Sê hulle name, en sê dit hardop!

Ian Cameron (links) en John Steenhuisen, leier van die DA tydens ‘n optog teen polisieminister Bheki Cele (Foto verskaf)

Deur Ian Cameron

Sê hul name en sê dit hardop terwyl jy hier lees. Babita Deokaran, luitenant-kolonel Charl Kinnear, Cleo Diko, Mia Botha, Chevonne Rusche, Art Bull, Liezel De Jager.

Ek is vir byna 15 jaar intens betrokke by die stryd teen geweldsmisdaad in Suid-Afrika. My toewyding aan hierdie ideaal is gebore uit ‘n weiering om te aanvaar dat byna 86 mense, baie van hulle onskuldige kinders, daagliks vermoor word.

Hulle stories, elkeen van hulle, moet vertel word. Hierdie slagoffers is nie blote statistieke nie. Hulle is regte mense met alledaagse lewens, net soos ek en jy, verpletter deur sinnelose geweld.

’n Saak wat die laaste paar maande by my ingeburger is, is die dubbele moord op die bejaarde egpaar, Fanie en Colleen Engelbrecht, albei in hul laat sewentigs. Hulle is wreed aangeval op hul plaas, Welgevonden, naby Fochville in die Wes-Rand, op Moedersdag van 2018.

Colleen is met ‘n strykyster gebrandmerk en met die koord doodgewurg. Fanie se keel is afgesny. Die moordenaars het met ‘n tablet, selfoon, kontant en twee vuurwapens ontsnap.

Ek kan baie soortgelyke hartverskeurende stories deel. Soos dié van klein vierjarige Bokgabo Poo se ouers, wat steeds nie weet wie hul klein prinsessie by hulle gevat het nie. Hulle is sonder ‘n liggaam gelaat om te begrawe en te rou. Bokgabo is nie net ’n statistiek nie.

Hierdie neiging strek tot die moord op ons manne in blou. ‘n Voorbeeld is die sluipmoord op lt.kol. Charl Kinnear, ‘n hoogs gerespekteerde seksiebevelvoerder in die Wes-Kaapse teenbende-eenheid.

Suid-Afrika staan ​​by ‘n kruispad, met ongeveer 30 000 moorde per jaar en byna 133 verkragtings per dag. Ons ervaar ‘n misdaadkrisis wat vererger word onder die toesig van minister van polisie Bheki Cele.

Namate misdaadsyfers toeneem, het die publiek se vertroue in die SAPD gedaal, wat ‘n dringende behoefte aan kritieke ingryping beklemtoon.

Met 15 jaar se ondervinding, ​​is ek terdeë bewus van hoe erg die situasie is. Dit is hoekom ek besluit het om met die Demokratiese Alliansie (DA) kragte saam te snoer om die stygende vlaag van misdadigheid te beveg.

My besluit is gegrond in die oortuiging dat ons Suid-Afrika kan red uit die kloue van ‘n kriminele sindikaat wat hom as ‘n politieke party voordoen – die ANC.

Die oplossings vir hierdie krisis is nie ingewikkeld nie, en so formidabele taak as wat dit mag lyk, kan ons Suid-Afrika red van die misdaad, korrupsie en wetteloosheid: Hier is waar ons begin:

Ons moet polisiëringsfunksies desentraliseer na bevoegde provinsiale en plaaslike regerings. Deur bekwame regerings toe te laat om hul eie SAPD-magte te bestuur, kan hulle polisiëringplanne aanpas wat relevant is vir hul plaaslike behoeftes.

Ons moet vaardigheidsoudits van die top-offisiere uitvoer, van kolonels tot generaals. Hierdie oudit sal ons vertel wie nie geskik is vir die doel nie en waar kaderontplooiing in die SAPD plaasgevind het.

Ons moet opleidingsfasiliteite oudit om topgehalte en korrupsievrye opleiding vir nuwe rekrute te verseker.

Ons moet gespesialiseerde eenhede (soos die teenbende-eenheid) weer op dreef bring en verseker dat ons hulle met die nodige hulpbronne in staat stel om misdaad doeltreffend te bekamp.

Ons moet ons komplement van goed opgeleide speurders drasties vergroot om te verseker dat ondersoeke met die nodige hulpbronne onderneem word.

Laat die moorde op Babita Deokaran, luitenant-kolonel Charl Kinnear, Cleo Diko, Mia Botha, Chevonne Rusche, Bokgabo Poo en Liezel De Jager nie vergeet word nie. Die pad na ‘n veiliger Suid-Afrika sal gesaai wees met struikelblokke, maar dit is nie buite bereik nie.

  • Ian Cameron is ‘n teenmisdaad-aktivis en lid van die DA.

Hierdie rubriek is ‘n betaalde promosieartikel deur die Demokratiese Alliansie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.