedring dat hulle die pous wou sien.

Mieke Meintjies saam met haar oupa en ouma (Foto: Verskaf)

Hy het eers agt ure agter skedule in Lesotho aangekom, net 20 minute voordat die gespanne gyselaarsdrama opgelos is. Een van die gevange nonne het gesterf en elf ander is gewond, maar die res was so te sê veilig.

Ten midde van al hierdie aksie het een ding ontbreek: die verwagte miljoene. Oupa en ouma vertel dat die enigste mense daar was die hoopvolle Suid-Afrikaners met hulle eie stalletjies, en ʼn klompie plaaslike inwoners wat nie gelyk het asof hulle enige geld wou spandeer nie.

Pous Johannes Paulus II het ʼn skare van net-net tien duisend mense verwelkom vanaf ʼn spesiaal opgerigte verhoog voor hy ʼn heilige ooplugmis aangebied het. Dinge was minder ingerig vir die skare as wat dit was vir die pous.

Ouma vertel daar was nie badkamers nie, so boere het gedoen soos boere altyd doen, en ʼn plan gemaak. Die “plan” was om slote te grou in die grond, en afskortings te maak vir mans en vrouens deur dekens te span tussen die slote. My ouma het groot geword op ʼn plaas, maar baie min van my ouma se gedrag dui op dié afkoms. Sy is nog altyd die stylvolste, mees elegante vrou wat ek ken, en as my ouma sê sy het geweier om daar te hurk, glo ek dit ten volle.

Dis ook maar goed die stalletjiemakers het kans gekry om te oefen om slote te grou, want later die dag, in die September-Afrika-son, het die kos begin vrot raak. Die vleis het begin stink, die vrugte het bruin geword, daar was duisende en duisende rande se oorskot in braaihoenders, lemoensap en melkkoffies. Eerder as om die vrot kos terug te sleep Suid-Afrika toe, het die stalletjiemakers besluit om die oorskot te begrawe.

Oupa sê die Lesotho-bewoners het, na almal opgepak het, terug gegaan na die slote toe (baie versigtig oor watse slote om oop te grawe) en die kos gaan uit haal. Alhoewel die pous se koms nie miljoene honger mense gelok het soos my oupa en ouma gehoop het nie, het dit wel baie ander dinge gebring. Een van die wesende ʼn opinie. Volgens verslae het die godsdienstige leier apartheid in Suid-Afrika veroordeel.

“ʼn Beskawing van geregtigheid, vrede en liefde beteken erkenning van die waardigheid van elke mens,” is hy aangehaal om te sê. “Dit beteken dat elke mens fundamentele regte kan uitoefen sonder beperkings wat veronderstel is om geregverdig te word deur rasafskeiding of deur sosiale diskriminasie.”

Die pous het ook eSwatini besoek, wat destyds nog as Swaziland bekend gestaan het, en daar sy seën gaan uitspreek. Ouma en oupa het nie gevoel dis nodig om dieselfde fout twee keer te maak nie. Ouma sê die pous het haar daai dag genoeg geseën.

“Geseën met ʼn R12 000 verlies.”

Sy het nog steeds heilige water bo in haar dak se stoorkamer in Bloemfontein.

  • Mieke Meintjies het op 16-jarige ouderdom saam met haar gesin verhuis vanaf Pretoria na die Tjeggiese Republiek en ‘n jaar later weer na Nederland waar sy nou woon. Pen-in-die-hand het sy begin werk as joernalis terwyl sy studeer in Utrecht. Inspirasie kom voor in meerdere vorme in haar lewe, maar meestal in die vorm van haar familie wat steeds in Suid-Afrika woon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus W ·

Die weermag moes n brug bou vir die pous, sodat hy in Lesotho kon inkom. Dis gedoen deur die manne van Bethlehem se 2 Veldgenieregiment.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.