[Rubriek] Boksiemense

Vanjaar is dit my 30-jaar-skoolreünie. Deur middel van ʼn Facebook-groep word al die reëlings deurgegee, geselsies word aangekoop met ou skoolpelle, en daar word tot foto’s geplaas. Nogal groot pret om te probeer identifiseer wie is wie. Hoe lekker is dit tog om weer kontak te maak met soveel ou skoolmaats! My gedagtes is dus die afgelope tyd kort-kort verplaas na my skooljare.

Skool was nou nie noodwendig die heel lekkerste tyd in my lewe nie. As ek terugkyk, dink ek hoe ons in boksies geplaas is. Ek onthou so goed, in die laerskool is jy in Boksie A, B, C of D geplaas. Die A’s was die baie slimmes, die B’s seker dié wat nie so slim soos die A’s was nie …

Ek was maar van jaar tot jaar in die B-boksie geplaas. Ek onthou hoe ek altyd die A-boksiekinders bewonder het. Ek het altyd gedink ek kon ook ʼn A-boksiekind gewees het as my pa miskien ook ʼn besigheid op die dorp gehad het, of die dominee was. Of as my ma meer koeke gebak het vir die skoolkermis. Of miskien as ek net mooier kon sing en natuurlik was somme nou nie my sterk punt nie – moontlik ook ʼn groot rede!

Daar is twee geleenthede tydens laerskool wat my altyd sal bybly. Ek onthou hoe ek in standerd 5 (deesdae graad 7) op lentedag deur die venster gestaar het na die A-boksiekinders wat in klastyd van klas tot klas beweeg het en “Dis heerlike lente” gesing het terwyl hulle blommetjies vir die onderwysers uitgedeel het. Natuurlik het die onderwysers op hul beurt tog so dankbaar gelyk vir die blommetjies wat hul klaskamers gaan versier. Ek het so gewens ek was ook in daai boksie! En ook die keer met die massagimnastiek waar almal ewe hard saamgeoefen het en op die einde is net die A-boksiekinders gekies om deel te neem – ek kan nog die intense teleurstelling onthou. My wiskundeonderwyser het by meer as een geleentheid vir my vertel ek sal tog nooit wiskunde kan doen nie. En daar beland ek toe in die kan-nie-wiskunde-doen-nie-boksie net om in my studentejare te besef ek is tog glad nie dom met syfers nie!

So het ons geleer om onsself en ander in boksies te plaas. Ek wou altyd net uit my boksie uitbreek en in ʼn ander een inspring, gaan swot en die wêreld sien. As ek trou, wil ek met die mooiste man ooit trou, ons sal in ʼn A-boksiehuis woon en ons kinders sal almal niks minder as A-boksiekinders wees nie!

Maar dan gebeur die lewe. Ek het wel gedink dat ek uit my boksie geklim het in ʼn ander een in. Ek het gaan swot, graad gekry, my mooie studenteliefde ontmoet. Wat ek egter as my “A-boksielewe” gesien het, se kartonmure wou nie hou nie en het verkrummel.

Wat ek geleer het, is dat ons moet begin uitklim uit ons boksies waarin ons mekaar sit, waarin ons ons kinders sit en ook waarin ons onsself sit. Ek maak myself nog steeds skuldig hieraan. Soms wil ek my tong afbyt as ek vir een van my kinders sê “doen dit so, want daai een doen dit so …” of “speel dit, want almal speel dit …”, of “dit is maar hoe dit gedoen moet word”.

Ons moet die lewe sien as ʼn legkaart en God toelaat om ons te help om stukkie vir stukkie te plaas daar waar dit moet wees.

Ek onthou hoe ek op die rype ouderdom van 30 die liefde van my lewe ontmoet het, en sommer dadelik mamma geword het van twee pragtige seuns. Alles buite ʼn boksie. En as ek nou terugkyk op my lewe, verstaan ek hoekom sekere dinge gebeur het soos ek dit graag wou hê, maar nie uitgewerk het nie. Dit was maar net daardie stukkies wat nie op hulle plekkies kon gaan lê het nie, want dit het nog in boksies gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Lente ·

Vreeslike mooi stukkie, mooi geskryf, maar ek is nou al so keelvol vir mense (en ons kry dit veral onder ons Afrikaanse mense) dat hulle vir ander sê hoe hulle moet leef of ander se lewenswyses kritiseer. Ek het in ‘n boksie grootgeword en ek is gelukkig in die boksie, ek het in die boksie kinders gehad, in die boksie getrou, werk in die boksie en dit werk vir my. Ek gun mense wat buite die boksie leef hulle lewens, hoekom is my lewe in ‘n boksie verkeerd? Laat die son oor ALMAL skyn, diegene in die boksie, die getroudes, die ongetroudes, die enkelmammas, die geskeides, die stiefmammas en stiefpappas. Binne of buite ‘n boksie, leef soos dit jou pas, LOS ANDER MENSE UIT, en konsentreer op jou eie geluk. Dit is gewoonlik die wat vinger wys na ander wie se lewens een oggend uitmekaar uit val.

LeonR ·

Pragtig geskryf,
ek was ook in so ‘n boksie op laërskool sowel as höerskool, die C boksie. Namate my lewe net gevorder het na matriek en ja, dankie tog universiteit het ek besef die boksie is in onse mense se koppe. Ja, daar is steeds baie A-, B-, C-, D- en E boksie mense wat beter gedoen het as ek, MAAR ek hoef nie vir enige persoon terug te staan nie.

Ek is gelukkig en did seker al wat regtig saakmaak?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.